Ina Rousseau (1926–2005)

  • 0
Foto: Openbare domein

Sêgoed van Ina Rousseau

"Ek word net so sterk geboei deur dinge wat nooit tot rus kom nie, wat nooit ophou om te ontwikkel nie. En dan die ontwikkeling van onvoltooidheid na voltooidheid, wat soms weer terug ontwikkel na onvoltooidheid, soos byvoorbeeld wanneer iets beskadig word." (Gesprekke met skrywers. 3, Tafelberg, 1973)

Wat hou vir die taalkunstenaar se werk die grootste gevare in? "Ek sou sê, eerstens egoïsme en alles wat dit behels. Ambisie: ’n strewe na erkenning; ’n begeerte om die leserspubliek te beïndruk. Selftevredenheid." (Gesprekke met skrywers. 3, Tafelberg, 1973)

Belangrikste vereistes vir ’n letterkundige kritikus: "Integriteit. Dit spreek vanself. En dan moet hy goed op hoogte wees van wat daar oor die hele wêreld op letterkundige gebied gebeur – want hoe anders kan hy ’n vergelykingsbasis hê? Om die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde te deurgrond, en verder vertroud te wees met ’n gedig van Eliot – dis nie voldoende nie." (Gesprekke met skrywers. 3, Tafelberg, 1973)

Hoekom dig sy? "’n Bepaalde vers vra my op ’n bepaalde tyd om gemaak te word en dan maak ek hom." (Gesprekke met skrywers. 3, Tafelberg, 1973)

"Ek werk nooit aan ’n bundel nie. Ek werk selfs nie aan ’n gedig nie. Ek skryf woordgroepe, en later sluit die woordgroepe by mekaar aan en word ’n gedig." (Die Burger, 1 April 2006)

Oor haar manier van skryf: "Dis maar my manier om die asvaal takies van elke dag draaglik te maak. Veral wanneer ek moet kosmaak, skik en poets ek woordgroepe in my kop. Selfs wanneer ek stad toe stap om inkopies te doen, werk ek aan my gedigte." (De Kat, Mei 1996)

"Daar moenie vir my voorgesê word wat ek moet lees en nie moet lees nie, nes daar nie vir my voorgesê moet word wat ek moet eet en nie moet eet nie. Nes eet behoort lees te alle tye ’n aktiwiteit van genieting te wees wat met vreugde beoefen word." (Insig, 30 Junie 1996)

Gebore en getoë

Marthina Cornelia Rousseau (Ina) is op 3 Februarie 1926 op Roodepoort naby Johannesburg gebore. Ina was die oudste van drie kinders. Haar suster Thea was vier jaar jonger as sy en haar broer Danie tien jaar jonger as sy. Danie het twee maande voor sy 22ste verjaardag in ’n vliegtuigongeluk omgekom.

Ina het haar kinderjare in Roodepoort en Krugersdorp deurgebring, skryf Amanda Botha (Die Burger, 1 April 2006). Volgens die herinneringe van haar jare lange vriendin en skoolmaat, Delene Bekker van Pretoria, was Ina besonder begaaf – en ’n hopelose atleet. Bekker het ook vertel dat baie van dít wat Ina in haar jeug ervaar het, in haar kortverhale opgeteken is. Sy was ook ’n ondeunde meisie wat graag streke beplan het wat haar en haar maats gereeld in die moeilikheid gebring het.   

Thea, Ina se suster, vertel oor hulle kinderjare (Die Burger, 13 Mei 2006): "Ina was ouer as ek; sy het gesê, en ek moes doen. My agterdog en wantroue was groot toe sy eenkeer vir my by Rondi's Café (Roodepoort) ingestuur het om twee Chocolate Logs te koop terwyl sy buite wag. Daar kan nie so iets wees nie, het ek gesê. Groot was my verligting toe die man jou werklikwaar twee van die hemelse goed vir my gee! Oudergewoonte het Ina hare onmiddellik geëet en toe my gevra vir die helfte van myne.

"Sy het my vroeg reeds ingelig oor Kersvader, vertel dat Ou-Tatta-Eenoog agter ’n hoë sinkplaatheining naby ons huis woon en dat die wêreld enige oomblik sal vergaan. Dit gaan donker word met donker en blitse en vuurspuwende berge wat vlamme sal laat reën en die aarde sal ruk en oopskeur; mense sal daarin verdwyn. Ag, het ek gehoop, as ek net by my familie kan wees wanneer dit gebeur.

"Sodra dit gereën het, het ons gaan stap, met ’n ketting-koor van blaffende honde wat die ongewone geraas van ons ’nuwerwetse' rubberreënmantels aan die gang gesit het. Ons spelery was dikwels skool-skool, of winkel-winkel, of huis-huis. Later, toe sy in standerd ses was, het sy smiddags by haar klein lessenaar gesit en werk, en dan laatmiddag met ’n boek gaan stap.

"Ina was 10 en ek 6 toe ons geliefde broer, Danie, in 1935 gebore is. Sy dood twee maande voor sy 22ste verjaardag was ’n enorme ramp. Tog het ons hom 21 jaar lank gehad en het hy gedeel en bygedra tot ons lewe, wat gewoonlik vol lag was. Veral my pa se sêgoed was baie snaaks. Dis een ding wat my bybly – die gelag, elke dag. Sy is koshuis toe toe ek in standerd 3 was. Sy het met naweke huis toe gekom."

Ina het aan Abraham de Vries in Gesprekke met skrywers 3 (Tafelberg, 1973) vertel dat haar eerste gedig in ’n hoërskooljaarblad verskyn het toe sy veertien was – "as ’n mens daardie dingetjies ’n 'gedig' sou kon noem".

Aan Johann de Lange (LitNet) het sy gesê: "Ek dink ek was elf, toe’t ek ’n gedig geskryf, 'My blomtuintjie'. Jy weet, dis vir my baie snaaks dat ek nog die hele tyd gebly het by die tuinmotief. Toe’t ek dit geskryf; dit was vir my so lekker. Toe’t ek besef dit is wat ek wil doen, jy weet, dit is nou wat ek vir die res van my lewe wou doen. Toe ek in die hoërskool kom, toe ek nou veertien was, het ek baie begin skryf.

"Ons huis was vol boeke. Ek het verskriklik baie gelees, maar ek dink nie my ouers het baie van die idee gehou dat ek ’n boekwurm is nie. Ek kan nie sê dat hulle my juis aangemoedig het nie."

In Klein koninkryk het Ina vertel dat wanneer sy die woord "Witwatersrand" gehoor het – die plek waar sy grootgeword het – het sy onmiddellik aan die bepaalde kwaliteit van die lig daar gedink, asook aan die bepaalde kwaliteit lug en aan die plantegroei.

"In die dertiger- en veertigerjare was Johannesburg nog voldoende van my woonplek, Roodepoort, afgesonder om die betowering te besit van ’n plek wat 'heel vèr is, en héél schoon'. Ek het die grootstad selde besoek, maar elke besoek was ’n fees. Daar was opgewondenheid wanneer die trein die skemerte van die ou Johannesburgstasie binnestoom. En dan die weersien van die stasie se binnehof, wat vol eggo's was, met sy visdamme, omring deur die galerye met Pierneef-skilderye. Die koffiekamer en die dameskamer, waar daar op die blou-en-wit teëls teen die mure Hollandse sedespreuke in ornamentele skrif geskryf gestaan het. (En verbeel ek dit my nou, of het die spreuk bokant die deur van een van die toilette gelui: Bezint eer jy begint?)"

Ina het verder aan Abraham de Vries (Beeld, 19 Augustus 2005) vertel dat die poësie vir haar groot betekenis gekry het toe sy nog ’n "hoepelrokdogter"was, en sy kon ook die presiese oomblik onthou toe dit gebeur het. "Graham Greene sê mos êrens: 'There is always one moment in childhood when the door opens and lets the future in.'

"In my negende jaar, toe daar vir die eerste keer op skool ’n waaragtige gedig aan my voorgelees is. Dit was 'Aan ’n seepkissie'. As ek sê dat dit my ontroer het, dan druk ek my nie sterk genoeg uit nie."

En dit was nie omdat die gegewe van die gedig so tragies was nie – "Ek dink die aanhoor van enige waaragtige gedig sou op daardie tydstip dieselfde uitwerking gehad het. Toe het ek gedigte begin lees. My pa was ’n onderwyser en daar was heelwat poësie in ons huis. Ek het dit flenters gelees."

Aan Johann de Lange het sy vertel dat dit net voor kleinspeeltyd was wat die juffrou 'Aan ’n seepkissie' voorgelees het. "Nou toe ons nou so uitloop, toe staan sy nou nog daar met die boek en toe ek verbyloop, kyk ek en ek sien op die ander bladsy is daar 'Die ou blikkie'. Man, ek wou so graag 'Die ou blikkie' lees en weet jy, ek het daai boek so begeer. As ek net daai boek in die hande kon kry. En eendag kom ek daarop af by die huis, in my pa se boekrak. Toe was ek nou in standerd twee. Ek kon dit nie glo nie. En toe het ek dae aaneen, en op daai ouderdom, het ek vreeslik gelees. Ek het nie alles verstaan nie. Ek weet een gedig het begin: 'Maagde-mooie dag kus die heuwels groen ...'. Kan jy dink daar was ’n Afrikaanse gedig wat so begin het? Ek dink die digter se van was Maree. En jy weet, al hierdie ou goed, dit was vir my so mooi.

"Daar was ook gedigte in die badkamer. Ek het in die bad gesit toe ek sien daar ... nou lees ek daarso die titels daar van boeke wat in ’n boekrak was met glas voor: p-o-e-m-s. Nou wat is dit nou? Poems? [Sy spreek dit in Afrikaans uit om te rym met ploems – JdL.] Het ek nou gaan kyk. Tennyson. Toe's dit nou Tennyson se Poems. Nou toe het ek Tennyson verskriklik baie gelees. En toe – ek was so in standerd agt – toe het ’n onderwyseres, toe ek op kosskool was, toe leen sy vir my ’n Nederlandse bloemlesing deur Van Leeuwen, De Nederlandsche dichtkuns sedert 1880 ... O, weet jy, dit was nou vir my ’n belewenis. Toe lees ek nou Kloos en Perk en Gorter. En hulle’t ook hoofsaaklik sonnette geskryf.

"Ek het destyds vreeslik baie geskryf, maar heeltemal op ’n ander manier, jy weet, ek het sommer net geskryf wat in my gedagtes opkom. Die gedigte het baie vinnig ontstaan, maar ek dink nie hulle was veel werd nie. Maar toe ek vyftien was, toe kry ek dr Frans Malherbe se boek. Weet jy, dis baie snaaks, hy lê nou daar [sy wys na die boek waar dit op die donker eetkamertafel lê]; die rede is ’n vriendin van my wou dit leen, en ek het dit daar gesit om dit vir haar te gee. Nou dit het my vreeslik geïnspireer."

Sy het nie eintlik Afrikaanse poësie gelees nie, maar benewens Digters uit Suid-Afrika, alles Engels: Keats, Shelley, Tennyson, dié klomp. "Byron was destyds ’n groot gunsteling van my, maar nou (1973) kan ek sy werk nie veel nie. [...] Later, in my tienderjare, het ek met die werk van die Louws en Opperman kennis gemaak – weer vir my ’n groot belewenis. Ook met dié van Ernst van Heerden. Ek onthou nog hoe 'Fusillade' my aangegryp het. En dan was daar die Duitse digkuns.

"Duits was een van my hoërskoolvakke, en ook een van my hoofvakke op universiteit, en dis die taal waarin ek vandag nog die meeste lees. So te sê van die oomblik van kennismaking af het Duits vir my groot betekenis gehad.

"Ek skryf dit toe aan die Duits-onderwyser op hoërskool, mnr Chris Mahne. Hy het ’n groter invloed op my gehad as enige ander persoon met wie ek in daardie vormingsjare te doen gehad het. Miskien ’n groter invloed as enige persoon óóit. Hy’t my met sy lesse lief gemaak vir die Duitse taal en letterkunde. Iets waaroor ek hom altyd dankbaar sal wees, is dit: Die oorlog was aan die gang en boeke kon nie uit Duitsland ingevoer word nie, maar hy’t nogtans op die een of ander manier daarin geslaag om ’n hele groot kis vol nuwe publikasies in die hande te kry. Ek dink hy het hulle uit Windhoek laat kom. Hulle was uitgawes van die Reclam-uitgewery – jy weet, daardie ligbruin boekies in klein formaat. Hy het hulle tot ons beskikking gestel en wát ’n ondervinding was dit gewees, want daar was nie juis Duitse boeke in die skoolbiblioteek nie, en die biblioteek was in elk geval destyds maar eina.

"Sommiges was oorspronklike Duitse werke – ek meen hulle was heruitgawes van werke deur bekende skrywers van hierdie eeu en voriges – en ander was vertalings in Duits uit die wêreldletterkunde. So het ek toe in daardie ontvanklike stadium ook via Duits kennis gemaak met die letterkunde van sommige ander tale. Wanneer ek weer enigiets lees waarmee ek destyds kennis gemaak het, kom dit alles terug na my: daardie herfs, die tekstuur en geur van die papier van daardie nuwe boekies, en my gretige uitsien na die volgende Duitse les."

Ina het aan die Hoërskool Monument op Krugersdorp skoolgegaan en ook daar gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Na matriek is Ina na die Universiteit Stellenbosch, waar sy ’n BA-graad met Duits as een van haar hoofvakke verwerf. Na haar studentejare het sy FEJ Malherbe gehelp met die redaksie van die letterkundige tydskrif Ons Eie Boek. Vanaf 1949 tot 1952 het sy as tegniese assistent by die kantoor van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gewerk. Sy het ook Afrikaans doseer onder Rob Antonissen by Rhodes Universiteit.

Thea vertel verder: "Later, toe sy na Stellenbosch is, het ons haar eintlik net met vakansies gesien. Ná voltooiing van haar studie het sy steeds op Stellenbosch gebly en was ons selde as familie bymekaar.

"Juis toe sy gevoel het dat die tyd ryp was om Stellenbosch te verlaat, het Rob Antonissen haar gevra om sy klasse aan die Rhodes-univer­si­teit gedurende sy afwesigheid waar te neem. Dikwels het sy saans op Grahamstad op die trein geklim, gaan slaap en dan in Port Elizabeth wakker geword en na ons gekom, gewoonlik so sewe-uur se kant, voordat my man werk toe is. Ek onthou baie goed die uitdrukking op haar gesig toe sy een oggend vir ons sê: 'Ek het iets om vir julle te vertel: Ek en Bob gaan trou.' Ons was verheug. Hy was sekerlik die enigste mens op aarde wat haar so gelukkig kon gemaak het. A marriage truly made in heaven.

"Nou, skuins oorkant haar huis aan die westekant van De Waalpark in Kaapstad, is daar vir haar ’n boom. ’n Acacia sieberana woodii, ’n stukkie anderkant De Waal, waar ons almal grootgeword het."

Ina het vir ’n baie kort rukkie skoolgehou. "Hulle kon glad nie ’n Afrikaans-onderwyseres kry nie, toe’t ek dit vir twee kwartale gedoen. Twee, drie kwartale het ek klas gegee op Grahamstad, vir klein klassies net nadat die skool daar geopen het. Ek het dit baie aangenaam gevind. Die kinders was vir my so interessant. Dit was standerd ses en standerd sewe. Maar natuurlik, ek was glad nie ’n onderwyseres nie en ek dink ons het meer pret gehad in die klas as enigiets anders."

Dit moes ook gedurende hierdie tyd gewees het dat ’n kortverhaal van Ina, "Hoof van sy huis", in Die Huisgenoot gepubliseer is en aangewys is as die beste kortverhaal wat in Augustus in die tydskrif verskyn het. Die jaartal is egter nie bekend nie.

Riana Scheepers (Die Burger, 1 April 2006) het ook vertel van ’n foto wat Ina aan haar gewys het met ’n fleurige, jeugdige Ina daarop. "Ek vermoed sy was in haar vroeë twintigs. Ina was nie net die enigste vrou in die groepie nie, sy het soos ’n skitterende engel daar gestaan, wye romp, wit, outydse skoene, en stralend. Ek het die opmerking gemaak dat sy fantasties lyk. 'Ina, jy lyk soos ’n bruid wat pas uit ’n geurige bad gestap het.' En toe sê sy: 'Ja, maar ek hét!' En toe vertel sy my dat mens in daardie jare by die stasie kon gaan bad! Vir ’n paar pennies het jy die lieflikste bad gekry, met skuimwater en dik, sagte handdoeke."

Scheepers onthou ook Ina se Oujaarsontvlugting na Rawsonville. "Een Oujaar het Ina besluit om na die stilste dorp in die Boland te gaan, waar sy in stilte en vrede die nuwe jaar wou ingaan. Rawsonville, het sy besluit, is dié plek, en sy klim toe op die trein daarheen en kry vir haar ’n hotelkamer. Wat gebeur? Daardie aand ontaard in die vrolikste, lawaaierigste dansparty van die jaar, en sy dans met almal – van die slagter tot die wynboere en die dokter."

Oor haar tyd by die WAT het sy op LitNet aan Johann de Lange in ’n onderhoud vertel: "Ja. Dit was baie interessant. Dit was eintlik donkiewerk. Ek was die tegniese assistent. Ek het hoofsaaklik met die kaartjies gewerk. Elke trefwoord was op ’n kaartjie, jy weet, met aanhalings uit tydskrifte en koerante om te wys wat die gebruiksfrekwensie van die woord is. Man, dit was verskriklik interessant.

"Daar was ander mense wat publikasies deurgewerk het om woorde op te teken. Nou jy weet, ons het elke dag ’n klomp kaarte ingekry wat mense ingestuur het. Dan moes ek dit nou alfabeties rangskik. En dan het ek dit in die kluis geplaas. En ek lees ook koerante, jy weet, en dan onderstreep ek woorde. Die opstellers het ook die koerante gelees en woorde onderstreep, en dan het ek hulle onderstrepings op kaartjies geplaas. Dan het ek ook geëkserpeer, boeke wat ek moes lees, en dan het ek ook daaruit stof gekry. Ek moes al die Afrikaanse digkuns lees. Dit was interessant. So enige aanhalings in die ou woordeboek uit die digkuns, dit het ek oorspronklik in die kluis gesit."

Johann de Lange (op LitNet) wou weet of sy in dié tyd enige ongewone vondste gemaak het, of interessante woorde teengekom het. Of haar werk daar ook vir haar as digter goed te pas gekom het. "Ja, luister, dit het. Want ek is lief vir woorde – ek was nog altyd. En dan sien ek nou daar ’n woord, dan sit dit iets aan die gang, jy weet. ’n Sekere woord sit dan die hele skeppingsproses aan die gang."

Ina het in Februarie 1950 die digter Peter Blum ontmoet en die twee het ’n romantiese verhouding aangeknoop. Hulle het mekaar dikwels besoek en hy het ook baie briewe aan haar geskryf – met die adres dikwels in rymvorm op die koevert. Op 27 Februarie 1950 het die adres byvoorbeeld gelui:

O waarde meester van die pos,
Vlieg valkgeswind na STELLENBOSCH,
Loop dan so soetjies soos ’n muis
Na KERKSTRAAT se ou DEVONSHIRE-HUIS
En gee my brief (wees pligsgetrou!)
Aan ene INATJIE ROUSSEAU. (Uit: Wat het geword van Peter Blum?, Hemel & See Boeke, 2008)

Hy het die brief ongefrankeerd gepos en het agterop die koevert bygevoeg:

Seëlkoopkans is al verby:
Posmeestertjie, vergewe my!

Daar was ook ander briewe met adresse in dieselfde trant.

Ina was baie gou beïndruk met Blum se intellek, sy potensieel sterk skeppende vermoë en ander aspekte van sy geestesamestelling. Maar sy het ook gou besef dat hy nie in staat was tot die tipe liefde wat sy van ’n man verwag het nie. "Sy liefde het vir haar in diens gestaan van die een sterk en allesoorheersende drif by hom, naamlik om homself te laat geld." En sy intellektuele en skeppende vermoë was verbind met ’n emosionele verdwergdheid wat hy nie te bowe kon kom nie en wat onlosmaaklik deel van sy geestesamestelling was.

As gevolg hiervan het Ina redelik kort na die begin van hulle vriendskap besef dat die verhouding nie in iets durends sou kon ontwikkel nie. Sy wou nie vir Blum, wat sensitief en "verwondbaar" was, seermaak nie, maar moes uiteindelik in September 1950 vir hom die waarheid vertel. Blum, vir wie dit ’n hartstogtelike liefde was, was bitter kwaad toe hy agterkom sy liefde word nie beantwoord nie. Hy het feitlik op sy knieë voor haar gegaan en haar gesmeek om hom nie te verlaat nie, maar sy kon nie met die vriendskap voortgaan nie – die negatiewe elemente in Blum se samestelling was vir haar te sterk en sy het wel die vriendskap beëindig.

In 1956 het Ina ’n beurs by die Italiaanse regering gekry om in Florence te gaan studeer. "Ek het toe sommer ’n paar maande gebly en Italiaans geleer," het sy aan Daniel Hugo in De Kat (Mei 1996) vertel. "Genoeg om ’n gesprek te volg en die digters Montale, Quasimodo, Ungaretti en Saba te lees ... darem nou met ’n woordeboek byderhand."

Ina het haar toekomstige man, ARA (Bob) Noel, ’n Britse botanikus, in 1955 in Grahamstad ontmoet, waar hy aan Rhodes Universiteit gewerk het. Hulle is kort daarna getroud en het ’n seun, Darwin, gehad (wat na die beroemde Charles Darwin vernoem is). Bob se werk het hulle dikwels in die veld in geneem en hierdie belangstellingsfeer het later in talle van Ina se gedigte neerslag gevind. Sy en Bob het vir agt jaar, van 1959 tot 1966, in die destydse Salisbury (vandag Harare) in Zimbabwe gewoon, waar Bob senior lektor in plantkunde aan die universiteit was. Hy het navorsing gedoen oor die heling van wonde aan boomstamme.

In 1966 het Bob ’n pos aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg aanvaar, waar hulle gewoon het tot Bob in 1984 na ’n massiewe beroerte oorlede is. Ina wou nie saam met Bob gaan om ’n huis in Pietermaritzburg te gaan soek nie. ’n Huis was nie vir haar belangrik nie; sy het haar man net gevra: "Koop vir my ’n huis met ’n suurlemoenboom." Sy het haar huis met die suurlemoenboom gekry en baie gelukkig daar gewoon. Na Bob se dood het Ina hulle pragtige huis en tuin in Pietermaritzburg verkoop en na Kaapstad verhuis, waar sy in ’n meenthuis tussen eikebome gaan woon het.

Oor haar man se houding teenoor haar digwerk het Ina vir Johann de Lange vertel: "Man, hy’t dit baie aangemoedig, en hy’t self ook gedigte geskryf, in Engels natuurlik, en ek het hierso bo so ’n lêer met sy goed in. Ek wil vir iemand vra om bietjie daarna te kyk. Ek is nie seker omtrent die gehalte nie. Maar hy’t dit nou nie baie ernstig opgeneem nie, jy weet, sý werk nie. Maar hy’t verskriklik baie belanggestel in myne. Hy was Afrikaans nie goed magtig nie. Weet jy, dis baie eienaardig, maar as ek ’n gedig geskryf het, het ek dit gewoonlik vir hom voorgelees in Engels. Ek weet dit klink absoluut snaaks. Maar hy’t gewoonlik ’n begrip daarvan gehad en dan’t hy soms kritiek gelewer. Moet dit liewer nie aanhaal nie. Hy kon Afrikaans praat, maar hy was te skaam om dit te praat. Ons het Engels in die huis gepraat. Hy’t probeer om Afrikaans te praat, maar dan is sy uitspraak so verskriklik dat ek nie weet wat hy sê nie. So ons het maar liewers Engels gepraat."

Abraham de Vries (Beeld, 19 Augustus 2005) beskryf Bob en Ina as twee mense wat "albei iewers op die grens tussen makgemaakte sigeuners en minnaars uit ’n ou Engelse roman" was. "Hul seun, Darwin, het in ’n eksklusiewe lushof en in die genade van liefdevolle wanorde grootgeword. (Dit was Bob wat ’n boek sou terugsit in die rak, ’n teekoppie kombuis toe sou neem.) Soos altyd, oral, was dit ’n tydelike Eden. In 1984, ná ’n kort siekte, sterf Bob, vertrek na 'die landstreek van jou verbanning'. Die klag om die 'mislukte glorie', om die mens se oerballingskap sou in haar gedigte nooit ver op die agtergrond raak nie," skryf De Vries.

Na haar skoolpogings was dit ’n hele paar jaar later voordat daar weer ’n gedig van Ina in druk verskyn het. Dit was "Gewaarwording in die herfs", wat in Stiebeuel I verskyn het, en enkeles in Die Huisgenoot – "Die Huisgenoot was destyds baie poësie-bewus en het dikwels ’n bladsy aan die digkuns afgestaan. Ek het hierdie verse in my tweede jaar op universiteit geskryf." (Gesprekke met skrywers, 3)

Hierdie verse is eers ’n jaar of twee nadat sy dit geskryf het, gepubliseer. Ina het aan Abraham de Vries vertel: "Ek het destyds die idee gehad – of eintlik was dit net ’n vae gevoel – dat dit op die een of ander wyse onbetaamlik is om ’n vers te publiseer. So asof ’n mens dit wat jy gemaak het in die openbaar ten toon wil stel, daarmee wil pronk. Soos dit sou wees as ek ’n koek sou bak en dit dan tussen die menigtes sou uitdra onderwyl ek uitroep: 'Kyk wat het ek gemaak!'"

Sy het gemeen dat dit Jan Rabie was wat haar daarvan laat afsien het. Sy het gedurende hierdie jare met hom kennis gemaak en hy het vir Fred le Roux en Dirk Opperman van Ina vertel. "Dit was toe hulle besig was om die eerste Stiebeuel saam te stel en as ek reg onthou, het een van hulle geskryf en gevra dat ek van my werk aan hulle moet voorlê. Maar weet jy, ek moet erken dat daar vandag (1973) nog iets in my oorbly van daardie teësin in publikasie. Of miskien sommer nog baie. Ek het nog nooit heeltemal daarin geslaag om dit te bowe te kom nie." (Gesprekke met skrywers, 3)

Daarby was daar ook ’n teësin wat seker in ’n mindere of meerdere mate by almal voorkom, het Ina gevoel, om die publiek insae te gee in haar "sielelewe". "Om dit wat ontstaan uit ons intiemste gedagtes en gevoelens, aan die publiek te gaan uitlewer, sodat dit dan publieke eiendom word. Ek praat nou natuurlik hoofsaaklik van die digkuns."

Daar was ’n berg gedigte wat gedurende Ina se universiteitsjare ontstaan het, waarvan sommiges van 1946 af in Standpunte verskyn het, maar waarvan sy die meeste verwerp het. Sy het ook die meeste daarvan vernietig, terwyl sommiges wel behoue gebly het – in ’n lêer so in haar skrif van daardie jare. Sy het later jare weer daarop afgekom en haar byna dood gelag toe sy sommiges gelees het. Die gedigte was doodernstig. "Daar's een waarin ek sê dat my siel vol 'edelheid' gelaai word saans wanneer die sterre in die lug 'vergader'. Of 'oorlaai' word met 'edelheid' of 'swaar gelaai' word met 'edelheid', of iets dergeliks." (Gesprekke met skrywers, 3)

Die ontstaan van ’n vers het vir Ina op verskillende maniere gebeur, maar gewoonlik het dit by ’n frase begin. "By ’n woordgroep. ’n Woordgroep wat aan mens gegee word. Aan my altans. En dan skryf ek dit gewoonlik neer, en vergeet daarvan, en dan groei dit oor die jare. Dit is gewoonlik ’n kwessie van jare. Maar dan is die vraag ook nou weer: Wie’t dit vir my gegee?

"Maar ek moet jou sê in verband met die woordeboek, in daai tyd wat ek baie kwatryne geskryf het. Dit was die tyd voor Die verlate tuin, en nou ja, hierdie is ’n bietjie snaaks. Ons kry toe die woordelys met Afrikaanse toneelterme, en dan moes ek nou vir elke woord ’n nuwe kaartjie maak en in die kluis sit. Sommige van hierdie woorde, jy weet, het onmiddellik ’n proses aan die gang gesit.

"Soos souffleur of figurant. Nou kwatryne vorm baie vinnig. Dis ’n kwessie van minute. Daar het ek in die kantoor baie kwatryne geskryf as gevolg van hierdie toneelwoordelys. Op grond hiervan het Kannemeyer in sy gids soveel van my belangstelling in die toneel gemaak. Hy doen dit nou nog. Hy kan nou nog nie daardie toneelgoed vergeet nie. ’n Gedig wat ek taamlik onlangs geskryf het, dit was in Heuningsteen, dink ek, 'Tableau vivant' ... nou ek het hoegenaamd nie aan toneel of wat ook al gedink nie, maar hy het in sy resensie weer genoem hier's nou weer iets oor die toneel. Iemand wat daai kwatryne lees, sal seker dink hierdie vrou stel baie belang in die toneel, of was ’n aktrise of wat ook al. Maar dit was nie hoe dit gebeur het nie."

In 1954 is Ina, as 28-jarige, se eerste digbundel, Die verlate tuin, deur AA Balkema in Kaapstad gepubliseer. Dit is, terwyl dit nog in manuskripvorm was, in 1953 bekroon met die Reina Prinsen Geerligs-prijs voor Zuid-Afrika, wat Ina die eerste Afrikaanse ontvanger van hierdie prys gemaak het.

"Die gevoelvolle verse in hierdie bundel het dikwels ’n religieuse kleur. Die nooddriftige verlange is na die moeilike balans tussen paradyslike onskuld (die verlate-tuin-gedagte) en aardse geborgenheid" – aldus Anita Lindenberg. (PJ Nienaber [et al]: Vyftig Afrikaanse Skrywers)

Ernst van Heerden het in Die Huisgenoot van 30 Julie 1954 geskryf dat daar vier definitiewe groepe in hierdie bundel te vinde is: "Verse oor ’n aantal Bybelse en ander gestaltes; enkele landskapsieninge; ’n versamelinkie elegiese verse oor ’n afgestorwene; en ’n reeks kwatryne oor die lewensproblematiek."

Oral in die bundel is daar tekens van onverwerkte invloede. Wal wel verbaas, is dat daar nie soveel van Elisabeth Eybers is soos ’n mens sou verwag nie, maar wel van WEG Louw en DJ Opperman.

Van Heerden het sy bespreking afgesluit: "Ina Rousseau se positiewe bydrae van ’n nuwe aksent in die 'vroulike' vers in Afrikaans en ’n reeds soepele taal- en vormbeheer bevestig ongetwyfeld die mening dat ons hier te doen het met die rypste eerstelingwerk wat nog van ’n Afrikaanse digteres verskyn het."

S Ignatius Mocke het in Helikon van Junie 1954 geskryf dat hierdie "bundeltjie" as eersteling in meer as een opsig iets nuuts en verrassends is. "Dit is nie ’n oop poësie wat met ’n eerste lesing dadelik sy geheime prysgee nie; dit moet deur aandagtige in-lesing en oorgawe verower word. Dan bied dit menige vonds wat die leser die skoonheid en die moontlikhede van hierdie debuutverse ruimskoots laat voel. [...] Haar beste verse is sonder enige twyfel dié verse waarin die hart en die intuïsie die volle seggenskap het, en al sou ’n mens graag ’n keuring deurgaans op hierdie plan wou gesien het, val die meerderheid van die verse gelukkig onder die indeling. [...]

"Ina Rousseau se eersteling voeg ’n nuwe, belangrike aksent tot ons poësie by: Haar beste werk dié wat haar die diepste en eerlikste as besondere digteres tipeer, is ’n poësie van die intuïsie. Mag sy steeds hierdie ewige stem gehoorsaam en haar nie deur die tydelike skyn-beloftes van die verstand laat verlei nie: in daardie rigting lê die dood van elke ware digterskap. Die verlate tuin is ’n baie belofteryke begin: Dit stel ’n besondere ontwikkelingsgang in die vooruitsig."

Volgens Rob Antonissen (Standpunte, 1954) moet Die verlate tuin beskou word as die belangrikste Afrikaanse poësiedebuut sedert Watermeyer se Sekel en simbaal ses jaar vantevore. Daar word groot verwagtings van Ina Rousseau gekoester en dit mag nie by hierdie ouverture bly nie.

In Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur II het JC Kannemeyer geskryf dat Ina Rousseau met die sentrale tematiek van die meeste verse aansluit by die eeue oue motief van die verlore Paradys wat vir talle digters, vanaf die Middeleeuse misterieskrywers via Milton en Vondel tot by WEG Louw, by herhaling as boustof gedien het. "In teenstelling tot die religieuse poësie van Louw, wat die Bybelse 'oerteks' betreklik getrou volg en eerder illustrerend en rustig-beskrywend as problematiserend te werk gaan, is daar by Ina Rousseau telkens ’n kreatiewe voortbou op die gegewe deurdat die aandag op die mens en sy nood ná die sondeval – en nie soseer op die geskiedenis van die val self nie – toegespits word."

Bykans sestien jaar het verloop voordat Ina se volgende digbundel, Taxa, in 1970 by Human & Rousseau verskyn het.

Koos Human van Human & Rousseau het later gemeen dat dit dalk toegeskryf kan word aan Ina se afkeer van publikasie. Sy het aan hom in ’n brief van 7 Augustus 1969 genoem dat sy wel meer publiseerbare reëls het as wat in Die verlate tuin gepubliseer is, "maar ek dink nie op die oomblik aan ’n bundel nie. As ek op my huidige tempo voortgaan, dan: miskien oor ’n paar maande. Of liewer: Sê maar, die einde van die jaar. Maar ek belowe niks. Ek mag teen daardie tyd voel dat geeneen van die gedigte op peil is nie. Ook: Ek het die afgelope jare ’n afkeer gehad aan die blote gedagte aan publikasie. Dit het ek nou min of meer te bowe gekom, maar dit mag weer terugkeer." Uiteindelik is Taxa op 22 Desember 1970 afgelewer. Die aanvanklike titel was Herbergkristal.

Oor hierdie tydsverloop en die radikale verandering wat betref styl en inhoud tussen die twee bundels wou Johann de Lange (LitNet) weet wat met haar gebeur het in daardie sestien jaar. "Ek het so baie beleef in daai tyd. Met Die verlate tuin het ek nog in Stellenbosch gewoon. Ek was elf jaar daar en ek het nooit gedink ek sal daar weggaan nie. Ek het trouens gesê ek wil die res van my lewe daar bly. Maar my lewe het so totaal verander. Net ’n paar maande nadat ek nogmaals in my dagboek geskrywe het ek wil nooit hier weggaan nie, toe's ek in Grahamstad. Nou ja, toe ek my weer kom kry, is ek getroud, en toe’t ek ’n kind. Toe woon ek in Zimbabwe, wat ’n totaal ander wêreld is. Waar ek feitlik geen kontak met Afrikaanssprekendes gehad het nie. Jy weet, daar was geen sielsgenote nie, behalwe my man. Alles was totaal anders."

"In Taxa het die ontluikende vormgevoel van haar debuutbundel gegroei tot ’n selfstandige vergestaltingsvermoë. Op ironiese wyse word die vrou in haar huisvroulikheid gesitueer in die groter, onmenslike en dikwels anorganiese opset van die natuur. Die liefde, veral die huweliksliefde tussen man en vrou, word afgespeel teen tydloosheid – die liefdeservaring het aardse en goddelike fasette," skryf Anita Lindenberg. (PJ Nienaber [et al]: Vyftig Afrikaanse Skrywers)

Vir Abraham de Vries (Rapport, 14 Februarie 1971) lewer hierdie bundel bewys van die Nederlander Remco Campert se stelling: "Luister maar hoe hard praat iemand wat fluister ná ’n lang swye." Die ietwat vreemde naam, Taxa (meervoud van taxon), beteken in die natuurwetenskap so naasteby groepe of versamelings; met betrekking tot die bundel: groepe gedigte oor mense (met die gesin as kleiner eenheid), diere, klippe, voëls, selfs fossiele. [...]

"In die eerste gedeelte van die bundel is die tema die saamheid van man en vrou in ’n huishouding wat oor die hele aarde, van glasige streke van ys tot die mees onherbergsame gneis, presies dieselfde sou wees. En dit is in hierdie taxon al dat die praat-vers hoogtepunte bereik, wat gereken kan word tot die beste in Afrikaans. [...] In Rousseau se vorige bundel was die doodsmotief sterk aanwesig; in Taxa het dit verbreed tot die bewustheid van die een – ook verwonderde – ding (of groep) in ’n ander. [...] Van 1970 se oes is Taxa een van die hoogtepunte. Dis trouens benewens Breytenbach – maar ’n vergelyking is skaars denkbaar – een van die hoogtepunte van die afgelope vyf jaar."

In Die Volksblad van 29 Maart 1971 het JR Verster geskryf dat die verse met die eerste deurblaai die indruk maak van oënskynlike eenvoud. "Die indruk is egter bedrieglik, want hier word op ’n fyn wyse gebruik gemaak van woorde en beelde wat ’n dubbele vertolking het en soms ’n tweede 'gestalt' soos opgeefsels laat meespeel om verborge oorgange te bewerkstellig. [...] Wat ’n mens wel kan (en wil) sê, is dat die gehalte van dié verse sodanig is dat jy werklik hoop dat dit nie nodig sal wees om weer sestien jaar vir die volgende bundel te wag nie."

Volgens Ernst Lindenberg (Die Huisgenoot, 9 April 1971) het die oorwegend Bybelse motiewe in Die verlate tuin plek gemaak vir die wêreld van die vrou: "haar onvermoë om die kind teen alle gevare te beskerm; die vreemde 'simbiose' in die huwelik van twee andersins swak enkelinge wat nou in staat is om rotse oop te kloof en die land vir ’n volksplanting gereed te maak; die vrou bedrywig in die kombuis, voor die hakkebord, of geboë oor haar 'broderie anglaise'. Die beeldspraak word gevorm deur die kleure, reuke en kontoere van die huislike lewe, al reik die belangstelling en persepsie verder. [...] Feitlik elke gedig in hierdie bundel getuig van vakmanskap, al moet ’n mens die feit betreur dat dit by ’n paar korter proewe gebly het."

Kwiksilwersirkel, Ina se volgende bundel, het na ’n stilswye van agt jaar in 1978 by Tafelberg verskyn. "Vormbeheer het steeds ’n belangrike element van die gedigte in hierdie bundel gebly. Die menslike belewenis word op uiteenlopende maniere benader en die vaste en die vloeiende van die bestaan word teen mekaar uitgespeel", skryf Anita Lindenberg (PJ Nienaber [et al]: Vyftig Afrikaanse Skrywers).

Volgens André P Brink in Rapport van 25 Februarie 1979 word Kwiksilwersirkel opnuut gekenmerk deur Ina se ingekeerde toon, "’n effensheid waarin dikwels belangrike momente en fyn-geskakeerde taalhantering skuilgaan. Ongelukkig ook ’n besondere ongelyke bundel waarin die presisie van taalgebruik of die subtiele klankspel van party gedigte afgeweeg word teenoor ’n logheid, ’n moeisaamheid van formulering of ’n lastige retoriek in ander.

"In die beste verse van die bundel is daar telkens op wisselende maniere ’n teenoorstelling van magte, ’n magnetiese veld tussen Syn en Niet. [...] In weerwil van insinkinge bly Kwiksilwersirkel ’n subtiele en dankbare leeservaring."

Dorothea van Zyl (Beeld, 9 April 1979) het geskryf: "Hoewel die bundel hoofsaaklik uit redelik deursigtige poësie bestaan, is daar tog etlike gedigte, soos 'RSA Junie 1976', 'Die aanklag' en 'Gebed op ’n Nuwejaarsdag', waar die simbool nie duidelik genoeg uitgewerk is nie en die gedigte in vaagheid verval. Naas die aantal onverwagte hinderlikhede vir ’n gesoute digteres soos Ina Rousseau, bevat Kwiksilwersirkel egter wel heelwat leesbare verse. Die digteres se talent kan nie misken word nie."

Vir Fanie Olivier (Die Burger, 8 Maart 1979) was daar wel temas uit Rousseau se vroeëre bundels ook te vinde in Kwiksilwersirkel, maar die ondertoon verskil en die versvorm is nie so strak nie. "Dit wil natuurlik geen waarde-oordeel wees nie, want die oorgrote hoeveelheid verse bewys weer eens die vakmanskap van hierdie digteres en haar vermoë om met bedrieglik eenvoudige taal tog haar woorde tot poësie te besweer.

"Dit doen sy veral deur die gebruik van die paradoks (vergelyk die titel van die bundel – die kwik is giftig en die sirkel is die kring van die lewe wat met die vernietiging en met die dood voltooi moet word). Kwiksilwer is natuurlik wesentlik self ’n paradoks: ’n vloeibare metaal. Verder is dit onvatbaar, net soos die kern van dinge.

"Die soeke na die kern, die hart van dinge vorm een van die sentrale motiewe in die bundel. En in hierdie soeke kom daar maar steeds die ontnugtering. [...] Kwiksilwersirkel is ’n boeiende versbeeld van ’n eie, deurdagte vertolking van 'die Untergang des Abenlandes', die onheil wat die mens van alle kante bedreig. Uitkoms is daar wel: deur die droom, deur die herinneringe en deur die liefde, maar dit is net ’n tydelike ontvlugting totdat die mens moet byt 'deur die laaste bitterheid van die kolokwint' ('Gebede op ’n nuwejaarsdag').

"Die taalgebruik is deurentyd vindingryk en die beeldspraak sober én ontstemmend. Ina Rousseau se fyn aanvoeling vir die klank van die taal kom steeds sterker na vore en vind ’n treffende verwoording in die bekende 'Die krieke weet' wat vir Uys Krige geskryf is.

"Diegene wat poësie lees vir hulle ontspanning, sal weinig plesier put uit Kwiksilwersirkel. Wie egter op enige wyse belangstel in die paradoksale aard van die menslike bestaan, moet hierdie bundel inlees."

Hoewel Ina reeds vroeër enkele prosastukke in Die HuisgenootSarie Marais en Standpunte en in die bundels Kwartet (1957), Mosaïek (1965) en Dames 17 (1969) gepubliseer het, het sy eers in 1979 ’n verhalebundel onder die titel Soutsjokolade uitgegee. "Hierin het sy ’n tiental verhale versamel waarvan sommiges," volgens JC Kannemeyer, "by die psigologies-realistiese tradisie van die veertiger- en vyftigerjare aansluit, al is die verrassende slot by haar veel minder oortuigend as by Elise Muller. Wat ’n mens in die verhale opval, is die strak en nugter skryfstyl en in enkele gevalle die eksperimentering met die briefvorm ('Onthou jy vir Helena Lem?') en die jukstaponering van indrukke ('Die swerms'). Tog is selfs die beste verhale nie sonder insinkings of smette nie [...]." (Die Afrikaanse literatuur, 1652-1987, Human & Rousseau 1988)

Vir Anita Lindenberg (Vaderland, 27 November 1980) het Ina Rousseau ontpop as ’n knap en sensitiewe kortverhaalskryfster. "Die verryking en verruiming van haar skeppingstalent is tegelykertyd rekapitulasie én vernuwing, want hoewel die kortverhale in hul geraffineerde beknoptheid na aan die gees van die poëtiese belewenis kom, is dit hier onteenseglik ’n bekwame prosateur wat die woord voer. Die bundel bied nie bloot klein vingeroefeninge op ’n nuwe instrument nie, die kortverhale het ’n eie en unieke musiek.

"In die goeie tradisie van kortkuns openbaar Ina Rousseau se prosaskeppings ’n onafhanklike en individualistiese aanslag. Dis ’n persóónlike stem wat gehoor word, heeltemal vry van invloede en tradisionele vormingswyses. Die meeste van die verhale – en veral die bestes – het ’n besonder outentieke sfeer en staan los van heersende literêre modes.

"Die vreemde kombinasie van soberheid en sensitiwiteit, onbewoënheid en hewige beroering, betrokkenheid en distansiëring, verleen aan die verhale ’n heel bepaalde emosionele kleur. Daar is deurgaans iets paradoksaal in die toon wat gehandhaaf word: die skryfster is hipersensitief, maar sy is ook nugter; sy voel baie skerp en baie diep, maar sy objektiveer haar gevoelens. Gevolglik is daar ’n innerlike spanning in die verhale en ’n stemming van afstandelike intensiteit."

Lindenberg het "Die offeraar", "Onthou jy nog vir Helena Lem?" en "Die swerms" uitgesonder as verhale wat ’n mens bybly en wat vir haar ’n besondere bydrae tot die Afrikaanse kortverhaal is. "Dis selde dat ’n geraffineerde kunstenaarskap tegelykertyd ook so kragtig is."

Dit het vir JP Smuts (Die Burger, 10 Januarie 1980) opgeval dat die verteller in Soutsjokolade dikwels op "akkurate wyse en in presiese syfers oor sake rapporteer soos afstande, gewigte en tydsduur. Dit kan goed gesien word in 'Die offeraar' waar daar nie alleen ’n konsentrasie is op presiese syferweergawes nie, maar anatomiese besonderhede op feitlik wetenskaplike wyse opgeteken word. Die verteller rapporteer meermale subjektiewe oomblikke met ’n kliniese onbetrokkenheid, en hierdie soort meedoënlose, hiperrealistiese aanbieding relativeer die gebeure dan op ’n baie effektiewe wyse en dra by tot die ironie.

"Soutsjokolade is ’n heterogene maar ook ongelyke versameling waarin deeglike en verwikkelde verhale saam met anekdotiese tydskrifwerk opgeneem is. Die beste stukke in die bundel lewer egter ’n stewige bydrae tot die Afrikaanse kortverhaal."

In 1980 het Ina teruggekeer na die poësie met Heuningsteen, wat deur Human & Rousseau uitgegee is.

Die bundel bestaan uit 38 verse waarin die natuur telkens as ’n soort katalisator optree. "Soms gebeur dit ten opsigte van die skeppingsproses self," het Fanie Olivier (Die Burger, 26 Maart 1981) geskryf. "In ander gevalle bied die natuur die agtergrond waarteen die bewuswording van die heerlikheid hom kan afspeel. Telkens wys die vers op ’n parallel tussen die menslike psige en die natuurwêreld of -verskynsels rondom hom of word die natuursensasie ’n aanleiding tot die vers self.

"Die motief van stilte wat omskep word in klank (en dus in léwe) loop deur die bundel. Op die natuurvlak word hierdie funksie veral vervul deur die voëls. Voëls speel trouens ’n oorheersende rol in die grootste gedeelte van die bundel: hulle word die musiekmakers met Pansfluite en klarinette, soms as soliste en soms in klein orkessies. Hulle oorgawe aan die lewe, aan die son word skerp gekontrasteer met die mens.

"Die vreugde en soetheid van die heuningsteen van die titel is egter nie so eensydig nie. Hierdie feit word verwoord in 'Bodem' waar die spanning tussen die onbreekbaarheid en die vernietiging van die aarde uitgebeeld word. [...]

"Die besef van afhanklikheid van die mens is maar een van die wyses waarop Heuningsteen ’n mens laat terugdink aan die poësiewêreld van die Vlaamse digter Guido Gezelle. Nog sterker herinner die opgaan in die wonder van die natuur, die eenvoud, die impressionistiese verwoording en die ryk klankspel in die verse. In 'Keerdatum', die laaste vers, verklaar die spreker beangs: 'Hoe kry ek my lewe betyds klaar geërf in die klein bestek vir my beskik?'

"Die antwoord het ons in die bundel reeds self gekry: deur te leef soos die voëls van die hemel, deur die lewe te verheerlik deur die musiek. En van hierdie musiek loop Ina Rousseau se Heuningsteen oordagiglik oor."

In sy resensie van Heuningsteen het Charles Malan (Volksblad, 8 Desember 1981) gevoel dat dit ’n bedekte seën was dat hy hierdie bundel betreklik laat vir bespreking ontvang het. "Dit is die soort digbundel wat eers in die leser se ervaring moet 'ryp' word om dit na behore te kan waardeer en voldoende perspektief op die verskillende vlakke te kan ontwikkel. Nie dat die gedigte enigsins duister is nie – dit is een van die verstommendste vondste van die bundel dat so ’n rykdom aan verwysings- en ervaringsvlakke in so ’n eenvoudige heldere taal betrek kan word.

"Kritici het in die verlede ten onregte van Ina Rousseau se poësie as 'berekend' gepraat. Dit is wel waar dat die gedigte getuig van ’n presiese en sorgsame beplanning, maar dit doen geen afbreuk aan die spontaneïteit en bykans naïewe vreugde wat dikwels deur haar verse uitgestraal word nie.

"Heuningsteen is weer ’n hoogtepunt na Taxa en Kwiksilwersirkel en getuig soos sy voorgangers van noukeurige vakmanskap en ’n ryk geskakeerdheid. Dit is ’n bundel wat bedoel is vir èn leesgenot èn ernstige besinning oor die dieptes wat in die alledaagse verskuil lê.

"Die sterk polariteit wat as raamwerk vir die hele bundel dien, word reeds in die titel aangedui. Die HAT gee die figuurlike betekenis van heuning as 'heerlikheid, lieflikheid' aan. Die digteres gebruik dan ook Rilke se woorde 'Hiersein ist herrlich' as motto.

"Aan die ander kant is die heuningsteen ook 'steen', iets wat verhard en verstard is, en wat vinnig sy kleur verloor. Die gedigte beweeg deurgaans tussen ’n jubelende lewensverheerliking en ’n besef van verstarring en verganklikheid."

Dertig jaar na die verskyning van Die verlate tuin, Ina se eerste digbundel, is haar Versamelde gedigte 1954–1984 deur Human & Rousseau uitgegee. Al die gedigte in die bundels sedert 1954 is in die Versamelde gedigte herdruk, plus 20 nuwes.

TT Cloete (Volksblad, 24 November 1984) was van mening dat Ina Rousseau hierdie verse net so sorgsaam versorg het as wat sy met al haar verse gedoen het. Sy het aan baie van die gedigte  veranderinge aangebring. "Daar is geringe veranderinge, wat sake raak soos leestekens, hoofletters of kleinletters, kursivering, ensovoorts. Maar hierdie skynbaar geringe veranderinge is soms ingrypend, soos in Die verlate tuin, waar die hoofletter van die mistiek-erotiese Liefde soms verander is tot ’n kleinletter, soms nie – wat die hele interpretasie raak.

"In ander gevalle is die veranderinge reeds op die eerste gesig baie ingrypend, soos waar woorde of selfs hele versreëls weggelaat, verplaas, vervang of toegevoeg is. Soms is die bewoording nog min of meer dieselfde, maar die versgroepering is anders, of die strofeverdeling, ensovoorts. In sekere opsigte is hierdie veranderinge so drasties dat ’n mens eintlik ’n nuwe gedig het. Soms is wat ons kan noem die raam behou, maar ander kere is die raam sélf gewysig. As die slot van ’n gedig byvoorbeeld radikaal gewysig word, soos dit ’n hele paar keer voorkom, word die hele gedig daardeur gewysig."

Vir Henning Snyman (Die Burger, 21 Februarie 1985) het Versamelde gedigte nuwe waardering gebring vir Ina se werk, veral vir haar vroeër gebundelde poësie.

André P Brink (Rapport, 30 Desember 1984) het die twintigtal nuwe verse in hierdie bundel ’n boeiende byvoeging genoem. "Dit is opvallend hoe Ina Rousseau telkens terugkeer na basiese motiewe: Job, die Paradys (in een van die soberste, stilste, kragtigste nuwe gedigte, 'Eva'), boom (in 'Winterboom' met sy sterk saamdig van natuur en digterskap), musiek (veral 'Smetana', met sy núwe verkenning van 'ommuring' en deurdringbaarheid), vernietiging-en-orde ('Pyn') ensovoorts, en met nuwe geladenheid hanteer sy metafoor en metamorfose in 'Skemering' met sy ontstemmende ómdink van een ding (natuurtoneel) in ’n ander (vrug). Dit is gerusstellend én opwindend om te weet dat dié digter nog steeds met soveel sekuurheid en ingetoomde krag vóórtdig."

Grotwater is in 1989 by Human & Rousseau gepubliseer. Grotwater was in 1994 op die kortlys vir die Ou Mutual-letterkundeprys vir belletrie (poësie en drama). Elisabeth Eybers se Respyt (die uiteindelike wenner) en Lina Spies se Hiermaals was ook op die kortlys. Hierdie drie is aangewys uit sestien poësiebundels en drie dramas wat die vorige vyf jaar by Human & Rousseau verskyn het.

In haar resensie in Insig van April 1980 het Joan Hambidge vir Ina beskryf as een van die mees onderskatte digters in Afrikaans. "Haar suiwer poësie het ’n plek in Groot verseboek en digters eer haar altoos as ’n invloed, ’n model, as dié rigter van die gestroopte, meerduidige vers."

Vir Hambidge is Rousseau se poësie ’n "uitstekende verbeelding van ’n vermoë om boos teenoor goed te plaas, delikate waarneming teenoor slopende geweld. Haar verse is meestal bedrieglik understated in hul aanbod; met ’n weer-lees word die gesuggereerde pyn/geweld/sonde/boosheid/verval duideliker beleef. Ina se voortreflike verse handel oor die sondeval en haar in memoriam-verse verdien ook vermelding. Haar verse is woorde van brokaat."

In Grotwater is ’n meester van die vak aan die werk, het Helize van Vuuren geskryf (Die Burger, 21 Desember 1989). "Gedig ná gedig getuig van vakmanskap, tegnies meesterlik en met geen woord te veel nie. Grotwater kontrasteer pyn, verwording en dood met die vreugdes van die lewe en die natuur. Dit is ’n plesier om weer ’n slag ’n bundel te lees wat tegnies so knap en afgerond is – verse vir die fynproewer."

Volgens TT Cloete (Beeld, 15 Januarie 1990) het Ina Rousseau deur die jare "bestendig met ’n suinige hand haar bydrae tot ons digkuns gelewer, in gedigte wat met ’n suiwer hand geskryf en deeglik afgerond is. Ons het in Grotwater nou waarskynlik die oes van die afgelope dekade, dit wil sê van die tydperk ná die verskyning van Heuningsteen in 1980. Die groot motiewe in Ina Rousseau se digterskap keer terug in hierdie bundel, en ’n mens kry selfs die indruk dat die kern van haar debuut met intensiteit in haar werk bly deurleef het. [...] Wanneer ’n mens die gedigte lees van hierdie digteres wat so lank gelede reeds gedebuteer het, is jy dankbaar om te kan sê dat haar werk steeds van die beste is wat in Afrikaans verskyn. Steeds is haar poësie uitstekend en solied, pragtig, verfynd en sterk."

In Rapport het Henning Snyman (Rapport, 11 Maart 1990) die vraag gevra of Grotwater ’n bundel poësie is waar die donker die lig volkome oorheers, ten spyte van die keurige woord. "Word dit ’n inventaris van menslike woede en verbittering oor die stropende mag van verganklikheid, lyding en menslik ironie? In ’n gedig soos 'Mahler se 3de' wil dit so voorkom:

Nou word water en klip
kil, raak die hemel
stadigaan stiller, en splyt
die kalkdoring sy dop-harde
splitvrugte oop:
O so
liefderyk
wil vir oulaas ek
die ryp
versmeltende sapsoet
sweserik
van ’n somerse sagte vrug
flenters byt.

"En as daar verwys word na Kafka se 'grillerige asgrys stad' wat die mens 'omring deur drake van marmer bewoon', lyk dit na verdere bevestiging. Gelees binne die denkwêreld waar ook die verval tot skoonheid verwerk word, lyk die antwoord eerder na die teendeel.

"Juis in die proses van aftakel, van stroop tot die fundamentele, tot selfs die bisarre, ontstaan ’n nuwe skoonheid. Nie soseer die skoonheid van 'die wit seewater soos dit wieg/ is sonder woord of antwoord skoon' nie, maar ’n skoonheid waar die spanning tussen orde en chaos, die 'humor' van die menslike aftakeling en die verbreking van die skyn-sinteses lei tot kennis van ’n fundamentele en feitlik primordiale wete. In die gedig 'Winterboom' word dit verwoord as die 'verwringende geluk'.

"In die feitlik onderaardse en binne-aardse wêreld van die grot vorm die oer-baaierd van die water sy eie bisar-mooie gletserpatrone van stalagmiete en stalaktiete – ’n perfekte sintese tussen lewe en stolling, tussen tydloosheid en verganklikheid, en tussen skoonheid en verval.

"Ook die bundel vind sy eie sintese met die slotgedig:

Gletsermelk se witheid soos gis
en aardhars se gitswartheid

word aan my opgedring
en vul my met mishae

Dit wat ek vra –

die donker helderte
die helder donkerte

van grotwater –

moet stellig wag
tot later."

In 1989 vertel Danie Botha in Die Burger van 19 Desember van die buurskap wat daar tussen hom en Ina was: "Eenkeer het my buurvrou oor iets heel anders gebel. Verskonend sê sy dat niemand sal glo wat nóú met haar gebeur het nie. Sy het aan ’n gedig gewerk by haar lessenaar met die agterplaasdeur wat oopstaan. Die gedig was besig 'om uit die onderbewussyn uit te ontwikkel in die vorm wat sy eie is', soos sy haar werkwyse in Gesprekke met Skrywers 3 verduidelik. Op helderpienk papier. In die agterplaas buite, ’n eekhoring, kom dan nuuskierig tot by die deur. Die digter staan op om iets te ete vir die diertjie in die kombuis te gaan haal. Sy kom terug. Die eekhoring het verdwyn. Waar kan hy wees? Daar ... daar 'geplet' teen die skurwe stam van die palmboom sit hy met die pienk papier. Dan skarrel hy al hoe hoër en hoër op na waar sy vrou en vriende wag. 'Sê nou dit was geld ... of ’n kontrak ... Hoe sou ek vir Koos Human verduidelik ’n eekhoring het my kontrak gesteel?'' Ná ’n sterk suidooster lê die eekhoringwoning 'omlaaggeslinger', nog versier met stukkies verbleikte gedig."

Met Ina se 70ste verjaardag in 1996 het Danie Botha ook nog een en ander oor hulle twee se vriendskap vertel: "Ons het teen 1979 nader aan mekaar beweeg met die werk aan Soutsjokolade, helaas haar enigste kortverhaalbundel tot op hede. (Teen 1982 was daar sprake van ’n volgende een. Ek het help opspoor aan tekste in tydskrifte, verhale deur ene Kassandra en Eva Prins ...). Weer die woordpresiesheid, die noukeurigheid.

"In ’n brief is sy bang dat my flapteks dalk ’n te droefgeestige indruk van die boek kan skep. Dit gaan tog nie soseer in die sout-en-soet-verhale oor gebrekkige kommunikasie nie, maar meer oor die 'mens wat in elke situasie onbewus is van die feit dat ’n ander komponent bestaan'. As die mens die sout belewe, is hy te menslik om die soet in gedagte te hou, en andersom. 'Op objektiewe wyse' wil sy 'die mens se gebrek aan objektiwiteit in lewensituasies weergee'.

"En dit is iets wat meermale in haar gesprekke opduik: ’n objektiewe lewensbenadering. Sy vind dit soms ’n las – om niks op sigwaarde te aanvaar nie, maar altyd ook aan die onderkant van die blaar te wil kyk. Sy wil 'insny teen skyn' ('Daardie brein'). In haar pragtige Gesang 15 stel sy die kontras: ons dank God vir 'die aardse lewe met sy soetheid,/ maar ook die pynlikheid daarvan'. (...)

"Ek het nie haar drumpel deurgetrap nie. Soos nou nog gesels ons eerder oor die telefoon. Gesprekke waarin sy met haar suiwer Afrikaans jou uitdaag om ook netjies en fluks in Afrikaans te dink en te praat. Ons had wel die Sondagse ritueel oor die Engelse-Sondagkoerant-oor-die-tuinmuur. 'Smiddags na die rus' wanneer daar nie juis 'vragte mense' by ons woninge 'op besoek' kom nie, bel ek eers, en neem dan die koerant vir haar. Sy wag my agter die grensmuur in. Byna al wat ek sien uitsteek, is die rustige oë."

Ina het met haar volgende digbundel, ’n Onbekende jaartal, wat in 1995 by Human & Rousseau verskyn het, ’n hoogtepunt in haar werk bereik. Hierdie bundel is in 1996 met die Hertzogprys vir poësie bekroon – ’n welverdiende erkenning vir haar verse.

Sy het geen erg aan seremonies of lofbetuiginge gehad nie. Sy was baie dankbaar en baie gelukkig dat sy die Hertzogprys gewen het, maar het nie self die prys in ontvangs geneem nie. Kerneels Breytenbach, uitgewer by Human & Rousseau, het dit namens haar ontvang. Daarna het sy dit deur die tralies van die motorhek ontvang, soos dit deur Tommie Benjamin, die bode van Nasboek, aan haar afgelewer is, vertel Amanda Botha (op LitNet).

In Volksblad het Bernard Odendaal (Volksblad, 4 November 1996) geskryf: "Die oorwegend hoë gehalte van die betreklik klein aantal verse wat sy geskryf het, het tot gevolg gehad dat sy ’n ereplek in die estimasie van Afrikaanse poësielesers ingeneem het. Wat die gehalte en onthoubaarheid van haar verse verseker, is die treffende wyse waarop sy basiese poëtiese elemente soos klank, ritme, beelding en die veelduidigheid van woordbetekenisse hanteer. Hiervan is ’n Onbekende jaartalweer ’n getuigskrif. Ter illustrasie die kort gedig 'Die kersieboom':

Die kersieboom:
Onlangs was hy maar nog net ’n brose
steierwerk, ’n groeiende enigma.
Nou is hy ’n lekkergoedfabriek,
’n manjifieke firma met vertakkings.
In die tyd van ranonkels en rose
bemark hy sy produkte, die albasterklein
balronde karbonkelrooi verpakkings
tot barstens toe volgeprop met fruktose.

"’n Juweel van ’n taalkunswerk soos dié het byna onvermydelik ’n verhewigende uitwerking op die leser se estetiese ervaring van die werklikheid. Wie kan na die lees van dié gedig ooit weer sonder verwonderde genot ’n kersieboom gadeslaan? [...]

"Dit is ’n nogal pessimistiese bundel dié. Aan die begin van die bundel oorheers die natuurekstase en die mooi herinnerings aan vroeër tye en heengegane geliefdes en bekendes nog. Dood, geweld, natuurvernietiging, menslike hebsug, ensovoorts vorm egter die tematiese oorwig na die einde toe. [...]

"Die bundel word afgesluit met ’n gedigreeks ('Steppenwolf') oor Peter Blum, die belangrikste wegbereider van die Sestigervernuwing in die Afrikaanse poësie en iemand wat tydens hul studentedae (kortstondig) romanties met die jong Ina Rousseau verbind was. Die reeks verskaf ’n openhartig kensketsende, maar tog ook ’n deernisvolle blik op en huldeblyk aan ’n paradoksale en onduldsame persoonlikheid, wat terselfdertyd een van Afrikaans se vindingrykste woordkunstenaars was."

JC Kannemeyer het in Rapport (10 Desember 1995) geskryf dat Ina Rousseau ’n digter is met wie se bedrieglike eenvoudige poësie ’n mens jou deeglik kan vergis. "Vir die minder aandagtige leser mag dit lyk asof haar verse te los van bou verloop. Daarmee kyk hy egter die onopmerklike klankskakels mis wat die geheel tot ’n hegte eenheid saambind en die taalmusiek van die gedig laat vibreer.

"En as ’n mens oppervlakkig deur haar bundels blaai, mag jy miskien dink dat haar poësie te veel oor ditjies en datjies handel. Iemand wat só reageer, vergeet egter Nijhoff se beroemde kensketsing van die virtuoos wat musiek in elke ding van God hoor en niks waardeloos opsy werp as ongeskikte boustof vir die poësie nie.

"Dit geld in die besonder vir Ina Rousseau se werk. Soos geen ander Afrikaanse digter nie is sy in staat om uit die onbenulligste dinge kristalhelder verse op te tower. En met haar verrassende optiek kan sy die aandagtige leser meevoer en met oopbloeiende beelde aan hom ’n nuwe kyk op sake gee, ook op sake wat nie so ver van die aktualiteit is as wat dit aanvanklik lyk nie. Al hierdie kenmerke van Ina Rousseau se poësie vind ons terug in ’n Onbekende jaartal."

Vir Louise Viljoen (Die Burger, 21 Februarie 1996) is daar in ’n Onbekende jaartal weer dieselfde presiesheid van woord, die stipte konstruksievermoë en die subtiele gesprekke met haar ander bundels – en dit is hoekom sy só ’n besonderse digter is. "Die tema van die 'ontaarde aarde' (soos wat sy dit in haar vorige bundel Grotwater genoem het) tree ook in hierdie bundel sterk na vore. [...] Die soet, sober klanke van die verse in hierdie bundel is bedrieglik: hulle sny tot op die been wanneer dit kom by die ontleding van die planeet aarde en sy weerlose afhanklikes."

Vir Tom Gouws (Beeld, 19 Februarie 1996) vat die titel van Ina se kortverhaalbundel, Soutsjokolade, in ’n groot mate die krag in die poësie van hierdie veteraandigter saam: "die vermoë om onversoenbares te rym, om aparte dinge met mekaar te integreer, om dinge wat disparaat is, naas mekaar te stel en te ontgin hoe dié onversoenbares 'accrue' in mekaar se magnetiese velde. In die digteres se vermoë om konkrete beelde, vergelykings, metafore en klanknabootsings uit ’n gegewe situasie te genereer, te láái met veelvuldige betekenisse, lê haar krag as digter. Die taksering van dinge, in die wydste sin bedoel, lei tot insig in hul samestelling. Versplintering en verval openbaar juis getakseerde eenheid, die geïntegreerdheid van die skepping. Deur haar meesterlike sweising en kliewing in taal, haar herordening van die heelal, toon Rousseau dat sy iets blywends kan substansieer vir die onbekende jaartal wat nog moet kom."

Ena Jansen (Insig, Januarie 1996) beskou die nege gedigte waarmee die bundel eindig, "Steppenwolf: PB (1925–1990)", as sekerlik van die treffendste karakterstudies in poësievorm in Afrikaans en as die vernuwende hoogtepunt van die bundel. Jansen beskryf ’n Onbekende jaartal as ’n "boeiende en toeganklike bundel wat op ’n nuwe manier skryf oor onderwerpe wat elke denkende mens besig hou. Daar is talle gedigte in die bundel wat weer en weer herlees kan word en dan steeds aan seggingskrag wen."

Daniel Hugo het in 2003 ’n keur uit Ina se gedigte saamgestel en dit terselfdertyd ook van ’n voorwoord voorsien waarin hy probeer het om die essensie van haar poësie saam te vat. Hy het Ina ook oorreed om 21 nuwe gedigte uit haar laai te haal en dit is ingesluit in Die stil middelpunt wat by Human & Rousseau verskyn het.

Fanie Olivier (Beeld, 17 November 2003) het geskryf dat die titel van hierdie keur nie ’n nuwe begrip in haar oeuvre is nie, maar word hier weer bygeroep uit een van die nuwe gedigte: "En daardie iets het ek nou gevind/ in die stil/ middelpunt van hierdie warrelwind ('Middelpunt'). Die warrelwind, daarenteen, is nie ’n ou Ina Rousseau-motief nie, en word nie met enige werklike oortuiging met die nuwe gedigte saamgebring nie. Oor die algemeen vind ek die klompie nuwe gedigte kollektiewelik minder, veral as ’n mens dit lees teen die ryk en ryp wêreld wat deur haar oeuvre verteenwoordig word.

"Wat wel in die nuwe verse oorheers, is ’n durende hartseer oor ’n samelewing waarin 'moord/ so doodgewoon sou word soos brood' ('Aan my vriende van 1950'), en waarin verantwoordelikheid en verantwoording verdwyn het: 'Dis die tyd van die soet/ sinsnede, die ontkenning [...] die tyd van die brekende boek' ('Fase').

"Werk ’n mens deur hierdie keur met sy 163 reeds-gepubliseerde gedigte, besef jy opnuut watter besondere stem Rousseau verteenwoordig, en hoe sy bydra daartoe dat niemand kan sê dat die vrou nie hoorbaar is in ons literêre sisteem nie. Daarom is hierdie publikasie belangrik. [...]

"Haar gedigte bly oorwegend 'formeel' – sterk ryme, hegte strofes, beduidende interpunksie, skerp Afrikaans. Natuurlik is daar 'losser' verse, maar dit is juis in die inherente spanning tussen die uitbeur en die inperk waar haar gedigte se krag en bekoring geleë is. [...]

"Nou skep hierdie keur die geleentheid vir ’n volgende geslag lesers om kennis te maak met haar ryp, deurwinterde (en deursomerde) stem. Lees ’n mens so ’n keur, lees jy ou bekende gedigte opnúút, ontdek jy skakels wat nog altyd daar was en sien jy weer hoe deurlopend sy die wonder en die onafheid van lewe en van liefhê verwoord het. En, veral, die broosheid van bestaan. Of dit nou die ylheid van verhoudings, die herinnering aan die paradys, die sang van ’n lyster, die oormoed van die mens, die eggo's van musiek of die delikate aard van ons aardse toestand is – alles staan uiteindelik in die teken van verganklikheid."

Volgens André P Brink (Rapport, 19 Oktober 2003) bevestig die manier waarop vroeëre gedigte saamklink en saampraat met die nuwes opnuut iets wat kenmerkend van Ina Rousseau geword het: "die manier waarop haar poësie in die geheel deurentyd as ’n groeiende organisme tot stand kom: selsplyting word juis ook die proses waardeur nuwe skepping plaasvind.

"Dat Rousseau voortdurend aan haar vorige gedigte bly voortwerk, is deel van dié proses. Toe haar afsonderlike bundels in 1984 in ’n nuwe versameling saamgevat is, was daar blyke van hersiening in talle gedigte. Uit die nuwe keur blyk dit dat sy intussen nog vérder voortgewerk het, meestal met ’n toenemende verstrakking en verstilling tot gevolg – maar in party gevalle is daar teruggekeer na oorspronklike woordkeuses en versifikasie. In die nuwe bundel – en hoe noodsaaklik het die publikasie daarvan nie geword nie!|kan ’n mens die klein skat ongepubliseerde verse nie lees sonder voortdurende verwysing na hul voorgangers nie."

Brink het hier en daar ’n "mankementjie" gevind, "maar in die geheel bevestig hierdie bundel opnuut watter merkwaardige digterskap dié van Ina Rousseau is – en sy word, met 1995 se Hertzogprys en al, nog skaars na haar werklike waarde in Afrikaans geskat. Ek weet van min ander digters wat só met klank kan werk, soveel nuwe betekenisse aan die begrip rym kan gee en met so ’n fyn sintuig aan die noodwendigheid van ’n vers beslag kan gee."

In Die Burger van 20 Oktober 2003 vind JC Kannemeyer ’n "boeiende aspek van Ina Rousseau se ontwikkeling as digter is hoe sy ná die gebonde, tradisionele versbou van die sonnet, kwatryn en koeplet in Die verlate tuin oorgelewerde strofeskemas en metra versaak en ’n tipe vers begin skryf wat met ’n eiesoortige ritmiek en klanksisteem aan sy eie impulse en wetmatigheid getrou bly. Die musiek van haar verse is nie ’n uiterlike versiersel wat met ’n Swinburniaanse swoelheid sketter nie, maar ’n musiek wat die hele interne poëtiese struktuur beheers.

"Dié interne musiek vind ’n mens in die 21 nuwe verse wat Ina Rousseau tot Die stil middelpunt toevoeg. 'Sjampoe' is, soos baie verse in Taxa, gebaseer op ’n herinnering aan die samesyn met die man, maar dan ’n jukstaponering van die egpaar op gevorderde ouderdom, met haar hare '’n plukseltjie spookasem', en hoe sy by haar eerste verskyning aan hom met haar 'byekorfkapsel/ ... met die glans van lawaglas' daar uitgesien het. Hierdie dinge word egter nie net meegedeel nie, maar op gesette tye deur middel van binne- en eindryme opgebou en versterk deur alliterasies en assonansies waardeur selfs woorde met ’n mindere semantiese waarde in die konteks deur die klankbinding prominensie verkry. Uit die interne musiek van die vers kom dan ook die beeld sinryk los. Dikwels, soos in 'Ballonne', is dit asof die klank ameboïed voortteel ('al swewende en spelende, vryelik/ in buitewyke van die hemele/ rond te kuier') of jukstaponerend ’n ander musikale weg inslaan ('wat hulle .../ met elke voet in ’n skoen,/ lewenslank jeuk om te doen'). Soms maak Ina Rousseau poësie uit klein gebeurtenisse, soos die aanhoudende geblaf van ’n hond in 'Siestog', waar die voorstelling tot ’n sinestetiese beeld uitdy. [...]

"Die bundel sluit af met 'Die seuns en die dogters van die mense', ’n vierluik wat elk op sy eie manier op ’n jukstaponering berus wat die generasiegaping tussen twee geslagte as boustof het. Terwyl die ouer geslag ’n veilige, liefdevolle, knus wêreldjie vir hul spruite beoog, breek die kinders los uit die ban; vang buitenissige dinge aan ('gaan eet [skulpvis] op die Ismus van Kra'); weet nie meer van die waardes en wêreld van die ouers nie (van dr Benjamin Spock, volgens wie se voorskrifte hulle grootgemaak is, weet hulle niks); en gebruik in hul kom en gaan oor die 'globale dorp' ’n taalgebruik wat vreemd is aan die ouers.

"Met die verbinding van ’n Bybelse en gemeensame styl en die fyn klankskakels bereik Ina Rousseau hier ’n hoogtepunt wat die skalkse inslag van baie van haar verse betref. Die reeks eindig buitendien met ’n besondere dissonant wat andermaal die musikale struktuur ten grondslag van dié verse illustreer: 'Hulle [die kinders] sê 'haai' as hulle kom/ en 'baai' as hulle gaan.' Saam met die ander nuwe verse is die vierluik ’n indrukwekkende toevoeging tot Ina Rousseau se poësie en Die stil middelpunt ’n uitmuntende geleentheid om opnuut of vir die eerste keer met hierdie hoogstaande digterskap kennis te maak."

Wat Bernard Odendaal (Volksblad, 24 November 2003) van Ina Rousseau bewonder is die tegniese durf én sorg waarmee Rousseau haar waarnemings en gedagtes laat verskuns word. "Sy het ’n feillose sin vir klankorkestrasie, sodat die klanklaag dikwels die ruggraat én die hele skelet van gedigte uitmaak. Dit is dus nie verrassend dat sy heelparty verse oor voëls, musiek en musiekmakers geskryf het nie.

"Ook die ander toets van ware digterskap, naamlik treffende beeldspraak, slaag Rousseau met vlieënde vaandels. Vergelyk maar net die sprékende waarop sy die Welwitscia Bainesii in die gelyknamige sonnet as ’n weerbare en afwerende stuk taal sien. Die feit dat sy voorheen onpoëtiese woordeskat, byvoorbeeld wetenskaplike terminologie plekke in talle gedigte laat vind het, is ’n belangrike stilistiese bydrae tot ons poësieskat.

"Rousseau blyk ’n onverpoosde slyper van verse tot taaljuwele te wees. Dit spreek ook uit die wyse waarop sy gedigte bly herskryf. Vergelyk ’n mens sommige gedigte in die 1984-versameling van haar werk met hul voorgangers in die vroeëre bundels, bemerk ’n mens reeds dat sekere veranderings (byna altyd verbeterings) aangebring is.

"Nou, met Die stil middelpunt, het dit plek-plek weer gebeur. Meestal behels die herskrywings kleiner wysigings, maar sommige gedigte is nogal drasties verander. ’n Boeiende variantestudie van haar gedigte wag om deur ’n literêre ondersoeker onderneem te word."

In die voorwoord tot Die stil middelpunt skryf Daniel Hugo: "Ina Rousseau is ’n digter uit een stuk. Kenmerkend van sulke digters is dat hulle werk agterna beskou van die begin af ’n eenheidsdrang het wat uiteindelik tot ’n veelsydige samehang lei. Die ontwikkeling van ’n digterskap vanuit ’n vaste kern is tegelykertyd middelpuntvliedend én -soekend van aard.

"Anders gestel: daar is ’n voortdurende konsentriese uitdying én inkrimping merkbaar. Die oerstof bly konstant, maar die ontginning en omvorming daarvan is ’n voortgaande taak wat steeds nuwe verrassings oplewer. Hierdie uitwaaierende beweging binne die grense van die groter samehang impliseer onder meer dat haar belangrikste temas reeds in die vroegste verse aanwesig is.

"En die tuin is die sentrale gegewe, die oerstof, in Ina Rousseau se digwerk. Dit word al aangekondig deur die titel van haar debuutbundel van 1954: Die verlate tuin.

"Die tuin van Eden is natuurlik ondenkbaar sonder Adam en Eva. Hierdie 'eerste mensepaar' tree as Bybelse figure dan ook op in Die verlate tuinHeuningsteen (1980) en Grotwater (1989). Hulle is egter ook die argetipes van die huwelikspaar in Rousseau se verse. Sy is in 1958 getroud met die botanikus Bob Noel die ARAN aan wie drie van haar bundels opgedra is en in Taxa staan daar van die mooiste huweliksgedigte in ons taal. Al woon die hedendaagse Adam en Eva in ’n geskonde paradys, skep die liefdevolle huweliksverhouding tog ’n tydelike 'eksklusiewe lushof' ('Die laer').

"Nog ’n belangrike tema in die poësie van Ina Rousseau – dié van die banneling of landlose – kan ook teruggevoer word tot die paradysverhaal van Adam en Eva, daardie oerbannelinge. Maar die banneling word veral vergestalt in die figuur van haar tydgenootlike digter en kortstondige vriend, Peter Blum.

"Blum het ’n jaar ná haar gedebuteer met die bundel Steenbok tot poolsee. Hy het in 1937 saam met sy ouers as immigrant uit Europa na Suid-Afrika gekom. In 1960 verlaat hy die land as ’n gekrenkte mens, nadat hy verskeie kere sonder sukses om burgerskap aansoek gedoen het. Hy is in 1990 in Londen oorlede.

"Gedigte wat deur die Blum-figuur geïnspireer is, is onder meer 'In exilio' (in Taxa), 'Felo de se', waar hy 'persona non grata' genoem word (in Grotwater), en die indrukwekkende 'Steppenwolf'-reeks ? (uit ’n Onbekende jaartal van 1995).

"Al bly die temas van die digter-uit-een-stuk konstant – en daar is meer as dié wat ek genoem het – word daardie temas telkens vars voorgestel. Ina Rousseau se aanbiedingswyse bly oor ’n tydperk van vyftig jaar – sy het inderdaad al in 1946 in die versamelbundel Stiebeuel gedebuteer – boeiend, vanweë soms dramatiese stylvernuwings en -variasie.

"Ook is Ina Rousseau die voorste klankvirtuoos in Afrikaans: luister maar na gedigte soos 'Die Sweepskerpioen' en 'Die laspos'. Dit is dan beslis nie toevallig dat sy dikwels verse oor komponiste en instrumentaliste maak nie.

"Vir Ina Rousseau is die poësie ’n veeleisende ambag waaraan sy haar ’n leeftyd lank met oorgawe gewy het. Toe die Hertzog-prys in 1996 aan haar toegeken is, was dit slegs ’n bevestiging van die hoë aansien wat sy sedert 1954 reeds by liefhebbers van die Afrikaanse digkuns geniet."

In Gesprekke met skrywers 3 het Ina aan Abraham de Vries vertel dat haar eerste kopie van ’n vers gewoonlik vinnig gaan, maar dan skaaf sy eindeloos daaraan. "Daar wil gewoonlik nie ’n end kom aan die veranderings wat ek aanbring nie. Miskien is dit wat Yeats bedoel met 'stitching and unstitching'. Ek voel nooit gelukkig oor ’n vers van my nie, al word dit ook deur andere aangeprys. Toe ek netnou gepraat van werk aan ’n vers 'totdat hy geword het wat hy wil wees', het ek eintlik bedoel 'totdat hy voorlópig geword het wat hy wil wees', want gewoonlik het ek skaars gedink hy het hierdie punt bereik, of ek sien al weer veranderings wat aangebring moet word. Miskien is hierdie gewoonte goed en miskien is dit sleg. Ek vermoed dis eerder sleg as goed.

"Want die gevaar kan bestaan dat jy te veel aan ’n vers kan werk. ’n Vers kan miskien afgerond wees en dan gaan peuter ek weer aan hom en dan is hy nie meer afgerond nie."

Daniel Hugo vertel: "Ina Rousseau het op Saterdag 17 April 2004 omstreeks 09h00 begin om haar gedigte in Engels te vertaal. Uit haar nougesette datering (met tyd en al!) van die talle variante kan die chronologie van die teksontwikkeling gelukkig bo alle twyfel bepaal word. Die feit dat die vertalings getik is – met hier en daar wysigings in ’n byna onleesbare handskrif – het die lees daarvan baie vergemaklik. Op Vrydag 10 Desember 2004 het sy om 09h30 vir die laaste keer aan ’n vertaling gewerk, te wete aan 'Die kersieboom' uit ’n Onbekende jaartal.

"Sy het gereeld aan meer as een vertaling op dieselfde bladsy gewerk. Van sommige verse is daar wel net een variant – wat beslis nie beteken dat sy dit as afgehandel sou beskou het nie! Daarvoor was sy te veel van ’n onvermoeibare perfeksionis. Soos ons weet uit die talle veranderings wat sy deur die loop van jare aan haar Afrikaanse gedigte aangebring het, was sy eintlik nooit heeltemal tevrede met enigiets wat sy geskryf het nie. In die beste gevalle het sy wel daarin geslaag om die besondere klankrykheid van die Afrikaanse verse in die Engelse weergawes te verwesenlik soos in 'Krupuk' ('Die laspos' uit Heuningsteen, 1980).

"Dit was klaarblyklik haar voorneme om haar hele poëtiese oeuvre – met die uitsondering van haar debuutbundel Die verlate tuin (1954) – in Engels oor te sit. Sy het merkwaardig veel verrig in die agt maande tussen 17 April en 10 Desember 2004. Sy het waarskynlik opgehou omdat haar kragte minder geraak het weens die siekte (kanker van die pankreas) waaraan sy op 13 Augustus 2005 beswyk het. Haar tyd is ook in beslag geneem deur verhuisingsplanne wat die koop en verkoop van eiendomme behels het. (Sy wou uit haar duplekswoonstel Die Park 4, Hofstraat, Tuine in Kaapstad trek na die aftree-oord Berghof, Tuine.) Op twee dae (30/3/04 en 11/11/04) het sy inderdaad haar vertaalwerk agterop pamflette van 'Kapstadt International Properties' gedoen!"

Die laspos

Uit die niet
kom staan voor my ’n kropduif
wat probeer om my blik van my boek
te lok. En sodra ek wonder
wat in liefdesnaam hy by my soek,
begin hy iets by my te bedel
wat ek sweerlik self ontbeer:
Hy vra vir my kroepoek.
En as ek vir hom sê skoert,
herhaal hy maar weer kroepoek.
So: kroepoek kroepoek kroepoek.
Pleitend eers, maar spoedig
bot, asof hy op my vloek. 

Krupuk

I went to De Waal Park to read.
A pigeon appeared from nowhere,
making silly noises at my feet,
apparently to make me look
at him, instead of at my book.
And just as I was wondering
what the dickens he was up to,
he started to beg something from me
which – cross my heart – I did not have:
He asked me for krupuk.
And when I ordered him to scoot,
he simply continued asking krupuk.
Like this: krupuk krupuk krupuk.
Plaintive at first, he soon became
distinctly curt, as though the word
was being uttered as a curse.
Or worse. 
(1/11/04)

Op 13 Augustus 2005 is Ina op 79-jarige ouderdom in Kaapstad oorlede. ’n Maand voor haar dood is pankreaskanker by haar gediagnoseer en het haar gesondheid vinnig agteruitgegaan. Sy is die vorige Donderdag in die Kaapse Medi-Clinic opgeneem en is daar oorlede. Sy word oorleef deur haar seun, Darwin, wat in Wallis woon en haar suster Thea Reyneke. Haar as is ses maande na haar dood in die Eersterivier op Stellenbosch gestrooi. (Beeld, 15 Augustus 2005)

Huldeblyke

  • Beeld (16 Augustus 2005) se hoofartikel: "Die digter Ina Rousseau, wat Saterdag in die ouderdom van 79 dood is, het die Afrikaanse poësie oor meer as 50 jaar met haar gedigte verryk. Rousseau het met ’n stil, sagte stem die leser uitgenooi om na haar verse te luister. Haar gedigte was in die Suid-Afrikaanse bodem gegrond, maar sy had die vermoë om met haar woordkuns die aandag op die mistieke, die misterieuse te vestig. Haar besondere sensitiwiteit vir menseverhoudings het neerslag gevind in roerende verse oor die liefde, die huwelik, musiek, die natuur en die dood. Haar werk, wat onder meer met die Hertzogprys bekroon is, is beskryf as onsensasioneel en bedrieglik toeganklik, maar gedigte wat die luisteraar verander, wat die leser nie maklik laat los nie."
  • Abraham de Vries: "Dis ’n vriendskap wat tussen Taxaen Soutsjokolade ontstaan het. Dit was een Paasmaandag wat ek en my vrou, Hanna, vir die Noels ’n gróót, kleurvol verpakte hoenderhaan present geneem het. Dis die haan wat die kortverhaalbundel sy naam besorg het – die haan was ’n Nederlandse haan van soutsjokolade. Aan die kombinasie van uiterstes in die woord had Ina van die begin af meer as aan die sjokolade self. Sy en Bob het daardie dag geweet ons sou kom (ons was al in Durban). Die koek en wyn was al op die tafel toe ons opdaag. Ek weet tot vandag toe nie of dit vir tee of middagete bedoel was nie, maar die koek het sy self gebak, dit was duidelik, ook uit haar opdrag aan Hanna: 'As die mense vir jou vra wat maak Ina Rousseau die hele dag by die huis, dan sê jy vir hulle sy bak koek, sy bak net koek, dag in en dag uit!'

"En ek het al gewonder of sy daardie selfspot onthou het, want toe Hanna eendag vir haar suurlemoen-meringue neem, het sy die omgekeerde koekblik – die tert was in die deksel sodat die blik die meringue se wit skuim kon beskerm – sonder seremonie omgedraai, en haar dankwoorde was: 'Toemaar, ek eet dit tog met die lepel, maar jy moenie weer vir my een maak nie, Hanna, ek kan dit nie weerstaan nie, ek eet dit dag in en dag uit, tot dit op is!'

"Die soutsjokolade-storie het ’n nadraai gehad hier in Kaapstad. Sy het my ná hoeveel jaar herinner aan – van alle dinge – die kleur van die hemp wat ek daardie dag aangehad het. Want Inx [De Vries se naam vir Ina] het ’n geheue gehad soos ’n ensiklopedie.

"Haar uitgewer Koos Human sê sy’t hom kort gelede eendag byna woordeliks herinner aan ’n gesprek wat hulle gehad het toe sy nog op Stellenbosch in die redaksie van Ons eie Boek en die WAT gewerk het, en dit was tussen 1949 en 1952!

"'Blix [Ina se naam vir De Vries], ag, sit gou jou faksmasjien aan.' ’n Faksmasjien was die ingewikkeldste stuk moderne tegnologie wat Inx kon baasraak. Sy het dit gebruik om haar manuskripte vir my te stuur met die opdrag: 'Lees al twee, dan sê jy vir my ...'

"Meestal was die verskil tussen twee variante van so ’n gedig, as dit by my uitkom, nog net ’n paar woorde. Daniel Hugo het in sy voorwoord tot Die stil middelpunt (2004) gewys op haar toewyding aan die veeleisende ambag wat die poësie is. As dit by haar 'woordgroepe' kom (sy het nooit van haar gedigte gepraat nie, sy was altyd besig met 'woordgroepe'), was sy haar strengste kritikus.

"Ook met die Engelse vertalings, want daarmee het sy maar onlangs begin – om haar nuwe gedigte ook in Engels te vertaal. Sy was tot drie weke voor verlede week en Saterdagmiddag nog besig aan haar woordgroepe, aan nuwes. E subito sera. En skielik was dit aand." (Beeld, 19 Augustus 2005)

  • Hans Ester: "De vermaarde Kaapse uitgewers Koos Human heeft Ina Rousseau eens de meest onderschatte dichteres in Afrikaans genoemd. Ik deel die mening. [...] Gedurende heel haar werk is Ina Rousseau gefascineerd gebleven door het beeld van de tuin, de paradijslijke tuin en de tuin die bezoedeld wordt door de hebzucht en het super-ego van de mens. Ook de grote stadt figureert in haar poëzie. [...] Een ander onderwerp is de vergankelijkheid van de menslijk bestaan. Hierin en in de klankrijkdom van haar poëzie toon Ina Rousseau een hoge mate van verwantschap met Elisabeth Eybers. [...] Ina Rousseau was een tijd lang de vriendin van de legendarische dichter Peter Blum. Dat is een van de weinige opzienbarende feiten uit haar leven. Zij wantrouwde het lawaai van de publiciteit en verkoos de stilte. Tijdens haar laatste levensjaren vond zij die achter de omheining van haar flat in de Kaapse wijk Tuine." (Zuid-Afrika, September 2005)
  • Amanda Botha: "Ina was ’n teruggetrokke mens wat ’n beskeie lewe gelei het. Sy was ’n eksentrieke persoon wat nie in die openbare oog wou wees nie. Ina was ook intens intellektueel." (Beeld, 15 Augustus 2005)
  • Daniel Hugo: "Rousseau was wel menssku, maar beslis nie lewensmoeg nie. Daarom het die nuus van haar terminale siekte haar heeltemal onvoorbereid getref. Hoewel sy ontroerende in memoriam-gedigte vir haar vlieënierbroer en haar man, Bob Noel, geskryf het, was sy nog nie gereed om die lewe af te sweer nie. In haar bundel Grotwater staan die kensketsende vers 'Rantsoen':

Lewe,
Smaak jy nou

smeuïg of grof,
soet
soos lekkergoed,
of

soos óú
bloed van ’n slang
wrang op my tong:

Ek smul aan jou.

"Ek sal die weeklikse telefoongesprekke met Rousseau mis, soos ook haar fenomenale geheue en haar verfrissende sin vir humor. Gelukkig bly die klank van haar stem en die tekstuur van haar gees bewaar in haar onvergelyklike verse oor die natuur, die musiek, die liefde, die huwelik, die dood en bowenal die lewe. Feit is: sy is en sal onthou word as een van die boeiendste 'makers' in die Afrikaanse letterkunde." (Die Burger, 16 Augustus 2005)

Wind breek ’n watervlak
op in miljoene blinkers
en klinkers en medeklinkers, in seldsame oomblikke, breek
die siel se stilte
tot ’n verwikkelde
hoorbare stuk mosaïek.
(Uit: Heuningsteen) (De Kat, Mei 1996)

  • Riana Scheepers: "Ina het aan my die eretitel gegee waarmee sy my vir die res van my lewe benoem het: Sorca, wat in Pools 'dogter' Ten spyte van die feit dat sy ’n uiters private, selfs geheimsinnige en eksentrieke mens was, het ek haar ervaar as ’n laggende, pratende, borrelende en ’n uiters skerpsinnige mens – en iemand met ’n uitsonderlike humorsin! Hoeveel keer ná ons eerste ontmoeting het ons nie gelág nie. Sy wat oneindige, en onheilige pret gekry het uit die koddighede wat in die koerant verskyn het. Haar digterskap staan in die teken van die vergrootglas. Sy het telkemale dit reggekry om enorme groot ruimtes in haar vangnet van woorde raak te omsingel. En dan het sy verder gegaan ... in gedig ná gedig het sy dit reggekry om ’n heelal vas te vang, in te bring, te ondersoek, te kondenseer, te konsentreer, saam te trek tot puur essensie. Haar indringende digterskap is ’n vergrootglas, wat nie net alles groter gemaak het nie, maar altyd ook kleiner, intiemer, indringender, verskrikliker. Sy het dit reggekry om haar ervaringswêreld saam te trek tot ’n enkele brandpunt van emosie en verrukking." (Die Burger, 1 April 2006)
  • Koos Human: "Ek sal Ina onthou as ’n perfeksionis wat gedurig aan haar gedigte gewerk het. Sy was ’n Afrikaanse Marthinus Nijhoff." (Die Burger, 1 April 2006)
  • Hennie Aucamp:      

"Sy dra, soos roesbruin blare,
óú woorde in haar voorskoot weg,
En ryg hul vas met spinnenaalde, 
Tot weer ’n vers homself ontheg." (Die Burger, 1 April 2006)

  • Amanda Botha vertel van Ina se laaste dae: "Die laaste drie dae saam met Ina in haar meenthuis kon ons in die enkele ure wat nog beskore vir gesprek was, eerlik praat. Oor die dood, oor God en Sy alomteenwoordigheid, en oor vriendskap. Haar laaste opdrag aan my was om vir haar 'kringetjie vriende' te sê hoe baie sy kontak met hulle waardeer het.

"Toe ons haar uit haar bed tel en hospitaal toe neem, was sy klein en lig – soos ’n voëltjie. Met die wegry na die hospitaal ’n klipgooi verder het sy een keer effens omgekyk en floutjies geglimlag. Al woorde was: 'Dis verby.'

"In die hospitaalbed was sy fyn en broos soos porselein, byna deurskynend. Die enkele gesprekkies daarna het oor waardering gegaan. Soos die Ina van altyd, min, maar deurdagte woorde – klinkend klaar.

Kwatryn

Op hierdie kleed borduur ek week na week
soos jy beduie, Lewe, elke steek,
O laat my hierdie ingewikkelde patroon
voltooi voordat die ragdun garing breek!" (LitNet)

Publikasies

Publikasie

Die verlate tuin

Publikasiedatum

  • 1954
  • 1956

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Balkema

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Reina Prinsen Geerling-prijs voor Zuid-Afrika 1955

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

Geen

 

Publikasie

Kwartet.  Saam met MER, Elisabeth Eybers en Henriette Grové

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1959
  • 1960
  • 1962
  • 1965
  • 1974

ISBN

0624006255 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

Geen

 

Publikasie

Taxa

Publikasiedatum

1970

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

Geen

 

Publikasie

Kwiksilwersirkel

Publikasiedatum

1978

ISBN

0798108800 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

Geen

 

Publikasie

Soutsjokolade

Publikasiedatum

  • 1979
  • 1982

ISBN

  • 0624013219 (hb)
  • 0624017745 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

Geen

 

Publikasie

Heuningsteen

Publikasiedatum

1980

ISBN

079811097 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

Geen

 

Publikasie

Versamelde gedigte 1954–1984

Publikasiedatum

1984

ISBN

0798117591 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

Geen

 

Publikasie

Grotwater

Publikasiedatum

1989

ISBN

0798126353 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

’n Onbekende jaartal

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798135212 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys 1996

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Die stil middelpunt: ’n keur met nuwe gedigte. Saamgestel en ingelei deur Daniel Hugo

Publikasiedatum

2003

ISBN

0798143614 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Ina Rousseau as vertaler

  • Krige, Uys: Die droom. Kaapstad: Vlaeberg, 1991; 1994 [ISBN 0947461043 (sb)]
  • Seed, Jenny: Nag op Spioenkop. Kaapstad: Human & Rousseau, 1988 [ISBN 079812919 (sb)]
  • Singer, Isaac Bashevis: Sjemiel se windmeulreis en ander verhale. Kaapstad: Human & Rousseau, 1976 (0624008118 (hb)]
  • Stoddard, Sandol: Vyf vind die koninkryk. Kaapstad: Tafelberg, 1984 [ISBN 0624021289 (hb)]
  • Töpffer: Die reise en avonture van meneer Prikkebeen, 1976 

Artikels oor Ina Rousseau op die internet

Artikels deur Ina Rousseau op die internet

Ina Rousseau se ATKV LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2011-05-26 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top