ingelmens
tja sug oom daan
wassit nie vir daai ingelmens nie
het ek vandag my gat gesien
ek sien ma se beehive bewe
ek trek my grootore klein
anders rol oom daan sy oë
en praat hy weer ingels
tja sug ma en skink tee in haar royal alberts
met die pers viooltjies
’n spierwitte ingelmens
jy kry mos g’n
swart ingelmense nie snork oom daan
het ingelmense dan ’n kleur ma vra ek kooityd
ma lag net met haar goue tand
mens leen nie jou ore uit aan ou daan nie
dis van strontpraat dat hy so dík is
so ek is bly want toe martha moerkoffie
in die more bring sien ek met my eie oë
’n pikswarte ingelmens in
spierwitte vlerk getooi