Irene Mennen-Berg vertel hoe om die walvis te skilder

  • 0

Titel: Ben en die walvisse – 'n wonderbaarlike reis
Outeur: Ingrid Mennen
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624055068

'n Kinderboek wat handel oor die normaliteit van die dood het by Tafelberg-uitgewers verskyn. Ben en die walvisse is geskryf deur Ingrid Mennen met illustrasies deur haar dogter Irene Mennen-Berg. Naomi Meyer het met die ma én die dogter gesels. Hier vra sy vir die skrywer van die boek, Irene Mennen-Berg, oor die wonderbaarlike reis.

Hallo Irene, dankie vir die geleentheid om te gesels. Hou jy nog altyd van kuns en teken? Van wanneer af illustreer jy al boeke?

Ja, ek het van kleins af regtig baie geteken. ’n Vroeë herinnering is toe ek so vier jaar oud was, op die grasperk onder ons boom met die reuk van varsgesnyde gras, toe my ma Ingrid my toegelaat het om met haar Van Gogh-waterverf op spesiale dik waterverfpapier te verf, en die gevoel dat dit iets besonders was. Die prent het my ma gehou.

Al het ek musiek studeer (nagraads op Stellenbosch en in Frankfurt, Duitsland), was dit altyd vir my ’n opwindende gedagte dat ek dalk eendag sou kon werk met musiek én kuns. Tydens my musiekstudies was ek dikwels in die kunsmuseums. Ek was veral lief vir die Städel-museum in Frankfurt. Die afgelope drie jaar het ’n deeltydse grafiese-ontwerp-studie my oë opnuut oopgemaak oa vir goeie komposisie, lyn, vorm en kleurkombinasie. Dit het my opgewonde gemaak oor die magdom kreatiewe moontlikhede wat bestaan as ’n mens teken- en verfwerk met rekenaarvaardighede kombineer. Ek gee op die oomblik musieklesse vir kinders en dis vir my baie interessant hoe kinders dink – hoe verskillend kinders dink – en hoe hulle leer. Toe die aanbod na my toe kom om Ben en die Walvisse te illustreer, was dit presies wat ek graag wou doen! Ek sal dolgraag verdere projekte aanpak en meer ervaring opdoen. Ben en die Walvisse is my eerste boek.

Jou ma het die teks vir die boek geskryf. Hoe het die projek begin? Het julle al vantevore saamgewerk?

Toe my ma se teks aanvaar is, was dit vir my soos ’n gelukskoot om die storie te mag illustreer. Voordat ek met die finale illustrasies kon begin, was daar ’n hele paar maande van beplanningswerk, basiese dinkwerk om die inhoud van die storie en temas rondom die walvis te verstaan. Gereelde gesprekke met my ma was baie belangrik, en ook boeke en films en foto’s oor walvisse het alles gehelp om die illustrasieproses aan die gang te sit. Dit was alles vir my nuut, maar opwindend.

Daar was baie raakpunte rondom die storie wat ek eers wou ontdek voordat ek kon woeker met die verfkwaste, oa die geskiedenis van walvisjag en die dokumentasie daarvan in ou tekeninge; die ekologiese aspek en beskerming van walvisse (ook die beskerming van bedreigde Kaapse fauna en flora wat uitgebeeld is in die boek); en die rol wat die walvis speel in ons kollektiewe geheue. Dis die fassinasie rondom die walvis wat ek wou ontdek – hierdie oerdier wat al veel langer as ons die aarde se waters bewaak, wat met sy reusagtige lyf, jaar in en jaar uit, in een klank met die natuur, duisende kilometer dwarsoor ons oseane trek.

Dan ook natuurlik die storie van Ben en hoe hy sy oupa se dood moet leer verwerk, die spesiale herinneringe leer koester en so deur middel van stories en herinneringe, en die gesamentlike liefde vir die walvisse, ’n nuwe onafhanklikheid ontdek. Ek moes ook diep gaan delf in my eie herinneringe van vakansies by die see, die walvisse wat ek per geleentheid in die baai sien speel het, my persoonlike verband met die diere.

Al hierdie raakpunte wat deur die storielyn loop (die storie in die storie, die lagies op lagies), wou ek op ’n manier vasvang, en so het die illustrasie-reis vir my begin.

Omdat ek in Duitsland woon en werk, het ek en my ma die beplanningsboek saam geskep tydens een wintervakansie in die Kaap. Die basiese uitleg, wat op ’n baie lekker kreatiewe en organiese manier ontstaan het, is prent vir prent vasgelê in collage-vorm. Ek kon terug in Duitsland vanaf hierdie beplanningsboek werk om die finale illustrasies te voltooi.

Ben en die Walvisse se heel eerste illustrasie begin voor die storie begin – of dalk begin die illustrasie juis as storie. Daar is ’n collage van foto’s, illustrasies, ’n plakboek-uitleg. Het jy en jou ma dit saam beplan, of het dit vanself so gebeur?

Ben en Oupa se plakboek wat op die eindbladsye uitgebeeld word, was van vroeg af deel van ons konsep vir die boek. Die plakboek is soos ’n inleiding tot die storie, so belangrik soos ’n voorwoord is in ’n roman. Dit was vir ons belangrik dat die plakboek iets van die ryke belewenis van Ben en Oupa se hegte vriendskap, en hul liefde vir die walvisse, weerspieël. Omdat Ben se oupa mal is oor walvisse, dra hy sy liefde vir walvisse en kennis van walvisse aan Ben oor. Dit sluit in Oupa se wonderlike beheptheid met boeke en stories rondom walvisse, om walvisse in die baai te gaan soek met sy kleinseun, en museumbesoeke om na die walvisskelet te gaan kyk. Dis die kombinasie van sulke dinge wat vir ’n kind ’n geronde kindertydervaring kan gee en dit wou ons graag uitbeeld. Dis hoekom ons die boek so interessant as moontlik wou maak, dat kinders nie net die storie in die storie het nie, maar ook meer van die walvis leer. Die storie in die boek word ryker gemaak met al die walvisfeite in die plakboek. Ek voel ek het ook baie oor walvisse geleer. Ek het geleer dat as ’n mens iets op sy naam kan noem en kan beskryf, dit baie meer sin maak en léwe. Die presiese uitleg van die collage-eindbladsye het baie natuurlik gebeur nadat ek die inligting wat my ma versamel het, kon verwerk. Dis regtig lekker om plakboek te maak.

Wat was vir jou die lekkerste van die illustrasies – en wat die mees uitdagende?

Die lekkerste was toe die grootste lot dinkwerk rondom die beplanningsfase gedoen is, en ek kon besig raak met die verf en kwaste, die kryte en potlode. Soms moes ek ’n prent ’n paar keer oorverf of oorteken totdat dit regtig gewerk het. Die illustrasies het ek toe in my rekenaar ingeskandeer en op verskillende maniere digitaal saamgevoeg. Ek het nie kronologies gewerk nie en dit was vir my interessant om te sien dat prente wat aanvanklik die maklikste gelyk het om te doen, op die ou einde van die moeilikstes was om te voltooi! Ek moes dikwels terugblaai na die beplanningsboek om die aanvanklike idees nie uit die oog te verloor nie. Ons was ook besonder gelukkig dat ons afsnydatum vir omtrent twee weke uitgestel is toe Sally Swart, die grafiese ontwerper, onverwags ’n geleentheid gekry het om in Nepal te toer. Die komposisies van die prente het in die algemeen nie veel afgewyk van die beplanningsboek nie, maar ek het met kleurskakerings en plasing van figure baie rondgespeel en weer en weer verander.

Dit was die afronding van fyn besonderhede wat regtig baie tyd geneem het.

Het jy walvisse afgekyk om hulle so mooi te kon uitbeeld? Was hier baie realistiese navorsing betrokke, of het jy eerder gefokus op die abstrakte uitbeelding van beweging, of van atmosfeer, byvoorbeeld?

Ek was in Duitsland tydens die maak van die boek, en daarom was walvisfilms en foto’s vir my van onskatbare waarde om die walvis se vorm te leer ken, dus het ek regtig ure spandeer aan die kyk van dokumentêre films oor walvisse, foto’s bestudeer, en boeke oor walvisse bestel. Atmosfeer was vir my baie belangrik. Ek het my ingedink hoe groot en sterk ’n walvis regtig is, hoe liefdevol ’n walviskoei met haar kalf, en hoe hulle onder water beweeg. Die films het gehelp daarmee en ek het weer en weer teruggegaan na die films en beelde. Ek wou nie afwyk van die basiese mates van ’n boggelrugwalvis nie: die verhouding tussen lyf en vinpote en stertlobbe byvoorbeeld moes nie te veel afwyk van die realiteit nie. Met kleurskakerings en lynwerk het ek meer klem gelê op atmosfeer en die geheelbeeld.

Beoog jy en jou ma nog sulke boeke? Of is jy iets anders aan die skep?

Ja, ek sou dolgraag verdere kinderboeke wou skep! Om saam met my ma te werk was ’n ryke ervaring, want ons werk baie goed saam. Ek is mal oor haar idees en ek sou baie graag weer saam met haar ’n boek wou maak.

Lees 'n onderhoud met die skrywer van Ben en die walvisse.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top