Innie sjebeen

  • 0

Die sigaretrook hang verstikkend dik in die volgepakte ruimte. Die skerp urinereuk brand my neusgate. Ek sit by die tafel in die hoek. My rug teen die koelte van die sinkplaat. Dis warm hierbinne. Ek neem dorstig ʼn sluk van die louwarm bier. Dit was ʼn paar minute tevore nog yskoud. In die sjebeen word baie dinge gou warm. Veral humeure. Dis elfuur op ʼn Vrydagaand. Alreeds stampvol, maar ek weet dit kan nog voller raak. My oë gly oor die skare. Vermy oogkontak. Weet dis waarna loafers soek. Net een kopknik of groet en jy sit kort voor lank met ʼn tafel vol opskeppers. Ek lus in elk geval nie vanaand vir geselskap nie. Ek is om ander redes hier.

Iemand lag hardop. Ek draai my kop skeef na waar die geluid vandaan kom. Skat haar so vyftien, sestien. Swaar ge-makeup. Rokkie so kort dit kan dalk ʼn t-shirt wees. Die twee mans by haar se hande is oral oor haar lyf. Sy geniet dit, wys haar lyftaal. Ek verskuif my blik. Ek ken dit. Bring net slegte herinneringe. My oë dwaal na links.

Hy sit rustig. Glas innie hand. Fokus op niks spesifieks nie. Sy hare is grys. Moes ʼn aantreklike man op sy dae gewees het. Nou is hy net nog ʼn man. Een van die middeljarige mans wat ek reeds as opskeppers identifiseer het, klap op sy skouer. Hy kyk op en glimlag. Dit bereik nie sy oë nie. Hy lyk moeg en sy skouers trek krom toe hy sy glas volmaak en dit vir sy tafelgas aanbied. Sy kortstondige vrede duidelik daarmee heen.

Ek maak my oë toe en ledig my glas. Sluk die naarheid weg wat in my keel opwel. Die pisreuk word al erger. Hulle neem by die tafel oorkant my plaas toe ek my oë oopmaak. Twee vroue en twee mans. Dalk in hul vroeë dertigs. Hulle drink rum. Ek kry die bekende dieselreuk en veg teen die kots wat in my keel opstoot. Ek haat die reuk van rum. Hulle lag en skerts vrolik. Die musiek uit die jukebox is te hard vir my om te hoor wat hulle gesels. Ek lees hul lyftaal. Oulike paartjies. Getroud sien ek aan hul ringvingers.

Na sowat ʼn half-uur begin die donkerkopvrou se houding verander. Sy praat meer. Senuagtig. Haar aandag meer oordadig (half gedwonge) op haar partner. Asof sy liewer is vir hom as minute tevore. Ek dog dis die rum wat inskop, maar vir ʼn sekonde flits haar oë in ʼn ander rigting. Hy sit in die hoek regoor my, saam met drie mansvriende. Sy vriende gesels. Hy lyk afwesig. Staar na sy glas en vryf met sy wysvinger oor die rand. Om en om. Dan kyk hy op. Sy donker blik rus verlate op die donkerkopvrou wat nou liefdevol met haar kop op haar man se skouer lê. Die jongman sug swaar, skud sy kop en leun terug teen die sinkplaat agter hom. Grawe in sy sak en steek ʼn sigaret op. Hy blaas die rook in perfekte kringe die lug in. Die donkerkopvrou sien dit en staar gehipnotiseer daarna. Haar man vir ʼn oomblik heeltemal vergete. Hul oë ontmoet. Die donkerkopvrou lyk verward. Dan kry sy haarself bymekaar en buig oor na haar man. Sy soen hom lank en innig. Die jongman staan op. Sluk sy glas met een teug leeg en loop na buite. Sy vriende staar hom verbaas agterna.

“Heth djy nie ve my ʼn siegret thie?” Sy hou haarself wankelrig regop teen my tafel. Ek skud my kop.

“Thou poesh!” Haar spoeg sproeireën oor my.

“Phokken nai!” Ek probeer haar ignoreer. Fokus op die vrou skuins agter haar wat ongeërg op haar hurke gaan sit, haar broek aftrek en sommer net daar, tussen die tafels en dansende mense, begin pis. Behalwe twee ou mans wat haar groot sitvlak (wat soos ʼn legkaart lyk van al die rekmerke) belustig beloer, steur niemand hul verder aan haar nie.

“Tsjek! Mase poesh!” Sy gryp na die halwe bier op my tafel. Dit kantel om in haar lomp hande en die inhoud stroom oor die tafel. Meng met die urine op die vloer. Ek los haar toe sy wegstrompel met die bierbottel en die bietjie skuim wat daarin agtergebly het. Ek lê weer terug teen die sinkplaat. Sit dan vinnig regop. Agter my bult die sinkplaat met elke stamp. Ek kyk vinnig deur die vertrek. Die jongmeisie en die twee mans is weg. Die musiek verdoof haar kreune en die mans se gesteun.

Haar kopdoek sit windskeef. Die gesig vol kommerplooie. Die oë moeg. Sy gooi haar glas tot oorlopens vol van die goedkoop Rooiproppie. Buig dan vooroor en suig die boonste af voor sy die glas optel en die inhoud met een teug leegdrink. Sy vee haar tandlose mond met die rugkant van haar geplooide hand af en skink dadelik die glas weer vol. Hierdie keer versigtiger. Toe sy opkyk, lyk haar oë lewendiger. Ek ken dit. Kon net sowel my ouma gewees het.

Die dansende pare spat uitmekaar. Ek rek nuuskierig my nek om beter te sien. Die vrou wat vroeër my bier gegryp het, is op haar knieë. ʼn Man het haar aan die hare beet en sleep haar deur die skare. Sy probeer verbete terug baklei, maar haar hande klap onskadelik in die lug rond. Dan kantel sy om op haar sy. Hy los haar hare en skop haar in die maag. Die kotsels trek met ʼn boog en die omstanders spat vies uit mekaar. Hy skop nog twee keer voor sy haar kop hulpeloos oplig en dit dan moeg teen die vloer laat sak. Sy lê stil starend. Haar gesig besmeer met kotsels, pis en bloed. Ek wil wegkyk, maar ek kannie.

Dis oral om my en in my. Die kwaad van ons samelewing. Alles saamgevat hier in die sjebeen. Ek hoef nie hier te wees nie. Maar dit maak nie saak wáár ek my bevind nie, dit sal oral wees. Hier leer ons ten minste om nederig te wees. Om die kop te buig voor ander se swaarkry en seerkry. Hier is jou pyn nie meer net joune nie. Hier sien, hoor en ervaar jy joune is glad nie uniek nie. Wanneer die vrot pisreuk, kotsels en bloed jou siel deurdrenk besef jy ... die lewe se vloer is gelyk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top