Poolshoogte, ’n aanlyn kongres oor die stand van die Afrikaanse letterkunde 20 jaar ná demokrasie, kon die afgelope paar maande op LitNet gevolg word. Hierdie projek is ondersteun deur LitNet Akademies.
Letterkundiges, uitgewers, skrywers, joernaliste en ander kundiges het om dié ronde tafel in die kuberruim byeengekom om ‘n bestekopname te doen oor hoe die Afrikaanse letterkunde deesdae daaruit sien. Watter probleme staar ons in die gesig? Waarna kan ons uitsien? Hoe het ons tot hier gekom?
Op Woensdag 11 Maart 2014, tydens die jaarlikse Woordfees in Stellenbosch, is die gesprek in lewende lywe voortgesit toe ’n paneel stelling ingeneem het om die koffietafel op die Boektent se verhoog. Francis Galloway (letterkundige en redakteur van LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)), Louise Viljoen (letterkundige, kritikus en professor in die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands), Marga Stoffer (uitgewersbestuurder by NB-Uitgewers) en Bettina Wyngaard (bekroonde skrywer van onder andere Troos vir die gebrokenes) was in gesprek met Sonja Loots.
Francis Galloway open die paneelgesprek deur vir die gehoor ’n prentjie te skets van die rol van literatuur- en skrywersverenigings en spesifiek hul kongresse, oftewel berade, deur die jare. Kongresse was en is steeds ’n belangrike platform vir die Afrikaanse literatuurstudie. Dit bied geleentheid vir skrywers om met mekaar en hul lesers, veral letterkundiges, in gesprek te tree. Die Afrikaanse Letterkundevereniging se tweejaarlikse kongres is ’n gewilde byeenkoms vir die uitruil van idees oor letterkunde. Dit bied ook aan jong navorsers ’n noemenswaardige platform om hul navorsing en tesisse te toets.
Louise Viljoen het aan die hand van die bydraes op LitNet se aanlyn kongres verslag gedoen oor tendense in die literatuurstudie. ’n Mens hoop dat dié uiteensetting êrens gepubliseer sal word. Dit was toeganklik en deeglik, en tegelykertyd terugskouend en toekomsgerig. Alhoewel die postmodernisme byvoorbeeld ’n nuttige werktuig was (veral hier in Suid-Afrika, waar daar in die literatuur met spesifieke sosio-ekonomiese vraagstukke omgegaan is), wil dit blyk dat ons in die literatuurstudie nou aanbeweeg na nuwe weivelde. Iets wat bekend staan as die “post-postmodernisme” of “metamodernisme” is ons voorland, en temas wat tipies in hierdie konteks in die letterkunde sal figureer, is die wêreldwye finansiële krisis, politieke onstuimigheid, en onsekerheid oor die ekologie. Ná Louise se praatjie sien ek daarna uit om die Afrikaanse literatuurstudie dop te hou. Dit sal blykbaar steeds beïnvloed word deur denkrigtings uit ander dissiplines: onder andere sal genderstudies belangrik bly en nosies van identiteit steeds ondersoek word, asook die rol en betekenis van ruimtebeelding.
As uitgewersbestuurder by NB-Uitgewers is Marga Stoffer goed geplaas om verslag te doen oor die kommersiële sy van die Afrikaanse letterkunde. Hoe vaar dit in die mark? Uit verkoopsdata wat sedert 2004 deur Nielsen Bookdata gemeet word, blyk dit dat die Afrikaanse letterkunde sy skoene in die mark vol staan. Die aantal gepubliseerde Afrikaanse titels, en die verkope daarvan, het oor die afgelope dekade sterk groei getoon, in teenstelling met plaaslike Engelse titels – waarvan die verkope al hoe verder taan. Dit is deels toe te skryf aan die besonderse lojaliteit van die Afrikaanse leserspubliek, wat oor genres heen Afrikaanse letterkunde ondersteun.
Die prentjie is egter nie ten volle rooskleurig nie. Daar is die afgelope paar jaar ’n kommerwekkende afname in die publikasie van Afrikaanse akademiese werke. ’n Verdere bekommernis in die boekebedryf is die Departement Basiese Onderwys se voorgestelde een-boek-beleid, waarvolgens daar slegs een boek per graad en taalvlak voorgeskryf sal word. Die verarming wat dit tot gevolg sal hê, strek verby die klaskamer na die beursies van skrywers – die inkomste uit die skoolvoorskryfmark sal voorts slegs enkele skrywers te beurt val. Boonop word die Onderwysdepartement se titelkeuses klaarblyklik grootliks deur verkooppryse bepaal. Die gehalte van die werk gee nie die deurslag nie. Skrywers is aangemoedig om die strydbyl op te neem en hul stemme dik te maak teen die drastiese verskraling van die aanbod titels wat tot onderwysers en leerders landswyd se beskikking sal wees.
Ná apartheid was daar volgens Bettina Wyngaard ’n onsekere tydperk vir skrywers wat hul voete in ’n nuwe sosiopolitieke ruimte moes vind. Twintig jaar ná demokrasie ervaar sy steeds ’n gevoel van vervreemding en onbetrokkenheid by sommige skrywers. ’n “Betrokke” skrywer is volgens Wyngaard nie net een wat haar bemoei met die sosiale vraagstukke van die dag nie, maar dit doen ten einde ’n positiewe verandering te probeer teweegbring. PEN Afrikaans, wat sedert 2012 die verteenwoordigende liggaam vir Afrikaanse skrywers is, kan ’n belangrike rol speel in die kweek van ’n gemeenskapsgevoel onder skrywers.
Kongresse en besprekings van hierdie aard het ook ’n sleutelrol te speel. Soos Francis Galloway tereg genoem het, het die beweeg na ’n aanlyn kongres die moontlikheid van groter inklusiwiteit en interaktiwiteit gebring. Onderaan al die Poolshoogte-plasings op LitNet is daar ruimte vir lesers om kommentaar te lewer. Gesprek word hierdeur aangemoedig. Dit is jammer dat daar nie by hierdie paneelbespreking dieselfde moontlikhede geskep is nie. Weens beperkte tyd het die gehoor nie kans gehad om vrae aan die paneel te rig nie. Ons sou by ’n langer tydgleuf kon baat. Dit sê op sigself iets van die stand van sake in die Afrikaanse letterkunde 20 jaar ná demokrasie: daar is baie om oor te praat en daar is mense wat hulle daarmee bemoei.
Foto's:
Sonja Loots
Francis Galloway
Die paneel
Marga Stoffer
Bettina Wyngaard
Foto's © Naomi Bruwer