In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer: ’n resensie

  • 3

In ’n land sonder voëls
Harry Kalmer
Penguin Random House
ISBN: 9781485904014

Ek leun terug in my stoel en vryf my oë. Staar lank na die swart letters op die skerm. Die einde van een storie is maar net die begin van 'n ander. In die vertrek langsaan begin musiek speel. Dit is die vierde deel van John Coltrane se A Love Supreme. "Psalm."

31 Desember 2018

Sterrewagkoppie

So eindig In 'n land sonder voëls, die laaste Harry Kalmer-roman wat voor sy dood die lig sou sien. Ek het hierdie betreklike dun boekie van slegs 210 bladsye toegemaak met trane wat vlak sit. Reeds binne die eerste paar bladsye het ek geweet dat 'n geestesreis soos min op my wag. En dit was toe ook net so. Asof dit iewers geskryf was en my lees van Adam Burger se verhaal onafwendbaar was. Ek het die roman aangedurf met die wete dat die skrywer terminaal siek was. Min het ek geweet wat op my sou wag.

Die eenvoudiger opsie sou wees om hierdie verbysterende roman te weeg en te lees vernaam as distopiese of spekulatiewe fiksie, wat dit ongetwyfeld wel is. Na my mening kan dit met reg in dieselfde asem as Lien Botha se Wonderboom – ewe elegies en onthutsend – en Alettie van den Heever se uitdagende, skitterende Stof genoem word.

Tog is die pragmatiek en oordeelkundige uitbou van die distopiese elemente, en die sogenaamde "world-building" van hierdie roman nie vir my waar die grootste waarde as leser lê nie. After all, visions of dystopia are a dime a dozen. Nie elke skrywer het wat dit verg om vir die leser 'n karakter se grootste innerlike stryd, en om uitgelewer en weerloos te wees, akuut vas te vang nie. Soveel so dat dit voel of jyself in die karakter se skoene is nie.

Wat my keer op keer op keer laat steier het, was Kalmer se besinnings oor die aftakeling van die menslike liggaam, van oud word en die dood. Van rou en smart en verlies. Sy optekening van vrees. Sy besinning oor 'n lewe in 'n land en 'n samelewing met die skyn van vooruitgang en vredigheid en orde, wat gebuk gaan onder 'n doodskoot van ellende. 'n Land sonder hoop, sonder liefde, sonder vreugde, sonder vrede, sonder genade. 'n Land sonder voëls, gestroop van die fakkeldraers van die toekoms, die fladdering van wat nog sal kom, en nog sal wees.

Kalmer-lesers weet teen die tyd om nooit dieselfde boek twee keer by hierdie skrywer te verwag nie. Jean Meiring het reeds in sy resensie melding gemaak van die wyses waarop hierdie roman met die res van Kalmer se diverse oeuvre skakel. Wat ek wel moet noem, is presies hoe pakkend, ekonomies met woordkeuses en beskrywings en onderspeel Kalmer se skryfwerk hier is.

Gestroop is dalk een manier om dit te beskryf, maar dit laat nie reg geskied aan die magdom betekenismoontlikhede wat die skrywer se woordkeuses en rangskikkings wel tot stand bring nie. Sonder om te oordryf is daar letterlik op bykans elke bladsy 'n oomblik of twee wat ek moes ophou lees en eers gelyk gee aan die skrywer se slim, skerp, dikwels snaakse sinne en fraserings.

Die pragtige voorblad – met 'n magdom fyner detail, beelde wat skouers skuur en dikwels prikkelend jukstaponeer is, in skakerings van swart, grys en groen – gee ook 'n goeie aanduiding van die aandag tot detail, en die klem op veelduidigheid en "oop" betekenis wat in die roman self te wagte is. Natuurlik is die keuses van groen – met assosiasies van lewe, vrug, groei en moontlikheid – in teenstelling met swart – in hierdie konteks gelees as verteenwoordigend van dood, dit wat buite bereik of lewensgevaarlik is, dit gehul in geheimhouding en donkerte, swartgalligheid en droefgeestigheid, 'n gebrek aan hoop – en grys, die kleur van skakerings, die kleur van afwesigheid en (be)rou, die mantel van die uitsiglose en die afgetakelde, veelseggend. 

Kyk mooi, en jy sien 'n verkwiklike collage, 'n poging om die roman as te ware as kunswerk te "verkoop". Hoe treffend, dan, die skrywer se naam in groen verewig in die middel bo en die keuse van 'n wit agtergrond – met 'n tikkie grys op die marge – wat die idee skep van 'n kunswerk van woorde, een wat die leser bemagtig om die spasies tussen woorde vlerke te gee. Om die negatiewe ruimte raak te sien.

Die wit met die tikkie grys. Die wit van die woordverwerker? Die wit 'n eierdop, 'n omhulsel van lewe en lig, lig en lewe?

Harry Kalmer was 'n skrywer wat lief was vir risiko's, vir skrywe met 'n groot tikkie X-faktor. Kyk net na sy romans wat neig na spanning en die aard van die speurverhaal, soos Kniediep, en X-Ray Visagie en die Vingers van God. Bedonnerd! Of soos Harry self sou sê: "Dis beautiful!" En wat van sy "papboek", 'n kunstenaarsboek saam met die visuele kunstenaar Hannelie Coetzee, Die agste plaag. Merkwaardig!

So is In 'n land sonder voëls ook 'n roman wat die kentekens van die distopiese- en spekulatiewe verhaal, die aksieverhaal, die "novel of ideas" en die roman-as-filosofie so ineenstrengel – met 'n teenstrydig grasieuse en delikate kunstenaarshand – dat jy naderhand eenvoudig verbyster staan en net wil hande klap. So asof die ondeunde man met die gaping in sy glimlag so uit die hoekie van die vertrek vir jou fluister: moet net nie te gemaklik raak nie … daar is nog op pad.

Na die Chaos kom die Korporasie; na X kom Y. Maar is dit werklik beter? Die Korporasie het "sentinels" of brandwagte, die kanaries in die myne … Vryheid begin lyk op 'n druppel water na inperking, soos straf. Ons beweeg die toekoms in:

Dit was die vyftiende jaar van Ekonokrasie. Vyftien jaar nadat ons ons demokrasie vir die Korporasie verruil het. Die politiek is geprivatiseer. Nes ons polisiediens en hospitale, dekades vroeër. Danksy tegnologie, die stygende reënval, die veranderende klimaat, kon die land aan derduisende yskoue, dankbare Amerikaners en Kanadese blyplek bied. Vir beide die aankomelinge en die gevestigde inwoners het voorspoed en 'n beter lewe aangebreek.

Hierdie roman het iets meer duister, meer intiem, meer intern, meer gedeeltelik bewolk in gedagte. Ek vermoed 'n ruimte tussen worsteling en begrip, tussen ervaring en aanvaarding, tussen vashaak en aanbeweeg, tussen woord en daad, gedagte en stilte, tussen lewe en dood, mens en natuur, stories en die niet.

Adam – die eerste man, die man wat saak maak; die man wat worstel en ween, dog ook die man van aksie, die setel van hoop – het sy vrou, Sybille, en hul dogter, Jemima, verloor. Hy is van meer as sy geliefdes gestroop: sy swak sig is tekenend van 'n man, 'n burger, van 'n land waar die sin van die lewe nie voor-die-hand-liggend is nie. Hy struikel, iewers tussen versugting en vervreemding, versigtig te midde van die lig van Verstaan.

Nes Kalmer hier fiksie opdis wat jou daarvan weerhou om behoorlik vastrapplek te kry, is Adam 'n volbloedkarakter, dog immer gehul in die mistigheid en triestigheid van verlies. Vooruitsigte is wasig, die verlede amper so duister soos die toekoms. Adam Burger "praat dalk die taal van onthou, maar [hy] het [s]y leesbril vergeet".

In 'n vertelling wat nesskop iewers in die newels van menslike bewussyn en die blou van onthou sal die leser meer te wete kom oor die lot van Adam se vrou, Sybille, hulle dogter, Jemina (wat tortelduif beteken) en die redder Moses. Kuns, musiek en godsdiens is drie van die vername sleutels wat Kalmer aanwend om sy tapisserie, ragfyn soos die mooiste Persiese mat, te weef. Daar is ewe veel knope hier, ewe veel wat die leser self moet borduur en uitpluis.

Drie dele, "Fladdering", "Vlug" en "Land", gee gestalte aan episodes van vlug en ontvlugting, einde en begin, begin en einde, dog word sekere onsekerhede nooit opgeklaar nie. Adam laat blyk "[h]y is nou al agtien maande hier", vir sy vrou, maar ons weet nie waar nie. Immer terg die onsekerheid, die vreeslike gefladder van samehang: "Maar hoe weet ek jy onthou dit dieselfde as ek?" Wat is waarheid, wat is skyn? Die "sonskyn" is nou bloot “skynson".

Dringendheid en 'n soort anti-terloopsheid loop hand aand hand met 'n waarnemende oog – soms Adam, soms nie – wat intiem kennis dra van wonder en verwonding, van die swakheid van gees en vlees, brein en bloed. Die uiteindelike ontknoping is van so 'n aard dat dit lesers sal verdeel: kopkrap of diepe verwondering. Soos SJ Naude se Alfabet van die voëls smeek dit om herlees en nabetragting.

In 'n land sonder voëls, in hierdie veelvlakkige fiktiewe landskap, is daar 'n stryd wat woed, verhelder deur die Kalmer-skrywersiel se onblusbare gloed.

  • 3

Kommentaar

  • The post-apocalyptic world this novel creates feels so close to where we are now! Or is this simply a function of my age? The losses, the compromises and the tragedies are sharp and painful. Dit lees vinnig en absorberend. How sad that he is gone at such a young age.....this again from my elderly perspective

  • Henning Janse van Vuuren

    Die storie is blitssnel, soos ʼn onervare Comrades-atleet of pasaangeër, uit die blokke. Volstoom vorentoe die eerste helfte om dan iewers om ʼn draai tussen die bondel uit te sak, maar darem genoeg doen om pootuit die wedloop te voltooi.

    Hierdie boek verdien ongelukkig nie literêre lofliedere nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top