In 1979 land ek vir die eerste keer alleen in San Francisco, destyds ’n opwindende plek, vol gerugte van hippies in Haight-Ashbury, vrye liefde en allerhande ander booshede waarteen die kerk ons met Skrif en kapittel gewaarsku het.
Dit was die eerste keer dat ek só ver van die huis af was, en ten spyte van die opwinding van onbekende dinge hunker ’n mens so dan en wan terug na die bekende. Omdat argitektuur iewers in my verlede skuil, moes ek natuurlik ’n pelgrimstog onderneem na een van Frank Lloyd Wright se ikoniese geboue: die VC Morris-geskenkwinkeltjie in Maiden Lane. (Seker ’n naam van korte duur in ’n stad so sondig as San Francisco.)
En toe móés ek natuurlik die toeriste-ding doen en een van die dubbeldekplesierbote neem wat uitvaar verby Alcatraz en ’n draai maak onder deur die Golden Gate-brug. Daar is heelwat van dié bote – elke halfuur vertrek ’n paar van verskillende kaaie by Fisherman’s Wharf.
Natuurlik óp na die boonste dek, waar die meeue die skyfies uit jou hand kom haal – groot sports.
Ons is net by Alcatraz verby toe ek die eerste keer afkyk na die onderste dek. Ek moes my verbeel het, maar dáár is Monica Breed. Van bo af sien ek haar in plan en ek dink: Jy’s gek, De Jager; dis ’n hersenskim – Monica is 10 000 myl ver aan die ander kant van die aarde.
So ’n rukkie later kyk ek weer af om te sien of daar oulike medereisigers is en dáár, verbeel ek my, sien ek vir Verna Vels. Óók in plan. Ek het my die vorige aand nie te buitensporig gedra nie; dus kon dit nie delirium tremens wees nie. Maar dit lyk wrágtag soos Verna. Die probleem is net’ sy is baie duisende myl van hier af.
Eventwel. Ek kyk toe met belangstelling na die onderkant van die brug en neem artistieke foto’s.
Toe ek wéér afkyk, staan die twee by mekaar. Monica en Verna. Ek dog dís waaragtig té toevallig en bulder: “Monica! Verna!” Albei kyk op. Nét hulle.
Terwyl ons nog herstel van die skok van die ongelooflike toeval, vind ons uit ons gaan in dieselfde hotel tuis. En die drie van ons besluit terstond ons gaan vanaand op die boonste verdieping van die Hyatt Regency ’n doppie drink om hierdie ding te vier.
Op pad na die Hyatt sit die drie van ons agter in die taxi en praat lustig Afrikaans. Toe daar ’n effens stilte is, vra die taxibestuurder: “Komm oe van Souid-Afrika?”
Verblufte stilte. Ja, ons kom van Suid-Afrika.
Van ál die taxi’s in die stad ry ons toe saam met ’n Amerikaner wat ywerig besig is om Afrikaans te leer. (Ek het later van ’n vriend van my by die konsulaat gehoor dat hulle hom help met studiemateriaal om die taal onder die knie te kry.) Ons is met singende harte dié aand terug na ons hotel. Ons ken ’n Afrikaanssprekende taxibestuurder in San Francisco!
En nou is Verna en Monica al albei na verre oorde en net ek bly oor.
Monica se laaste paar jaar was nie vir haar goed nie. Sy kon feitlik nie meer sien of hoor nie, en het merendeels maar voor haar uitgestaar – baie tragies vir ’n dinamiese vrou wat graag gelees en soveel in haar lewe ondervind het.
Wat vir my onverklaarbaar is, is dat sy so ’n drie weke gelede ’n groot en slopende operasie ondergaan het om ’n pen in een van haar bene in te plant, omdat sy glo andersins in ’n rolstoel sou moes leef. Op 98? Ek sou dit nie aan my ma laat doen het nie. Maar daar is seker redes. Goeies of slegtes.
***
Monica Breed, ’n baanbreker by die SAUK, is onlangs oorlede. Talle lesers mag ook Piet Muis onthou uit die kinderprogram Haas Das se nuuskas. Breed het Muis se stem verskaf.
Kommentaar
Wat 'n pragtige storie en erkenning aan twee grotes in die Afrikaanse industrie.
Dis wonderlik dat nuwe stories soos die op papier kom. Dit hou ons geskiedenis lewendig met so ' n huppel in die stap. Dankie.
Lieflike storie. Beide Monica en Verna leef voort in die onuitwisbare naklank van hul stemme, by almal wat aan die radio verknog was toe hulle definisie aan die lugweë gegee het.
Dankie Nic. Mal oor jou stories. Mis nie n enkele "Nic se goed" Sondae nie. Jy is 'n lafenis vir die siel.