
Foto’s van Gisela Ullyatt: verskaf
My eerste kennismaking met Gisela was via Facebook. Ek het toevallig ’n ekstra eksemplaar van Lettie Viljoen se debuut Klaaglied vir Koos (1984) gehad. Gevolglik stuur ek die eksemplaar vir Gisela in Bloemfontein. Na ’n paar maande bereik die boek sy bestemming. En so ontstaan een van my mees gekoesterde vriendskappe.
In 2016 aanvaar beide van ons betrekkings aan die Universiteit van Fort Hare in Oos-Londen. Nodeloos om te sê, ons het dadelik by mekaar aanklank gevind en het ek en “The Twins”, soos wat sy en haar man, die digter-literator Tony Ullyatt, op die derde vloer genoem is, ’n hegte vriendskap gesmee.
Gisela Weingartz-Ullyatt is op 15 Junie 1977 gebore en het die grootste deel van haar lewe in Bloemfontein gewoon. Sy studeer aan die Universiteit van die Vrystaat, waar sy verskeie kwalifikasies verwerf in onder andere Engels en Duits. Sy promoveer in Engelse letterkunde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus met ’n proefskrif oor die poësie van die digter Mary Oliver.
Gisela se liefde vir poësie het reeds op ’n vroeë ouderdom begin. In 1991 word Jan Scholtz se televisiereeks Die sonkring uitgesaai. Gisela het haarself met die karakter Maryna du Plessis (vertolk deur Anna-Mart van der Merwe) geïdentifiseer. Dit sou nie vergesog wees om te sê dat die fiktiewe karakter Maryna du Plessis die kreatiewe saadjie gesaai het nie. So begin Gisela op hoërskool gedigte skryf. Een van haar allergunstelinggedigte was Antjie Krog se gedig “Geslote hek” uit haar debuutbundel Dogter van Jefta (1970) wat Maryna du Plessis in ’n baie intense toneel in Die sonkring voorgedra het:
Laat my tog eenmaal deur die
heinings van jou oë breek
sodat ek kan weet
of dit vir mý is
vir wie jy wit jasmyne kweek.
Dit is dus geen verrassing dat “geslote hek” in haar debuutbundel opgeneem is nie:
is dit vir my
vir wie jy blou skoenlappers kweek?
laat my tog een maal deur die
doringdraad van jou hart breek. (bl 47)
Reeds op skool het Gisela ’n aanvoeling gehad vir enige vorm van kreatiewe skryfwerk, hetsy gedigte of opstelle. Ek was bevoorreg om een van haar opstelboeke onder oë te kry en het een van haar eerste resensies gelees wat sy as skooltaak moes skryf. As literator, vertaler en resensent het Gisela ’n fyn aanvoeling vir spesifiek poësie gehad. Haar gereelde onderhoude met mededigters op Versindaba, asook resensiebydraes, was te alle tye deeglik en noukeurig afgerond. Sy het ’n natuurlike aanvoeling vir poësie gehad en kon enige gedig met insig ontleed, bespreek en waardeer.
As dosent in Engelse letterkunde het sy ’n enorme bydrae aan Fort Hare gelewer en dit was veral haar kreatiewe skryfklasse wat tweedejaarstudente in vervoering gehad het. Een van haar grootste drome is egter vanjaar bewaarheid met die publikasie van haar debuutbundel, Die waarheid oor duiwe, by Protea. Alhoewel van haar gedigte reeds in Nuwe stemme 5 (2013) asook in literêre tydskrifte soos New Contrast verskyn het, was die publikasie van Die waarheid oor duiwe ’n gebeurtenis wat haar oneindige vreugde verskaf het. Die bundel is besonder positief ontvang en is deur verskeie resensente hoog aangeprys.
Gisela was ’n bibliofiel van formaat. Haar belesenheid het wyd gestrek en haar liefde vir boeke en letterkunde het geen perke geken nie. Een van haar gunstelingtydverdrywe was om skaars bekombare digbundels aanlyn op te spoor. Ons het gereeld digbundels uitgeruil waarvan ons meer as een eksemplaar gehad het en kon kinderlik opgewonde raak wanneer ons ’n skaars digbundel aanlyn te koop opspoor. Maandae het ons die boekeblaaie intensief bespreek en oneindige plesier geput uit raaiskote oor wie die gesogte literêre pryse in ’n betrokke jaar gaan verower.
Haar afsterwe gaan ’n leemte in talle geliefdes, vriende en kollegas se lewe laat. Tony en Gisela het ’n liefdesverhouding gehad wat die meeste van ons net kon beny. Nog nooit het ek twee individue teëgekom wat mekaar so perfek aangevul het nie.
Kornuit (soos ons mekaar aangespreek het), jy is nou sonder pyn. Die kanker het jou fisiek verswelg, maar jou glimlag, jou oneindige liefde vir jou medemens en jou poësie sal ons altyd bybly. Rus sag, my liewe kornuit.
sneeukoningin
Yes, she thought, laying down her brush in extreme fatigue,
I have had my vision. – Virginia Woolf
vandag se lug ’n krakeluur in ys
ek is gereed
om vir die laaste keer te skilder
maande se sneeu
en geniepsige yskeëls
het my verfkwaste verniel
die skilderdoek beluister
’n stil seisoen
ek neem afskeid in die kleur van swane
in drome lok my winterkoning
kinders om stukke ys
in die sneeupaleis te split
ek besweer die toendra met die blou slee
met wit honde en klokkies
hierdie landskap wat selfs die finne koudlaat
dae gaan verlore maar jare herwin ek
hierdie spieël geskep uit die kleurlose palet
van vreemde heksagone
Die waarheid oor duiwe, 2020, Protea


Kommentaar
Duiwe gaan nie dood nie, hulle word engele. Gisela is een van hulle. Sy het vlerke.
A beautiful tribute to a beautiful being❤️🌻
Wat ’n verlies!
Haar eerste bundel was 'n soort kennisgewing van iemand wat legendariese status kon/sou bereik. Die dood is nooit tydig nie en haar heengaan 'n groot verlies.