|
|
Inleiding
Ek gaan in my kort reaksie op Bernard Lategan se artikel “‘Ek is ...’: Oor die problematiek van enkelvoudige en meervoudige identiteit” drie goed doen: ek wil twee opmerkings maak oor wat ek dink die artikel probeer doen, twee teologiese momente wat kan help met ons verstaan van identiteit uitlig, en twee vrae vra oor Lategan se benadering.
In die middel van my reaksie vra ek my twee vrae, rondom die twee vrae reflekteer ek op twee teologiese momente wat ek dink ons gesprek oor meervoudige identiteit kan help, en aan die begin en einde van my reaksie maak ek opmerkings oor wat ek dink die artikel probeer doen en moontlik wel doen.
Wanneer ek praat oor wat die artikel doen, dan is dit nie ’n blote ontleding van die argument of ’n opsomming van die akademiese bydrae nie; dis eerder om te vra wat gebeur wanneer hierdie woorde deel word van ons politieke en sosiale diskoers.
|
|
|
Cobus van Wyngaard |
Wat probeer Lategan doen?
Die duidelikste spore vir wat die artikel probeer doen, lê in waarmee Lategan kies om sy artikel te eindig: die moontlikheid om sekere identiteite agter te laat. Meer spesifiek, die moontlikheid om ’n “blanke” identiteit agter te laat (280). Hy gebruik Ndebele se argument dat hy wil kies om sy swart identiteit agter te laat om die moontlikheid oop te maak dat ook witheid maar liewer agtergelaat kan word (met sekere kwalifikasies, moet ek darem byvoeg). Lategan se argument vir meerdere identiteite ontstaan dus nie in ’n vakuum nie, maar probeer om die spesifieke vraagstuk van hoe ons met rasse-identiteite in Suid Afrika moet omgaan te beantwoord deur voor te stel dat ons binne ons ruimte vir meervoudige identiteite sal ontdek dat ons maar eerder ons swart en wit identiteite in die verlede kan los.
Ek sal na ’n teologiese moment uit die vroeë kerk, twee vrae en ’n teologiese moment uit die koloniale tydperk weer terugkom na wat Lategan probeer doen.
Teologie 1
Oor Paulus se rol in die vorming van ons idees oor identiteit oor die afgelope 2 000 jaar kan daar baie gepraat word. Lategan verwys na hoe Paulus sy eie identiteit beskryf om daaruit moontlikhede te ontgin vir hoe ons vandag oor meervoudige identiteit kan praat. As ons egter oor meervoudige identiteit praat, dan vermoed ek ons kan die skuif wat die vroeë Christene binne hierdie Joodse godsdienstige omgewing gemaak het, ook met hierdie konsep probeer beskryf. Die bewegings binne die boek Handelinge gaan onder meer daaroor dat hierdie enkelvoudige Joodse identiteit, wat kultureel, godsdienstig en nasionaal beskryfbaar was, oopgebreek word om ruimte te maak daarvoor dat mense wat nie kultureel enige verbintenis met die Jode het nie, wel volgelinge van die Joodse rabbi Jesus kan word, of deel kan word van die gemeenskap wat hul bestaan terugvoer na wat hierdie Jesus geleer het – ’n Joodse godsdiens. Hulle is nou Grieke en Jode, maar ook Christene.
Hierdie identeite bestaan egter nie bloot naas mekaar nie. Die feit dat mense gedoop word, deel word van hierdie eerste gemeentes, Christene word, plaas ander identeite nou in ’n bepaalde perspektief. Al bly mense Jode, Grieke, slawe, eienaars, mans en vroue, pleit Paulus by herhaling dat hulle Christelike identiteit tot ’n sigbare eenheid moet lei. Hulle Christelike identiteit is bepalend.
Die geskiedenis van die kerk wys natuurlik dat ’n godsdienstige identiteit nie bloot as ’n enkelvoudige identiteit ander identiteite volledig kan relativeer nie. Ons bly Jood en Griek, al is ons ook Christene. In ’n gesprek oor meervoudige identiteit maak hierdie teologiese moment egter interessante moontlikhede oop vir die manier waarop verskillende identiteite op mekaar inwerk. Is daar identiteite wat ons kan help om ander identiteite in perspektief te plaas? Wat maak die feit dat ek ’n Afrikaan wil wees, aan my Afrikanerskap? Plaas Afrikaan Afrikaner in perspektief? Bepaal “Afrikaner” die betekenis van “Afrikaan” in my geval so sterk dat dit iets totaal anders beteken as wat “Afrikaan” vir die meeste mense in hierdie kontinent beteken?
Wanneer ons na die uitvloei van hierdie moment kyk, dan maak dit egter ook vrae oop oor hoe ’n identiteitsmerker wat op een plek enkelvoudige identiteite oopbreek (vroeë Christene in verhouding met die sinagoge), op ander plekke ’n onderdrukkende identiteit word. Godsdienstige spanning vra of ’n Christelike identiteit nie ook in perspektief geplaas moet word deur ’n sterk klem op ons gedeelde menslikheid nie, en ekologiese probleme vra of ons menslike identiteit nie ook in perspektief geplaas moet word deur ons identiteit as geskeptes saam met die hele skepping nie (indien ons ons godsdienstige taak kan gebruik hiervoor).
Twee vrae
Hierdie kort refleksie op die moment waar die vroeë Christene hulle Joodse identiteit oopgebreek het om dit moontlik te maak dat mense of Jode of Grieke kan wees, maar ook Christene kan wees, maak die deur oop vir die eerste van twee vrae wat ek aan Lategan sal wil vra: Is meer altyd beter?
Lategan se argument is eerstens dat ons per definisie altyd ’n meervoudige identiteit het, dus dat een identiteitsmerker nooit enige individu volledig beskryf nie, en dat ons identeit ook nie oor tyd konstant is nie, maar deurlopend verander (271). Oor hierdie algemene beskrywing sal daar seker min verskille wees. Hy gaan egter verder deur te argumenteer dat meervoudige identiteite die ideaal is. Hy praat van ’n “verlangde meervoudigheid” (273) en skryf ten slotte: “Soveel male as wat ek my menswees kan verruim, soveel male word my lewe verryk” (280).
|
|
Sy argument is nie so vreemd nie. Om die onlangse gewilde film Divergent as voorbeeld te neem (bloot omdat ek dit gekyk het terwyl ek hierdie reaksie moes skryf): dis die boodskap van Four aan Tris wanneer sy raaksien dat hy die simbole van al vyf die faksies in die distopiese Chicago op sy rug laat tatoeëer het: “I don't want to be just one thing. I can't be. I want to be brave, and I want to be selfless, intelligent and honest and kind.” 1
In die film is dit nie bloot karaktereienskappe nie, maar ook identiteite, groepe waaraan jy behoort of nie behoort nie, en die onderliggende tema is dat meer beter is.
Daar is ’n verband met gesprekke rondom diversiteitsbestuur wat my tweede vraag help inlei. Een van die probleme met hoe diversiteit beskryf word in baie omgewings waar daar oor die bestuur van diversiteit gepraat word, is dat alle vorme van diversiteit bloot oor dieselfde kam geskeer word. Of dit diversiteit is wat aan diep politieke magstryde gekoppel is of diversiteit wat eerder rondom smaakverskille beskryf word, alles word op gelyke wyse as voorbeelde van ons ryke diversiteit gesien.
My tweede vraag is die volgende: Kan ek my identiteite kies in hierdie soeke na ’n meervoudige identiteit? Kan ek besluit om nie langer “Afrikaner” te wees nie, maar om dit met “Suid-Afrikaner” te vervang? Of dalk moet ek eers ’n meer absurde voorbeeld gebruik: Kan ek kies om nie langer wit te wees nie, maar eerder vegetaries? Lategan suggereer dat identiteit vloeibaar is, dat die betekenis van merkers oor tyd kan verander, dat die betekenis wat ek self aan merkers gee, kan verander, en dat ek selfs problematiese identiteite kan agterlaat.
Maar kan ek dit op my eie doen? Kan ek alleen besluit dat ek nie meer wit is nie, of is ek deel van die breë proses van hoe identiteitsmerkers sosiaal gevorm word wat maak dat ek vasgevang word in party identiteite, en dat ek slegs in die werk van die verandering van die hele samelewing ’n kans staan om die betekenis van hierdie identiteit vir myself te verander?
Teologie 2
Dit bring my by die tweede teologiese moment waarna ek vinnig wil verwys. In die proses van kolonisering word ’n bepaalde Westerse, wit, Christelike identiteitsmerker geskep, waar hierdie identiteite gereeld aan mekaar gelykgestel word of selfs met tye as wisselvorme van mekaar gebruik word. Om Christen te word beteken dan ook dat sekere kulturele gewoontes wat as Westers beskryf word, aangeneem moet word, en om wit te wees beteken by implikasie dat jy Christen is. Bykans as ’n spieëlbeeld van die (idealistiese) prentjie van die vroeë kerk, waar ’n Christelike identiteit verruimend werk, werk dit in die proses van Westerse kolonialisme op die teenoorgestelde wyse: as ’n onderdrukkende enkelvoudige identiteit wat alles wil oorneem.
Hierdie teologiese moment bly egter ook een van die mees belangrike voorbeelde van hoe een identiteit as plaasvervanger vir ’n ander gebruik kan word: die Christelike sendingbeweging, in sy slegte vorm, is immers al in diepte beskuldig daarvan dat wat as ’n godsdienstige evangelisasiepoging beskryf is, in werklikheid deel gevorm het van ’n ekonomiese en kulturele oorname. Dit moet my versigtig maak vir die vraag of wat ek as Christelik beskryf, net verwys na hierdie godsdienstige oortuiging, en of dit ook as kodetaal vir ander identiteitsmerkers gebruik word. Maar dit moet my ook versigtig maak vir hoe ander identiteitsmerkers wat meer aanvaarbaar is, gebruik kan word om die magsverhoudinge wat ons probeer versteek, in stand te hou.
Wat probeer Lategan doen?
Ek beskryf dit alles om te waag om weer ’n antwoord te kan gee op die vraag na wat Lategan se artikel probeer doen, of dalk eerder wat dit moontlik kan doen. Ek dink Lategan se artikel probeer om (of indien dit nie probeer word nie, dit tog die gevaar loop om) ’n kritiese gesprek oor ras te systap. In ’n tyd waar swartheid beide as ’n kritiese identiteitsmerker gebruik word deur swart Suid-Afrikaners wat voortgaande rassisme beskryf en waar om swart te wees ook steeds ’n wesenlike effek het op die geweld wat teen baie mense in hierdie land gepleeg word, of die ekonomiese geleenthede wat beskikbaar is, is dit nie ’n onskuldige stap om Njabulo Ndebele se verlange om nie meer as “swart” beskryf te word nie, as ’n lisensie te neem om te oorweeg om witheid ook dalk maar uit te skuif nie.
Die gevaar van ’n te optimistiese beskrywing van meervoudige identiteite, waar meer altyd beter is en alle identiteite maar dieselfde is, is dat ons ook maklik kan kies om binne hierdie meervoudige identiteit ons eie ingeweefdheid in identiteite wat ons ook aan sekere magsverhoudinge verbind, stil te maak, en meer klem te plaas op die dele van my eie identiteit wat ek graag sal wil ten toon stel. In kontras hiermee dink ek dit is belangrik dat ons juis hierdie dele van ons meervoudige identiteit wat ons aan historiese magsverhoudinge koppel, ernstig opneem, sodat ons kan werk om iets te doen omtrent die rol wat hierdie identiteite steeds in ons samelewing speel.
Tweedens dink ek ons kan die gevaar loop om verskillende identiteitsmerkers te gebruik om vir mekaar in te staan. So kan taal of kultuur as deel van my meervoudige identiteit, en merkers waarvoor daar bepaalde respek veronderstel word, instaan vir ras en klas, en gebruik word om ras en klas in stand te hou, ’n deel van my meervoudige identiteit wat diep aan historiese magsverhoudinge verbind is.
Terug na die webseminaar: Die problematiek van enkelvoudige en meervoudige identiteit




