![]() |
|
Cornelis van Bijnkershoek-standbeeld deur Albert Termote (foto: Lyonette Louis-Jacques; bron: http://news.lib.uchicago.edu)
|
In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Volgens persberigte sou Jacob Zuma vroeër vanjaar – tydens die viering van die ANC se 103de bestaansjaar – gesê het dat Suid-Afrika se probleme “begin het met die landing van Jan van Riebeeck in 1652 aan die Kaap”. Waaraan die President dalk nie tóé gedink het nie, is dat Van Riebeeck ook die Romeins-Hollandse regstelsel saam met hom na die Kaap gebring het. Mettertyd het dit die gemenereg van gans Suid-Afrika geword en is dít steeds die toedrag van sake. Vandeesweek se Regsalmanak sal hierdie eienskap van ons regstelsel hopelik 'n aks verder illustreer.
'n Sekere mnr Bothma het 'n stuk grond aan die Vaalrivier gehad. Sy buureienaar was die Rand Waterraad. In 1979 het Bothma vir hom 'n lekker vakansieplek op sy grond opgerig, maar in sy ywer het hy nie mooi gelet op presies waar die grens tussen sy eiendom en dié van die Rand Waterraad geloop het nie. Mettertyd het 'n toegeboude boothuis, twee platform- tipe piere, 'n grasbedekte skuiling en 'n gedeelte van 'n dubbelverdieping-chalet op die eiendom wat aan die Rand Waterraad behoort het, verrys.
Eers vier jaar later – in Januarie 1983 – het die Rand Waterraad beswaar aangeteken teen Bothma se oorskryding van die grens tussen die twee eiendomme. Daarna het nog ses jaar verloop voordat die Rand Waterraad in 1989 'n hofaansoek geloods het om Bothma te verplig om die strukture wat oor die grens oorskry het, op sy koste te verwyder. Nóg ses jaar het verloop voordat die Rand Waterraad in 1995 die saak voor die hof gebring het.
Mnr Bothma het 'n interessante verweer gehad. Hy het aangevoer dat, op grond van die "jaar-en-'n-dag-reël" van ons gemenereg, wat volgens hom in die Suid-Afrikaanse reg opgeneem is, die Rand Waterraad nie op verwydering van die strukture op sy grond kon aandring nie, aangesien die Raad nie binne 'n jaar en 'n dag beswaar teen die oorskryding gemaak het nie.
Die saak het voor regter Hattingh van die hooggeregshof in Bloemfontein gedien.1 Die regter het diep in ons gemenereg gedelf ten einde te probeer vasstel of die sogenaamde jaar-en-'n-dag-reël wel deel van die gemenereg – en dus deel van die Suid-Afrikaanse reg – is. Ruimte laat my nie toe om die interessante uitspraak van die regter in besonderhede te bespreek nie, behalwe om daarop te wys dat die jaar-en-'n-dag-reël 'n vorm van verkrygende verjaring was wat nie noodwendig algemeen geldend in die Romeins-Hollandse reg was nie. Dit was 'n reël wat gebaseer was op plaaslike munisipale verordeninge, of "keuren", wat hul ontstaan te danke gehad het aan die feodale stelsel, wat meegebring het dat bykans elke stedelike gebied in die destydse Holland sy eie plaaslike reg, of "stadsrecht", gehad het wat ontwikkel het uit die voorregte wat deur die koning of 'n leenheer aan 'n stad verleen is. Onder die oudste stadsregte in Nederland was dié van Zutphen (1190), Middelburg (1217), Leiden (1266), Gouda (1292), Delft (1246) en Rotterdam (1299).
Van besondere belang vir regter Hattingh was 'n hofbeslissing wat op 19 Januarie 1720 – dis nou net mooi 295 jaar gelede – gelewer is deur 'n briljante regsgeleerde, Cornelius van Bijnkershoek. Volgens dié beslissing was die dag-en-'n-jaar-reël nie deel van die algemeen geldende Romeins-Hollandse reg nie, maar eerder 'n spesiale reël wat, soos ek reeds gemeld het, net in sekere stede gegeld het. Regter Hattingh het dus, op grond van onder meer hierdie uitspraak van 19 Januarie 1720, beslis dat die reël nooit as 'n algemeen geldende reël van die gemenereg beskou is nie en dat dit gevolglik nie vanuit die Romeins-Hollandse reg in die Suid-Afrikaanse reg opgeneem is nie.
Dit het natuurlik nog nie die probleem wat Bothma met sy buurman gehad het, opgelos nie. Moes die hof nou beveel dat die strukture afgebreek word, of het hy 'n diskresie gehad om bloot aan die Rand Waterraad skadevergoeding toe te staan? Na 'n verdere ontleding van ons reg het die hof tot die gevolgtrekking gekom dat hy wel sodanige diskresie het om eerder skadevergoeding te gelas, maar dat dít in die verlede altyd in die konteks van redelikheid en billikheid gedoen is. Die implikasie hiervan is dat as 'n bevel vir skadevergoeding onbillik teenoor die oorskrydende buurman is, die hof so 'n bevel kan weier.
Die regter het vervolgens beslis dat in die Romeins-Hollandse reg 'n persoon die reg het om homself teen skade wat vanaf sy buurman se grondgebied 'n bedreiging vorm, te beskerm. Daardie reg was tot die Rand Waterraad se beskikking toe Bothma in 1979 begin het om die strukture op te rig. Doen 'n buureienaar egter geen stappe om homself te beveilig nie, het hy as't ware (stilswyend) toegestem tot die risiko van benadeling en het hy geen remedie teen die uiteindelike skade nie.
Toegepas op die dispuut tussen mnr Bothma en die Rand Waterraad, het regter Hattingh beslis dat die beweerde nadeel wat die Rand Waterraad ly as gevolg van die oorskryding, veel minder is as die nadeel wat Bothma sou ly indien hy die oorskrydende strukture sou moes verwyder. Indien 'n verwyderingsbevel teen Bothma verleen sou word, sou onbillikhede hoogty vier. Dit sou prakties gesproke mnr Bothma se woning op sy eie eiendom vernietig. Immers: onder meer die helfte van sy chalet het op die Rand Waterraad se grond gestaan. Die regter het beklemtoon dat die Rand Waterraad hulle voete gesleep het in die jare tussen 1979, toe die strukture opgerig is, en 1995, toe die saak eers voor die hof beland het – 'n tydperk van 16 jaar!
Die regter beslis uiteindelik dat billikheid dikteer dat, vanweë die traak-my-nie-agtige houding waarmee die Rand Waterraad hierdie aangeleentheid bejeën het, hy nie nou na al die jare geregtig was op 'n verwyderingsbevel soos wat hy aangevra het nie. Gevolglik is die Rand Waterraad se aansoek teen Bothma met koste van die hand gewys. Dit bevredig darem ook 'n mens se “regsgevoel”, nie waar nie?
1 Rand Waterraad v Bothma en ’n Ander 1997 (3) SA 120 (OPD)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


