
“TV en selfone is die rigting waarin ons beweeg en POU het dit raakgesien.” So gesels die skrywer en filmmaker Stefan Enslin oor ’n splinternuwe toepassing wat op 1 Desember 2024 die lig sal sien.
Luister, lees en kyk in Afrikaans en Engels, wêreldwyd, alles in een toepassing. Is dit ’n onrealistiese droom, of het die stigters van POU dit reggekry om die gaping tussen dit wat die leser wil hê en wat tans beskikbaar is te oorbrug?
Tydens twee spoggeleenthede op Dinsdagaand 15 Oktober by Neil Ellis Wines in Stellenbosch en op Donderdagaand 17 Oktober by Loft at Nine in Pretoria is die splinternuwe, vindingryke 4-in-1-toepassing POU amptelik bekendgestel.
Gaste is verwelkom en vermaak deur die bekende violiste Lynette (Stellenbosch) en Scheppel (Pretoria).

Stefan Enslin, Louise van der Merwe en Gerhard van der Merwe.
POU is die breinkind van Stefan Enslin, Romanza-skrywer Louise van der Merwe en haar entrepreneur-eggenoot Gerhard van der Merwe. Tydens sy verwelkomingstoespraak het Enslin gaste verseker hierdie toepassing is “die begin van iets nuuts en dit gaan die landskap van die bedryf verander”. Die invalshoek “elke boek gaan as 8 min- tot 15 min-film beskikbaar wees”, het skrywers in die vertrek opgewonde gemaak. Soos Enslin tereg gesê het: “Watter skrywer wil nie sy of haar boeke in ’n film sien nie?”
Die aanbieding was indrukwekkend en spog met ’n wêreldklasspan aan die stuur. “Digitale boekverkope is aan die styg,” sê Enslin, en POU beloof ’n nuwe inkomstestroom en bemarkingsgeleenthede vir uitgewers, skrywers en boekwinkels. “Ons wil hande vat met boekwinkels,” sê Enslin verder.
Die gebruiker kan eers na die kortfilm kyk, of na ’n uittreksel daarvan luister, voordat hy of sy die keuse maak om te koop. Die toepassing beloof om “nie tyd te mors op verskillende platforms en webwerwe om te kry waarna jy soek nie. POU bring alles bymekaar.”
Die toepassing sal voorstelle aan die gebruiker maak op grond van wat hy of sy luister, lees of kyk en selfs ’n aanduiding kan gee van waar die boek beskikbaar is en hoeveel kopieë daarvan in die winkel naaste aan die gebruiker daar is.
Alhoewel Enslin se aanbieding op skerm aanloklik gelyk het en hy die leser ’n “ryker leerervaring en meer keuses” beloof, was daar, uit die sensitiwiteit van die amptelike bekendstellingsdatum, gapings in die besonderhede en het dit hangende vrae gelaat. Daar was ongelukkig nie die geleentheid vir gaste en ander belangstellendes om vrae te vra of bekommernisse te opper nie.
Enslin het ook klem gelê op die veiligheid van die werk op die toepassing en gesê dat dit nie moontlik sal wees om die werke te deel of om skermgrepe te maak nie.
Louise van der Merwe het voortgebou op Enslin se toespraak deur te sê dat die betrokkenes in die bedryf moet “saamstaan en mekaar ondersteun”. Sy het voorts gesê dat hierdie leesplatform ’n biblioteek in jou sak sal wees en dat die toepassing skrywers sal motiveer om meer te skryf.
Tog moet ’n mens wonder of skrywers, boekwinkels en uitgewers ook so opgewonde oor die toepassing is soos die stigters. Die aanbieding het ook nie besonderhede oor koste vir die verbruiker of die inkomstestroom vir skrywers gegee nie. ’n Skrywer sal verseker ook wonder wat die omkeertyd is en hoe sy of haar boek dan die toepassing sal haal. Gaan dit net vir ons land se top en bekende skrywers wees?
Uiteraard is films, selfs sulke kort lusmakers soos POU beloof, nie goedkoop nie. Die finansiering hiervan is ’n ope vraag.
’n Werkende prototipe sou ideaal gewees het sodat gaste self met die toepassing kon speel en die gebruiksvriendelikheid daarvan kon toets.
Gaan hierdie toepassing op ’n Kindle gebruik kan word? Gebruikers wat reeds ingeteken is op oudiotoepassings, sal wonder waarom hulle eerder aan ’n POU geld sou wou betaal. Die verbruiker sal ook wil weet of hierdie toepassing net op een toestel sal werk. Die grootte van die toepassing is belangrik. Gaan my gewone Samsung Galaxy A35 dit kan dra? Waar gaan al die inhoud heen? Is die inhoud jou eiendom na aankope, en wat word daarvan sou jy nie meer die POU-toepassing gebruik nie of dan jou lidmaatskap beëindig?
POU gaan sy vere moet regskud om verbruikers te oortuig dat hierdie pronktoepassing bestaande toepassings soos Libby, Penguin Random House Audiobook, Audiobooks, Goodreads en Audible kan ore aansit.
Dit sal interessant wees om te sien of die toepassing werklik lees in Suid-Afrika gaan bevorder, en ook hoe dit in die praktyk gaan presteer. POU se teikenmark is van 16 jaar tot 60 jaar, dus sal hierdie toepassing die toets van toeganklikheid, bekostigbaarheid en verbruikersvriendelikheid moet slaag.
Van ’n luister-tot-leespuntestelsel, die opbou van vere om aankope te maak, en werkskepping, skep die stigters ’n skynbaar ideale toepassing wat ook (gesensoreerde) lesersresensies sal toelaat.
Met ’n rits vrae hou ons asem op tot 1 Desember 2024 wanneer die toepassing amptelik beskikbaar sal wees sodat ons dit eerstehands kan toets.
POU is van 1 Desember 2024 beskikbaar om op Android en later op IOS af te laai.
Sosialemediaskakels
- Facebook: https://www.facebook.com/pouapp
- Instagram: @pou_toep
- TikTok: https://www.tiktok.com/@pou_toep
- Webwerf: www.pouapp.co.za
- YouTube: https://www.youtube.com/@POUApp.

