J van Melle (1887–1953)

  • 0
Sêgoed van Jan van Melle

"Vrees maak dood. Vrees is soos ’n vrieswind; vrees is soos ’n versengende wind; vrees is ’n siekte wat in die lewe invreet."

"’n Skrywer moet atmosfeer kan skep, en styl en harmonie moet staan en bowe al moet ’n skrywer nederig en eerlik wees teenoor stof én leser." (De Kat, Desember 1987)

"My kortverhale is sowel hier as in Holland goed ontvang, altans wat die beoordeling en die opneem in tydskrifte betref. In ander opsigte is dit maar treurig. As ek nou met ’n bundel kortverhale by ’n uitgewer kom, trek ’n skaduwee oor sy gesig. Maar kortverhale skryf ek vir my plesier. Dis nie soos ’n roman, die skryf waarvan jou kragte uitput nie. Hulle kom meesal as ’t ware vanself, en as jy klaar is, voel jy verfris en opgeruimd." (Afrikaanse skrywers aan die woord, p 206)

"Toe ek eenmaal begin skryf het, was die Afrikaanse natuur en die lewe van die Transvaalse boer mede ’n inspirasie vir my." (Afrikaanse skrywers aan die woord, p 200)

"Dit gaan dikwels so met ’n skrywer. Jy skryf iets en eers daarna kry jy ’n duidelike insig oor wat jy geskryf het. Dit is ’n taamlik veel voorkomende verskynsel, en is nie beperk tot skrywers en ander kunstenaars nie, maar kom by elke mens voor en ook onder alledaagse handelinge." (Afrikaanse skrywers aan die woord, p 204)

"Die styging in jare kan mens vergelyk met die bestyging van ’n hoogte, want hoe ouer mens word, hoe verder kan jy sien. Jy sien die kronkelpaaie waarmee jy getrek het al hoe beter hoe hoër jy kom, en jy sien ook aldeur beter waar jy die oortuigings gekry het wat jy tot jou eie gemaak het." (Uit: My jeugland: jeugherinneringe van Afrikaanse skrywers. Afrikaanse Persboekhandel, 1953)

Hoe ontstaan ’n skets? "Jy lees iets, jy het iets gehoor, jy het in verband met die onderwerp waaroor jy wil skryf, ook self iets beleef, en dan vat jy hier iets van en daar iets van, en jy voeg daar dan nog die nodige by, en pas dan alles inmekaar tot ’n geheel." (Uit: My jeugland: jeugherinneringe van Afrikaanse skrywers. Afrikaanse Persboekhandel, 1953)

Gebore en getoë

Johannes van Melle is op 11 Februarie 1887 in die stadjie Goes in Holland gebore. Hy was die jongste seun van ’n groot en arm gesin. Sy pa, Pieter Cornelis van Melle, was ’n bakker en hy het tien kinders gehad.

As gevolg van ondervoeding en die besmette lug van die rioolplaas naby die Van Melle-huis het vier van die kinders jonk aan tuberkulose gesterf. Martjie Bosman skryf in De Kat van Desember 1987 dat die jeugdige Johannes ’n bewustheid moes gehad het van die nabyheid van die dood – ’n bewustheid wat later na vore gekom het in van sy beste kortverhale, soos "Drusse" en die Oom-stories.

In Afrikaanse skrywers aan die woord vertel Van Melle dat hy ’n seuntjie van tien jaar oud was toe hy sy eerste gedig gemaak het. Dit het oor die geskiedenis van ’n rot gegaan "en dit het nog al gemaklik gegaan, want daar is baie woorde wat op rat rym; byvoorbeeld al dadelik die woord kat, en verder zat en glad, en nog ’n hele paar meer. Ek onthou hoe ’n ouer broer van my gelag het toe ek hom dit voorlees."

Verdere studie en werk 

Van Melle se tweede gedig was ’n lofrede aan ’n nooi, maar nie sy eie nie; wel aan ’n vriend van hom se nooi. "Ek was toe al ’n jongman van agtien jaar, maar ook daardie gedig was soos die Hollanders sê: 'niet veel soeps!'"

Van Melle het sy opleiding as onderwyser aan die Christelike Normaalskool in Doetinchem gekry. Hy het besluit om nader aan sy huis te trek toe hy op agtienjarige ouderdom as onderwyser in Dinteland begin werk het. Hy het egter skaars ’n jaar onderwys gegee toe hy in 1906 ’n advertensie in een van die skoolblaaie sien vir ’n pos in Dullstroom in Transvaal. Sy ouers het hom laat gaan op voorwaarde dat hy na drie jaar weer sou terugkeer. Die besluit om na Suid-Afrika te kom, was, as ’n mens terugkyk, ’n goeie besluit, want die droër Suid-Afrikaanse klimaat was dalk net die regte teenvoeter vir die tuberkulose. Op hierdie dorpie in die Transvaalse Hoëveld was daar ook ’n klein Nederlandse gemeenskap.

Van Dullstroom is hy terug na ’n plaasskool in die distrik Wakkerstroom en van daar na Witfontein naby Bronkhorstspruit. Hy was skaars ’n jaar en ’n half daar toe die verlange na verandering hom weer onrustig gemaak het.

Die winter van 1909 was op hande en oral het die boere begin praat van Bosveld toe trek. Op ’n vergadering is besluit dat al die kinders uit die skool gehaal sou word om die onderwyser tegemoet te kom sodat hy los kon wees van sy eentonige arbeid.

Van Melle het saam met een van die kommissielede saamgegaan na die Bosveld, maar met sy terugkoms na Witfontein na die winter, het die gedagte om weer die hele dag tussen vier mure te staan, hom afgeskrik.

Die drie jaar verlof wat hy van sy ouers gekry het, was ook al bykans om en hy moes planne beraam om terug te gaan na Nederland, skryf Martjie Bosman in De Kat van Desember 1987. Aanvanklik sou hy ’n boot in Lourenço Marques in Mosambiek haal en daarvandaan na Nederland vaar, maar ongelukkig het hy sy reisgeld in ’n bedrogspul verloor. Hy het dus om reiskoste te spaar en ook vanweë sy avontuurlus, besluit om sy passaat as ’n matroos op ’n Duitse vragskip na Wes-Indië te werk.

Hierdie ervaringe ter see, asook sy ontmoeting met verlooptes van die Nederlandse kolonie, Suriname, het later die agtergrond gevorm vir sommige van sy verhale soos "Sonder skip" en "Sondagmôre".

Na sy tuiskoms het hy weer vier jaar in Nederland gebly en op verskillende plekke skool gehou. Toe Van Melle so 23 of 24 jaar oud was, het sy "dig-aar" oopgegaan en het hy ’n groot aantal verse geskryf. "Amper geen dag het verbygegaan dat ek nie een of meer geskryf het nie. Ek moet toe ’n taamlik vaardige rymelaar gewees het, maar toe ek enkele jare hulle weer ’n slag deurlees om te kyk of daar by was wat werd was om te behou, was ek so teleurgesteld dat ek almal vernietig het," vertel hy in Afrikaanse skrywers aan die woord.

Hy het ook opstelle oor godsdienstige onderwerpe en natuursketse gedurende die tyd geskryf.

Van Melle het ook in hierdie tyd verloof geraak aan ’n Seeuse meisie, Adriana Leunis, maar in 1913, aangelok deur die sonnige klimaat en oop ruimtes, het hy vir goed na Suid-Afrika teruggekeer. Hy en Adriana is met die handskoen getrou en sy het haar by hom aangesluit in Witfontein waar hy weer onderwys gegee het.

In 1914 het die Rebellie in Suid-Afrika uitgebreek en het Van Melle besluit dat hy nie net ’n blote waarnemer sou wees nie – hy het by die Rebellemagte aangesluit en is tot offisier verkies. Ná die mislukte opstand is hy saam met die ander offisiere in hegtenis geneem waar hulle maande lank in die tronk op ’n uitspraak moes wag. Hy is uiteindelik vrygelaat met die voorwaarde dat hy vir drie jaar lank nie mag onderwys gee nie.

Die invloed wat hierdie gebeure op Van Melle as skrywer gehad het, was vêrreikend. In sy voorwoord tot Oom Karel neem sy geweer saam en ander verhale meen AP Grové dat ’n mens dit die "sentrale punt van sy Suid-Afrikaanse ervaring" kon noem. Die Rebellie keer telkemale terug as motief in kortverhale soos "Die joiner", "Twyfel", "Die sif" en "In die tronk". Ook in sy belangrikste roman Bart Nel is die Rebellie die een enkele oorsaak wat Bart Nel van sy medemens vervreem het.

Van Melle het in 1924 weer begin onderwys gee (Martjie Bosman, De Kat Desember 1987) en wel aan die Cottesloe-skool in Johannesburg. Dit was hier waar hy vir die eerste keer te make gekry het met die Afrikaner in die stad. Hy was voor 1924 nog huiwerig om in Afrikaans te skryf omdat hy van oortuiging was dat ’n skrywer alleen in sy eie taal werke van letterkundige gehalte kon lewer.

Sy eerste verhale en sketse was dus aanvanklik in Nederlands en het hoofsaaklik gehandel oor die platteland en die boeremense wat hy so goed leer ken het. Vanaf 1928 het hy egter ook in Afrikaans begin skryf.

Sy vroeëre sketse en kortverhale het in verskillende Nederlandse tydskrifte verskyn. Sy eerste gepubliseerde werk was Zuid-Afrikaansche schetsen wat in 1921 in Pretoria gepubliseer is. Dit bevat prosasketse in Nederlands.

Van Melle het al hoe meer in Afrikaans begin skryf, maar het nog soms bydraes in Nederlands na Het Hollands Weekblad gestuur. Hierdie stukke is later in die bundel Het stadje op het groene eiland in 1933 deur Neerbosch uitgegee. Dit bevat herinneringe aan sy Seeuse grootwordjare en beeld ook sy geboortestad Goes uit, asook die dorpsbewoners met hulle kleinmenslike emosies. Hierdie bundel is in 2005 tydens die 600-jarige bestaan van Goes deur Cock van den Wijngaard weer saamgestel en deur die plaaslike gemeente van Goes gepubliseer. Van den Wijngaard het die nawoord geskryf.

In Zuid-Afrika (Mei 2005) skryf Hans Ester dat Van Wijngaard hierdie bundel weer uitgegee het omdat hy ontdek het dat Van Melle ’n voortreflike skrywer is van wie kennis geneem moet word. Dertien van die verhale speel in Zeeland af en drie in Suid-Afrika.

Ester skryf voorts dat ’n leser wat een van Van Melle se verhale begin lees, dadelik sal wil weet wat die uiteinde van die verhaal gaan wees. Vir Ester lê die geheim van Van Melle se vertelkuns in sy openingsinne. En hy haal aan uit die verhaal "Zule".

"De werkelijkheid zoals Van Melle die beschrijft, doet niet geforceerd en verzonnen aan maar is voor de lezer van toen en nu herkenbaar. Meer nog dan om vertrouwde zaken als straten, rivieren en gebouwen gaat het om de herkenbaarheid van vragen en problemen. De mensen van Van Melle denken veel over het verleden na, over dingen die ze versuimd hebben, over gevoelens die ze koesterden maar die niet zuiver waren, over merkwaardige mensen die ze gekend hebben.

"Er ligt een waas van weemoed over deze verhalen. Die dominante toon is een van interesse en meegevoel. De liefde is een hoofdthema bij Van Melle. Hij beschrijft de liefde als iets dat broos en tegelijkertijd oersterk is. Hij doet recht aan het gevoel zonder in goedkope sentimentaliteit te vervallen. Het verhaal 'Het geheim' met een zeer gelukkige einde is voor mij wat dit onderwerp betreft een van de hoogtepunte. (...) Het nawoord is informatief. Van den Wijngaard heeft met zijn inzet voor de schrijver Van Melle goed werk verricht," eindig Ester sy bespreking.

Van Melle se eerste sketse in Afrikaanse is in Die Volkstem gepubliseer en latere verhale het in Die Huisgenoot en Brandwag verskyn. Meeste van hierdie verhale is ook later gebundel.

Van Melle se eerste stukkie prosa was as jong man van by die twintig. "Dit was net maar ’n kort beskrywing van ’n tafereel van die waterkant in Holland. Terwyl hy na die toneel onder hom vanaf ’n seedyk gekyk het, het hy lus gekry om dit te beskryf. "Dit was eintlik iets besonders, want nooit tevore het so ’n verlange in my opgekom nie en as seun het ek nooit in die skryf van opstelle uitgeblink nie."

’n Paar ander het gevolg en toe het daar etlike jare verbygegaan sonder dat hy iets geskryf het. Tot op ’n sekere dag wat hy tussen sy broer se boeke op ’n boek oor anargisme afgekom het. "Die trant waarop daardie boek geskryf is, is glo die droogste wat ek nog ooit teëgekom het, en ek het dan ook nooit iemand kon beweeg om dit te lees nie, maar desondanks het dit ’n diep indruk op my gemaak. Dit het my ’n liefde gegee vir die anargistiese idees, want ek het gesien van alle wysgerige en staatkundige stelsels, die anargisme nog die naaste aan die Christelike leer staan. Hulle het, altans in teorie, geen afgode nie, en hulle verafgod nóg die Mammon, nóg die mens, nóg die Staat." (Afrikaanse skrywers aan die woord)

In daardie dae het Van Melle ook heelwat gelees in ou uitgawes van De Nieuwe Gids en in ’n sekere artikel kom hy af op ’n uitspraak van Willem Kloos: "Hoe het komt, weet ik niet, maar Christelike mensen hebben over het algemeen een weinig ontwikkelde literêre smaak en Christelijke schrijvers schijnen het te moeite doen met een zwak letterkundig vermogen."

Van Melle het vertel dat hy daardie woorde opgeneem het as ’n persoonlike uitdaging: "'Wat de duiwel'," het ek gedink. 'Sal hierdie heiden ons dan nog langer met sy aantygings beskimp?'" Van Melle het gemeen dat daar tog waarheid in Kloos se aantyging gesteek het, maar hoewel hy nie kon vasstel wat die oorsaak daarvan was nie, het "ek my van dié dag af meer op skrywe gaan toelê en na ’n tyd het sommige tydskrifte verhale van my begin opneem."

"Maar," het Van Melle gesê, "as jy ’n Christelike skrywer wil wees, dan moet jy iets van die Christelike leer weet en verstaan. Met ’n geringe en oppervlakkige kennis van die Bybel kom jy nie ver nie. (...) Maar terwyl ek my met meer ywer as tevore op die studie van die Bybel toegelê het, het die woorde van Kloos al seldsamer en met minder krag in my herinnering opgeklink en het ek met die oordenking van die Heilige Skrif naderhand geen ander bedoeling meer gehad nie as om dit al hoe meer en al hoe beter te verstaan, en om dan van wat ek gevind het, mee te deel aan ander."

Van Melle sit sy redes hoekom hy begin skryf het, as volg uit: "’n geringe aangebore aanleg daarvoor; tweedens die liefde vir die anargistiese idee; bewondering vir die Afrikaanse natuur; die laagdunkende woorde van Kloos, maar boweal die oordenking van die woorde van Jesus Christus. Voeg daarby ’n neiging om sedeprekerig te wees, ’n neiging wat byna elke Hollander as ’n erfenis van sy voorouers in sy bloed meegebring het, en ek kan die hoop uitspreek dat sommige van my lesers my werk nog beter sal verstaan."

JC Kannemeyer skryf in sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur (Academica, 1984) dat Van Melle se literêre arbeid slegs ’n onderdeel van sy totale oeuvre is. "Sy besondere belangstelling in godsdienstige en etiese aangeleenthede is duidelik te sien in sy skryfwerk en dit het dikwels sy verhale beïnvloed en die artistieke gehalte daarvan geskaad. Ook die feit dat hy in beide Nederlands en Afrikaans geskryf het, het ’n sekere dualisme en spanning in sy werk tot gevolg gehad."

"Van Melle se skrywerskap kan in drie fases ingedeel word: die eerste fase wat in 1930 eindig waartydens hy verse en prosasketse in Nederlands skryf; die tweede fase waartydens hy van sy beste werk lewer met die publikasie van drie romans, agt bundels kortverhale en novelles en twee dramas; die derde fase waartydens hy meer teksbeskouings en Bybelverhandelinge die lig laat sien, asook vertalings van sy eie werke en twee swakker prosawerke met godsdienstige ondertone."

AP Grové skryf: "Van Melle is lank as verteller misken en uitgewers was nie gretig was om sy bundels te publiseer nie. Dit het ’n rol gespeel in die toenemende publikasie van geskrifte met godsdienstige besinnings. Van Melle het self gesê: 'As ek nou (1946–47) met ’n bundel kortverhale by ’n uitgewer kom, trek ’n skaduwee oor sy gesig.'"

Grové gaan voort: "In sy skryfwerk het hy veral gebruik gemaak van boustof uit sy Seeuse jeug en hy het dit in hoofsaak geplaas teen die agtergrond van die Afrikaanse platteland en die Anglo-Boereoorlog en veral die rebellie as geskiedkundige motief. Van sy swakste werk beeld die toestand in die platteland en die sosiale opheffing van die armblanke in hoofsaak uit. Sy geslaagdste verhale en romans word gedra deur die temas van verlore en gewonde liefde en veral die eensaamheid en krag van die enkeling in sy stryd om die menslike bestaan. Wat veral beïndruk is sy sierlose, byna naakte prosa."

In 1934 het Gedichten uit Zuid-Afrika, volgens AP Grové "’n bundel Nederlandse rymwerk", verskyn – ’n bundel wat volgens Van Melle self nie veel aandag getrek het nie en uiters swak verkoop het. Hy het gesê: "Dit het lank geduur voor ek aan myself erken het dat ek geen digter is nie, en dit is nog maar enkele jare gelede dat ek alle pogings om my gevoelens en gedagtes in gedigte uit te druk, laat vaar het."

Grové skryf in sy inleiding tot Oom Karel neem sy geweer saam en ander verhale (1982) dat dit is asof Van Melle met hierdie besef koers gekry het. Hy gaan bewus oor na Afrikaans en in die dertiger- en veertigerjare vind ons die bloeiperiode van sy roman- en kortverhaalkuns. Buiten romans en godsdienstige publikasies verskyn daar tussen 1935 en 1943 agt verhaalbundels.

Sy eerste Afrikaanse roman was Dawid Booysen wat in 1933 verskyn het. Dit skets die lewensloop van die hoofkarakter vanaf sy twintigerjare wanneer hy sy eerste vrou ontmoet, deur die persoonlike ontwrigting na haar dood, sy tweede huwelik en sy pogings om verarming teen te werk, sy derde huwelik en dood op 55-jarige ouderdom.

PC Schoonees se uitspraak in Die Vaderland (29 Mei 1936) oor hierdie roman lui: "... my kop draai ook van die enerse rikketik van hierdie klanklose sinne. (...) Nooit kom daar enige afwisseling in die nugter-saaklike, toonlose verteltrant nie. Soos soldate van ’n groot leër trek die reekse sinne by ons verby; netjies in gelid, almal van enerse patroon. Al die lewenswysheid van die skrywer, sy fyn gevoel en raak opmerkingsvermoë kan hierdie gebrek nie vergoed nie. Die dreuntoon van sy eensnarige ramkiekie werk te irriterend op die leser."

In Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur is JC Kannemeyer egter die volgende mening aangedaan: "Hierdie eerste roman toon ’n volgehoue tragiese karakterbeelding in ’n styl wat lynreg ingaan teen die uiterlike en bewustelike mooidoenery van die meeste van Van Melle se tydgenote."

Oor Dawid Booysen laat Van Melle hom as volg uit: "Die boek is goed ontvang. Daar was wel ’n baie ongunstige beoordeling van iemand wat destyds in Johannesburg gereeld uitgesaai het en wat van mening was dat die boek nie werd was om op jou rak te staan nie, en dan was daar mense, soos byvoorbeeld dr Schoonees, wat hulle vererg het oor die kort, hortende en stotende sinnetjies waarin die verhaal geskryf is, maar verder is dit, vir sover ek weet, deur al die resensente verwelkom. Oor die algemeen is nie alleen die skryf self nie, maar al die ander dinge in verband met die publikasie, ’n besonder aangename ondervinding." (Afrikaanse skrywers aan die woord)

Daar was ook ander gunstige uitsprake oor Dawid Booysen. Een resensent (vermoedelik in Die Huisgenoot van 1 September 1933 - geen bron of datum vermeld op knipsel nie) het geskryf dat as jy die boek neersit nadat jy dit klaar gelees het, is jy heel, heel stil. "Daar gaan van die laaste bladsye ’n sagte en innige ontroering uit, so vol weemoed en tegelyk so weldadig, dat dit moeilik is om in woorde uit te druk. Want jy het in hierdie werk kennis gemaak met ’n groot en edel en eerlike mens, aan wie jy jou te inniger verwant gevoel, omdat hy nie vry is van swakhede nie. En nie alleen het jy met Dawid Booysen kennis gemaak nie, jy het ook enige dae met hom verkeer." (...)

"Hy het jou vriend geword en hoe verder jy gelees het, des te inniger het die vriendskap geword, wat jy byna van die begin af vir hom gevoel het en des te meer het jy in hom deur en deur die gawe man leer bewonder..." (...)

"Dit is van Dawid Booysen so bewonderenswaardig: dat die held van die storie nie die indruk maak dat hy ’n persoon uit ’n boek is nie, maar – hoogste glorie van die kuns! – ’n wese van vlees en bloed." (...)

"Groot en groots skryn die lewe deur die bladsye van hierdie boek, waarin die wye ongereptheid van die Suid-Afrikaanse veld hom uitstrek. In daardie eerbied vir die grootsheid van die lewe laat dit ’n mens soms dink aan die edelste skeppings uit die Skandinawiese letterkunde, met name aan sommige novelles van Björnstjerne Björnson, wat ook dikwels sy helde uit die boerelewe geneem het. Ons moet daarby nie vergeet dat die roersels van die menslike hart oor die hele wêreld dieselfde is nie en so is elke kunswerk in sy diepste wese internasionaal. Dawid Booysen behoort tot hierdie soort kunswerke en verdien dan ook om uit Afrikaans in moderne tale vertaal te word nie."

"Selde het ek ’n boek met soveel genot gelees, nooit het ek die verskyning van ’n boek met soveel liefde aangekondig nie."

Enkele dramas het ook uit Van Melle se pen verskyn. Hy het in Afrikaanse skrywers aan die woord vertel dat hy nie veel van die skryf van dramas geweet het nie. Hy het egter een aand by ’n vriend van hom gekom en dié was besig om aan die skryf van ’n Griekse drama te werk. Sy vriend het aan hom verduidelik aan watter vereistes ’n drama moet voldoen. En só het die drang by Van Melle opgekom om ook een te skryf. Daardie selfde aand het hy aan een begin werk.

Hy het twee dramas redelik gou na mekaar geskryf – die eerste was Die huwelik van Pop le Roux wat in 1935 deur Van Schaik gepubliseer is en die ander was Wraak wat aanvanklik deur Van Melle self uitgegee is en in 1937 deur Afrikaanse Persboekhandel.

Van Melle self was van mening dat Wraak die beste van die twee dramas was, maar dat hy nie enige uitgewers kon kry wat dit wou uitgee nie. Die beoordelaars het gemeen dat die stuk te somber en treurig was. Die ontvangs, nadat hy dit self gepubliseer het, was ook nie waffers nie – die verkope was nie goed nie en die kritiek het hom teleurgestel.

Hy het verder vertel: "Dit het gelyk of die meeste resensente nie die moeite geneem het om lank oor die werk na te dink nie, en die meerderheid het hulleself met ’n paar niksseggende sinne daarvan afgemaak, terwyl ander dit in ’n mindere of meerdere mate ongunstig beoordeel het." (...)

"Hierdie ondervinding het my ’n swak opinie gegee van die Afrikaanse kritici, altans van dié wat toneelstukke beoordeel. 'Hoe is dit moontlik,' het ek gedink, 'dat hulle nie kan sien dat dit ’n goeie drama is nie?' (...)

"Later het ek die drama omgewerk tot ’n verhaal. Dit het in Die Huisgenoot verskyn en is later in een van my bundels opgeneem. Dit is ook nou in Engels vertaal. Wraak is egter in wese ’n drama, maar as drama is dit verwerp. As ek nou maar vrolike dramas kon skryf!"

Van Melle het later die drama Wraak verwerk tot ’n kortverhaal en dit is opgeneem in die bundel Begeestering wat in 1943 by Nasionale Boekhandel verskyn het. In Die Vaderland van 15 Oktober 1943 was Abel Coetzee van mening dat die stuk met die omwerking aan letterkundige skoonheid gebaat het: "Beknoptheid van segging, soberheid wat betref die beskrywings en wat betref mededeling van die essensiële feite, was altyd treffende kenmerke van Van Melle se werk, en in die omwerking tot kortverhaal het 'Wraak' daardie gebondenheid van segging behou."

Van Schaik het in 1935 Van Melle se eerste drama, Die huwelik van Pop le Roux: drama in sewe bedrywe gepubliseer. Dit was ’n uitbreiding van Pop’s huwelik uit Zuid-Afrikaansche schetsen. En dit het as grondslag gedien vir die eerste deel van ’n vervolgverhaal wat in 1941 in Die Huisgenoot verskyn het. Daarna is dit ook as novelle onder die titel "Pop" in die bundel Paaie wat wegraak gepubliseer. Op versoek van lesers volg twee verdere reekse, Pop se huwelik (1942) en Pop se tweede huwelik (1943) wat ook in Die Huisgenoot verskyn het. Dit word in 1949 as roman in Nederlands en in Engels gepubliseer onder die titels Een lente verspeeld en Lost years. Eers in 1961 is dit in Afrikaans uitgee onder die titel Verspeelde lente met redigering deur Jan Scannell. Verspeelde lente is in 1984 tot ’n baie suksesvolle televisiereeks verwerk met Elize Cawood in die rol van Pop le Roux onder regie van Manie van Rensburg.

Pop le Roux is ’n baie mooi, maar ’n ietwat onontwikkelde boeremeisie uit ’n arm familie. Die jong mans van die omgewing val almal oor hulle voete om haar guns te wen. Alhoewel sy baie verlief is op Manie Cronje, ’n arm jong man, trou sy met Jan Greyling omdat sy nie kans sien om verder in armoede te lewe nie en Jan ’n ryk wewenaar is. Sy leer om by haar nuwe lewe aan te pas en is ’n goeie vrou vir Jan. Na Jan se dood bewimpel Pop dit so dat sy en Manie bymekaar uitkom en, het Audrey Blignault (Homies Trust-nuus, Augustus 1962) geskryf dat Pop na haar eerste verspeelde lente met Jan in haar tweede huwelik met Manie ’n gelukkige huwelikslewe kon ervaar.

Audrey Blignault het verder geskryf: "Van Melle se groot krag lê juis in sy diepe insig in die ingewikkelde psige van die mens. Die mense oor wie hy in hierdie roman skryf, is eenvoudige boeremense. Maar soos Van Melle hulle aan ons openbaar, word hulle werklike, lewende mense met hul eie sterk gevoelslewe, hul diep-verborge vrees en geheime verlangens, elkeen met sy eie eensame besef van sy ontoereikendheid as mens in die aangesig van die ewigheid. Hy skryf sober, saaklik en eenvoudig. Maar sy eenvoud is bedrieglik, want dit is die eenvoud van ironie, dikwels van skrynende tragiek. Prosa van die gehalte word selde in Afrikaans geskryf."

Oor die 1986-uitgawe van Verspeelde lente skryf Esme Mittner (Sarie, 22 Oktober 1986) dat tyd nie sy merk op die verhaal gelaat het nie. "Die eenvoudige, onopgesmukte Afrikaans vertel steeds ’n lekker, onderhoudende storie."

Pop en Manie se hereniging loop gelukkig glad nie op ’n soetsappige einde uit nie, volgens Mittner, want "daarvoor is Van Melle ’n te fyn skrywer. (...) Die skets van ’n nou vergange milieu is besonder oortuigend en gee ’n blik op die Afrikaner van daardie tyd."

Abel Coetzee (Tydskrif vir Letterkunde, Desember 1961) het gemeen dat Van Melle se toneelstuk Die huwelik van Pop le Roux (1935) Van Melle se beste roman was. En hy het ook Verspeelde lente beskryf as die "volmaakte keerbeeld" van Bart Nel.

"In Bart Nel het ons die beeld van die groeiende eensaamheid van die mens. In Verspeelde lente die geloof in die goeie in die mens, die beeld van die mens wat met die regte gesindheid teenoor sy medemens, weier om die kwaad die oorhand te laat kry en wat daarom gaandeweg al hoe stewiger ingebou word in die draad van die samelewing sodat hy uiteindelik sterk staan onder en in sy mense, een van hulle, ’n gelukkige enkeling."

"Hierdie twee romans is ’n tweeling," aldus Coetzee, "nie identies nie, maar onafskeibaar. Hulle moet saam gelees word, liefs saam in een bundel verenig wees. Met dié tweeling staan Johannes van Melle se naam onuitwisbaar geskryf in die ontwikkeling van die Afrikaanse romankuns."

Oor die Engelse weergawe, Lost years, was PGS (Transvaler, 17 November 1951) van mening dat Van Melle hom hier ook weer toon as die realis, maar sy karakters leef in Engels nie soos byvoorbeeld in Bart Nel nie. "Oom Jan, oom Sagrys, die weduwee Minnaar en sy ander karakters uit die plaaslewe wil maar net nie die 'rooitaal' slaan nie. Hul gesels nie spontaan nie, en hul sêgoed en segswyses is nie so pittig soos die Boeretaal self nie.

"Dit loon die moeite om die boek te lees, ook terwille van die skrywer se proefnemings."

Dit is egter met Van Melle se volgende roman dat hy ’n blywende indruk op die Afrikaanse letterkunde gelaat het. Bart Nel, de opstandeling is in 1936 in Nederlands gepubliseer met die lopende teks in Nederlands en die dialoog in Afrikaans. Eers in 1942 word dit ten volle in Afrikaans gepubliseer met die slotwoorde van die hooffiguur as titel – En ek is nog hy. In die 1950-uitgawe het dit die eerste keer in Afrikaans verskyn met die titel Bart Nel: ’n roman uit die tyd van die Rebellie van 1914.

Bart sluit hom in 1914 teen Fransiena se wil by die rampspoedige Rebellie aan. Terwyl hy in die veld en later in die gevangenis verkeer, veg Fransiena haar eie verbete stryd teen die daaglikse eise van die plaas, die skuldeisers en die bitterheid in haar. Maar elke stryd wat in hierdie verhaal gevoer word, loop op nederlaag uit. Alleen Bart glo dat hy die stryd om sy siel gewen het, sodat hy ten slotte die nou bekende woorde sê: "My kry hulle nooit. Ek is Bart Nel van toe af, en ek is nog hy."

In Die Burger van 7 Augustus 1937 het SPE Boshoff in sy resensie geskryf: "Die eenvoudige verhaal word sober en vlot vertel, maar bevredig oor die algemeen nie en selfs in ’n mindere mate as Dawid Booysen en Oom Freek le Grange se derde vrou. Dit is veral die tweeslagtigheid van vorm wat my hinder – die feit dat die verhalende gedeelte in Nederlands is en die dialoog in Afrikaans met ’n Nederlandse tint. As dit daartoe sou strek om ons Afrikaanse literatuur vir Nederlandse lesers meer toeganklik te maak, dan sou dit ’n goeie diens verrig, maar dit het met kuns niks te maak nie".

Roelin Stagger vergelyk in Die Huisgenoot van 15 Oktober 1943 die gees van En ek is nog hy met die Transvaalse landskap wat wyd en eentonig is. Sy skryf verder dat die styl bepaald vlak is, "alles is ’n bietjie maklik neergeskrywe, hier en daar stuit ’n mens op onnodige herhalings sowel as op die onnodige gebruik ná mekaar van dieselfde woorde".

In 1988 word ’n skooluitgawe wat vir voorgeskrewe werk bedoel is, deur Van Schaik uitgegee. Hierdie uitgawe is "gesuiwer" van woorde wat moontlik kan aanstoot gee soos "Tommie", "kaffer", "Joodjie" en deur "meer aanvaarbare" terme vervang.

Cecile Cilliers (Beeld, 19 Desember 1988) het as volg hieroor geskryf: "Niemand hou daarvan dat daar met ’n teks gepeuter word nie, veral as dit ’n teks is met die gehalte van Bart Nel. (...) Die roman is ’n boeiende beskrywing van botsende belange, van die persoonlike stryd tussen twee sterk persoonlikhede, ’n stryd wat ’n spieëlbeeld word van die botsende belange wat in die tyd heers. Die karakteriserings is eg, natuurlik, ongedwonge. Daar is nie helde of skurke nie, eerder ’n reguit blik op mense wat skryn in sy eerlikheid. Maar dit is die eenvoudige, óóp skryfstyl wat opval. Dit is onmiskenbaar Van Melle, met ’n treffende helderte. En mens en milieu is onlosmaaklik deel van die skryfwyse."

Vir Abel Coetzee (Die Vaderland, 15 Oktober 1943) is En ek is nog hy ons "beste roman oor die Rebellie van 1914 en ’n verryking van die Afrikaanse romankuns". Hy het Bart Nel gesien as ’n man wat trots is dat hy "in sy hoogste verlatenheid nog die oorspronklike beginselvaste man is, wat kan handel volgens oortuiging en volgens eie opvatting van wat reg en verkeerd is.

"Treffend word dit saamgevat in die slotparagrawe van die boek: 'Hulle het nou alles,' sê hy half uitdagend, 'hulle het my grond, my vrou, my kinders. Hulle kan maar kom, hulle kan my maar in die tronk gooi en hulle kan maar my grond vat; hulle kan my maar doodskiet ook, maar my sal hulle nie kry nie ... Ek is Bart Nel van toe af, en ek is nog hy ...'"

In ’n artikel wat Wium van Zyl in Rapport van 19 April 2015 geskryf het, vra hy die vraag waarom die "grootste Afrikaanse oorlogsroman" nooit die Hertzogprys verower het nie.

Van Zyl skryf as volg: "Ons groot oorlogroman is egter Bart Nel van J van Melle waarin die Rebellie lewenskeuses afdwing. Trouens, Van Melle het self gerebelleer. Sy roman gaan egter veel verder en beeld ’n menslike houding uit, dié van die patriargale soort man wat maklik besluit wat sy beginsels en plig is. Dit is juis dié soort figuur wat ook opgesluit lê in wat by Deneys Reitz deurskemer (dus heeltemal polities aan die ander kant!) en wat nie rekening hou met die ellende wat dit vir sy gesin meebring nie. In dié opsig is dit eweneens ’n anti-oorlogsroman. Die Bart Nel-figuur is egter óók, soos WF Jonckheere dit noem, 'die ewige rebel' wat juis danksy sy individuele tragiek bokant die spesifieke stryd uittroon.

"Hierdie roman is enige tyd op dieselfde peil as die beste wat ek oor die oorlog in ander literature ken. Waarom die Afrikaanse kritici destyds die gehalte misgekyk het, bly ’n raaisel. Van Melle het byvoorbeeld nooit die Hertzogprys gekry nie. Vandag word dit tereg erken as ons belangrikste roman voor dié van die Setigers."

Prof Elize Botha het Bart Nel beskryf as een van die beste romans in Afrikaans wat die sterkste aanspraak daarop kan maak dat dit die peil van die Afrikaanse romankuns nader aan dié van die Afrikaanse poësie gebring het.

Van Melle het self gesê in Afrikaanse skrywers aan die woord dat hy En ek is nog hy as die beste boek beskou wat hy geskryf het. "Ek self hou egter meer van Denker, kom kyk, weens sy groter rykdom aan gedagtes en omdat dit soveel van sy eie lewe weerkaats. ’n Aangename verrassing na die verskyning van Bart Nel was ’n brief van NP van Wyk Louw waarin hy sy waardering vir die boek uitspreek." 

Terwyl Pieter Fourie artistieke direkteur van Kruik was, het hy Bart Nel vir die toneel verwerk en is dit deur Kruik op die planke gebring met Pieter Joubert as Bart en Babs Laker as Fransiena. Herman Engelbrecht meen egter dat Joubert nooit Bart Nel geword het nie. Die forsheid wat met Bart geassosieer word, het nooit ’n werklikheid geword nie. Babs Laker het volgens Engelbrecht onvergeetlike spel gelewer – oortuigend, met fyn aanvoeling en subtiliteit. Fourie het die verwerking met groot piëteit aangepak, maar die stuk was enersyds weens die tallose kort tonele te fragmentaries om ooit ’n artistiek bevredigende geheel te word en andersyds het die klem op die uiterlikhede, truuks, ’n verlies aan diepte tot gevolg gehad.

WF Jonckheere (Blokboek oor Bart Nel) vertel dat in Van Melle se nalatenskap daar ’n manuskrip van Bart Nel: drama in veertien bedrywe is wat egter nooit deur enige uitgewer aanvaar is nie. Hy het ook verder nege verhale tot toneelstukke verwerk waarvan net Pop en Wraak uitgegee is. Dit is dus duidelik dat Van Melle self ’n groot liefde vir die toneel gehad het, maar sonder baie sukses.

Bart Nel is in 1979 vir televisie verfilm met Chris Barnard as die draaiboekskrywer en Karel Trichardt en Sandra Prinsloo in die hoofrolle. In sy artikel oor Van Melle met die herdenking van sy 100ste verjaardag skryf WF Jonckheere In Tydskrif vir Letterkunde (Augustus 1987) dat die verfilming van Verspeelde lente veel geslaagder was as die bewerking van Bart Nel. Volgens hom moet ’n mens toegee dat Van Melle se Van Schendelagtige karakters moeilik herskepbaar was in films vir ’n publiek van die jare tagtig.

As kortverhaalskrywer het Van Melle van sy sterkste werk gelewer. Agt kortverhaalbundels het verskyn tussen 1935 en 1943. In 1949 verskyn Keur uit die verhale van J van Melle saamgestel deur Uys Krige, in 1972 Woorde wat saamvloei en ander verhale, in 1982 Oom Karel neem sy geweer saam en ander verhale saamgestel deur AP Grové en in 1983 Mense wat maar eenmaal liefhet en ander liefdesverhale saamgestel deur Hennie Aucamp.

Van Melle vertel self in Afrikaanse skrywers aan die woord dat hy in Dinteloord geleer het "hoe om kortverhale te maak". Dinteloord is ’n dorpie in die Hollandse provinsie Brabant en was Van Melle se eerste standplaas as onderwyser. "My klas van by die vyftig kinders het bestaan uit die eerste drie leerjare. Onderwyl ek dan met die een groep besig was, moes die ander skriftelike werk doen. In daardie dorp woon egter die praatlustigste kinders van die hele Holland. Hulle het gesels, met hulle klompe gestommel, geraas gemaak met hulle leie en griffels en onder daardie rumoer moes ek dan vir die ander lesgee. As dit dan so erg was dat ek myself nie meer kon verstaan nie, het ek uitgeroep dat ek eers ’n storie wou vertel. Dan was dit dadelik doodstil en vir ’n tyd daarna was dit nog rustig. Maar my voorraad verhaaltjies het gou uitgeput geraak en moes ek self stories begin versin."

In sy bespreking van Mense wat maar eenmaal liefhet skryf André P Brink (Rapport, 30 Oktober 1983) dat in die kortverhaal "Ou Vorster" Van Melle op sy allerbeste is. Wat Brink veral tref, is Van Melle se tydsintuig. "In sy rakelingse skeer oor enkele verhelderende toppunte in ’n lewe, bereik hy iets Tsjesckowiaans. (...) Lank voor die term 'grammatologie' gemunt is, het Van Melle geweet wat dit beteken. Sy verhaal vorder juis in die stiltes tússen momente, in ’n versweë subteks. Nog selde in Afrikaans is ’n hele lewe se gedempte tragiek só suiwer verhaalgestalte gegee as in 'Ou Vorster'."

Oor Oom Karel neem sy geweer saam skryf Hennie Aucamp (Vaderland, 26 Augustus 1982) dat Grové met sy keuses van verhale "nuwe vensters oopmaak" op Van Melle se merkwaardige verteltalent. Aucamp meen dat Van Melle nie ’n voorloper van Sestig was nie, soos sommige uitsprake laat vermoed nie; "hy is ’n groot deurlopende talent wat ook vir die geslag van môre en oormôre ’n tydgenoot gaan wees."

Kannemeyer meen dat Van Melle in sy bekende "Oom"-verhale van sy voortreflikste skryfwerk lewer en dat Oom Karel neem sy geweer saam die hoogtepunt in sy kortverhaalkuns verteenwoordig.

In sy bespreking van AP Grové se samestelling getiteld Oom Karel neem sy geweer saam, skryf JP Smuts (Die Burger, 9 September 1982) dat hierdie bundel veral om een rede belangrik is: "dit vestig opnuut die aandag op die werk van waarskynlik die verdienstelikste Afrikaanse prosaïs van voor Sestig." (...)

"Uit tekste soos Die joiner, Oom Diederik leer om te huil, Die tuiskoms en Oom Karel neem sy geweer saam kan die Van Melle-wêreld al in ’n groot mate gerekonstrueer word: die dikwels mistieke inslag wat skering en inslag vorm, die fyn ironie, die amper klaar getipeerde figure wat hy kies en wat dan meermale ’n onverwagte innerlike diepte en sterkte openbaar, die onderbeklemtoning deur die verteller en sy vermoë tot suggestie waardeur die kragte wat in die verhaal werksaam is, onder die oppervlak gehou word en ’n feitlik verstilde spanning bring wat by tye aan Tsjekof herinner."

In ’n verhaal soos "Van den Berge kry ’n nuwe woonplek" kan die leser of navorser meer leer oor Van Melle se werkwyse. Wat veral opmerklik is in hierdie verhaal, is sy fyn uitbeelding van die gewone mense in sy normale lewe: "Die eerbied van mens teenoor medemens wat in al die onderlinge verhoudinge van die figure merkbaar is. En jy besef opnuut: Van Melle is in die eerste plek ’n skrywer van gevoelige realistiese prosa en nie iemand vir die groot gebaar nie." (aldus Smuts)

Ook Anna van Zyl (Volksblad, 13 November 1982) is vol lof vir Van Melle as prosaïs. Sy was van mening dat Van Melle se verhale die "toets vir literatuurwees" deurstaan het.

"As dertig/veertiger het hy reeds ’n vernuwende stempel op die Afrikaanse prosa van dié tyd afgedruk in die sin dat hy realisme verdiep het verby die punt van kamerawerk. Hy het daarin geslaag om realisme te verdiep tot betekenisvolle inhoud."

"Hy kon distansie volhou deur geslaagde objektiwiteit van sy tema, en hy kon ’n realistiese illusie bewaar. Hy het dus begin om die subjektiewe stofbenadering van byvoorbeeld Van den Heever en Malherbe te oorkom. Met sy soberder styl en nugter verteltrant het hy verfrissing in die destydse prosa gebring." (...)

"Sy hantering van ironie is treffend. Hy bou talle van sy verhale op teenstellings; hy bring skyn en werklikheid in kontras, gevangenskap en vryheid, uitbundigheid en stilswye. ’n Mens kom tot die besef dat dit nie die tema of motief is wat by hom die swaarste weeg nie, maar eerder wat hy daarmee kan sê. Hiermee wen sy verhale aan universaliteit."

Ná die verskyning van die kortverhaalbundel, Venster aan die straat (Nasionale Pers, 1940) het WEG Louw in Huisgenoot van 27 Desember 1940 oor Van Melle se kuns en skryfwerk geskryf: "By ’n vergelyking met vroeëre werk van hierdie nogal produktiewe skrywer, kry ’n mens die indruk dat hy met die verhale in hierdie nuwe versameling die goeie peil van sy werk handhaaf. Daar is weliswaar onder hierdie stukke, waarvan sommige uiters beknop en nouliks meer as sketse is, geen enkele wat ’n mens naas "Oom Karel neem sy geweer saam" kan stel nie, maar hierdie besonder verhaal van Van Melle is dan ook weens sy sterk gegewe en die uiters sober en helder verteltrant, na my eie gevoel, nie alleen die beste wat hy ooit geskrywe het nie, maar een wat stellig in elke verteenwoordigende bloemlesing van Afrikaanse kortverhale behoort te staan."

"Die twee treffendste kenmerke van Van Melle se kuns is vir my die volgende: ten eerste die oorspronklikheid – sy dit in betreklike sin – van die motiewe en die probleme waarmee hy hom besig hou; en ten tweede die besonder ingetoë aard van sy prosa."

"Wat die eerste punt betref, is dit opmerklik dat Van Melle hom byna geheel en al losgemaak het enersyds van die oordrewe romantiese en oppervlakkige liefdesverhoudings wat nog maar altyd tot vervelens toe in die Afrikaanse kortverhaal terugkeer; en andersyds van die kleinlike en dikwels platvloerse realisme van poetse en petaljes." (...)

"Wat die tweede punt betref, is hierdie sober en nugter prosa, ondanks ’n sekere eentonigheid hier en daar, verfrissend vry van elke literêre program of pretensie aan die een kant, en aan die ander kant sonder enige oorspanning of mooidoenery. In sy beste oomblikke skryf Van Melle ’n suiwer en saaklike Afrikaans, met ’n verantwoorde dialoog en ’n goeie gevoel vir atmosfeer."

"Van Melle is in die verlede waarskynlik al soms in die verleentheid gebring deur oordrewe en indiskrete bewondering. My persoonlike indruk van sy werk in die algemeen, en ook van hierdie versameling, is nie dat dit 'groot' is nie – ’n woord wat ons almal dikwels so agteloos gebruik – maar dit is eerlik en suiwer, en dikwels van ’n baie menslike en begrypende lewensgevoel."

Van Melle het in 1942 met pensioen afgetree en hom van toe af net op sy skryfwerk toegespits.

Na ’n siekbed van ongeveer twee maande is Van Melle op 8 November 1953 in die Algemene Hospitaal in Johannesburg oorlede. Hy is vanuit die Hervormde Gemeente in Westdene in Johannesburg begrawe. Die diens is gelei deur ds HMJ Kramer.

In Junie 1958 het die Johannesburgse munisipaliteit in medewerking met die Afrikaanse Skrywerskring ’n gedenkplaat teen die skuinste van ’n rots op die Melvillese kliprantjies aangebring ter ere van Van Melle. Sy dogter, Tienie Kamp, het vertel dat hy baie in hierdie kliprantjies rondgestap het en selfs daar gesit en skilder het, want hy was ’n man van die natuur. Sy het ook ’n krans tydens die onthullingsplegtigheid gelê. (Transvaler, 18 Junie 1958)

Na sy dood skryf FEJ Malherbe in Ons Eie Boek as volg: "In die direktheid en eenvoud van sy vertelling lê sy bekoring. In teenstelling met die gevoelsuitinge van andere bly Van Melle, soms tot op die alte nugtere af, objektief in sy mededelinge, wat hom tewens behoed van partydigheid in sy voorstelling van mense. Hy verkies om self altyd op die agtergrond te bly. Daar is wel innige deernis met die mens, maar dit word nie geaksentueer nie, die leser kry dit uit die verhaal self. Sy ironie is van die fynste in Afrikaans; maar simpatie met die dwase teenstrydighede van die mens bring die ingetoë glimlag van begrip. En so kry ons sy humor. Effektief word sielkundige verwikkeling gemotiveer deur fyn waarneming van die omgewing en nugter-presiese beskrywing van uiterlike dinge. Dit is karakteristiek van Van Melle, hierdie kontras van nugter beskrywing teenoor die heftige gemoedsbeweging van sy figure. Sulke objektiwiteit is dikwels styl op sy uiterste. Dit is ons grootste verlies met sy heengaan. En dit ons blywende wins."

In Die Vaderland van 9 November 1953 skryf die verslaggewer: "'Hy beweeg daar in die omgewing soos ’n man in die leeuveld, versigtig, op sy hoede, [..] ’n vegter wat nie wil bang word nie...'. Van Melle is nie meer nie, maar so het hy geleef, soos hierdie karakter in een van sy boeke. As vreemdeling in ’n vreemde land het hy uit die staanspoor nie probeer vyande maak nie, maar versigtig beweeg en gewerk en hom aangepas by ons lewensaard en omstandighede en sy spore beslis diep nagelaat in werk en wandel. Ook Van Melle het ons volk en land leer ken in tye van woelinge en gistings maar steeds was hy ’n vegter wat 'nie bang wou word nie', en met sy gawes het hy die Afrikaanse volk en taal gedien op ’n wyse wat nie maklik vergoed sal kan word nie. Vir ons jong taaltjie het sy werke ’n bydrae gelewer waarvan ’n aansienlike deel van blywende waarde sal wees."

In sy voorwoord tot Keur uit die verhale van J van Melle het Uys Krige as volg oor Van Melle geskryf: "Van Melle se realisme is prysenswaardig en sy objektiwiteit is nie dié van die kamera nie, maar is deurstraal met die helder lig van sy begrip en insig, sy gevoel vir en medelye met die mens." (De Kat, Desember 1987)

Martjie Bosman is in De Kat (Desember 1987) dieselfde mening toegedaan: "Die medemenslikheid en begrip wat uit sy beste werke spreek, kan beskou word as produk van Van Melle se strewe na die skep van goeie Christelike letterkunde, waarvoor volgens ’n ongepubliseerde artikel ’n groot liefde vir mense nodig is."

In 1987, ter herdenking van Van Melle se honderdste verjaardag, is ’n huldigingsaand by die Nasionale Afrikaanse Letterkunde Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein gehou. Video-opnames van Verspeelde lente en Bart Nel is vertoon, terwyl Louis Venter van die Vrystaatse Universiteit en ’n kenner van Van Melle se werk as spreker opgetree het. Studente van die Bloemfonteinse Onderwyskollege het onder leiding van Petro Visser ’n gedramatiseerde weergawe van uittreksels uit Van Melle se werke aangebied. (Volksblad, 7 Februarie 1987)

Publikasies

Publikasie

Zuid-Afrikaansche schetsen

Publikasiedatum

[1921]

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: De Spectator

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Dawid Booysen

Publikasiedatum

  • 1933
  • 1936
  • 1938
  • 1943
  • 1948

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Het stadje op ’t groene eiland

Publikasiedatum

  • 1933
  • 2005 (saamgestel deur Cock van den Wijngaard)

ISBN

(hb)

Uitgewers

  • Neerbosch: Neerbosch’ Boekhandel en Uitgeverij
  • Goes: Gemeente Goes

Literêre vorm

Nederlandse kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Oom Freek Le Grange se derde vrou en ander verhale

Publikasiedatum

1935

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die huwelik van Pop le Roux: drama in sewe bedrywe

Publikasiedatum

1935

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

  • Bart Nel, de opstandeling
  • En ek is nog hy
  • Bart Nel: ’n roman uit die tyd van die Rebellie van 1914

Publikasiedatum

  • 1936
  • [194-?]
  • 1942
  • 1960
  • 1962
  • 1969
  • 1973
  • 1977
  • 1984
  • 1988
  • 2004 (Klassieke uitgawe)

ISBN

  • 0627000452
  • 0627014089 (sb)
  • 0627015840 (sb)
  • 0627015883 (sb)
  • 0624041247 (sb)

Uitgewers

  • Amsterdam: Wereldbibliotheek, Sloterdijk
  • Kaapstad: HAUM
  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Pretoria: Van Schaik
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Duits

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tekstbeschouwingen

Publikasiedatum

1936

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: De Bussy

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Wraak

Publikasiedatum

1937

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Oom Gideon ontmoet die Voortrekkers

Publikasiedatum

1938

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Vergesigte

Publikasiedatum

1938

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Oom Daan en die dood

Publikasiedatum

1938

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Pers Boekhandel

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Venster aan die straat: kortverhale

Publikasiedatum

1940

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Pers Boekhandel

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Mense gaan verby

Publikasiedatum

1940

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Paaie wat wegraak

Publikasiedatum

1941

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Uit die groot skatkamer

Publikasiedatum

1941

ISBN

(hb)

Uitgewers

Stellenbosch: CSV-Boekhandel

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Begeestering: kortverhale

Publikasiedatum

1943

ISBN

(hb)

Uitgewers

Bloemfontein: Nasionale Pers Boekhandel

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Denker! Kom kyk!

Publikasiedatum

1944

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Unie-Boekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die profesieë van Esegiël

Publikasiedatum

1945

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die profesieë van Jesaja

Publikasiedatum

1945

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: J van Melle

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Doop

Publikasiedatum

1947

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Duisendjarige ryk

Publikasiedatum

1947

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die profesieë van Sagaria

Publikasiedatum

1947

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die profetiese rede

Publikasiedatum

1947

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Uit die groot skatkamer. Tweede bundel

Publikasiedatum

1947

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Wallachs

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Saad wat opkom

Publikasiedatum

1947

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Een lente verspeeld

Publikasiedatum

1949

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kampen: JH Kok

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 1949

Afrikaans 1961

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Keur uit die verhale van J van Melle. Saamgestel deur Uys Krige

Publikasiedatum

  • 1949
  • 1955
  • 1964
  • 1970
  • 1972

ISBN

0627000150 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die simboliek van die paradysverhaal

Publikasiedatum

1949

ISBN

(sb)

Uitgewers

Pretoria: Wallachs

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die simboliese getalle in die Bybel

Publikasiedatum

1950

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Verspeelde lente

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1963
  • 1969
  • 1971
  • 1986

ISBN

0624023249 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Uit Nederlands

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Woorde wat saamvloei en ander verhale. Saamgestel deur Uys Krige

Publikasiedatum

1972

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Oom Karel neem sy geweer saam en ander verhale. Saamgestel deur AP Grové

Publikasiedatum

1982

ISBN

0624017621 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Mense wat maar eenmaal liefhet en ander liefdesverhale. Ingelei deur Hennie Aucamp

Publikasiedatum

1983

ISBN

0627013166 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

De brief

Publikasiedatum

[19-]

ISBN

(sb)

Uitgewers

Den Haag: Voorhoeve

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Artikels oor J van Melle beskikbaar op die internet 

J van Melle se ATKV LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-12-01 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
  • Nienaber, PJ. 1947. Afrikaanse skrywers aan die woord. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel.

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top