
Foto: Canva.com
In my vrye tyd
Ek kerf hierdie maar uit
in my vrye tyd,
want die realiteit
laat mens bakstene skyt.
Dis nege tot ses
bittermin is die res:
die sleutel tot sukses
wat hopelik jou dors sal les.
Dis maandelikse paaiemente
draai om daardie sente
al bou die spaarrekening ook geen rente.
Helaas:
offer maar op
jou oggend én middag vir die baas.
Ons hou dan maar laataand vir onsself
dat ons dieper in die donker kan delf:
passies ná werk
tyd vir jouself –
ná nege
ná tien
ná elf.
Dis bietjie hier,
dis bietjie daar
eendag op ’n reëndag
maak ons dalk klaar.
Maar dit raak nou laat
en nou moet ek stop
die moegheid laat al my oë
by my kop uitpop.
Ons vervat maar weer
’n volgende keer
al kom vrye tyd
nie altyd gou weer.

