''Is PW dan nou in die hel?''

  • 0

Drie-uur Woensdagoggend maak my vrou, Ingrid, my wakker (sy het op die bank voor die TV aan die slaap geraak). "PW is dood," sê sy.

Ek staan vyfuur op om die nuus oor die radio te luister. Hoe sal die mense reageer? wonder ek. PW is deur baie gehaat en hy was net so sinoniem met Apartheid as Vorster en Verwoerd. (Terloops, Apartheid is waarskynlik die enigste Afrikaanse woord wat wêreldwyd bekend is – die taal gaan, soos die ou Groot Krokodil, nog swaar aan daai een ou woordjie dra.)

Na die lees van ’n verskeidenheid reaksies op PW se stille heengaan onthou ek skielik die John Lennon-frase: “Everybody loves you when you’re six foot in the ground.” Almal, insluitende die ANC, is skielik baie vriendelik met die ou oom – ten spyte van wat hy gedoen het, en ook nie gedoen het nie.

Die vrae wat verskillende mense natuurlik tans op verskillende maniere probeer vra, is: Wat is die nalatenskap van PW Botha? Was hy tot op die heel laaste ’n onbuigsame despoot – die laaste bewaker van Apartheid (en selfs die wóórd Apartheid)? Was hy dalk iemand wat beginselvas was, wat, ten spyte van geweldige teenstand, tot die heel laaste by sy standpunte gebly het? Na alle waarskynlikheid sal slegs die tyd ons leer wat afgekook sal word en wat sal bly. Ek glo egter dat hy ensiklopedies onthou sal word as die laaste president van Apartheid Suid-Afrika (al was dit tegnies gesproke De Klerk – die media en selfs die geskiedenis steur hom mos nie altyd aan tegniese korrektheid nie.)

Op kort termyn is iemand se nalatenskap natuurlik ‘n erg persoonlike ervaring – hoe het PW Botha as minister, president, politieke teenstander, kennis, vriend of familielid jóú lewe geraak of beïnvloed?

’n Politieke aktivis wat in die jare ’80 heelwat tyd in John Vorster Plein deurgebring het, sal waarskynlik steeds die Groot Krokodil intiem haat. Sommige Suid-Afrikaanse Weermag-lede en -dienspligtiges en hul families sal beslis kan sê dat PW se beleide as minister van verdediging, eerste minister en later staatspresident hul lewens ingrypend verander het. (Hy het ’n groot aandeel in die Angolese Oorlog en in koverte weermagaktiwiteite in Botswana, Zimbabwe, Zambië en Mosambiek en ook binne Suid-Afrika gehad. Hoeveel mense het agv PW Botha se beleid en direkte bevele hul lewens verloor?) Soos Vorster en Verwoerd was hy egter natuurlik ook ’n pa, oupa en familieman wat met deernis en respek onthou mag word.

Die storie word vertel dat die familie op ’n kol vir PW gevra het om met hulle pa te gaan praat oor dié se voortgesette, strawwe rokery op die ryp ouderdom van 85. "Man!” het PW se pa, wat lyk my ook maar ’n korrelkop was, gesê, "as jy eendag so oud soos ek is, kan jy weer met my hieroor praat.”

PW was self geweldig antirook gewees. Oudminister Louis Nel vertel dat hy tydens die Machel-era twee Mosambiekse ministers aan PW moes gaan voorstel. Hulle neem toe as geskenk vir hom ‘n pragtig-gekerfde asbak saam. PW, pedagoog wat hy was, gee toe vir hierdie twee arme kettingrokers ‘n twee uur lange lesing oor al die gevare van rook. Hulle het by sy kantoor uitgestrompel en Suid-Afrikaans-Mosambiekse verhoudinge het drasties versleg en die struggle het in felheid toegeneem. "Hierdie Afrikaners wil al julle twak afvat,” is waarskynlik op politieke rallies as amunisie gebruik.

Bostaande is bloot ‘n lawwe staaltjie, maar illustreer tog goed die gees van PW Botha, wat my eie hoërskoolloopbaan versier het met kadette, ystere, onbevraagtekenbare dissipline, swart mense wat mens met haat aankyk, en ook dooie en verminkte vriende wat van die Grens af terugkom.

Pik Botha verwys vandag nog (amper 20 jaar na hulle mekaar laas gesien het en ook op slegte voet uit mekaar is) na PW as “mnr Botha". “Hy’t ‘n goeie sin vir humor gehad,” onthou Pik die destydse kabinet se bosberade en mymer dan verder oor John Vorster, met wie hy veral ’n sterk rapport gehad het. "’n Ongelooflik intelligente, diepsinnige, humoristiese en teen die einde, geweldig terneergedrukte mens,” onthou hy hierdie "booswig" uit ons geskiedenis.

Sedert agtuur Dinsdagaand gaan ons badkamerlig onvoorspelbaar uit eie beweging aan en af. Daar is ’n rokerigheid wat hang in die lug. Spook PW dalk by ons? wonder ek terwyl ek my tande borsel.

“Is PW nou in die hel?” vra Ingrid aan die ontbyttafel vir my. Ek is half uit die veld geslaan, want ek glo nie eens in die hel (of hemel, of Kersvader of wat ook al in daai liga) nie.

“Ek weet nie. Hang seker maar af van wie reg is,” sê ek, en kom skielik agter dat ek nie eintlik meer omgee oor waar PW nou is en of hy gestraf gaan word vir als wat hy gedoen het of nie gedoen het nie.

Toe hy nog gelewe het, het ek gevoel hy hoort in die tronk, eerder as rustig in sy huisie by die see. Maar nou het ek snaaks genoeg vir PW laat gaan – laat die ou Groot Krokodil swem waar hy wil - Steve Irwin wag volgens die eerste grappie reeds vir hom. Dis dalk hoe die ander mense wat reageer het, ook gevoel het.

Dis die einde van ‘n era, glo ek tog – ’n era wat gestrek het van Boeregeneraal, hanskakie en staatsman Jan Smuts se laaste dae in die parlement oorkant die jong volksraadslid, Pieter Willem Botha, tot die eerste dae van ’n demokratiese Suid-Afrika onder leiding van Nelson Mandela.

Mag die dood van PW Botha vir Suid-Afrika rus bring (al het hy nooit in lewe jammer gesê nie). Mag die versoening wat hy altyd teengestaan het, nou ons erfdeel wees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top