Ingrid Glorie in gesprek met Amanda Strydom

  • 0

Vra vir ’n klompie Nederlanders waar hulle belangstelling in Afrikaans vandaan kom en altyd sal daar iemand wees wat antwoord: “Amanda Strydom!” Einde 2011 het Amanda Strydom weer deur Nederland getoer. Sy het vir volgepakte sale gespeel en die andersins so stugge noorderlinge in vervoering gebring met haar emosionele vertolkings, haar ryk, poëtiese lirieke en haar warm persoonlikheid.

Hierdie onderhoud het oorspronklik – in ’n baie korter vorm – verskyn in die Desember-uitgawe van die Nederlandse maandblad Zuid-Afrika. Die volledige teks is te mooi om nie hier integraal te publiseer nie.

Die titel van die program waarmee jy tans in die Nederlandse teaters optree, is Vuur in glas. Hoekom het jy hierdie titel gekies?

Dit kom uit ’n lied van my mentor, Hennie Aucamp, “Trapsgewyse”: “Jou hartstog is robyne, ’n vuur gevang in glas, dit smeul nes ou ballades, soos kole onder as.” Volgens Hennie som dit perfek op wat ek as kunstenaar op die verhoog doen. Dus, ek gee met hierdie voorstelling wat ek maar altyd gee: alles.

Het jy dieselfde program ook in Suid-Afrika opgevoer of is dit spesifiek bedoel vir ’n oorsese gehoor?

In Suid-Afrika doen ek ’n eenvrou-vertoning getiteld ’n Vuur gevang in glas, met monoloë uit Hennie Aucamp se kabaret-oeuvre en my toonsettings van sy liedtekste. Ek het ook ’n CD met dieselfde titel opgeneem. Ek het probeer om Hennie se kabaretmonoloë in Nederland te doen, maar ek het gou geleer dat die gehoor dit moeilik vind om te snap. Die titel Vuur in Glas is vir Nederland gekies. Dit is oorkoepelend die maklikste om my wyd uiteenlopende musiekrepertoire in hierdie program vas te vang.

Jy het die program in ’n groot mate self geskryf. Wat kom eerste: die teks of die musiek? En hoe verloop die skeppingsproses daarna?

Vir my is die teks die heel belangrikste; dit is die fondament waarop ek ’n lied bou. As mens, digter, sanger en aktrise wil ek sing en praat oor alles wat my inspireer: die lewe, die maatskappy, die liefde, die natuur, politiek, ongeregtigheid, eensaamheid, hoop en geloof in dit wat goed is. Ek glo baie kunstenaars put uit dieselfde bronne. Ek skryf dus eers ’n liriek in digvorm en doen dan saam met my musikante die toonsetting. En soms kom ek agter dat ’n onvoltooide liedteks, op ’n gegewe moment in ’n voorstelling, perfek inpas as ’n bindingsteks tussen liedjies. Met elkeen van my voorstellings is daar ’n wisseling tussen poësie en musiek, lig en donker en humor en patos.

Hoe het jy begin om jou eie tekste te skryf?

Ek is eerstens opgelei as aktrise. Ek het geen sangopleiding gehad nie; trouens, ek kan nie ’n noot musiek lees of skryf nie! Ek hoor dit in my kop. In die 1980’s het ek deelgeneem aan TV-programme waarin Afrikaans gesing is, maar dit was vertalings van Duitse of Amerikaanse liedjies. Ek het dit afgryslik gevind en op my loopbaan as aktrise gekonsentreer. Die enigste lied uit my pen in 1979 was “Ek loop die Pad”, wat ’n groot treffer geword het. Ek het altyd probeer skryf, maar dit nooit met iemand gedeel nie; ek was te besig om aktrise en sangeres te wees.

Dit was eers met my ontmoeting met Stef Bos in 1994 dat hy my oortuig het dat ek my eie liedjies kan skryf. Stef het my eerste eenvrou-musiekteaterstuk, State of the Heart, in 1994 bygewoon. Ek het reeds van sy CD’s besit en ek het sy vakmanskap as skrywer, digter en sanger bewonder. Dit was asof ons mekaar lank reeds ken, asof ons vanuit dieselfde plek in ons siele skryf. Ons het soos broer en suster geword. Ek het die honderde lirieke wat ek vir jare weggesteek het, aan hom gewys en hy was geweldig onder die indruk. Ek het my land en my taal deur sy oë begin sien en dit het my die moed gegee om my eerste album te skryf. Dit was die begin van ’n mooi vriendskap en samewerking. Ek het op baie van my albums van sy liedjies in Afrikaans vertaal en dit het daartoe gelei dat ons “Die Taal van my Hart” en “My Kamer” as ’n duet opgeneem het. Stef kom voortdurend met nuwe idees en liedjies vorendag en dit inspireer my.

So het ek dan begin om my woorde te komponeer met die hulp van wonderlike musikante soos Janine Neethling, Juan Oosthuizen, Didi Kriel, Lize Beekman en Peter McLea.

Vertel ’n bietjie meer oor die rol wat Hennie Aucamp in die ontwikkeling van jou skrywerskap gespeel het?

Hennie Aucamp is my mentor sedert ek in sy kabarette begin optree het. Ek het hom in 1981 by die Markteater ontmoet terwyl ek opgetree het in sy kabaret Met permissie gesê. Hy het my aangemoedig om te begin skryf. Ek was ’n lui skrywer, totaal toegewy aan my loopbaan as aktrise en sangeres, maar Hennie het aangehou om my te herinner dat ek moet skryf, want die liriek van “Ek loop die Pad” het hom diep beïndruk.

In 1986 het ek my a capella-lied “Die Pas”, oor die ongeregtigheid van die paswette, in Stellenbosch gesing en dit beëindig met ’n gebalde vuis, en in die maande daarna kon ek die verwerping van my mede-Afrikaners en die sensasie in die pers nie meer hanteer nie, en het ek totaal ineengestort. Ek is in ’n inrigting opgeneem, waar ek vir maande behandel is vir bipolêre gemoedsversteuring. Die lang pad na herstel het voorgelê en tydens daardie tyd was Hennie Aucamp ’n steunpilaar vir my. Toe die meeste “vriende” my verlaat het, het hy daarop aangedring dat ek al my emosies neerskryf, al is dit hoe moeilik. En omdat ek letterlik in selfopgelegde ballingskap begin leef het, het skryf my terapie geword. Ek het honderde emosies neergeskryf wat ek in ’n geheime laai weggesteek het. En dit was inderdaad terapeuties.

Tydens my selfopgelegde ballingskap van die verhoog het ek vir twee jaar by ’n versekeringsmaatskappy gewerk voor Johannes Kerkorrel en Didi Kriel my die moed ingepraat het om weer te begin sing. Hennie het konstant aan my geskryf en my bemoedig. Hy is en bly steeds een van die lojaalste mense in my lewe.

Met die skryf van ’n nuwe album stuur ek altyd die lirieke vir hom en sy opbouende kritiek is van onskatbare waarde. Die grootste les wat ek by Hennie geleer het, is om getrou aan jou siel te bly. Moenie iemand probeer wees wat jy nie is nie. In eenvoud lê krag. Skryf wat jy voel en doen dit so eerlik en eenvoudig soos jy kan. Minder is meer.

Hier is ’n kwatryn wat Hennie aan my gestuur het toe ek dit die nodigste gehad het – vandag is dit ’n kredo in my lewe:

Vir Amanda

Jy sing en praat jou mond verby
Jou vak is immers cabaret
Maar by jou lied is ingebou
Die troostoon van ’n wyse vrou.

In Nederland word jy ook wel “die ambassadeur vir Afrikaans” genoem. Het jy van die begin af bedoel om veral in Afrikaans op te tree?

Nee, ek wou so veelsydig moontlik wees. Ek het in Afrikaans studeer en in Afrikaans toneel gespeel aan die begin van my loopbaan, maar my eerste groot deurbraak as musikale aktrise was in 1979 in die Engelse musiekblyspel Christian, daarna Oh what a lovely War. Ek het van 1982 tot 1986 net in Engelse toneelstukke en TV-dramas opgetree, pryse ontvang vir beste Engelse aktrise en vele Engelse musiekoptredes gedoen. My destydse agent wou dat ek na Amerika gaan en daar ’n loopbaan begin as aktrise en sangeres, maar die lewe het ander planne met my gehad. Nadat ek Johannes Kerkorrel se musiek beleef het en Stef Bos ontmoet het, het ek begin glo dat ek, in die nuwe Suid-Afrika, in my moedertaal sou skryf. Ek het my nie meer vir Afrikaans geskaam nie. So het my eerste selfgeskrewe album, Vrou by die spieël, in 1995 ontstaan en dit is heel gunstig ontvang deur resensente en die publiek. My lied “Hoor hoe brom die wind” (“Ek kan rock in my taal”) wat op díe album staan, het ’n tipe “anthem” geword. Ek het nooit weer teruggekyk nie.

Is daar artieste wat jy as wegbereiders beskou?

Ja, die wegbereiders in Afrikaanse musiek was briljante skrywers soos Koos du Plessis, Johannes Kerkorrel, Stef Bos, David Kramer, Coenie de Villiers, en ook my vriend Pieter-Dirk Uys wat my ondersteun het toe ek my eerste “one woman-musiekteaterstukke” begin skryf het.

Daar is ook internasionale kunstenaars wat my nog altyd inspireer het, soos Jacques Brel, Leonard Cohen, Nina Simone en Paul Simon. Al hierdie kunstenaars het hulle siele gevolg en nooit verkoop nie. Soos ek ook nog nooit gedoen het nie.

Tydens die voorstelling sing jy ook ’n lied in ’n Afrika-taal. Welke is dit?

Die lied “Thula”, wat ek in hierdie voorstelling sing, is een van die bekendste wiegeliedjies in ons geskiedenis. Ek sing “Thula” as troos na my lament vir Hector Peterson, die eerste gesneuwelde kind tydens die 1976-opstande. Ek sing ook ’n jubelende loflied, “Ndiyakholelwa”, wat beteken “Ek glo”, in Afrikaans en Zoeloe. Ek het ook die bekende “Summertime” in Nederlands en Zoeloe opgeneem. Ek meng graag Zoeloe met Afrikaans. Dit is so deel van my siel soos Afrika self, al kan ek nie ’n enkele swart taal vlot praat nie. As ons die reënboognasie van die wêreld is, soos vader Desmond Tutu dit genoem het, mag ek mos ’n tapyt weef met die tale wat in Suid-Afrika gepraat word. En heerlik daarop vlieg met my gehoor.

Is jy bekommerd oor die ontwikkeling van Afrikaans?

Ja, ek maak my sorge oor die slang wat deesdae gepraat word: Engelse woorde word gemeng met Afrikaans; dis asof die jong geslag lui geword het om Afrikaans te praat. Ek hoor dit op TV in die sepies, ek hoor dit wanneer jong sangers onderhoude voer op radio en TV en ek hoor dit in hul liedjies, wat, terloops, songs genoem word. Natuurlik is daar woorde in Engels wat heel beskrywend is, maar wanneer dit geforseerd gedoen word om cool te klink, irriteer dit my geweldig. Praat gewoon ons taal suiwer, dis al wat mens kan doen. Ek probeer in suiwer Afrikaans sing. Ek sing soos ek praat. En ek sal dit doen solank ek ’n stem het.

Jy het in die verlede die verhoog al met verskillende ander kunstenaars gedeel. Wat beteken hierdie tipe samewerking vir jou?

Samewerkings ís heerlik … tot op ’n punt, dan wil jy weer alleen op die verhoog met jou musikante. ’n Mens deel die stres van die hele produksie met jou medekunstenaars; en dan word dit heel gemaklik. Ek doen dit nie dikwels nie, maar wanneer dit gebeur, vind ek dit heerlik. Laurika Rauch, Elzabé Zietsman, Coenie de Villiers en Valiant Swart is vriende en dan word die voorstelling pret. Lize Beekman was my protégé en dit was so ’n stimulerende ervaring om saam met haar te werk. Sy is nou ’n groot kunstenaar uit eie reg. Solank daar kunstenaars van hierdie standaard is, met hul toewyding aan die Afrikaanse taal (ek dink ook hier aan David Kramer), het ek geen sorge oor die toekoms nie. Ek maak my wel sorge oor die kommersiële gemors wat deur duisende kunstenaars as Afrikaanse kuns opgeneem word. Maar hierdie kunstenaars gee my positiewe hoop vir die toekoms: hulle is sterk, gedrewe mense en solank hulle doen wat hulle doen, is daar hoop.

Die Nederlandse kunsbedryf is in die laaste jare getref deur ingrypende besuinigingsmaatreëls. Hoe sien jy die posisie van die kunste in die huidige Suid-Afrika?

Hier het ons dit ook nie maklik nie, maar om Ramses Shaffy aan te haal: “We zullen doorgaan.” Ek sou graag wou sien dat die kunste in Suid-Afrika dieselfde ondersteuning as sport geniet, maar helaas, dit is nie die geval nie. Tog bied die vele kunstefeeste ’n platform vir toneel, musiek, dans en kuns. Dit het ons redding geword, maar feeste duur ook net ’n week of so. Daar is teaters wat suksesvol besig is om die kunste lewend te hou, daar is teaters in casino’s wat meer kommersiële voorstellings aanbied, daar is teaters waarvan die deure vir ewig gesluit is, en dit is jammer.

Om hier te oorleef as kunstenaar, moet jy ’n wil van yster hê en jouself konstant vernuwe. Gelukkig hét ons kunstenaars die wil om te oorleef en waar ’n deur gesluit word, breek ons ’n nuwe venster oop.

Wat die toekoms van Afrikaans in die uitvoerende kunste betref, glo ek ons moet gewoon aanhou doen wat ons doen. Daar is briljante dramaturge, akteurs, aktrises en regisseurs wat elke jaar met iets nuuts vorendag kom. Dieselfde geld vir musiek. Natuurlik is daar kaf tussen die koring, maar dit begin vir my voel asof ons gehore al hoe meer steun gee aan kwaliteit-produksies en die kommersiële nonsens vermy.

Tydens die Nederlandse teatertoer word jy ondersteun deur ’n vaste groep musikante. Vertel asseblief iets oor hulle?

Janine Neethling (piano) is al dertien jaar my begeleier. Sy is vir my soos ’n sus; ek bewonder haar geniale musikaliteit en ons werk heerlik saam. Ek voel my veilig saam met haar op enige verhoog, met orkes of net piano. Wanneer ons my lirieke komponeer, hoor sy instinktief wat ék hoor wanneer ek vir haar voorsing wat ek wil hê van die lied. Maar elke musikant saam met my op die verhoog is belangrik, elkeen tel, elkeen lewer ’n heel belangrike bydrae. Janine het die vermoë om alles bymekaar te hou; sy is ’n formidabele musikale regisseur.

Ons vier – Janine, Juan Oosthuizen (kitaar), David Klassen (perkussie) en ek – werk al jare met mekaar saam en is soos ’n familie. Op toer probeer ons mekaar vertroos as ons na ons gesinne en land verlang, ons lag graag saam, ons eet graag saam, ons gun mekaar ruimte en die balans tussen die vier van ons is gesond. Die voorstelling is die belangrikste en met hierdie drie begaafde mense bevind ek my in die beste geselskap. Dit is só belangrik. Ek kan nie sonder hulle nie.

Kan jy iets sê oor jou planne vir 2012?

Die toneelstuk wat ek gekies het om in 2012 te doen, Voor ek vergeet, het my beïndruk. Nee, ek het geen planne gehad om ’n nuwe wending in my loopbaan te maak nie; ek is die afgelope sewe jaar al vele rolle aangebied, maar niks het my opgewonde gemaak nie. Daar is niks soos ’n bietjie verandering om die lewe weer opwindend te maak nie en hierdie toneelstuk bied my heelwat uitdagings! Ek vertolk die rol van ’n 70-jarige vrou wat aan demensie begin ly en besoek word deur haar seun wat haar help verhuis van ’n appartement in ’n tehuis vir bejaardes na ’n enkelkamer. Ek is heel senuagtig oor dit wat voorlê, want ek het in 1989 laas in ’n toneelstuk gespeel! Maar ek is ook opgewonde om dit waarvoor ek opgelei is, na al die jare weer te kan toepas, al voel ek effe verroes! En dan, weet ek, sal musiek weer die oorhand kry. Ek wil álles doen, solank ek kan.

Watter gevoel, hoop jy, sal die Nederlandse gehoor wat jou show kom besoek, saam neem huis toe?

Warmte. Tevredenheid. Vrede. ’n Glimlag. ’n Salige gevoel in die siel. Dat ek iemand, al is dit net een mens, diep geraak het. Dit is wat ons hoop ons gehore sal huis toe neem.

Elke besoek aan Nederland bring vir my nuwe verrassings. Vanjaar is ons vyfde toer na Nederland. Ons het in 2007 begin en nou voel ek al tuis daar, want ek het wonderlike, lojale vriende daar gemaak. Ja, mens raak soms eensaam omdat jy hard werk, jou hele siel gee elke aand, dit is bitter koud en dit sneeu en jy weet in Suid-Afrika is dit 31 grade en die son skyn, en jou geliefdes is ver van jou, maar die ervaring om in Nederland op te tree bly vir my ’n wonder – dit laat my opnuut besef dat wat ek doen, deur méér as net Suid-Afrikaanse gehore waardeer word. Dat die Nederlandse publiek van my, my musikante en my Afrikaanse liedjies hou. Dat my taal vry geword het. En dat die gehore in Nederland my liedjies saamsing uit volle bors!

Is daar iets wat jy nog in Nederland sou wou bereik?

Om saam met al die mense wat omgee, die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam te red. Dit is my hartsbegeerte.

Foto’s: Jaap Reedijk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top