FAK reageer: word inklusiwiteit slegs bepaal deur kleur of ook deur gesindheid?

  • 0

LitNet het onlangs ’n mening van Danie van Wyk, uitvoerende hoof by die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, geplaas waar hy melding maak van die FAK se konferensie in Garsfontein en sy gevoel dat die SBA hier uitgesluit was.

Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, lewer sy reaksie.

Die FAK het kennis geneem van die SBA se reaksie op die FAK Taalberaad wat op 14 Augustus 2012 in Pretoria aangebied is. Die FAK onderskryf die beginsel dat Afrikaans ’n inklusiewe taal is en deur talle gemeenskappe gepraat word. Om dié rede het die FAK diverse sprekers genooi van verskillende organisasies om verskillende perspektiewe oor Afrikaans te bied. Die beraad is bygewoon deur lede van organisasies wat wit en bruin Afrikaanssprekendes verteenwoordig, onder andere die ATKV, ATR en die SA Akademie. Die FAK neem met kommer kennis van die SBA se standpunt dat laasgenoemde organisasies nie swart of bruin Afrikaanssprekendes verteenwoordig nie.

Die eng siening van die SBA oor rasseverteenwoordiging van organisasies skep ’n ongelukkige dilemma in die Afrikaanse wêreld. Wie besluit watter organisasie is nou inklusief genoeg en wie nie? Word inklusiwiteit slegs bepaal deur die kleursamestelling van ’n organisasie of beraad, of ook deur gesindheid en inhoud? Dit is duidelik dat die SBA meen die velkleur van Afrikaanssprekendes speel steeds die deurslaggewende rol in die Afrikaanse wêreld. Inderwaarheid word ’n genadelose rasse-agenda op dié wyse gedryf onder die dekmantel van versoening en inklusiwiteit. Dit is die FAK se onomwonde standpunt dat Afrikaans geen kleur ken nie. Afrikaans word gesing, gepraat en geskryf deur diverse kultuurgemeenskappe wat deur die grondwet erken word. Kultuurgemeenskappe skep kreatiewe ruimtes vir taalontwikkeling en so verryk elkeen met sy unieke bydrae Afrikaans. Wanneer ’n bepaalde Afrikaanse kultuurgemeenskap binne die ruimte wat die grondwet bied, graag wil besin oor ’n bepaalde saak, soos die toekoms van Afrikaans, is dit daardie kultuurgemeenskap se volste grondwetlike reg.

Was die beraad aangebied met die doel om Afrikaans slegs vir noordelike Afrikaners toe te eien met ’n laertrek-motief, soos wat die SBA beweer? Beslis nie. Behalwe die Nederlandse en Belgiese studente is die beraad ook bygewoon deur 100 persone wat 21 organisasies verteenwoordig het. Die FAK het in die uitnodiging na die beraad nie gefokus op die velkleur van belangstellendes nie, maar die beraad wyd bekendgestel, onder andere ook op LitNet, aan almal wat lief is vir Afrikaans en besorg is oor die toekoms van ons taal. Anastasia de Vries, boekeredakteur van Rapport, het in haar aanbieding ’n Kaapse perspektief op Afrikaans gegee. Haar standpunte oor Kaaps-Afrikaans, probleme wat bruin skole ondervind en taalontwikkeling op die Kaapse vlakte was uiters insiggewend. Die gehoor met groot belangstelling daarvan kennis geneem en daar was ’n positiewe gesindheid van wedersydse begrip. Anastasia se reaksie op die verslag was positief met hier en daar geldige punte van kritiek. Haar slotsom was dat die FAK-verslag en die Kaapse beraad vanuit verskillende perspektiewe baie nou by mekaar aansluiting vind.

Die SBA se hantering van die FAK Taalberaad is, om die minste te sê, uiters ongelukkig. Die SBA het nie een keer die moeite gedoen om voor of na die beraad by die FAK navraag te doen oor die sprekers, oor die verslag of oor die inhoud van die verskillende perspektiewe nie. Die FAK moes van die SBA se standpunte kennis neem deur die openbare media en deur e-posse wat wyd en syd uitgestuur is. Selfs sonder enige poging tot onderlinge gesprek het die SBA sy standpunte op die SBA se webwerf en op LitNet gepubliseer. Daarteenoor het die FAK eers kennis geneem van die beraad oor Kaaps-Afrikaans na afloop daarvan. Die FAK sou graag die Kaapse beraad wou bygewoon het en ook daar insette gelewer het, maar is nie deur die organiseerders genooi nie. Die FAK het nie in die openbare media, webbladsye of per e-posse beswaar gemaak dat die organiseerders Afrikaners van die Kaapse beraad uitgesluit het nie. So ’n benadering sou kleingeestig wees en nie die breë Afrikaanse saak bevorder nie.

Die FAK doen ’n beroep op alle Afrikaanse organisasies en rolspelers om te waak teen ’n kommunikasiestyl wat daarop gemik is om onnodige spanning te skep, agterdog te saai, politieke munt uit die Afrikaanse saak te wil slaan en wat boonop op lang termyn onderlinge verhoudinge in die Afrikaanse gemeenskap ernstig kan benadeel. Kulturele volwassenheid vra juis dat Afrikaanse organisasies aan mekaar die ruimte sal bied om vanuit eie fokus en nismark Afrikaans tot voordeel van almal te bevorder.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top