Is Hy dan nie ’n timmerman nie?

  • 2

Ek het ’n jaar gelede bewus geraak van Jesus, die timmerman. Ek was besig met navorsing oor Michelangelo Merisi da Caravaggio (1571-1610), Italaanse meesterskilder. In sy wêreldberoemde Die begrafnis bied hy Jesus as ’n gespierde man uit – in teenstelling met die tipiese uitbeelding van Jesus as ’n redelik skraal heilige, soos byvoorbeeld deur Raphael.

Caravaggio se Jesus: https://www.litnet.co.za/Article/n-persoonlike-waardering-van-michelangelo-merisi-da-caravaggio-1571-1610)
Raphael se Jesus: http://en.wikipedia.org/wiki/The_Deposition_(Raphael)

Jesus vir gewone mense

Caravaggio het dikwels onder skoot gekom weens die aardse realisme van sy skilderye. Sy gewoonte om modelle uit die alledaagse lewe te neem en hulle dan met vuil voete en stukkende klere uit te beeld, is deur ’n biograaf en tydgenoot van hom in sterk terme veroordeel. Bellori lewer in 1672 snydende kommentaar op sy skilderye: hy noem hulle nabootsings van eenvoudige en vulgêre dinge, met die figure daarin vol plooie en veldefekte, die ledemate knoetserig en misvormd.

’n Gedeelte van ’n muur wat my pa gebou het

Caravaggio wou egter ’n duidelike boodskap deur sy skilderye uitdra: dat Jesus juis vir gewone mense gesterf het en nie net vir die ge?dialiseerde heiliges nie. ’n Hele paar van sy skilderye is dan ook weens die aardsheid daarvan verwerp (hy het onder andere prostitute as modelle gebruik). Ek kon nie mooi verstaan waar hierdie koppigheid vandaan kom nie – tot ek gelees het dat Caravaggio se vader, Fermo Merisi, ’n meesterbouer was. Hoewel hy Caravaggio vroeg ontval het, kon ek tog ’n bietjie beter begryp hoekom hy so gedetermineerd was om Jesus as gespierde vakman en as vriend van die hoi polloi – waarvan baie uiteraard vakmanne was – uit te beeld: vakmanne het ’n diep respek vir mekaar en beskik oor ’n diepgesetelde aardse realisme. Ook mý vader was ’n meesterbouer, en ek het dikwels op boupersele rondgespeel. Ek het soms selfs nuttige werk verrig en moes gereeld deurloop onder sy sekure oog en skerp tong: hy’t nie ’n waterpas nodig gehad om te sien iets is skeef nie. ’n Foto van ’n gedeelte van ’n muur wat hy gebou het dien as my rekenaar se sluimerskerm en herinner my om noukeurige werk te lewer.

Hy het met hout gewerk

Dit was daarom ook vir my ’n heerlike ervaring om in die eerste gedeelte van Markus 6:3 te lees dat die mense van Nasaret, waar Jesus as kind gewoon het, gevra het: “Is hy dan nie ’n timmerman, ’n seun van Maria en broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie?” Ek het dit nog altyd misgelees en gedink dat Jesus se pa Jósef die timmerman was. Ek moes geweet het dat Jesus, soos ek en seuns oor duisende geslagte heen, ook die ambag by sý pa sou leer.

’n Hedendaagse Hebreeuse timmerman aan die werk in sy gesellige werkswinkel – steeds met primitiewe gereedskap: http://www.jpost.com/Travel/Around-Israel/Sights-and-Insights-A-surprising-visit-to-Nazareth

Eerwaarde Jack Barr verduidelik dat dit harde werk was om ’n timmerman in Bybelse tye te wees. Die plat dakke van huise is met houtbalke gestut. Timmermanne moes daarvoor bome afkap en die balke met primitiewe gereedskap soos in die diagram hieronder uitsny. Hiervoor is ’n eenvoudige saag en ’n byl of ’n dissel – ’n soort byl met ’n vlak of hol blad – gebruik. Bylkoppe is aanvanklik uit brons en later uit yster gemaak. Saaglemme is eers van lintvormige vuurklip en later van metaal gemaak.

Houtwerkgereedskap in Jesus se tyd

Behalwe om meubels soos stoele, tafels en kiste te maak het timmermanne ook deure, deurrame, vensterrame en slotte gemaak. Plaasimplemente soos jukke, ploeë en skopgrawe was ook deel van hulle werk. Dit verklaar dan ook sekerlik hoekom jukke en ploeë in Jesus se gelykenisse voorkom: Hy het nie net ’n intieme kennis daarvan gehad nie, maar ook geweet hoe om hulle te maak.

Ek is ook ’n timmerman!

1: Byl
2: Beitel
3: Slypsteen
4: Dissel
5: Spykerels
6: Boogboor
7: Dissel
8: Klein handsagie
9: blokhamer
10: Saag

http://www.barr-family.com/godsword/wood.htm

As amateur-timmerman kan ek my toenemend met hierdie Jesus assosieer: Hy kon immers enige beroep op aarde kies – maar toe verkies Hy om met hout te werk. As ek die verskillende houtsoorte se greine en geure ervaar en geniet, weet ek Jesus het ook. Skaafsels op die vloer en houtstof in my klere laat my nader aan Hom voel.

Die wonder van elektriese houtwerkmasjiene was hom egter nie beskore nie: verdiepskawe (“routers”), orbitale skuurders, tafelsae en figuursagies sou Hom sekerlik groot plesier verskaf het.

Ek hou dan ook gereeld met ’n vonkel in my oog my elektriese gereedskap omhoog voor ek hulle gebruik: sodat Hy kan sien hoe geniet ek dit om daarmee te werk.

Ek glo Hy geniet dit saam met my.

’n Houtkruis en spykers

Die laaste rede hoekom Jesus ’n timmerman wou word, het my soos ’n blokhamer tussen die oë getref: Hy is aan ’n ruwe houtkruis, en met spykers, waarvan Hy in sy lewe duisende sou moes inkap, gekruisig. Kon Hy, elke keer wanneer Hy ’n spyker in hout inslaan, reeds die hamerslae aan die kruis hoor, die pyn wat elke spyker deur sy liggaam sou laat skiet?

’n Hedendaagse timmerman met elektriese verdiepskaaf: https://www.google.co.za/search?q=pictures+woodworker+router

Kan dit wees dat sy liefde vir sy beroep en vir hout Hom doelbewus moes voorberei op so ’n wrede dood? Is dit moontlik dat sy omgang met die gewone mense van sy tyd ’n allesoorheersende liefde vir hulle by Hom gekweek het – dat Hy dáárom so sonder huiwering vir vissers, timmermanne en naaldwerksters gesterf het?

Ek is absoluut oortuig daarvan.

  • 2

Kommentaar

  • Gerda-Marie Oosthuizen

    Absoluut waar en baie spesiaal Jannie. Moet nooit ophou om ook 'n timmerman te wees nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top