Internasionale Moedertaaldag

  • 1
Adam Small

Elke jaar met die viering van Internasionale Moedertaaldag voel ek van iets ontneem, amper onvergenoegd. So asof niemand in ons wye en droewe land vir die kinders op die Kaapse vlakte se moedertaal omgee nie!

Sedert my eerste skooldag op die Vlaktes het ek die gevoel gehad dat die taal-van-die-huis nie die taal-van-die-skool is – en mag wees – nie. My pragtige sub B- (graad 2-) juffrou, juffrou Veary, by Laerskool Webnerstraat, Ravensmead, al was sy net so bruin soos ons, het dit by ons ingedril dat die gemorstaal van die straat nie in haar klas geduld sou word nie!

As ek vandag terugdink, het ek “Willem-huis” by die skoolhek gelos en “Willem-skool” geword. Binne die hekke van die skool, en die klaskamer, sou ek taalkorrek en feitelik optree. Veral taaloefeninge, opstelle en voordrag sou wees soos Juffrou of Meneer dit wou hê. Willem-huis, die een wat sy tale sou meng en Kaaps praat, sou oorneem die oomblik dat ons die klaskamerdeur agter ons toetrek! Onderwysers en die onderwysstelsel het van ons ware skisofrene gemaak!

By die huis het ons ouers, wat meesal arbeiders was, Kaaps met ons gepraat. Alhoewel Pappa daarop aangedring het dat ons Die Burger gereeld moet lees, het hy ons ook soms beveel om regte “Aferkaans” te praat. Dan sal ons dalk ’n beter werk as hy kry! Maar vir Mamma was dit niks snaaks om, as jy van die winkel af kom, op te merk: “Sit soema die change oppie sideboard en gat speel byte!” nie.

Kaaps was die taal wat ons moeders en vaders met ons gepraat het. Onse moedertaal. Nie die Handboekafrikaans wat ons later aangeleer het nie. Gelukkig het ons ouers nooit ’n minderwaardigheid aan die taal-van-die-huis gekoppel nie. Ook nie ’n oordeel daaroor uitgespreek nie.

Ons taal (lees Kaaps) sou armer daaraan toe gewees het as Peter Snyders se moeder nie Kaaps met hom gepraat het nie! In ’n gedig getiteld “Moedertaal” vat Snyders sy ma, ’n vrou wat net Kaaps kon praat, se gevoel mooi vas: “Kind, as djy regte Afrikaans wil praat,/ doenit!/ Dis waam mamma jou lat opleerit;/ kritisaais skrywers wat skryf soes mamma praat,/ maa moenie ve’wag mamma moet nou change nie.”

Peter Snyders

Peter erken mildelik dat hy en sy vrou Francis met Nadine, hul dogter, ’n taaleksperiment begin het. Hy self het bewustelik met Nadine Kaaps gepraat en Francis Engels. Vandag is Nadine gevestig in beide tale.

Vriende weet dat ek myself as ’n veeltalige deurgee. Ek praat Kaaps met kollegas en vriende tuis. Verder skryf ek ook bewustelik Kaaps. Ek besig ’n redelike Standaardafrikaans en in ’n mate kan ek myself ook help met bruikbare Engels.

Tog, elke jaar met Moedertaaldag, voel ek dat Kaaps se bande nog nie heeltemal afgeval het nie. As bekendes omtrent hul indrukke oor Internasionale Moedertaaldag uitgevra word, is dit nooit iemand wat Kaaps is nie! Ek reken dat die Kaapse gedrukte, en selfs elektroniese, media, wat baie magtig is, dit al lankal moes oorweeg het om Kaaps meer prominent te gebruik. Sonder om die sprekers daarvan komieklik of as karikature voor te stel. Maar om Gods naam, kry dan ook gerespekteerdes vanuit ons gemeenskappe om dit te doen. Nie almal van ons wat Kaaps as Moedertaal het, se voortande is uitgetrek en is ongeletterd nie!

Adam Small het al in die sestigerjare uitgebasuin dat Kaaps as volwaardige taal geëien moet word – dis nie nét ’n “gammattaal” of vermaaklikheid nie. Uys Krige het dit beaam en gesê: “’n Mens hoef nie vir hierdie taal (Kaaps) te glimlag nie … so weinig as dat buitelanders soms vir Afrikaans moet lag! Dis ’n taal uit eie reg!” En Peter Snyders, champion vannie Vlaktes, som die situasie nog beter op: “Dié van ons wat Kaaps praat, kan ook soms straight praat; dié van ons wat meestal straight praat, praat ook dikwels Kaaps.”

Ons doen ’n beroep op ons vriende wat die media beheer: Help ons om ook Kaaps se borsrok af te gooi en die taal van sy beklemminge te bevry! Miskien kan ons sommer al by volgende jaar se Moedertaaldag die ding lat ruk soelat ôs leka kan ankap moet ’n dag van Kaapse performance poetry, hip-hop en rap.

As dít die dag gebeur, sal ek ook Internasionale Moedertaaldag sonder enige wroeging kan vier!

Lees ook Wannie Carstens se bydrae oor Moedertaaldag.


Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


  • 1

Kommentaar

  • Ta Bra Willem! Julle is so gelukkig inie Kaap om Kaaps te hê. Sommer twee groot en bekende eksponente. Adam Small allerweë beskou as die vader en Peter Snyders. Hier in die Noorde praat ons soms Tsotsitaal maar in ‘n mindere mate omdat dit NIE so gevestig soos Kaaps is nie. “Elke gesprek word bebek.” Was ‘n gesegde van Prof Tony Links. Hy’t hiermee bedoel jy pas jou taal aan volgens jou toehoorder. Dit is mos so - Jy praat anders met jou Ma, predikant, pelle of jou meisie. Robert se gedig  “ My Fly Tsotsitaal” is dié bekendste voorbeeld en soos hy hier ook sê. Tsotsitaal is ook die taal van die Township Intelectuals. Ons voel maar altyd uit met so ‘n Moedertaal dag want wat is nou eintlik ONS Moedertaal? Die taal wie se bestaan ons voorsate direk verantwoordelik was? Of die taal soos hy weg van hulle gegroei het? Ek vra maar net want dit is steeds die taal waarin ek droom, liefde maak, bid en protes aanteken. Ek het eendag vir iemand gesê. “As ek van Nelson Mandela droom praat hy Afrikaans want as hy Xhosa sou praat word dit ‘n nagmerrie.”  Dankie vir jou insigewende artikel.  Trots op jou!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top