Wanneer ’n mens Chris Mann se webwerf oopmaak, kan jy amper hoor hoe hy jou op sy onopgesmukte manier verwelkom:
Greetings and welcome to this barn of a website in which some of the wheat of my poetic labour is stored.
Poetry has been my vocation since my teenage years – an inconsolable yearning, a craft, a moment of vision, a protest, a solace, a prayer and respite throughout the turbulence of our times.
So, here’s a selection of poems and songs, audios, videos, photos and newspaper and scholarly articles.
May they nourish your love of the numinous as we spin through the dark of the cosmos on this pale blue dot of a planet together.
En nou draai ons nie meer op dieselfde manier saam op wat NP Van Wyk Louw ons klein en silwerige planeet genoem het nie, maar die aanwesigheid van hierdie stem in die Suid-Afrikaanse literêre wêreld sal bly draal.
Hoewel Chris Mann twee van die belangrikste toekennings in die Suid-Afrikaanse Engelse letterkunde ontvang het, die Olive Schreiner- en die Thomas Pringle-prys, is hy in baie opsigte ook ’n randfiguur wanneer daar oor Engelse poësie gepraat word.
Miskien kan dit toegeskryf word aan die feit dat hy met sy debuut, First poems, in 1979 buite die verwagte woede rondom en oor apartheid en die Soweto-opstande geskryf het. Verder het hy ook vroeg die skisofreniese Suid-Afrikaanse werklikheid van “ons” en “hulle” verwerp en die wyse waarop dit die mens-wees ontken, betreur. Sy protes was van ’n ander aard, en latere skrywers oor sy werk het dit tog raakgesien. Homi K Bhabha skryf byvoorbeeld in ’n artikel in 1999:
[...] Mann both subverts the rigidly physical categorizations of racial politics and creates a third space in which he places himself at once between and beside “the assumed ‘polarities’ of conflict”.
Op ’n manier is hy seker nooit daarvoor vergewe nie, hoewel daar min ander digters is wat so ’n beduidende deel van hul lewens gewy het aan daadwerklike maatskaplike betrokkenheid in die plattelandse swart gemeenskap.
Hy is in die destydse Port Elizabeth gebore, studeer aan Rhodes-universiteit in die destydse Grahamstad, en sit sy studies daarna voort in Oxford. Hy begin sy akademiese loopbaan ná sy terugkeer by Rhodes, en dit is gedurende hierdie tydperk dat hy as digter debuteer. Maar in 1980 keer hy sy rug op die rustige akademie en die gemaklike politiek en werk die volgende dekade of wat in die destydse Natal vir The Valley Trust, ’n nieregeringsorganisasie in die Vallei van ’n Duisend Heuwels.
Dit was in hierdie periode dat hy sy bynaam, Zithulele, gekry het, wat hy ironies verklaar het sy ontstaan het aan die feit dat hy te veel gepraat het! Hy het inderdaad graag gepraat, maar kon nog beter luister. Hy het as kind reeds Xhosa leer praat en daarom was die inskakeling by ’n gemeenskap waar Zoeloe die omgangstaal was, redelik maklik.
Anders as Natal was die Oos-Kaap minder fyngevoelig rondom Afrikaans. Chris het op ’n kol vir my vertel dat hy as seun (of dalk was dit as student) vakansiewerk op die plaas van ’n Afrikaanse boer gedoen het en daar ’n ander kykie op en insig in daardie gemeenskap gekry het. Hierdie perspektief is verder aangevul deur die Afrikaanssprekende Rhodes-beurshouers in Oxford en, natuurlik, gesprekke met André P Brink toe Chris sy akademiese loopbaan in Grahamstad begin het.
Die eerste paar jaar toe Chris by die Valley Trust gewerk het, het ek hom dikwels gesien en hom geleidelik beter leer ken. Hy het die Afrikaanse letterkunde sedert die Sestigers goed geken en het veral die digters gelees. Ons het baie gesels oor sy nuwe gedigte waarin sy belangstelling in die rol van die “shades”, die saamleef van die voorvaders, sentraal kom staan het. In hierdie wêreld beklee beeste ’n besondere plek, die skakel tussen die lewendes en die “shades”, en die aanwesigheid van beeste in Mann se werk moet dan ook in hierdie konteks gesien en verstaan word.
New Shades (1982) was dan ook die titel van die eerste bundel wat uit sy Natalse tydperk gekom het, gevolg deur Kites, wat tien jaar later verskyn. ’n Ruimer besef van die numineuse het hieruit verder gegroei en enige iemand wat Mann se poësie ken, sal weet hoe hy die goddelike of die heilige in alles rondom hom kon raaksien en verwoord. Daarom ook die baie gedigte oor die klein dingetjies, oor insekte, blomme en diere, oor die ekologie (maar weer sonder om bloot saam te sing in die koor) wat dwarsdeur sy latere werk sentraal sou kom staan.
Dit was ook in hierdie eerste paar jaar in Natal dat nog ’n groot ontdekking op Mann gewag het, ook iets wat sy lewe en sy poësie ingrypend sou raak. Dit was sy kennismaking en huwelik met Julia Skeen, ’n kunsstudent uit die destydse Rhodesië. Sy sou ’n ander dimensie rondom sy werk invoer, veral rondom die publikasie van sy gedigte nadat hulle hulself op Grahamstad gaan vestig het.
Sy het begin om sy nuwe gedigte te illustreer, en hy is op sy beurt deur haar tekeninge en skilderye geïnspireer. Die pragtige kleurbundel The Horn of Plenty (1997) en Lifelines (2006) getuig van wat uit hierdie soort onbaatsugtige samewerking gestalte kan kry.
Mann se intieme omgang met die nie-Westerse kultuurwêreld het ook neerslag gekry in die aard van sy gedigte self. Die aanvanklike sterk rymgestruktureerde gedigte het vroeg verander in ’n eiesoortige vrye vers wat swaarder gesteun het op ritme en die herhaling van gedeeltes. “Praat”-gedigte sou dit soms genoem word, gedigte waarin daar vertel word en waarin die formele Europese verwagtings opgeskort word.
Hierdie benadering tot poësie en wat (en veral: wie) dit bereik, het Chris Mann ook die rol van troebadoer laat vervul. By baie geleenthede het hy opgedaag met sy kitaar en die verwagte “poetry reading” in iets anders omskep. ’n Bundel soos Mann alive!, wat ook in 1992 verskyn, illustreer spesifiek hierdie aspek van sy bydrae.
Wanneer hy na Grahamstad terugkeer, is dit eers in ’n uitvoerende hoedanigheid by die Nasionale Kunstefees en daarna as professor in poësie by die Institute for the Study of English in Africa by Rhodes-universiteit. In hierdie hoedanigheid gee hy baie aandag aan die ontwikkeling van aspirantdigters, maar vestig veral ook die aandag op die rol van poësie in die gemeenskap.
Op ’n formele vlak is hy byvoorbeeld die stigter en sameroeper van die Wordfest, die enigste nasionale veeltalige fees van al ons Suid-Afrikaanse tale en letterkundes. Hierin het hy dan uiteindelik sy droom verwesenlik om die grense tussen “ons” en “hulle” af te breek.
In 2010 verskyn Home from home , ’n keur uit sy vorige bundels en ’n aantal nuwe gedigte, waarin heelwat ouer temas weer ter sprake kom. Hierdie bundel gee ’n betroubare oorsig van sy werk, hoewel ek meen dat dit nie genoeg reg laat geskied aan die baie interessante portretgedigte in South Africans, wat in 1996 verskyn het nie.
Chris en Julia se diep geestelike verbintenis het op Grahamstad ook gestalte gekry in hulle verhouding met die beroemde katedraal van St Michael and St George. Daaroor kan diegene wat belangstel, gaan loer na die webwerf van Julia, www.juliaskeen.co.za.
Maar dit kry ook gestalte in die laaste twee bundels van Mann, wat albei deur die katedraal self gepubliseer is: Rudiments of grace (2014) en Epiphanies (2017). Soos die titels dit duidelik stel, is hierdie bundels wesenlik geestelik van aard, maar veral die eerste een bevat ook van Mann se mooiste liefdesgedigte.
Ek het verlede jaar rondom sy verjaardag vir die eerste keer weer lank met my digtersvriend gesels. Hy het oorlopens vol liefde oor Julia en sy kinders gepraat en entoesiasties oor ’n nuwe bundel wat binnekort moes verskyn. Hy was hartseer oor die vervlakking wat rondom COVID-19 plaasgevind het in plaas van groter geestelike verdieping; hy was moedeloos oor wat in Makhanda aan die gang was; en hy was effens wanhopig (wat vreemd vir hom was) oor die tektoniese foute in ons maatskappy, beide in Suid-Afrika en in die wêreld anderkant ons grense.
Soos ’n mens maar ligtelik afspreek, sou 2021 die jaar wees wanneer ons ’n plan sou maak om mekaar te sien. Hy het sonder moeite die slot aangehaal uit sy gedig oor die Emmaus-gangers:
And then? Ah, the sting of it still afflicts me.
A breeze off the desert entered that moment,
the lamplight flared, a door banged shut.
Emmaus, as I say, we never really go there,
Emmaus comes to us, when least expected.
It’s not just the journey, the settings out,
the routes through the desert, the arrivals,
it’s travelling in readiness for Emmaus that counts.
Min sou ons weet ...
Met Chris Mann se dood verloor Suid-Afrika ’n besonderse digter en mens, iemand wat elkeen met wie hy in aanraking gekom het (ook in sy poësie) se lewe geraak en waarskynlik ten goede beïnvloed het. Gaan kyk na sy webwerf en weet dat sy wens oor wat sy gedigte wil doen, opreg en wáár is:
May they nourish your love of the numinous as we spin through the dark of the cosmos on this pale blue dot of a planet together.
Mooi reise verder, my maat.
Iyo lena inkululeko esafela ngayo?
Where is the freedom for which we died?
Whenever I dream during these violent times
I meet up with the martyrs for freedom.
I see Steve Biko again,
And Achmad Timol,
And David Webster,
all, all of them murdered by deeds of hatred.
I also see Nelson Mandela again,
A man buried alive in prison
who stepped from the tomb still living
and is the Lazarus of our times.
These are the heroes I think of often,
who knock at the doors of our memory,
who travel around our country
talking together as they look about them
like ancestral spirits of the new South Africa.
Going into the home of a drunkard
they see him beating his wife and children.
“Look at that!” says one of the heroes,
“Is this the freedom for which we died?”
Entering the township
they find the skies full of flames
and people running confusedly round the streets
like termites whose home has been kicked over.
“And look at that!” says another of the heroes,
“Is this the freedom for which we died?”
Going into a school
they see pupils bickering with the teachers
and two boys stabbing each other.
“And look at that!” says another of the heroes,
“Is this the freedom for which we died?”
Walking the streets at night
they find the homes locked and barred
as if the people had built their own prisons
and lived inside them huddled in fear.
“I can’t believe it!” another of them says,
“Is this the freedom for which we died?”
These are the heroes I think of often,
these are the shades of the new South Africa,
and this is the question they ask of the living,
“Where is the freedom for which we died?”
Kommentaar
Een van die toekennings wat Chris hoog op prys gestel het, was die gesogte Newdigate Prize for Poetry vir 'n gedig deur 'n voorgraadse student aan die Universiteit Oxford wat in 1973 aan hom toegeken is vir "The Wife's Tale".
Dankie, Fanie, vir 'n ontroerende en deeglike verslag.