Ingeperk in die aftreesentrum

  • 18

Foto ter illustrasie: Pixabay

Ongeveer vyf jaar gelede het ek in hierdie aftreesentrum ’n nuwe tuiste gevind. Spoedig herken ek vir Magdaleen in ’n gang. Sy die lang dame met die liefde vir rompe, sy wat veral van sonhoedens hou. Sy stap graag straat af en terug, asof dit ’n avontuur is.

Ek en Magdaleen was in die jare sestig en sewentig, selfs later, baie betrokke by die NG Kerk se Kerkjeugvereniging (KJV), later Kerkjeugaksie. Ek by die gemeente Kaapstad en sy in Woodstock. Ons het konferensies bygewoon of een tak was gaste van ’n ander se besonderse funksies of sprekersaande.

Hier in die sentrum het sy oor die jare heen waardevolle hulp as dienswerker verleen aan die dominees wat van hul gemeentes af oorkom om ’n erediens hier te kom lei. En waar’s die dae toe sy klere ingesamel het vir die manne hier in die gebou en ook elders wat nie sonder meer by ’n winkel kan instap en baadjies, slaapklere en skoene kan aanpas en koop nie. Ek het graag geskenk. Soms moes sy aankondig dat ons te laat is – die begunstigde is in ’n hospitaal oorlede.

Magdaleen was ook ’n begaafde sangeres en ’n aanwins vir die sentrum se koor.

In die sentrum word tans reëls vir die inperking streng toegepas. Ek kla by die bestuurder. Kan ons nie begin terugkeer na die gewone,  die bekende nie? In plaas daarvan om aanhoudend nuwe plakkate opsit, aankondigings te maak. Nee, seg die bestuurder. Gou sal  die buitestanders heel Bybels hulle as bestuur stenig.

Gaandeweg hoor ek maar by die inwoners hoe ongelukkig veral dié met familie hier naby is. Ek en Magdaleen is alleenlopers. 

En toe gebeur dit gister. Ek en sy het afsonderlik by die administrasie in die voorportaal hospitalisasie gaan bespreek. Ons stap saam by ’n hyser in. Ek sê ek wens dat hierdie bitterlik nare en ontwrigtende tyd tog moet verbykom. In die middel van die hyser staan sy. Dis of sy bo alles uittroon toe sy al hoe harder praat.

"Ja, ek ook! Ek kan dit nie meer verduur nie! Ek kan nie, ek kan nie! Ek wil wegkom tussen die mure en hekke!" Net voor die hyser vir haar oopgaan, sê ek ek kan ook nie. Terwyl sy uitstap, roep sy, skreeu sy: "Ek wil net huil!"

"Ja, ek ook!" As ek iets moois sien of hoor of iets lees of onthou, is dit asof iets in my kop of lyf saamtrek en ek voel ek gaan huil. ’n Klomp kere per dag.

Magdaleen skreeu voor die hyser: "Ek huil! Ek huil!"

  • 18

Kommentaar

  • Avatar
    Maryna Volschenk

    Goed geskryf.
    Ek huil ook vir die inwoners in aftree oorde. Ons het ook iemand daar en die skeiding maak dit byna ondraaglik.

  • Avatar
    Annarita Louw

    Die hartseerste is soos Elsa Joubert verwoord het. Hierdie mense is in hulle laaste jare, hulle is so afhanklik van kontak met kinders en vriende. Dit breek my hart.
    My ouers ook in Aftree-oord, maar hulle het nog mekaar.
    Hoe lank nog? Ek dink nog lank.

  • Dankie Danie - ons harte gaan uit na julle. Dit laat my net besef dat ons ander wat nog die voorreg het om buite te kan rond beweeg, dit dankbaar en verantwoordelik moet benut, in plaas van onsself te sit en bejammer!

  • Avatar
    Hennie van Deventer

    Ai, ou Danie, jy roer die kliphart van die koerantman. Ek en Tokkie stort weer ander trane. Ons sou nou in Sabiepark gewees het. Elke aand ’n vleisie gebraai het. Op die stoep gekuier het as die nagapies kom inloer vir ’n skyfie piesang. Nou, na 24 jaar se wegbreke, keer COVID-19 ons in die koue Kaap vas. Dis nogal ontnugterend. Sterkte vir jou. Groete vir Magdaleen, al ken ek haar nie.

  • Avatar
    Pierre Le Roux

    Baie mooi beskryf Danie! Ja, dit is voorwaar vir hulle, in sulke eenhede ’n besondere toets. My empatie gaan uit na julle. ’n Mens het ’n behoefte om buite jou blyplek met ander te kan kommunikeer en met ander sinvolle gedagtes te kan wissel.
    Sterkte vir elke COVID-19-gevangene! Ons vertrou dat ons omstandighede gou na normaal sal verbeter.
    Ons kyk maar op want dit is waar ons hulp vandaan kom!

  • Ek dink die inperking by aftreeoorde word oordryf deur bestuur, beheerrade en oorhoofse instansies terwyl hierdie mense elke aand en naweke by hul gesinne en woonplekke is. Jy kan nie ’n oumens wil weghou veral van sy kinders.
    Die grondwet stel dit baie duidelik dat elke indiwidu het ’n reg tot hy/haar vryheid van beweging. Geen wet kan dit verbied! Dit is hoog tyd dat iemand of instansie hier moet ingryp. Soek hulp by AfriForum hul het briljante regspan.
    Tehuise sowel as sekere aftreeoorde is deesdae tronke waar dissipline erger is as tronke. Dankbaar daar is ook ander aftreeoorde en tehuise waar hierdie mense met liefde en deernis behandel word.

  • Ek is bestuurder by aftreeoord en ons voel saam met die inwoners. As ons enige besoeke moet toelaat, al bring geen besoekers die virus in die tehuis maar bv ’n personeellid en een van die inwoners sterf sal al daardie inwoners se kinders ons stenig en met klippe doodgooi. So ons weet ook nie wat om te doen nie.

  • Avatar
    Tina-Marietjie

    Johan Spamer, ek stem heelhartig saam dat die inperking heeltemal en harteloos oordryf word deur die besture van instansies wat nie eens belangstel of luister wat inwoners en hulle geliefdes aan hulle probeer oordra nie. Ek is ook besig om 'n geliefde moeder in eensame opsluiting te verloor en was al oral om hulp te soek, maar sonder sukses. Dis nie asof die instansies beter presteer in hulle dienslewering nie, want by Ametis in die Strand wat deel is van die privaatmaatskappy, StrandNaasteDiens is ons verswakte geliefdes se wooneenhede meer as 11 weke gelede skoongemaak!!! Daar is tans geen oorsig en die probleme wat voorheen bestaan het, is nou net verder opgeblaas. Baie mense wat by hierdie instansies werksaam is het geen begrip vir bejaardes, goeie oordeelof begeerte as om net die regulasies af te forseer om hulleself te beskerm.

    Kan u my asb in verbinding bring met die regte persone in AfriForum se regspan. By voorbaat baie dankie

  • Ek woon in 'n tehuis vir bejaardes. Ek het twee kinders en een kleinkind. My oudste kind is gay en het al verlede jaar na Mexico ge-emmigreer. Die ander een wat my enigste klinkind het, het jare gelede al alle bande met my gebreek. Met my kind in Mexico het ek elke dag kontak. Die ander een bly 'amper net om die hoek' maar van haar hoor of sien ek niks nie. My man is reeds meer as 'n jaar gelede hier in die versorgingsafdeling van ons tehuis oorlede. Ek sien nooit my kleinkind nie. Ek is dus heeltemal alleen op die wêreld. Ek is heel gelukkig hier in die tehuis waar ek woon. Daar word baie moeite gedoen om ons gelukkig te hou. Ek kon 'n veel erger lewe gehad het. Mens moet heel eerste geluk binne-in jouself vind en nie vir ander wag om jou gelukkig te maak nie. Ek sal erken my pad was nie elke dag maklik nie maar, nou is ek gelukkig.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Aftree-oord toe vir Raed-na-gael...
    Ek is bly dat ek die tipe van plekke 'n mis gegee het, dit is nou gevaarlike plekke.

  • Ek stem heeltemaal saam met negatiewe kommentaar teenoor inperking by ouetehuise. Ek is self betrokke by 'n ouetehuis en wil nie enige beheerraads vergaderings bywoon nie. My persoonlike siening is teenstrydig oor die inperking met die totale beheer van mense en gevolglike onmenswaardige /liefdelose /verwerplike hantering van die bejaardes en hulle familie.
    Om in eensaamheid sonder geliefdes te sterf is wreed en is sekerlik vir die sterwende 'n folterende ervaring voordat die dood intree. Dit is ook baie traumaties vir familie wie' n geliefde so moet verloor en daar nie afskeid kan wees nie. Sekerlik kan daar reelings getref word om sterwendes en familie in die laaste ure te akkomodeer.

  • My punt is: Hoe kan daar beweer word dat ouetehuise inwoners op ’n wyse behandel soos hieronder en elders hierbo aangedui word as “onmenswaardige /liefdelose /verwerplike hantering van die bejaardes en hulle familie”.
    Die weerlose bejaardes word dan besmet – deur wie? Ja – deur die roekelose familie wat vir mammie of pappie net gou wil kom sien en wat geen bewys kan lewer van hul eie besmetloosheid nie, eintlik maar net daar vir 5min of wat, darem net om by mammie of pappie gesien te wil word en in baie gevalle hul eie gewete te salf omdat hulle maande laas hul gesigte gewys het. Nou het hulle ‘n gerieflike verskoning hoekom hulle nie besoek aflê nie en blameer die tehuis vir “verskriklike inperkingsmaatreëls”. Jy kan die beskuldiging “onmenslike” ens. soos hierbo toepas op die familie.
    Stel sommer die “grendelstaat- inperkings gelyk aan ’n Stalag II of III soort van ding. Daardie vyf minute afgewaterde ou besoekie kan aanleiding gee tot ‘n vroeë begrafnis waar daar ook beperkinge op is.
    Ek skaam my!
    En nog ’n ding: Ek is seker daar is beter beskrywings vir die situasie as “grendelstaat”. Dis nie wat “lockdown” beteken nie.

  • Ek wil net noem, ons het nou 4 personeellede wat positief getoets is, en een inwoner. Toe ek Maandag gehoor het die inwoner is positief het dit gevoel of ek in 'n diep donker gat inval want ons het die afgelope paar maande soveel gedoen om almal te beskerm. Ongelukkig is ons personeel so blootgestel aan die virus in hul gemeenskappe, want hulle het mans wat werk, kinders wat skool toe gaan, ouers wat inbly wat in rye moet gaan staan vir sassa geld, so die blootstelling is groot vir hulle. Ons kan die inwoners beskerm met die beste protokole en beleide, beskermende drag, daaglikse opleiding en alle hulp maar as die personeel die virus in die tehuis inbring is ons magteloos. Ons personeel word elke dag herinner aan simptome en hulle mag nie kom werk as hulle enige simptome toon, maar baie is jong mense wat asimptomaties is, het nie simptome nie maar dra die virus! Ek lees hier van gevalle soos tehuis wat nie skoongemaak word ens maar daar is instansies waar jy hierdie tipe van goed kan aanmeld. Maar maak seker van jou feite oor tehuise, want die meeste van die stories is onwaar. Mense weet nie wat ons doen in tehuis nie. Ons eerste prioriteite is inwoners en so moet ons ook ons personeel beskerm want sonder hulle kan ons nie ons dienste lewer nie. Familie lede van oorsee en wat baie vêr woon wil almal raad gee hoe ons moet maak, maar ons het alle protokole en voorsorgmaatreels wat deur die verskeie Departemente aan ons deurgegee word en ons volg dit streng. Bid vir ons ouetehuise , ons is nie onmenslik nie maar ons is besig om 'n onsigbare "ding"te beveg, iets wat jy kan sien nie en dit maak dit baie moeilik. Net soos dit vir die wereld 'n onbekende siekte is, is dit vir tehuise ook.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top