In Memoriam: Mandy Rossouw

  • 1

Gemaklik agterop ’n motorfiets in Nigerië, gemaklik met ’n glas Moët in die hand in Kaapstad of Parys, gemaklik in die geselskap van haar diplomaat-vriende, gemaklik in haar eie vel, gemaklik as ’n girl aan wie se voete die wêreld dikwels was – dit was Mandy Rossouw.

Sy het jou nie gespaar as jy dit verdien nie, maar wat veel meer opval, by tragiese terugskouing, was haar vermoë om te oordeel en ’n probleem op die naam te noem, was haar vermoë om haar vriende en kollegas te ondersteun en op hul gemak te laat voel. Op die slegste van dae was sy vir haar geliefdes dáár.

Die gehalte van die verhoudings wat sy met vriende en bronne gebou het, was verstommend – of dalk nie, want hierdie was nie net nog ’n 33-jarige vrou van die Paarl nie, en sy het alles – letterlik alles – in verhoudings belê. Dit is daarom dat die geweldige verliesbesef ná haar dood nie net behoort aan dié van ons wat haar al baie lank ken nie, maar ook aan die gelukkiges wat haar sommer nou die dag eers ontmoet het. Vir hulle was dit nét betyds.

Want soos sy grappenderwys voorspel het, herinner vriend Danie Smit my Maandagaand, kort voor die begrafnisondernemer haar liggaam kom haal het, sou sy nie 40 haal nie. Ons het haar afgelag.

Nou lag ons nie. Maar ons glimlag oor gedeelde geheime (sy het absoluut alles van almal om haar geweet), maaltye (lief veral vir volstruis; sou nie dood gesien word by die Spur nie), kultivars (net die beste wyn was goed genoeg – sy is immers ’n Bolandse meisie), reise (sy het agter vriende aangevlieg in Amerika, Engeland, Nigerië, Duitsland, Pakistan), en haar omarmende, moet-nie-los-nie-drukkies.

Sy was ’n bron van skerp humor, foonnommers van bekendes – veral in die politiek, waar haar netwerk wyd en diep was – en liefde.

Sy is onvervangbaar.

Nou begin die proses van so sterk probeer wees soos wat Mandy was.

Maar ons sal dit ná die trane met so min drama as moontlik probeer doen, want ons wil nie hê sy moet haar pragtige bruin oë vir ons rol nie.

Dankie vir die jare saam, Mandy. Jy het meer gegee as wat jy geneem het en ons sal jou ongelooflik baie mis.

Op Mandy.

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top