Ingeboek by 'n universiteit in Pole: Karen Kuhn vertel

  • 0

Wat het in 2012 in Karen Kuhn se lewe gebeur? Haar digbundel Ingeboek het by Griffel verskyn. En sy het Pole toe getrek om Afrikaans te gaan doseer. Naomi Meyer het haar oor haar bundel en oor haar lewe in Pozna? gevra.

Hallo Karen, en watter kleur is die lug vandag daar in Pozna?? Dankie vir die geleentheid tot gesprek. Vertel asseblief vir ons lesers wat jy daar in Pole doen.

Dit is herfs in Pole, die natuur het vlam gevat en winter is om die draai, so ons berei ons nou al voor vir die koue en sien uit na die sneeu! Naomi, ek is verbonde aan die Adam Mickiewicz Universiteit, binne die Departement vir Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies in Pozna?. Suid-Afrikaanse studies (filologia po?udniowoafryka?ska) word aangebied as ’n aangepaste en verrykte module binne Engelse studie.

Professor Jerzy Koch werk al sedert 1997 in Pozna?. Kollega Tertius Kapp is al vir meer as drie jaar hier werksaam en Mathilda Smit het begin Oktober by ons aangesluit. Ons bied Afrikaans vir voorgraadse studente aan. Taalverwerwing, wat grammatika, mondelinge oefening en woordeskat behels, word aangebied vir al drie jaargroepe. Verder word literatuurstudies aangebied, wat ook die ontstaan en ontwikkeling van die Afrikaanse en ook Suid-Afrikaanse letterkunde insluit. Maar die studies omvat meer as net die Afrikaanse taal: Suid-Afrikaanse geskiedenis word aangebied en ook Suid-Afrikaanse kultuurstudies, wat alle etniese groepe in ons land verteenwoordig en ook oa versoeningstudies en moderne tendense insluit. So poog die kurrikulum om ’n meer diverse en breedvoerige geheel vir die studente te bied. Die Departement het ’n akademiese joernaal, Werkwinkel, wat tweejaarliks verskyn, en professor Koch se boek oor Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis in Pools verskyn volgende jaar ook dan in Engels.

Ek het ook met Jerzy Koch gesels verlede jaar. Van buite gesien lyk dit of Afrikaans nogal aan die groei is daar. Hoe ervaar jy dit in die stad self: hoor jy ooit Afrikaans op straat? Of is dit gelokaliseer tot die universiteit se grense?

Kanse is skraal dat mens Afrikaans op straat sal hoor, maar die departement is definitief aan die groei en so dan dat ons hierdie akademiese jaar vier kollegas binne die Afrikaans-departement het. Behalwe vir die universiteit self, is die Suid-Afrikaanse ambassade hier in Pole baie aktief. Uiteraard is die wisselwerking se fokus dan op Suid-Afrika in sy geheel eerder as net Afrikaans. Daar is die Festival vir Afrikaans in Amsterdam waarby ons studente al betrokke was, en natuurlik enige geleentheid wat verband hou met Suid-Afrika, soos die première van die opera-verwerking van JM Coetzee se roman Slow Man, en Die Antwoord wat vroeër die jaar hier in Pozna? opgetree het.

Guava Juice was 'n poësieprogram wat deur Tertius Kapp saamgestel en geregisseer is. Studente het gedigte uit die struggle-verlede opgevoer met musikale begeleiding, van Wally Serote tot Breyten Breytenbach. Die lokaal was twee aande stampvol en die reaksie vanuit alle geledere was baie positief. Hier is ook die studente-organisasie Xolo onder leiding van Mathilda Smit wat filmaande en ander geleenthede hou. Ons het dan ook op Allersieledag kersies by die grafte van Suid-Afrikaanse vlieëniers wat tydens die Tweede Wêreldoorlog teen Duitsland geveg het, gaan neerlê en selfs al ons eie biltong gemaak. 2011 se Multiversiteitstoer was 'n ander hoogtepunt. 'n Derdejaarsgroep het met borgskap uit die privaatsektor drie weke lank deur Suid-Afrika getoer om hul akademiese agtergrond met die werklikheid te vergelyk. Daaruit het ook die samewerkingsooreenkoms met NWU gevolg. Ons is druk besig om die volgende toer (vir Februarie 2013) te beplan - al is ons nog bietjie kort op ons begroting, glo ons dat alles sal uitwerk. 

Pozna? is ’n lieflike stad en die Pole se resepsie van Afrikaans en Suid-Afrika is positief. Dit is ’n land met ’n komplekse geskiedenis en dit slaan deur, hetsy binne argitektuur, tradisie, geloof of denkwyse, en my persoonlike ervaring is dat daar ’n begrip en respek by die Pole is vir ons land, ons taal en die positiewe vooruitgang wat ons ondergaan, juis vanweë hul eie uitdagings en transformasie.

Onlangs, by 'n konferensie in Pretoria, was daar ook heelwat mense van jou departement. Is daar heelwat kruisbestuiwing tussen die Afrikaans-departemente in die buiteland en Suid-Afrika? Raak Afrikaans 'n burger van die wêreld?

Die ALV-kongres 2012 was inderdaad suksesvol en dit was ’n voorreg om daar te kon wees. Kruisbestuiwing tussen departemente is van uiterse belang en die kongres was weer ’n forum om al die verskillende departemente onder een dak bymekaar te bring. Ania Jasiak en Karolina Drejerska, wat binne ons departement hul BA afgestudeer het, is sedert die begin van die jaar uitruilstudente by NWU. Dit behels dus die helfte van hul M-studies in Engels (met fokus op Suid-Afrikaanse onderwerpe). Hulle is die eerste twee “proefkonyne” van ons nuwe uitruilooreenkoms, en die moontlikheid bestaan ook dat Suid-Afrikaanse studente deel van hul studies in Pozna? afhandel. Professor Willie Burger van die Universiteit van Pretoria kom einde November hier lesings aanbied en volgende jaar kom die Poolse historikus M Lesniewski lesings oor Suid-Afrikaanse geskiedenis gee.

Vanweë Afrikaans se uiteenlopende invloede is daar heelwat potensiaal opgesluit vir Afrikaans as ’n burger van die wêreld.

Daar is vanjaar ook nog rede om notisie te neem van jou, weens jou eie skryfwerk: jou bundel Ingeboek het vroeër vanjaar by Griffel Media verskyn.

a) Hoe skryf jy gedigte? Beplan jy hulle, of gebeur hulle net?
b) Wag jy vir inspirasie, of werk jy teen sperdatums?
c) Is daar spesifieke temas wat jy geniet (of nie geniet nie) wat hul voortdurend in jou skryfwerk inwurm?

’n Woord, iets in ’n droom of ’n persoonlike ervaring gee gewoonlik geboorte aan ’n vers. Ek dink die tematiek hang af van waar ek my op ’n spesifieke tydstip bevind. Om nou in die vreemde te wees maak deure oop vir nuwe denkwyses, ander maniere van kyk – na jouself, jou land en die innerlike reis.

Watter raad sou jy aan voornemende digters gee?

Wyd en ver lees en herskryf oor en oor …


Taalles

Moet haar nie so styf
vashou nie, sy versmoor:
Stuur haar terug
om die wêreld
te herinner sy lê
tussen almal se lakens.
So kom sy van orals
na haar Afrikabed:
Excuse-moi, moet haar
nie so styf vashou
nie, sy krimp. 

Kyk hoe sexy is sy,
as sy so suutjies
almal met hul eie
woorde verlei.
Onthou: Sy lê
tussen alle lakens.

Tula-tula, tula-tula.
So kom hulle van oral
na haar Afrikabed:
Gesundheit én ????.*

* ???? is Arabies vir “groei”

 

(c) Karen Kuhn (Uit: Ingeboek, 2012, Griffel Media)

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.
 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top