In Memoriam: Louis van Rensburg

  • 3

Dit was 1986. Ek onthou ek het by Louis se huis ingestap en langs sy klavier gaan staan om my liedjie vir hom te speel. Dit was “Ballade vir ’n enkeling”, en ons moes dit verwerk vir die gelyknamige TV-reeks. Dit was lank voordat mens gou ’n demo op jou rekenaar kon opneem en vir die betrokke verwerker kon e-pos.

Ek het huiwerig die eerste note gespeel; ons het na mekaar gekyk en gesê: Wat nou? Toe sê ek baskitaar, ’n lang noot. Toe glimlag hy. Daarna het ons nooit veel gepraat nie – ek dink ons het instinktief verstaan wat moet gebeur.

’n Paar jaar later bel hy my waar ek op Grahamstad aan die fees deelneem.

“Ons klankbaan het goud gegaan,” sê hy. “Die SAUK het gisteraand ’n goue plaat in ontvangs geneem daarvoor by ’n spesiale geleentheid.”

“Was jy daar?” vra ek.

“Nee, nie genooi nie.”

“Maar wat van ons – wie het die musiek gemaak?” vra ek.

“Moenie worry nie; ek ken iemand wat vir ons elkeen ’n goue plaat kan maak teen ’n goeie prys.”

Dit was die goeie ou dae. Ek het nou nog nie die goue plaat nie, en Louis ook nie. Wil ook nie hê nie.

Maar tot vandag toe, as ek “Ballade vir ’n enkeling” sing, sing die helfte van die gehoor woord vir woord saam. En as Louis “Voshaarnooi” gesing het, is ek seker het die hele gehoor saamgesing.

Ek onthou Louis as ’n beskeie en besonder begaafde mens. Later het ons saam gewerk aan die klankbaan vir die tweede reeks van Ballade vir ’n enkeling, en weer eens was dit loutere plesier. Ek daag op met die liedjie en ’n idee vir die verwerking, en Louis maak sin daarvan. Iewers in die verskiet weerklink sy fenomenale verwerking van my liefdestema “Skepe in die nag, deel 2 vir strykkwartet” nog steeds. Ek droom nog saans daarvan. Louis was wonderlik eksentriek, deels uiters konserwatief, deels wild en ongebonde. Sy liedjies, onthou ek, is altyd met groot en delikate sorg aanmekaargesit, en het gespreek van uiterste musikale vakmanskap. Ek weet, want ek moes van hulle saam met ’n orkes op TV sing, en dit was nie maklik nie.

Ek het verlede jaar saam met hom opgetree in ’n konsert vir Christa Steyn. Sy kitaar was netjies in sy kas, met uitvoerige notas oor wanneer hy laas die snare vervang het, die kitaar gepoets het, ensovoorts. Louis het lekker grys geword intussen, maar die ogies was helder en vol lewenslus. Hy het groot planne gehad om weer te begin optree. Ek en Jannie du Toit het langs mekaar gestaan en kyk hoe hy meesterlik kitaar speel en sing, elke noot foutloos en sekuur. Die gehoor het skielik baie stil geword.

Nou is Louis stil. Ek kan dit nog nie glo nie. Maak nie saak wat mens dink van 7de Laan nie – as die Soweto String Quartet lostrek met Louis se temaliedjie, weet jy presies wat dit is. En in hierdie dae van sinnelose doef-doef en breinlose dansmusiek word die gehoor nog steeds stil as iemand die eerste note van “Voshaarnooi” speel. Ek het dit self nooit gesing nie – dit was Louis en Boerneef se liedjie – en ek sou dit nooit so goed soos Louis kon doen nie. So dis met ’n diepe hartseer wat ek my kitaar uit sy kas lig, dit instel en begin speel.

“Bantam hom so en flennie die snare, ek is verlief op die kind …”

Dis moeilik en dis seer, maar dis tyd dat ek dit begin sing.

Lees 'n vroeëre onderhoud met Louis van Rensburg.

 

  • 3

Kommentaar

  • Voshaarnooi was sy groot treffer, maar op Louis se album Katvoet sing hy sy toonsetting van DJ Opperman se Sprokie van ’n Spikkelkoei, met sy kenmerkende heserige, boeiende stem. Afrikaanse musiek neem afskeid van nog ’n grote.

    Marius.

  • “Voshaarnooi”  is vir my die beste toonsetting van ’n gedig in Afrikaans. Dit voeg by tot die vers en bly tog in elke opsig getrou daaraan. Ek het Louis nie persoonlik geken nie, maar moet dankbaar hulde bring aan sy musiek.

    Ian Raper

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top