Hoe lewe op die aarde ontstaan het, bly een van die uitlokkendste raaisels wat wetenskaplikes probeer oplos. Dié soektog om antwoorde te vind wat deeglik op bewyse gegrond is, is een van die grootste uitdagings vir diverse wetenskapsvelde soos die evolusionêre biologie, chemie, biochemie en fisika.
Dat ons nog nie die finale antwoord het nie, beteken nie daar bestaan nie teorieë wat met redelike sekerheid aangebied word om lewe op die derde planeet van die son af te verklaar nie. Ek het al voorheen omvattend hieroor geskryf, onder andere in my boek Geloof, bygeloof en ander wensdenkery – Perspektiewe op ontdekkings en irrasionaliteite (Protea Boekhuis). Die belangstelling wat die voorlopige ontdekking van die Higgs-boson deur fisici van die Groot Hadron-versneller in Genève onlangs ontlok het, het die vraag weer laat opvlam oor hoe die heelal ongeveer 13,7 miljard jaar gelede ontstaan het en, veel later, ongeveer 3,8 miljard gelede, lewe op Aarde.
Mense wat gerieflik die bewyse ignoreer wat die wetenskap bring voordat hulle enigiets kan glo, verkies om die ontstaan van lewe aan een of ander magiese en onsienlike krag toe te skryf, iets waaraan hulle ’n verskeidenheid name gee, afhangend van in watter kultuur hulle grootgeword het. Maar hul bewyse ontbreek totaal om die eerste lewensvonk te verklaar as die werk van ’n sogenaamde intelligente ontwerper.
Wat is die jongste kennis wat wetenskaplikes hieroor het? Een van die sterkste teorieë wat oor ’n wye front aanvaar word, is dat stof- en ysdeeltjies van komete en chemiese elemente in meteoriete in die eerste miljard jaar van die aarde se bestaan, toe die planeet deur buiteruimtelike voorwerpe gebombardeer is, die oerbestanddele vir lewe geskep het. Bygeloof oor hoe die aarde in Oktober vanjaar saam met alles op die planeet vernietig gaan word, kom sedert verlede jaar wyd in die media voor. In heelwat van die voorspellings speel komete se vernietigingskrag as dit die aarde sou tref, ’n rol. Dit herinner jou aan Calpurnia se voorbode oor Julius Caesar se dood. “When beggars die, there are no comets seen; The heavens themselves blaze forth the death of princes,” waarsku sy haar man in Shakespeare se Julius Caesar.
In antwoord op talle lesers wat meer oor hierdie raaisel wil weet en nie net hul ore wil uitleen aan die voorspellings van sieners en astroloë en soortgelyke pseudowetenskaplike onsin nie, verwys ek weer na my hoofstuk oor die rol wat komete waarskynlik gespeel het in die ontstaan van lewe soos ek dit uiteengesit het in Geloof, bygeloof en ander wensdenkery.
In 2004 het twee wetenskaplikes in die tydskrif Science beweer dat die ontstaan van lewe moet moontlik gesoek word in buiteruimtelike voorwerpe soos meteoriete en komete en die chemiese bestanddele wat daarin voorkom. Sandra Pizzarello, chemikus van die Arizona Staatsuniversiteit, en Arthur L Weber van die Search for Extraterrestrial Intelligence (SETI) Institute in die VSA, verduidelik dat van die aminosure wat in meteoriete voorkom, ’n belangrike invloed kon uitgeoefen het op die ontstaan van lewe op Aarde, juis in die vroeë dae van die sonnestelsel toe die aarde en ander planete hewig onder die aanslag van meteoriete en komete deurgeloop het.

Sedert 2004 het ander navorsingstudies ook by Pizzarello en Weber se teorie aanklank gevind en verder daarop uitgebrei. Dit het stelselmatig kritiek deur medewetenskaplikes laat afneem, al beskou teoloë steeds die teorie as vergesog en al kan hulle nie met teenbewyse kom nie. Die omstrede maar briljante Britse astrofisikus Fred Hoyle se idee van panspermia is lank deur medewetenskaplikes verwerp, maar dié teorie dat lewe op Aarde die gevolg is van mikro-organismes wat ons atmosfeer in die ys en stof van komete of op die rug van meteoriete binnegedring het, staan deesdae sterk.
Die teenstanders van panspermia glo mikro-organismes in die ruimte sou deur bestraling vernietig gewees het, omdat die hitte wanneer die mikro-organismes die aarde se atmosfeer binnekom, of die impak met die oppervlak, alles sou gesteriliseer en vernietig het.
“Een probleem met enige hipotese oor die eerste verskyning van lewe op Aarde is om dit as waar te bewys,” skryf Nigel Calder in Magic universe – the Oxford guide to modern science, ’n uitgebreide en insiggewende blik op die wondere van die wetenskap. “Daar is geen ooglopende manier om vas te stel of een scenario beter is as ’n ander ten opsigte van wat wérklik gebeur het nie – maak nie saak hoe oortuigend dit in teorie is nie, of selfs in laboratorium-eksperimente wat moontlik van nuuts af lewe mag skep. Wat ook kortkom, is duidelike kennis oor die omstandighede op die planeet in daardie tyd. Dit was gewis nie ’n rustige plek nie.”
Die kritiek teen Hoyle se teorie, wat hy reeds in 1975 geformuleer het, het in die laaste dekade van die 20ste eeu gelei tot gedeeltelike aanvaarding, omdat nuwe soortgelyke studies deur Pizzarello en Weber, asook ander projekte deur astrofisici soos Pascale Ehrenfreund van die Leiden-sterrewag, Jochen Kissel van die Max Planck-instituut vir buiteruimtelike fisika, en Franz Krueger, ’n chemikus van Darmstadt, Duitsland, aanvaarbare bewyse toon dat lewe op Aarde op die een of ander wyse sy oorsprong in die buitenste ruimte gehad het of hiernatoe oorgedra is.
Volgens Calder bestaan verskillende moontlike scenario’s vandag as aanvaarbare verklarings vir die ontstaan van lewe: “Dit sluit in die teorie dat komete die voertuie is waarop spore van bakterieë kan duimry van een sterrestelsel na ’n ander, of tussen planete kan beweeg. Of, soos Hoyle voorgestel het, dat komete self die toneel is van biochemiese aksie wat nuwe lewe aan boord skep.”
’n Ander teorie, dié deur Kissel en Krueger, begin meer en meer die guns van wetenskaplikes wen. Kissel was een van die eerste wetenskaplikes wat die stof van ’n komeet ontleed het. Sy navorsing oor Halley se komeet tydens dié se laaste besoek aan die aarde in 1986 is verder gevoer toe die Stardust-ruimtetuig van Amerika in 1999 stof van die komeet Wild vergaar het. In 2004 het die Europese Ruimteagentskap ons nog ’n stap nader aan die waarheid oor die oorsprong van lewe gebring toe die Rosetta-ruimtetuig gelanseer is. Dit sal in 2014 die komeet 67P/Tsjoerioemof-Gerasimenko besoek om ook stof- en ysdata te versamel.

'n Grafiese voorstelling van die Rosetta-ruimtetuig
Kissel en Krueger glo lewe op Aarde het ontstaan toe stofdeeltjies van komete in die see geval het. Hul teorie word nou, ná jare se navorsing, wyd deur astrofisici, chemici en bioloë aanvaar. Dit dui ook op die versiendheid van Charles Darwin se evolusieteorie, wat daagliks deur nuwe bewyse, meer as 150 jaar nadat dit geformuleer is, bekragtig word.
Volgens Kissel en Krueger is die koolstofryke samestelling van komeetstofdeeltjies die ideale grondstowwe en sluimerende chemiese energie wat tot lewe kan lei. “Wat ons die meeste beïndruk, is dat die koolstofsamestelling in komete in ’n ideale chemiese staat is om kragtig te reageer met water,” het Kissel aan Calder gesê. “Die stofkorreltjies is ook net die regte grootte om as tydelike selle op te tree wat die stowwe bymekaar hou terwyl die chemiese reaksies ontwikkel. Ons resep vir lewe is dus eenvoudig: Voeg komeetstofkorrels by water.”
Calder haal Ehrenfreund aan wat deur haar navorsing by die Leidense sterrewag in Nederland min of meer dieselfde oor die oorsprong van lewe dink as Kissel, Krueger en ander wetenskaplikes. “Die chemie van kosmiese ruimte, oor miljoene jare, kon baie doeltreffend gewees het om van dié soort nuttige en reaktiewe verbindings te skep wat nodig is vir lewe. Saam met verbindings wat reeds op Aarde gevorm het, sou daardie buiteaardse molekules kon gehelp het om lewe op Aarde te begin.”
Die vraag is nou, in die jaar wat die Higgs-boson waarskynlik ontdek is, hoeveel waarde ons kan heg aan die teorie oor die ontstaan van lewe deur wetenskaplikes soos Pizzarello, Weber, Kissel, Krueger en Ehrenfreund. In die groter wetenskaplike geheel is hul teorie waarskynlik in die kol, veral as ’n mens die holistiese samevoeging van chemie, biologie, astrofisika, paleontologie en ander subvelde van die wetenskap in ag neem.
Calder verwys na die studie wat Wlodzimierz Lugowski van Pole se instituut vir filosofie en sosiologie in 1995 in die “filosofiese grondslae van protobiologie” gedoen het. Lugowski het ’n lys gemaak van byna 150 scenario’s wat in daardie stadium deur wetenskaplikes aangebied is vir die ontstaan van lewe.
Net een, dié van Kissel en Krueger, naamlik dat lewe ontstaan het uit komeetstofkorrels wat met water in aanraking gekom het, was vir hom aanvaarbaar.
Is ons dus die kinders van komete? vra Calder.
In 1871 het Darwin in ’n brief aan ’n vriend geskryf dat die goddelike asem wat in ons ingeblaas is, “’n chemiese reuk” gedra het, dat lewe begin het “in some warm little pond, with all sorts of ammonia and phosphoric salts, light, heat, electricity, etc present”.
Dit wil al hoe meer lyk asof hy reg was.


Kommentaar
’n Mens hoef maar net Francis Collins, D'Espagnat, Martin Rees en vele ander te lees en dan te wonder oor hoe kille chemiese verbindings hulself tot biologiese molekules kon om skep. Dis ’n gegewe dat die teologie en wetenskap nader aan mekaar beweeg en nie verder van mekaar verwyderd raak in teenstelling met die denke van Dr Claassen en ander nie. Die 'voorlopige' ontdekking van die Higgs (’n massalose deeltjie wat uit die niet uit kom en dan massa aan ander deeltjies verskaf ) is iets wat al dekades gelede deur Dr Higgs voorsien is.
Daar is ’n skool wetenskaplikes (fisici) wat voorhou dat die natuurwette reeds voor die oerknal bestaan het en dat die oerknal en wat daarop gevolg het en nog volg, maar net in navolging is van daardie natuurwette.
Verder bly die vraag nog steeds, hoekom is spesifiek ons hier. Hieropvolgend dan, hoeveel van ons besef die enormiteit van ons bestaan, hoe bevoorreg ons is, dat juis ons, ek en jy, hoegenaamd in hierdie heelal bestaan, ’n bewussyn het en die lewe deel met ander organismes en lewe.
Hier, in hierdie uithoekie van die Melkweg wat op sy beur weer in ’n 'uithoekie' van (hier)die heelal geleë is der miljoene ligjare verwyderd van enigiets anders.
En hulle (en Dr Claassen) sê ons is maar net stof !
Groetnis
Read-na-Gael
Ja, Read-na-Gael, ons is net sterrestof. Jy verwar die Higgs-boson met die bewys vir die bestaan van ’n skepper. Die een is op bewyse (waarskynlik, want dit word nog getoets) gebaseer, die ander op wensdenkery met geen enkele bewys nie. Wetenskap en wetenskaplikes werk met onsekerhede. Dis die krag van die wetenskap, dat dit altyd bevindings herbesoek en herevalueer en as dit vind dit was verkeerd, die bevindings, dikwels danksy nuwe tegnologie (dink maar Hubble en wat ons weet van die heelal sedert 1990), aanpas.
Die teologie en wetenskap beweeg nie nader aan mekaar nie. Dis blote wensdenkery van mense wat nie die wetenskap kan vermy en meer ontken nie en nou maar ’n skepper iewers in die vergelyking probeer inskryf. Wetenskap werk net met bewyse en as dit nie bewyse kan kry nie, is ’n teorie ongeldig. Religie werk met "sekerhede" waarvoor daar geen enkele bewys bestaan nie. Die see van onkunde word al hoe kleiner en die eiland van kennis al hoe groter, danksy wetenskaplike bevindings!
George,
Die psalmdigter het al geweet dat ons stof is (103:14), maar ons is nie net stof nie. Ons het ’n bewussyn.
’n Teorie is net ongeldig wanneer dit as sulks bewys word en nie by gebrek aan bewyse nie.
Ek het nie die Higgs met enige Geloof verbind nie, dis immers joernaliste wat dit die "God particle" gedoop het, maar: "It is absurd for the Evolutionist to complain that it is unthinkable for an admittedly unthinkable God to make everything out of nothing, and then pretend that it is more thinkable that nothing should turn itself into everything" (CK Chesterton ).
Dr. John Taylor in sy boek, "Black Holes" (Souvenir Press 1973) beskryf op bl. 13 ’n gebeurtenis waar iemand sy vriende per brief waarsku om nie ’n spesifieke trein te gebruik nie omrede hy in in droom gesien het hoedat die trein ontspoor en dit tot lewensverlies lei. Die ontsporing het inderdaad ’n paar maande later met lewensverlies plaasgevind.
Dan gaan Taylor voort: "Many people have experienced similar dreams which come true later; I have myself. It is very difficult to explain this phenomenon with our present comprehension of time as being outside our control". Kan jy ?
Is daar ’n ander vlak van bestaan waarnatoe die mens kan beweeg en terugkeer? Dit blyk inderdaad so te wees, so hoekom kan God dan nie in so ’n ander vlak bestaan nie ?
Dr. Taylor raak nog ’n ander kenmerk van die wêreld rondom ons aan: "Causality, that every event is preceded by some prior event which we call the cause, the subsequent event its effect".
En die Higgs (as "God particle") dan?
Groetnis
Raed-na-Gael
Raed-na-Gael
Het jy al gehoor van toeval? Lees gerus meer daaroor en doen jou wiskunde. Die feit dat ek aan iemand dink en die persoon dan my ’n oomblik later skakel op sy foon, beteken nie telepatie is geldige wetenskap nie. Lees gerus Michael Blastland en Andrew Dilnot se boek, The Tiger That Isn't – Seeing a world through numbers en veral hoofstuk 4 oor "Chance". Netso jou voorbeelde van die droom wat waar geword het. Hoeveel mense het NIE oor die treinongeluk gedroom nie en wie se droom dus nie waar geword het nie? Maar jy heg waarde aan ’n stukkie toevalligheid, nes al die ander mense wat glo Nostradamus en Siener van Rensburg het die toekoms kon sien. Dis onsin.
Jy skryf: "Is daar ’n ander vlak van bestaan waarnatoe die mens kan beweeg en terugkeer? Dit blyk inderdaad so te wees, so hoekom kan God dan nie in so ’n ander vlak bestaan nie?" Waar is jou bewyse dat dit so blyk te wees? Dis blote wensdenkery. Spoke bestaan nie, geeste ook nie, nog minder die sogenaamde ander wêreld waarvan jy praat. Ons hou van misterie en as ons nie iets kan verklaar nie, noem ons dit sommer God of een of ander spirituele naam of verskynsel.
Nee wat, ek verkies bewyse voordat ek enigiets glo.
George, alles wat jy hierbo sê klink heel aanvaarbaar. Ek bedoel, sou dit nou bewys word, gaan niemand na hul asems snak nie want hierdie teorieë is al lank met ons.
My vraag is, is komete nie maar ook produkte van die stofdeeltjies wat na die oerknal (sou daar nou so'n ding gewees het) rondgewarrel het, soos ons aarde, Jupiter, die newel van Andromeda, Betelgeuse en al wat 'n ding in die heelal is, nie?
En as dit so is, hoekom dan sou lewe deur komete geplant gewees het? En sou hulle eendag die beginstadiums van lewe op 'n komeet kry, is dit nie moontlik dat hy dit van die aarde (of enige ander hemelliggaam waar daar lewe mag wees) gekry het toe sy stert deur die aarde geswiep het, of so-iets, nie?
Ek het vergeet om vra: Is daar nie gedurig lewe aan die ontstaan nie? Wat Darwin na verwys as oersop moet vir seker nog bestaan, en daar is seker 'n hele paar resepte. Die oersop wat wetenskaplikes reken aanleiding tot die eerste lewe gegee het (niemand weet nou nog hoe nie) is dalk 'n ander resep as die waaruit die wurms ontstaan het wat sonder sonlig klaarkom.
En daar is onsienlike (oukei miskien nou nie magies nie) kragte, op die oomblik noem wetenskaplikes dit nog skimmassa en skimenergie. As mens nou mooi daaraan dink, magnetisme en swaartekrag ook.
Terloops, goddank jy praat van miljarde; mens weet nooit as iemand van 'n biljoen en 'n triljoen praat of dit regtig is en of hulle die grammatikaal verkeerde Amerikaanse getaale gebruik nie wat net mooi met 'n faktor duisend van die grammatikaal korrekte verskil.
Jan Rap, jy skryf: "My vraag is, is komete nie maar ook produkte van die stofdeeltjies wat na die oerknal (sou daar nou so'n ding gewees het) rondgewarrel het, soos ons aarde, Jupiter, die newel van Andromeda, Betelgeuse en al wat 'n ding in die heelal is, nie? En as dit so is, hoekom dan sou lewe deur komete geplant gewees het? En sou hulle eendag die beginstadiums van lewe op 'n komeet kry, is dit nie moontlik dat hy dit van die aarde (of enige ander hemelliggaam waar daar lewe mag wees) gekry het toe sy stert deur die aarde geswiep het, of so-iets, nie?"
Ja, komete is/was deel van die nalatenskap van die oerknal of sterre en hemelliggame wat steeds gebore word of inplof en tot niet gaan. Lewe sou juis moontlik deur komete "geplant" kon gewees het - en onthou, dis net een van die voorstelle wat wetenskaplikes maak - omdat die Aarde se eerste 500 miljoen jaar een van intense bombardering deur komete en meteoriete was. Die maan lyk soos dit lyk omdat dit ook deur soveel meteoriete en komete getref is. Ons planeet het ook soveel pokmerke, meestal onsigbaar omdat dit onder die see is (soos die groot krater wat onlangs naby die kus tussen Australië en Indonesië gevind is, of die een by die Yucatan-skiereiland wat in die see en gedeeltelik op land is in Mexiko en wat die dinosourusse se einde beteken het), of deur erosie deur miljarde jare feitlik onsigbaar geword het. In daardie vroeë jare van ons planeet, het die basiese elemente wat ons oral in lewende organismes kry (bv koolstof), saam met komete na die Aarde gekom en in die water van die Aarde verbindings gevorm wat moontlik tot lewe kon gelei het, die sogenaamde oersop waarvan Darwin praat. Want onthou, ons is almal sterrestof, saamgestel uit elemente van lewe wat in sterre ontstaan het.
Fassinerend om daaroor te dink, miskien 'n storie, want die wetenskap is vol stories, met die een verskil met fiksie dat dit deur bewyse gestaaf moet word. Maar stories van ontdekking en nuwe belewenisse.
Jan Rap: Die oersop sal nie deesdae maklik aan lewe kan oorsprong gee nie omdat dit eetbaar is vir reeds bestaande lewe. 🙂
Dit is moontlik dat lewe meer as een keer onafhanklik ontstaan het lank gelede, maar dit is onwaarskynlik dat meer as een spesie die voorouer is van alle lewe vandag. Alle bestaande lewe lyk of dit naby verwant is – gebruik bv. dieselfde genetiese kode en baie dieselfde tipe biochemie ens. Alle lewe vandag het dus waarskynlik een gemeenskaplike voorouer, hoewel ons seker nie honderd persent seker daarvan kan wees nie.