Die romantiese Afrikaanse rapper Jack Parow is terug met ’n nuwe dubbelalbum, Nag van die lang pette. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Jack. Hoe's dinge?

Portret: Paul Ward
Nee hy loop lekker, dankie.
Geluk met die vrystelling van die Nag van die Lang Pette-dubbelalbum! Die bekendstellingspaartie by Sergeant Pepper's in Langstraat was moerse lekker. Watter soort terugvoer kry jy tot dusver op die album? En die eerste single se gepaardgaande video, waar jy ’n Steve Hofmeyr-lookalike katswink moker ... Enige terugvoer daaroor van die man self en/of sy aanhangers?
Terugvoer is amazing sover en ek wil net vir almal tune baie dankie, regtig, dit beteken baie, want elke keer as mens ’n album uitsit is dit sooooo fkn scary, jy sit so half jou siel daar buite vir mense om gate in te kap of op te bou. So ja, dis scary. Die mense dig “Bloubek” sover, al die terugvoer is amazing ... en wie is die Steve waarvan jy nou praat? Ek ken nie daai Steve nie ... die ou se naam is net Steve. Ma die video is so half ’n fight tussen die ou en nuwe. Die tradisionele teen die future. Die preutse teen die powerful. Die oude doos teen die future.
Die akoestiese element van die dubbelalbum is ’n groot verrassing – mens kry voor die tyd half die gevoel dis daar sommer net omdat mens kan, maar as mens luister, voel dit omtrent of dit die hoof-element van die dubbelalbum is. Wat het jou laat besluit om dié roete te vat – met ander woorde, een elektroniese en een akoestiese album saam vrygestel – en hoe het jy die verskillende benaderings tot die verskillende tunes ervaar?
Dis weird, ek het originally ook half besluit, kom ons doen hierdie ding, ek wil bietjie speel met die akoestiese vibe, met die idee dat dit half ’n ekstra is, ma soos jy sê, dit het amper half oorgevat, of actually sal ek nie sê oorvat nie, ma dit het ’n lewe van sy eie gekry wat kan staan op sy eie. Obviously prefer party mense die electric side en party die acoustic side, ma dis great, ek is bly almal kan hulle eie deel uit die album kry.
Daar's ’n magdom collabs op die album, almal uiteenlopend ook ... van Valiant Swart, die Klipwerf Orkes, Pierre Greeff, Francois van Coke en Mr Cat & the Jackal tot Dirt Nasty, PHFat en Rufiyolo. Hoe het jy besluit saam met wie jy wil werk toe die album beplan is, en hoe verloop die proses om met sulke verskillende kunstenaars saam te bou aan liedjies? Enige hoogtepunte vir jou wat die collabs op die album betref?
Ek doen ma net collabs saam met mense wat ek van hou, en as jy van iemand hou en hulle musiek ken dan is dit maklik om jouself te plaas in hulle omgewing en iets te maak wat saam jel. Dis pretty much hoe ek besluit op my collabs – almal waarmee ek collabs doen ken ek persoonlik en ek het ten minste al ’n dop of drie saam met hulle gedrink. Dirt Nasty en Valiant was vir my hoogtepunte – ek is moerse fans van al twee se werk en dus was dit regtig cool om saam met hulle iets te maak.
Baie van die tunes op die album is splinternuut, ander is verwerkings van oues, veral aan die akoestiese kant. Hoe en hoekom het jy besluit watter songs jy wil verwerk en van voor af aanbied? Is jy spyt oor eniges wat jy moes uitlaat, of spesifiek trots op die wyse waarop van die nuwe verwerkings uitgekom het?
Jis man, die cool ding van die verwerking is dat dit gee die songs completely ’n nuwe lewe, wat mal is. Soos byvoorbeeld “Dans Dans Dans”, wat ek al ’n miljoen keer gedoen het op stage ens, ma nou as ek die akoestiese weergawe doen is dit amper soos om ’n nuwe track te doen, dit gee dit ’n hele nuwe lewe. Ek dink al die tracks is so wat ons verwerk het. Party mense het selfs gedink dis nuwe tracks tot hulle die naam sien en dan tune hulle, ooooo, dis “Katerien” of whatever. Ek sal obviously nog wou gedoen het, ma dink in die future, ons kyk maar.
Heelwat uiteenlopende onderwerpe tel ook onder dit wat jy rap – "Dis befok" is byvoorbeeld ’n liefdesverklaring aan jou klein dogtertjie, Ruby, en "Bring your friends" is ’n goeie ou rowwe dronkraak-temalied. Hoe gaan jy daarmee te werk om jouself volledig in ’n enkele tema vir ’n enkele liedjie te begeef en dan oor te slaan na ’n ander storie? Hoe het jou skryfwerk in hierdie opsig verander oor die jare?
Ag, dis actually ma net ’n state of mind waarin jy jouself sit. Ek was lucky genoeg om die album te skryf by ATKV Goudini Spa. Hulle het vir my ’n huisie gegee bo in die berg, en ek kon completely afskakel van die res van die wêreld en myself in situasies plaas in my kop wat ek dan probeer sit het in woorde. Party dae was beter as ander ... Die eerste dag wat ek daar gekom het was ek so geïnspireer dat ek actually vyf songs geskryf het ... dit was crazy ... daai plek het regtig ’n cool energy.
Soveel collabs maak dit natuurlik ’n uitdaging om al die nuwe tunes live te kan uitvoer. Hoe wil jy daarmee te werk gaan in daardie opsig? Sal jy samples inspan, of sal jy eerder die songs wil uitvoer wanneer die betrokke kunstenaars saam op die verhoog kan klim? Hoe verskil die energie in vertonings vir jou binne hierdie twee moontlikhede?
Ek maak gebruik van samples wat ek in cut en as hulle natuurlik ’n hele vers doen dan sny ek die vers uit. As hulle dan saam is dan sal hulle obviously dit live saam doen ma ongelukkig is dit nie altyd moontlik nie. Die energy is obviously altyd amazing as jy die actual persoon daar het, ma gelukkig het ek ’n amazing band wat saam met my die energy lat loop.
Gepraat van live optredes: jy't al omtrent op elke denkbare plek in die land (en heelwat in die buiteland) gespeel. Enige hoogtepunte wat jy wil deel? En laagtepunte? Is jy al gatvol daarvoor om "Cooler as ekke" te moet doen?
Haha, ’n bietjie, ma ja, ek kan nooit gatvol raak van daai song nie, dit het so baie vir my gedoen en dus moet ek hom net liefhê. Jis, hoogtepunt ... ummm. Oppikoppi is altyd ’n great een en elke jaar is dit MAL. Ek het nou al drie keer die main stage gespeel met ’n main slot, so dit is net absoluut chaos. Dan in die buiteland dink ek Pukkelpop in België, asook Lowlands in Holland was AMAZING. Ek het gespeel saam met van die grootste bands in die wêreld en het massive turnouts gehad by my stage. So om dit in ’n ander land te doen is altyd ’n bietjie van ’n mindfuck vir my, ma ek’s so dankbaar daarvoor.
Voel jy daar word deur aanhangers en deur die bedryf van Jack Parow verwag om altyd ’n sekere soort produk voort te bring en ’n sekere styl te handhaaf? Watter soort impak het dit op jou skryfwerk en op nuwe dinge wat jy wil probeer en uitvoer, of voel jy jy's al teen hierdie tyd gevestig genoeg dat jy die leiding kan neem waarheen jy wil, en die mense sal volg?
Ek weet nie man, ek maak ma net musiek wat ek van hou en hoop die mense like dit ook. As jy konsentreer op "hits” maak of whatever gan jy mal raak, dink ek. So ek maak ma net musiek.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Jack Parow?
Dis nou net my nuwe album en die Nag van die lang pette-toer oor die land en dan ook in die Benelux en Italië en net aanhou lekker tye hê saam lekker mense en lekker wees.
Wat is die sin van die lewe?
Brandewyn het nie brieke nie.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

