Is wat joernaliste doen, géld werd?

  • 0
Richard Poplak (bron: www.richardpoplak.com)

Ons klas van 24 wil-wees-joernaliste kry voorrysitplekke in die nasionale debat oor die toekoms van joernalistiek in 'n toenemende aanlynmediabedryf.

Tydens sy lesing aan ons leun die vername joernalis Richard Poplak oor die sprekertafel, kyk ons stip in die oë en vra retories: "Is wat ons doen, geld werd?"

Hy gee die antwoord wat ons almal te bang is om self te gee: "Op die oomblik is die oorweldigende antwoord nee. Hierdie idee dat aanlyn inhoud verniet moet wees, is in ons koppe ingraveer. Ons is eintlik geleer dat wanneer ons op ons rekenaars gaan, is alles verniet."

Poplak is een van menigte joernaliste, entrepreneurs, akademici en mediabase
wat in lesings by ons departement hul twyfel uitspreek oor die toekoms van joernalistiek en ons terselfdertyd probeer toerus om joernaliste te word.

Die dubbel-boodskappe maak ons mal.

Die uitvoerende hoof van Media24, Esmaré Weideman, die Right 2 Know-aktivis Mark Steinberg, Tim du Plessis, voormalige hoof van Media24 se Afrikaanse koerante, en Lizette Rabe, voormalige redakteur van Sarie, kan nes Poplak die antwoord en die kwessies vaspen, maar nie die oplossing nie.

Baie meen dit is ons generasie joernaliste se verantwoordelikheid om die pad vorentoe uit te lê.

Rabe het in 'n onlangse opiniestuk, “Mediasourus: nooit!” in Die Burger gepleit dat joernaliste, ondanks die gebrek aan 'n volhoubare aanlynmedia-sakemodel, kwaliteit-joernalistiek moet nastreef – ter wille van joernalistiek se rol in die samelewing.

Aanhaling uit Lizette Rabe se "Mediasourus: nooit!"-artikel in Die Burger

"Ek kan nie 'n wêreld indink sonder joernalistiek nie," sug Weinberg tussendeur sy lesing oor die noodsaak vir persvryheid vir Suid-Afrika se demokrasie.

Tog verg goeie joernalistiek tyd, werk en gevolglik 'n salaris.

Vervolgens vra Poplak die vraag: "Wat beteken die pers vir ons? Wat is ons bereid om te doen om stemme in die media oop en vloeiend te hou?"

Daar is mense wat glo dat goeie joernalistiek 'n integrale rol in ons samelewing het.

http://www.amabhungane.co.za/

Amabhungane is 'n onafhanklike ondersoekende-joernalistiek-organisasie wat deur publieke individue befonds word. Amabhunganese artikels word dan in Mail & Guardian gepubliseer.

Sonder die befondsing van die publiek is 'n ondersoekende-joernalistiek-afdeling nie volhoubaar nie, meen Amabhungane-joernalis Craig McKune.

Die mantra lui immers: “Die media is die luidspreker vir die mense.” Is dit nie die publiek wat gaan besluit of hulle professionele mediawerkers gaan ondersteun om Suid-Afrikaners se stories te vertel nie?

Ons hoop hulle kies binnekort om ons beroep te ondersteun, nie net omdat ons graag ons studieskuld wil afbetaal nie, maar omdat ons glo ons is toegerus om massas inligting akkuraat op te som, relevante inligting uit te soek, feite te filtreer tussen die derduisende halwe waarhede in aanlyn media en 'n kredietwaardige stem vir ons mense te wees. 

Hierdie bydrae vorm deel van samewerking tussen LitNet en Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek gedurende 2014.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top