Instituut vir Geregtigheid en Versoening se statistieke is bekend

  • 0

Hoekom sou dit so belangrik wees vir sommige Suid-Afrikaners om slegs binne volks- en stamverband te kan bestaan?

Ek vra dié vraag teen die agtergrond van die bekendmaking van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening se jaarlikse versoeningsbarometer.

Dié barometer het gevind al is daar byvoorbeeld groter integrasie tussen die verskillende rasse, het die behoefte aan ’n enkele Suid-Afrikaanse identiteit die afgelope dekade met byna 18% gedaal. Net 55% van die bevolking staan nou ’n enkele nasionaliteit voor.

So, is ons amper terug waar ons voor 1994 begin het? Dit herinner nogal aan ’n periode in ons politieke-en samelewingsbestel toe elke Suid-Afrikaner ’n identiteit moes hê. Ons samelewingstel was rondom vaste rasse-of etniese identiteite georden.

Die filosoof Johan Degenaar het in hierdie tyd van “elkeen-op-sy-plek” uit die wit Afrikaanse geledere duidelik teen dié dwaling gepraat. Hy het verwys na die veelvuldige identifikasie wat ’n persoon kan aangaan eerder as om in ’n statiese identiteit vasgevang te wees. Ook NP van Wyk Louw het wit Afrikaanssprekendes en ook die ganse samelewing gereeld gewys op die gevare van etniese nasionalisering.

Uit swart Afrikaanse geledere was daar veral sedert die middel 60’s swart Afrikaanses wat duidelik standpunt en leiding gegee het in die verskansing van ’n nie-rassige Afrikaanssprekendheid. Hier dink ’n mens aan Jakes Gerwel, Allan Boesak en Franklin Sonn.

Hulle het die bevrydingstryddefinisie van “trots swart” aan die orde van die dag gestel en die apartheidsdefinisie van “bruin” of “Kleurling” direk gekonfronteer.

Gerwel, Boesak en Sonn het dit beklemtoon dat die bevrydingstryddefinisie van “trots swart” nie ’n definisie van ras is nie, maar eerder ’n definisie van die bevordering, uitbouing en vestiging van ’n groter menslikheidsdefinisie.

Dit het ook teruggesny na die filosofie van die Swart Bewussynsbeweging wat, in die woorde van Steve Biko, alles te doen gehad het met die bevryding van die bewussyn van die onderdrukte. Verder het dit ten doel gehad om die sosiale konstruksies van ras en etnisiteit van daardie tyd teen te werk.

In ’n artikel getiteld “’n Kleurlingkenner se kleurling” herinner die intellektueel Hein Willemse ons aan ’n toespraak van Boesak in 1975. Dit is een van Boesak se sterkste historiese uitsprake teen die begrip “Kleurling” waarmee hy ’n koppeling maak tussen “nie-mens” en apartheidsbaasskap:

[d]it iets [is] wat witmense op my afgedruk het […] dat ek in hulle oë altyd ’n niks was: ’n nie persoon, iemand wat hulle nie hoef te respekteer nie […] As ek toelaat dat my identiteit afhang van hul oordeel […] beteken dit nie alleen dat hulle kan beskik oor my toekoms, my wese en my persoon nie […] maar dat ek my toekoms en persoon in hul hande lê.

Hoekom neig ’n beduidende getal Suid-Afrikaners dan terug na die identiteite van die verlede?

Veral onder minderheidsgroepe soos wit en bruin Afrikaanssprekendes het hierdie tendens die afgelope klompie jare posgevat. Hulle voel uitgesluit deur regstellende aksie op byna elke samelewingsvlak. Eskom se beurtkrag is ook deur dié groepe met algemene verwoedheid bejeën.

’n Mens moet begrip hiervoor hê, maar is afstigting in die vorm van dat elkeen aan ’n volk of stam moet behoort die antwoord? Sekerlik nie, want ons mag nooit die verlede vergeet nie en ook nie tot daardie pynlike ervaring terugkeer nie.


Bron: Netwerk 24
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top