Etienne van Heerden
2005
In stede van die liefde
Kaapstad: Tafelberg
ISBN 9780624043249
213 bladsye
R195.00
I
Etienne van Heerden se roman In stede van die liefde is ’n roman oor verglyding; oor geweld; oor artefakte en kuns; oor paranoia; oor dwelmmisbruik; oor die familiewe-lewe; oor die okapi; oor selfmoord; oor kinderdiefstal – ’n volledige mise-en-abyme waardeur die leser van een vertelling tot ’n ander oorbeweeg.[1]
In In stede van die liefde word daar besoek gebring aan Freud se stad, Wenen. Die stad van psigoanalise. Hierdie stad is oa al deur Nicolas Roeg in Bad timing (1980) te berde gebring waar die psigoanalis (vertolk deur Art Garfunkel) sy eie minnares psigologies manipuleer deur sy meerdere kennis. Die rol word vertolk deur Roeg se vrou, Theresa Russel, wat die proses nog meer verwikkeld maak – met Harvey Keitel as die speurder wat die ongerymdhede in die verhouding aan die kaak probeer stel.
Ek en Van Heerden is al vir meer as tien jaar lank kollegas, en as ’n gereelde deelnemer aan LitNet het ek al dikwels omstrede en kritiese menings uitgespreek wat hy geplaas het. Daar is wedersydse gesprekke en waardering, en ofskoon dit nie korrek is dat kollegas mekaar resenseer nie, is sodanige subjektiewe reaksies dikwels juis om hul intimiteit uiters openbarend – soos Etienne Britz se bespreking van Marlene van Niekerk se Memorandum in Insig getuig het. My bydrae is egter geen resensie of waardebepaling nie. Dit is eerder ’n ontfutseling van ’n triadiese patroon wat van Heerden aktiveer in mý leeservaring van sy roman: Freud se besonderse persoonlikheid en hantering van navolgers/ studente/dissipels/emuleerders/“groupies”.
Daar is vele komplekse verhoudings aan te stip. Hiervan is die bekendste die verhouding tussen Freud en Jung en die briefwisseling waarin ’n versuurde vriendskap cum mentorskap vir die leser ten toon gestel word; met Jung se haas frenetiese pogings om dit deur die jare te probeer regstel.
’n Minder bekende verhouding is die verhouding tussen Freud en Victor Tausk en die uiteindelike selfmoord van laasgenoemde. Wat verklap Van Heerden van hierdie verhouding?
II
Beide Van Heerden en hierdie skrywer lei jong studente op in kreatiewe skryfkursusse. In my roman Die Judaskus ontgin ek ’n komplekse student-mentor-verhouding, terwyl die geval Wilhelm du Plessis ná ’n plagiaat-aanklag eweneens dui op ’n komplekse reaksie op die mentorskap. Hierdie verhale is gebundel deur Van Heerden onder die ironiese titel Die mooiste liefde is verby.[2] En oorhaastig verpulp ná ’n plagiaataanklag waarin die jong skrywer voet by stuk gehou het dat hy nie die oorspronklike teks geken het nie, nog minder geplagieer het. Hierdie hele debat is af te lese in die onbewuste van LitNet, te wete die argief (www.oulitnet.co.za). Repressie of verdringing, ’n uitwys van die ooreenkomste deur ’n skrywer wat jare later ’n ander skrywer sou verdedig, maak van sodanige aanklagte uiters boeiende en gevaarlike leesstof.
Tausk se pogings om Freud tot psigoanalis te hê, is deur Freud afgewys – waarskynlik, sou ’n mens kon aanvoer, uit Freud se vrees dat sy idees gekaap kon word deur Tausk. Tausk is dus oorgeneem deur Helene Deutsch, ’n ander dissipel van Freud, vir terapie. Hy het dus as’t ware ’n tweedehandse Freud ervaar.
III
Wat presies behels die verhaal van Freud en Tausk? Paul Roazen het ’n studie gepubliseer oor hierdie verhouding: Brother Animal: The story of Freud and Tausk.
In al die biografiese studies oor Freud en navolgelinge, dissipels en studente is dit duidelik dat hy ’n besonder groot ego gehad het en afwykings of kritiek persoonlik opgeneem het. Die geval Jung is hier uiters beduidend. Tausk het egter op ’n ironiese wyse die triadiese verhouding tussen Mama–Papa–Baba met Freud uitgespeel in die komplekse relasie tussen Freud en Lou Andreas-Salomé (ook die vriendin van Nietzsche en Rilke) en homself.
Hy het ’n kortstondige liefdesverhouding met Lou Andreas-Salomé bedryf en ’n poging aangewend om ’n pasiënt van Freud te word. Freud het dit geweier, waarskynlik, soos reeds gesê, uit vrees dat sy idees deur Tausk in transferensie oorgeneem kon word en dat dit uiteindelik onmoontlik sou wees om eienaarskap van idees te bewys. Hierom het hy hom na ’n ander “student”, Helene Deutsch verwys.
Op 3 Julie 1919, nadat Freud versoek het dat Deutsch haar terapie met hom opskort, het hy selfmoord gepleeg en in ’n brief aan Lou Andreas-Salomé het Freud verwys na die “gevaar” wat hy vir psigoanalise sou inhou. Tausk (1880–1919), ’n Hongaar van geboorte, het veral op skisofrenie gewerk: “On the origin of the ‘influencing machine’ in schizophrenia” is ’n titel van ’n artikel waarin hy aantoon dat skisofrene na die siektetoestand verwys as ’n masjien wat hulle beheer. (Vir ’n kort biografiese nota vrwys ek die leser na die Wikipedia: http://en.wikipedia.org/wiki/Viktor_Tausk).
IV
In navorsing vir ’n literatuurteoretiese kongres waaroor ek uitgebreid begin lees het, kom ek “per ongeluk” af op Neil Hertz se skitterende essay oor Freud se lesing van “The Sandman” wat opgeneem is in die bekende Textual Strategies, wat al sedert 1980 ’n verwysingsbron in my studeerkamer is. Hierin vertel hy die verhaal van die drie rolspelers (Freud, Tausk, Lou Andreas-Salomé) na aanleiding van Roazen se boek, waaroor hy nie hoog opgee nie. Maar hy kom by die kernpunt uit van ’n verhouding tussen die mentor en student/dissipel/navolger.
Hertz, soos Harold Bloom in sy uitgebreide en fassinerende studies oor “The Burden of the Past” en “The Anxiety of Influence” – met hoofletters geskryf natuurlik! – wys op al die begeertes en vrese van die skrywer: die soeke na oorspronklikheid, die vrees vir plagiaat, die stryd tussen skrywers, en so meer. Hy begin sy fassinerende essay met Freud se klassieke (en ironiese!) opmerking:"I invented psychoanalysis because it had no literature." En ’n mens kan verder gaan en Freud Freudiaans lees. Of soos Harold Bloom al gedoen het, ’n Shakesperiaanse lesing van Freud aanbeveel, soos hy dan aanvoer in The Western Canon.
V
Die “unheimliche” en die toevallige afkom op, of raaklees van, ’n bepaalde beginsel is alreeds ’n Freudiaanse beginsel. ’n Mens dink hier aan die uitgebreide hofsaak waarin Janet Malcolm betrokke was in die sage met Masson en die toevallige ontdekking van ’n verlore dokument. (KR Eissler, Jeffrey Masson en Peter Swales se polemiek oor Freud se argief is ’n ander triadiese verbintenis. Malcolm se hofsaak het elf jaar geduur en ongeveer elf miljoen dollar gekos.)
In Neil Hertz se essay waarin die repetisie-kompulsie eweneens belig word, keer ek terug na die bronnelys van In stede van die liefde, ’n teks oor verglyding. Die Freudiaanse dimensie van die boek is na my mening nog nie genoegsaam ontgin of bespreek nie. Die leser neem kennis van die uitgebreide bronnelys – amper oordadig - van die outeur.
Die volgende bronne word oor Freud vermeld:
“Freud and the ‘cocaine episode” van Jean Chirac (http://www.freudfile.org/cocaine/html)
Oor die lewe van Freud is daar ’n verwysing na Peter Gay se Freud: a life for our times (WW Norton & Company, New York en Londen), asook Edmund Engelman se portefeulje foto’s in Sigmund Freud: Berggasse 19, Vienna (Verlag Christian Brandstätter, Wene, 1988). Hy erken verder die rol van Sabiena Spielrein in psigoterapie en die artikel is hier “Jung’s femme fatale returns” in The Sunday Independent van 20 Desember 2002 deur AC Grayling.
Sabina Spielrein se verhouding met Jung en Freud is weer ’n ander triadiese verbintenis en haar aanklag teen Jung dat hy idees van haar gekaap het, bewys hoe “gevaarlik” die verhouding tussen pasiënt en analis kan word, veral as dit ’n liefdesverhouding word. Dit is ook bekend dat Freud gemeen het dat Jung hier al die beginsels van psigoanalise oortree het deur met haar te slaap, omdat sy haar verwikkelde verhouding met haar vader nooit sou kon oplos nie.
Die belangrikste triadiese verhouding vir die letterkundige bly teks–leser–outeur. En die “outeur” laat hier in sy uitvoerige “erkennings” vir hierdie leser belangrike sleutels op ’n psigoanalitiese speurtog.
Waarom verkies Van Heerden hierdie triade (te wete Freud–Jung–Spielrein) bó Freud–Tausk–Lou Andreas-Salomé)?
Waarskynlik omdat die onbewuste hier aan die werk was: Spielrein is nie alleen die “femme fatale” nie; sy is die boodskapper van plagiaat (teen Jung) en dit wat ’n skrywer deur erkennings wil uitweer. Boonop moes die mentor Van Heerden ’n student (Du Plessis) se plagiaat hanteer, ’n boek verpulp – ’n onopgeloste konflik dus in die onbewuste. Die mentor wat deur ’n Freudiaanse teks te skryf die gegewe probeer sublimeer en onbewustelik uitwerk. (Indien Van Heerden hiervan bewus was, sou die teks daar anders uitgesien het!)
Só benader word die hoofstuk oor Wenen ’n fassinerende afdeling.
Die ander film wat eweneens hier afspeel, is Orson Wells se The third man (1949)!
Drome is boodskappe uit die onbewuste. Tekste ook.
Op bladsy 291 (15, "Die Kraker") verwys Christian na drie vroue wat by Freud in terapie was: Sophie, Lou, Marie Bonaparte: “vroue wat binne die Freudiaanse mitologie ewige lewe gekry het”.
Nogmaals ’n drie.
VI
Daar is egter ’n ander triadiese verhouding onderliggend aan hierdie boek: die skrywer van hierdie essay, Etienne van Heerden en Chris van der Merwe, kollegas verbonde aan die UK se Afrikaanse seksie binne die Skool vir Tale en Letterkundes. Van der Merwe is ’n besonder gevoelige leser van Afrikaanse romans (vide LitNet se onbewuste, die argief) en die erkening aan hom in die naskrif oor Herinnering & Trauma aktiveer ’n ander leesmoontlikheid, naamlik die kreatiewe skrywer se vertolking van heersende modes gedoseer deur sy kollegas.
Trouens, die verhoudings tussen kollegas aktiveer myns insiens dikwels tersaaklike navorsingsmoontlikhede. Byvoorbeeld: as Boerneef nie bó Opperman bevorder is nie, sou hy die UK vir Stellenbosch verruil het?
Tekste geskryf binne bepaalde departmente verraai immers (onbewustelik) iets van die bepaalde tydsgees of kultuur van ’n universiteit. In stede van die liefde aktiveer immers ’n belangrike kwessie oor navorsing aan die moderne universiteit: kreatiewe skryfwerk word gesien as relevante navorsing op dieselfde vlak as akademiese navorsing.
VII
Met ’n volgende lees met hierdie psigoanalitiese kennis ter ondergrond/agtergrond raak die boek fassinerend. Onder andere die siening van die geheue (p 15), die siening van aggressie (p 18), die ego-stryde – soos die jong Christian se gevoel dat hy hom lewenslank moet verweer teen jaloesie, die atletiekresies, die verhouding met sy opstandige seun Siebert wat dui op die Oedipus-kompleks, met Christine as Jokaste.
Ook Miss Edelweiss – hoe klink die naam dan op uit The sound of music, die film oor Oostenryk waarin die Nazi’s betrek word en deel uitmaak van tydgenootlike lesers se onbewustes! - as die draer van oerkennis teenoor die moderne internet-junkie. Ook die versameling van Afrika-kuns speel weer in op Freud se kennis hiervan – oa Totem and Taboo word opgeroep.
Daar word voortdurend teruggekeer na die “scene of the primal” - Christian gaan na Paul Roos en herbeleef sy jeug; Christine se verlede word ook oopgekrap in die onbewuste van die boek: die verhaal van die mense op Matjiesfontein. So word die twee romans/vertellinge in een boek die bewuste en onbewuste wat skommel. Ook stad teenoor platteland wat die Afrikaner se obsessie en die kritiek se sieninge van die romankuns vertolk. Van Heerden lewer so sydelingse kommentaar op die strominge in ons kritiek en probeer hier sy “great Afikaans novel” weergee. Die ego van die skrywer kom op subtiele wyses deur, maar soos by Flaubert wat glo die skrywer moet, soos God, orals aanwesig wees in sy skepping, maar nie sigbaar nie. Dit herskep die outeur met die verwysing na Sutherland - die sterrekykers is oorweldig deur die stilte van God …
Later die hoofkarakter se binnespraak: “Hy is in ’n fase van sy lewe dat als simbolies is. Oral vind hy patrone. ’n Groot, bedreigende netwerk verbandhoudende gebeurtenisse en tekens. Dalk slaap God nie” (p 234).
Die ekstensies van die ego – soos ’n selfoon wat gesteel word in Johannesburg – dwing die ego in die dieper lae van sy onbewuste in.
Dit is egter ook ’n boek oor paranoia – die rotmotor dui op Freud se studies oor die rot-man en Christian is ’n intens paranoiese fiuur – weens kokaïne wat hom laat terugkyk, aldus Okapi, die prostituut wat blaai deur ’n Insig en niks verstaan nie. Nou beleef Insig ook sy dood – die onbewuste se voorwete?
Die duiweresies op Matjiesfontein word gesinkopeer met Himmler se duiwe in die oorlog: draers van wapens – twee onse plofstof (p 248) wat die dubbelloopkyk verder bevestig in hierdie teks.
Die voorblad akiveer eweneens die dimensie van vervolgingswaan: Hitchcock se The birds (1963), onder andere.
Johan van Wyk se voorblad met duiwe skakel weer met Van Wyk se ryk studies oor die onbewuste en die baanbrekende werk oor Ingrid Jonker. Die duiwe word verbind aan die internet – met die seun as die kuberkraker, die oortreder van die Wet van die Vader. Hier word posduiwe, psigoanalise en die internet verbind in ’n ander triadiese formasie wat afstuur op die “geheim” van die teks: Chistine se geheueverlies …
Gekoppel aan selfvernietiging – selfmoord, die grensoorlog en die verblyf in Pretoria – aktiveer die teks die spanning tussen eros en thanathos – met laasgenoemde as die dieper drif. Hierom is die besoek aan die okapi – ’n dier met ’n eksotiese en eiesoortige patroon - so belangrik, en die gesprek met Joachim Zonneveld, die kunstenaar (p 303). Dit wat in die verborge geheue wroet en dan spesfiek in Christine se gemoed, word eweneens verbind met Kipling/Raspoetin (!) en kwasihipnose-sessies wat op Matjiesfontein afspeel. (Eaglejohn se transformasies is ’n ander belangrike sleutel in die teks: identiteite wat oorgeneem en beleef kan word.)
’n Mise-en-abyme, dus. Die leser beweeg vorentoe, agtertoe – op dieselfde wyse as wat Christine se terapeut sy frustrasies met Christine bely en versoek dat Christian – en die leser – hul moet gereed maak vir ’n openbaring.
Hier speel die kwessie van trauma en herinnering ’n markante rol binne die opset van die teks. Hoe verpak ons pyn?
Of eerder: hoe verander, yk, verlam of verryk pyn ons?
Christian ervaar sy bestaan as ’n dubbele bodem (p 352) en verwys na die liegbekers uit sy verlede: ’n verlede waaruit Syster, sy toenmalige opponent, hulp aanbied in die hede om hom te beskerm teen die aanvalle op hom, werklik en verbeeld.
Weens ’n geheimsinnige siekte wat uitgebreek het, word die Suiderkruisderby onderbreek – ’n vooruitwysing na al die ander ineenstortings in die teks: ’n teks wat op sigself inbuig met Christian se dwelmverslawing en angste wat ’n geordende bestaan ondermyn. Die kunshandelaar en kenner van die internet word ondermyn deur sy eie psigiese prosesse en patrone wat hom oorweldig.
Die verwysing na die Noagsduif en die primordiale vloed in die teks is hierom dan relevant (p 491), wat vir ’n Jungiaanse leser sal dui op ’n soeke na individuasie.
Dieselfde geld die Bermuda-driehoek (p 496). Die vloed van e-posse wat Christian daagliks moet beantwoord, word met ’n tsoenami vergelyk!
Christine se verlede skakel op ’n ironiese wyse met die diefstal van ’n kind en die soektog na hierdie kind. Wanneer Christine egter weet wie die poskaarte aan haar gestuur het word sy paradoksaal eensamer (p 808). Sy het deur die jare nie briewe ontvang nie, maar poskaarte: boonop ’n poskaart sonder ’n boodskap wat die leser saam met haar invul ...
’n Hoofstuk heet "Id" en die obsessie met patrone loop regdeur die teks: "’n Mens moet een ding probeer doen: jy moet patrone probeer sien” (p 433). En dit is wat die speurende leser (psigoanalities) probeer doen: jy soek patrone, en in hierdie geval is daar telkemale ’n triadiese een.
Christian gaan sy geheime deel met Christine – en die leser het dit so pas (as derdemannetjie!) meegemaak.
Ego–superego–id word eweneens ’n ander triadiese verhouding.
VIII
Met hierdie insae tot die teks In stede van die liefde word daar dus ’n nuwe dimensie oopgemaak. Christian, die fokalisator, se waarneming van Wenen en sy worsteling met die stad word dan ’n openbarende en kreatiewe gesprek met Freud. En al die ander skimme agter hom. Soos dat Wilhelm du Plessis deur sy plagiaat geweier het om die gesag van die Vader (Van Heerden) te aanvaar en hom dus in ’n bloedige oedipalisasie-proses losgemaak het van sy mentor. Victor Tausk se oedipalisasie was egter meer grieselig. Hy het homself letterlik uitgewis.
Maar daar is ook ander triadiese verhoudings in hierdie roman uit te wys. Dit is dus ’n roman oor verglyding en verdringing.[3]
Oor driemanskappe. Oor ’n boek wat soos Thomas Pynchon se Against the day ander tekste in hom dra.[4]
Endnotas
Tom Dreyer, ’n student van Van Heerden, “antwoord” op hierdie roman met betrekking tot die okapi-motief in Ekwatoria, net soos ’n ander student, Jaco Botha, se roman Miskruier “antwoord” op die geweldmotief. Onbewustelik. Of in Dreyer se geval dalk meer bewustelik: in die nawoord word daar geskryf dat hy ’n manuskrip van die teks onder die oog gehad het. Van Heerden–Dreyer–Botha is nog ’n driemanskap.
Claire Verstraete het ’n uitmuntende MA oor die debakel tussen Antjie Krog en Stephen Watson voltooi onder my. Die tesis se titel is Plagiarism: The Cultural Outbreak (MA, UCT, 2006).
Of Van Heerden hierdie prosesse goedkeur of dit bewustelik sou uitgewerk het, is nie tersaaklik nie. Dit staan in die teks. Of dan: in die teks soos gelees deur hierdie leser.
Thomas Pynchon: Die volgende samevatting/oorsig bevat inligting wat ek deur die jare versamel het en die biografiese opsommngs en mites kan jy aflees op die Wikipedia.
JD Salinger en Thomas Pynchon is twee skrywers wat oënskynlik nooit met die media in gesprek tree nie. Daar is nie onderhoude nie, nie foto’s nie. Juis hierom was dit so interessant toe Pynchon na vore getree het in ’n plagiaataanklag rondom Ian McEwan as sou hy ’n werklike dagboek gekaap het vir sy roman Atonement (www.telegraph.co.uk).
En nou onlangs was daar ’n foto van Pynchon met sy kind in Time en Salinger het al in opstand gekom oor biografiese vergrype.
Noem ’n mens die naam Pynchon, dan dink jy aan komplekse romans met verwysings. Soos by Etienne Leroux. V (1963), The Crying of Lot 49 (1966) en Gravity’s Rainbow (1973) is kultusromans. Hierna het gevolg: Vineland (1990), Mason & Dixon (1997) en Against the Day (2006). Trouens, iemand behoort nog die werkswyses by Leroux en Pynchon te vergelyk.
Pynchon gee niks prys nie. Die leser moet self die ingewikkelde sisteem uitwerk wat verwysings uit die geskiedenis, wetenskap en veral wiskunde betrek. Daar is sekere temas en motiewe wat regdeur sy werk loop, soos vreemde naamgewing met simboliese implikasies, die absurditeit van die alledaagse lewe, vervolgingswaan en ’n obsessie met die vloot.
Pynchon het aanvanklik gestudeer in die ingenieurswese en sy belangstelling in fisika blyk uit die vreemde toespelings in sy romans. Hy het egter nooit sy graad voltooi nie en het by die US Navy aangesluit. Pynchon het aan Cornell gestudeer en in hierdie tyd het Nabokov sy beroemde Cornell-lesings gegee en Pynchon het dit glo bygewoon. Uit hierdie lesings word dit duidelik dat Nabokov geweldig klem geplaas het op besonderhede en struktuur in ’n roman. Een van sy eksamenvrae was oa hoe Flaubert die woord en aanwend!
Die invloed van sy beroep as tegniese skrywer vir Boeing kan afgelees word in veral V en Gravity’s Rainbow.
The Crying of Lot 49 word oa deur die Wikipedia gesien as ’n gesprek met Nabokov. Oedipa Maas (Oedipa My Ass) is waarskynlik ’n opstand teen en antwoord op Lolita, die roman wat alle grense van beroemdheid oortref het en een van die mees diggeweefde romans is.
By Pynchon is daar die parodie, in-verwysings, obskure en selfs fiksionele historiese gebeurtenisse, simboliek (die “muted post horn” van die “Trystero”-vereniging in The Crying of Lot 49), kritiek op die Amerikaanse samelewing en ’n metarefleksie oor die belang van skryf in ’n moderne gemeenskap wat al hoe meer mediagedrewe raak. Sy jongste roman betrek oa die Bybel as ’n verwysingsbron.
Douglas Fowler verwys in A Reader’s Guide to Gravity’s Rainbow (Ardis Press, 1980) na die entropiese struktuur van Gravity’s Rainbow. Hierom buig die verhaal in op sigself en is sinkronisiteit eweneens opvallend van die teks.
V speel af in Londen en Europa in die laaste paar maande van die Tweede Wêreldoorlog. Dit is ’n roman geplaas binne die frenetiese historiese oomblik, met die leser wat weet wat alles nog gaan gebeur post-Tweede Wêreldoorlog. Hierdie gebeure is opgesluit in jou as leser wat waad deur komplekse verwysings en simbole asof jy Openbaring lees.
Een van die mites wat bestaan, is dat Gravity’s Rainbow volledig met die hand geskryf is terwyl Pynchon werksaam was by Boeing – op ingenieurspapier!
Waarskynlik kan geen kultusskrywer sy pas volhou nie. Jy skryf eenmalig, dalk tweemalig, ’n groot boek en dan verwag die kritiek iets nuuts. Hierom is Vineland oa deur die kritiek afgemaai en word die beswaar gehoor dat Pynchon sy tegnieke futloos herhaal. Dit gebeur dikwels met ’n skrywer wanneer hy bewus word van sy tegniek. Of: die tyd verander gewoon.
Die gevaar van selfparodie word dan geloop. Tog word Pynchon deur Harold Bloom gesien as een van die groot romanskrywers neffens Philip Roth, Don DeLillo en Cormac McCarthy.
Die jongste roman, Against the Day, is voorafgegaan deur ’n Pynchon-opsomming en belofte van wat kom op amazon.com. Die roman speel af tussen 1893 en die Eerste Wêreldoorlog met die belofte van ’n ramp wat hom gaan afspeel. In Pynchon se woorde: "... it is a time of unrestrained corporate greed, false religiosity, moronic fecklessness, and evil intent in high places. No reference to the present day is intended or should be inferred.” Die afwesige Pynchon – die grootste mediastelling, kyk maar na Karel Schoeman! – neem dus deel aan die voorafpublisiteit van die roman en hy bring sy leser op allerlei spore en dwaalspore – soos dat Groucho Marx ook in die roman gaan wees. Die belofte dat Sofia Kovalevskaya sal optree, word geëer in die roman van oor die 1 000 bladsye. (Die roman is in 2006 genomineer vir die Bad Sex Fiction-toekenning vir die uitbeelding van seks met ’n spanjoel!)
Daar bestaan iets soos Pynchon-mania. Die soeke na obskure verwysings: die uitpluis van hoe een stukkie “useless bit of information” iets anders sal help verklaar. ’n Gekskeerdery met die kritikus wat verwysings uithaal, maar nie weet wat om daarmee te doen nie, en dalk ook ’n spel met die moderne lewe se vloed van onbenullighede.
Die roman vra om. soos Ulysses, gelees te word in sy eie terme en volgens sy eie verwysingsisteem. So gesien is dit ’n modernistiese werkswyse waar alles weer terugbuig op die teks as die finale baken.
James Wood tipeer Pynchon se werk as “histeriese realisme”, en lees gerus Jules Siegel se “Who is Thomas Pynchon, and why did he take off with my wife?” (Pynchon-L@Waste.Org Discussion List (http://lulu.com) Siegel vertel van Pynchon se obessie met sy lelike tande, sy verhouding met Siegel se vrou, en hoe hy niks kon uitmaak van Vladimir Nabokov se lesings nie weens sy Russiese aksent! Waar of vals?
By die toekenning van ’n prys in 1974 het ene professor Corey dit namens Pynchon in ontvangs geneem met ’n kaalnaeler wat die gebeure omvergewerp het.
Robert Clark Young het in die tagtigerjare op Pynchon se bestuurslisensie afgekom weens sy vader se beroep by die Kaliforniese departement. Toe was Pynchon woonagtig in Aptos, Kalifornië, maar ons vermoed hy woon tans in NY.
Sy verkleurmannetjie-identiteit stem ooreen met die rol van sy karakters in sy romans. Transmutasies en transformasies is aan die orde van die dag in sy babbelende tekste.
Die kritikus Janette Hospital is van mening dat Pynchon eintlik in sy tekste verdwyn het. Dat hy een van sy eie romankarakters geword het en nie meer tussen fiksie en werklikheid kan onderskei nie.
Is dit waar dat hy met sy literêre agent getroud is?
Dat hy Salman Rushdie ontmoet het?
Was dit werklik sy stem op die episode “Diatribe of a Mad Housewife” van die Simpsons?
Of is sy lewe inderdaad net nog ’n roman?
Dit is oa relevant dat hy kritiese analises geskryf het van Donald Barthelme se romans.
Wikipedia is geraadpleeg vir biografiese feite. Ek verwys die leser ook na die skitterende resensie van Paul Cilliers op LitNet (www.litnet.co.za)
Bronne
Bloom, Harold: The Western Canon. Macmillan, Londen. 1994.
Hertz, Neil: “Freud and the Sandman” in Textual Strategies: Perspectives in Post-Structuralist Criticism (ed Josué V Harari. Methuen & Co Ltd, Londen. 1980).
Hambidge, Joan: Die Judaskus. Perskor, Johannesburg. 1998.
Malcolm, Janet: In the Freud Archives. Alfred A Knopf, Inc, New York. 1984.
Malcolm, Janet: The Purloined Clinic. Alfred A Knopf, Inc, New York. 1992.
Pynchon, Thomas: Against the day. Jonathan Cape, Londen. 2006.
Roazen, Paul: Brother Animal: The Story of Freud and Tausk. Alfred A Knopf, Inc, New York. 1969.
Van Heerden, Etienne: Die mooiste liefde is verby. Tafelberg, Kaapstad. 1999.
Van Heerden, Etienne: In stede van die liefde. Tafelberg, Kaapstad. 2005.

