Interdissiplinêre konferensie oor bruin identiteit by die Beyers Naudé Sentrum

  • 0

'n Interdissiplinêre konferensie oor bruin identiteit word aangebied deur Die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie, Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch. “Die term 'bruin' en veral 'kleurling' het nog altyd opspraak gemaak, juis omdat dit soveel geskiedenis dra. Vandag aanvaar sommige mense dié terme, net soos ander dit bevorder of verwerp. Nog ander staan onverskillig daarteenoor,” het Hein Willemse van die Universiteit van Pretoria gesê met die aankondiging van ’n akademiese konferensie oor bruin identiteit en geskiedenis wat einde November 2012 aan die Universiteit Stellenbosch gehou word.

“In die laaste drie dekades het rasterme wat voorheen wyd verwerp is, weer hulle verskyning gemaak, en ons akademici wil weet waarom dit gebeur. Nuwe kategorieë het ook na vore gekom. Mense eien by voorbeeld nou ’n Khoisan-identiteit of verskeie streek-identiteite.”

Willemse meen dat terme soos “bruin” of “kleurling” ongenuanseerd is, en dat dit meestal nie daarin slaag om mense ten volle te definieer nie. “Wat vir ons belangriker is, is die onderliggende geskiedenisse en lewenslope wat sulke terme verduister.”

“Ons is meer besorg oor die onsigbaarheid van mense se geskiedenisse as oor die korrektheid van sekere terme of politieke oriëntasies. Mense praat eenvoudig nie oor hul geskiedenisse nie, of hulle ontken dit. Daarom wou ons die debat oopgooi. Ons het 'n plek nodig gehad waar mense sonder vrees of agterdog bymekaar kan kom en kan praat.”

“Die doel van die konferensie is eenvoudig: ons kan nie ’n nierassige samelewing bou as elke burger of gemeenskap nie gelyk behandel word en hul geskiedenisse nie omvattend vertel word nie. Ons moet elkeen weet waar ons vandaan kom en hoe ons ons mede-Suid-Afrikaners ag. Ons wil dus hierdie stories van mense dokumenteer, van gewone mense, professionele mense, intellektuele, sportmense, godsdienstiges en so aan,” het Willemse gesê.

Nico Koopman, dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en direkteur van die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie (BNS), het gesê dat die komende konferensie deel is van ‘n proses om ruimte te bied aan verskillende intellektuele tradisies in Suid-Afrika. Dit sluit regstreeks aan by die land se leuse, wat vertaal kan word as “eenheid in verskeidenheid”.

“Deur die fokus op verskillende tradisies te laat val, kan ons die leuse beliggaam, en ‘n nierassige samelewing bou waar verskeidenheid waardeer word. Dit is so bevrydend om eenheid as die primêre oogmerk te sien en dit te vier terwyl ons verskillende sosiale en intellektuele tradisies ondersoek. Die tema van die konferensie oor Suid-Afrikaanse intellektuele tradisies is in ooreenstemming met die BNS se mandaat om aktuele sake te ondersoek en ’n forum vir bespreking te bied,” het Koopman gesê.

Onder die bekendes wat aan die konferensie gaan deelneem, tel Richard van der Ross, voormalige rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland, Debra Meyer, voormalige Afrikaanse weerverslaggewer en biochemikus, Henry Jeffreys, voormalige redakteur van Die Burger en stigterredakteur van New Age, Basil Manning, president van die Verenigde Congregational Kerk van Suid-Afrika, Mogobe Ramose van die Universiteit van Suid-Afrika, ’n deskundige oor Afrika-filosofie, en die bekroonde teoloog Dirkie Smit van die Universiteit Stellenbosch.

Volgens Koopman is die organiseerders opgewonde oor die projek. “Ons verwag dat deelnemers krities sal dink oor gekleurde identiteite en bydra tot ’n volgehoue kennisgeheel.”

Die konferensie vind plaas op 30 November en 1 Desember 2012 en is oop vir die publiek. Die registrasiegeld is R100 (R30 vir studente).

Kontak Helette van der Westhuizen (hvdwest@sun.ac.za) vir meer inligting en navrae oor registrasie.

Helette van der Westhuizen
Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie
Fakulteit Teologie Universiteit Stellenbosch
Tel +27 21 808 3250
Faks +27 21 808 3251
Sel +27 72 547 9464
E-pos hvdwest@sun.ac.za
www.sun.ac.za/theology

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top