My lewensfilosofie is rasionele denke en die onderskrywing van teorieë wat deur wetenskaplike bewyse gerugsteun word. As iemand nou my lewensfilosofie sou beledig deur onbewese teorieë en antieke mites as die waarheid te verkondig sal dit mos nou gewoon absurd wees as ek my filosofie verdedig deur dood en verwoesting te saai onder die geledere van die andersdenkendes. Beslis ondenkbaar tussen mense wat die vermoë ontwikkel het om logies te redeneer en beskaafd op te tree. Regtig? Dink weer.
In die godsdienstige wêreld is dit die reëls van die spel. Die geweld en verwoesting wat in die Arabiese wêreld uitgebreek het na die verskyning van die fliek The innocence of Muslims is ’n praktiese voorbeeld hiervan. Absurd maar waar. Hoekom doen die Moslems dit? Hulle heilige geskrif, die Koran, vereis dit glo van hulle. Presies daar lê die probleem – alle logiese denke word opsy geskuif as die heilige geskrif dit van jou vereis.
Maar gebeur dit net in die in die Moslemlande? Hier ter plaatse op die Sê word ons daagliks vermaak deur die Kobusse en Dolfies met hulle fanatieke verdediging van fabels in hulle heilige geskrif. Goed gefundeerde en bewese wetenskaplike teorieë word links en regs afgemaak as bog – en die enigste rede wat hulle aanvoer is dat hulle heilige geskrif so sê. In sy vurige aanval op Angus verwerp Kobus die hele basis van die biologiese wetenskap terwyl die ganse wetenskaplike wêreld tot ketters en idiote verklaar word. Die karaktermoord wat Kobus telkens hier op ’n gerekende wetenskaplike soos Jurie van den Heever pleeg is verbale geweld wat maklik kan lei tot meer kragdadige optrede. Die enigste rede wat Kobus vir sy aansprake aanvoer is dat dit in sy heilige geskrif staan dat sy god alles op aarde gemaak het. Die "bewys" wat hy aanvoer, hoekom die heilige geskrif reg móét wees, is sy bewering dat sy god dit glo self geskryf het. Geen bewyse nie – slegs die sotlike sirkelargument om die bron van sy bewering as die bewys van sy bewering aan te voer. Weereens word alle logiese denke opsy geskuif as die heilige geskrif dit van jou vereis.
Mens hoor dikwels die argument dat Christene darem nie so gewelddadig soos die Moslems is nie. Dis gedeeltelik waar en die argument moet eintlik wees dat hulle nie méér so gewelddadig is nie omdat die geskiedenis deurspek is van Christen-gruweldade. Ek was pas in Ysland waar die Lutherse geloof met groot bloedvergieting tot staatsgodsdiens afgedwing is. Sulke optrede kom steeds sporadies in Ierland, die VSA en selfs beskaafde Skandinawië voor.
Blindelingse geloof sonder die vereiste van enige logika of bewyse is die vrugbare grond waarin die saadjie van fanatieke fundamentalisme vinnig groei tot gewelddadige optrede teen andersdenkendes. Hoe dikwels hoor ons nie die Dolf de Klerks van die lewe sê dat dit tyd geword het vir Christene om net so sterk vir hulle geloof op te staan as die Moslems nie?
Godsdiens is inderdaad ’n gevaarlike speletjie. Steven Weinberg het mos hoeka gesê:
“Religion is an insult to human dignity. With or without it, you'd have good people doing good things and evil people doing bad things, but for good people to do bad things, it takes religion.”
Groetnis
Thomas


Kommentaar
Thomas, dit gaan hier om verdraagsaamheid. Al distansieer jy jou (tereg) van fundamentele Moslems kan jy waarskynlik nog ’n hele entjie op die pad van verdraagsaamheid vorder. Ons moet ook erken dat die Moslems as ’n breë gemeenskap, oor die algemeen, nie onverdraagsaam is nie. Ons moet ons nie teen duisende ekstremiste wêreldwyd blindstaar nie anders help ons toekomstige konflikte aan. As ons mense soos Kobus ignoreer sal hulle uiteindelik stil raak of minder dikwels die Christendom skade aandoen. Ek probeer nie om die man te ontstel nie – gee maar net my eerlike mening.
Groete, George
Beste Thomas,
Dankie vir hierdie brief van jou. Dit plaas die eeue oue debat in perspektief.
Ek geniet dit as Kobus die Bybelse fabels probeer verdedig en homself in sy eie sirkelredenasie vasknoop. (Die pratende slang is ’n matafoor, maar dit het glo werklik gebeur!!!!)
Wat my dwars in die krop steek is as ’n broer en suster beweer dat God vir hulle gesê het om hulle ouers te vermoor. Goed, hulle weet miskien nie van beter nie, maar dis wanneer die dominee in sy begrafnisrede vir twee huilende dogtertjies sê hulle pa sal nie hemel toe gaan nie omdat hy in die kerk moes gewees het toe hy vermoor is, dat ek ook redeloos raak en wil vuisslaan.
Dis die kinders wat die meeste ly onder hierdie verkeerde verstaan van ’n mitologiese boek.
Gevaarlik? Jy vra nog!
Groete
Angus