In Memoriam: Augusta Grobbelaar

  • 0

'n Paar dae gelede, op 9 Februarie 2015, is Augusta Grobbelaar oorlede. In die jare sestig tot die eeuwending (moontlik langer) het sy vir skrywers en die boekredakteurs by Tafelberg-Uitgewers voortreflike diens gelewer as vryskut-proefleser.

Sy vertel van haar ervarings in die essay “Oor oëmoord en ander onhebbelikhede” in die bundel In ons goeie boekies, Tafelberg-Uitgewers, 1991, waarvan ek die samesteller was.

As groentjie by Tafelberg het ek haar ontmoet toe sy teen 1976 Klaas Steytler help proeflees het aan die heruitgawe van Totius se Versamelde Werke ... in 11 dikke dele.

Sy het die ontwikkeling van drukkersproewe meegemaak vanaf “ellelange galeie”. Daarna, “tot oormaat van ramp, die elektroniese proewe waar elke letter uit kolletjies bestaan het met allerlei hiërogliewe wat leestekens voorstel. Dit was geset op breë bladsye wat konsertinagewys in ’n lywige pak aan mekaar vas was. Dit was nie net moordend op die oë nie, maar wee jou as daardie gladde pak op die vloer tuimel.” Gelukkig is daar oorgeskakel na “ordentlike, duidelike bladsyproewe in die tyd van woordverwerkers en slapskywe”.

Ek en mevrou Grobbelaar (ook Girlie genoem) neem langs mekaar stelling in by my lessenaar. Voor ons strek die proewe uit. En sy haal dáárdie lysie vorendag. Aan die hand daarvan bespreek ons elke inkelte aangeduide fout of probleem. Sy was nooit voorskriftelik nie. Net vrae gevra en voorstelle gemaak. En ek as redakteur sit soms met pyniging des gees. Hoe kon ek hier “meesal” deurlaat en daar “meestal”! Tag, dat ek (en die skrywer) nie agtergekom het nie dat liefste Madeleine in hoofstuk 1 ’n blonde nimf is, maar vanaf bladsy 216 ’n “smeulende brunet”. Daar was die kere dat ek bewys het iets is tog reg, maar raak dan beskaamd as sy die volgende oomblik nogmaals my en ’n dominee uitvang met ’n verkeerde Bybelaanhaling. (In 1991 het sy nog gewag dat sy ’n boek oor godsdiens sal proeflees “waar al die tekste reg aangehaal is, al die bewysplase korrek en al die hoofletters reg gebruik is”. Ook letterkundiges is “sondaars” met aanhalings.

Ek was so benoud vir mevrou Grobbelaar se lysies dat ek haar ’n paar keer belowe het dat ek ons vrae met “die betrokke redakteur” sal bespreek. Of dat ek kers sal opsteek by ’n kollega met baie ervaring soos Johan Steyn. Hieroor vertel sy: “En dan is daar een wat my lank laat verstaan het dat iemand anders die werk persklaar maak. Ek het dit nogal geglo ook, tot die groot woord eendag uitkom: dit was selfbeskerming. Of as ons nie saamstem nie, word daar gou gesê hy sal Johan vra.” Sy wonder of dié Johan ooit gevra is, of dit nie ook ’n afskudtegniek was nie. Wel ... ja vir laasgenoemde.

Mevrou Grobbelaar had, naas haar belesenheid, al haar kennis en noukeurigheid, ook ’n hartlike humorsin. “’n Blou Maandag” is dikwels vir my en haar “opgevrolik met onhebbelikhede” wat ontstaan as een letter op ’n verkeerde plek inglip. Jare later sou ek en Riana Barnard byvoorbeeld so iets beleef toe wyle Ina Rousseau se gedigtitel “’n Blou bui” ’n paar keer in Groot verseboek-proewe “’n Blou bul” geword het.

Volgens haar seun Carl het sy dit nie geniet om Konsalik-boeke te proeflees nie. Ook nie sommige van die “diep filosofiese boeke” nie; dié het haar erg geïrriteer weens hulle langdradigheid.

Carl onthou dat sy heelwat vertaalwerk gedoen het in die vroeë jare sestig. Boeke soos Tien Pao en sy sestig vaders van Meindert de Jong en Götz R Richter se Jona die ongelukshond. Suster Annette Watermeyer vertel dat haar moeder ook ’n paar maal Agatha Christie se speurder Poirot Afrikaans laat praat het.
In sy jongste digbundel, Takelwerk, beskryf Daniel Hugo in “Literatuurgeskiedenis” John Kannemeyer as “die grootste van ’n Gideonsbende,/ bewakers van die gedrukte woord”. Dit was Augusta Grobbelaar ook. As lid van die Oranjezicht-leeskring, as gasvrou op aande wanneer ons jongeres anekdotes oor haar niggie Audrey Blignault en hulle dae by Die Huisvrou kon aanhoor, of van haar en Berta Smit by Naweekpos. En dan as taalkenner by wie jy kon léér.  


Hieronder is 'n verwysing na Augusta Grobbelaar se vertaalwerk in Die Burger van 8 Februarie 1963. Die meeste van haar vertaalwerk is sonder erkenning van enige aard gepubliseer. Jona was die enigste boek waarvan haar familie bewus was sy as vertaler vermeld word. Die koerantuitknipsels is deur Carl Grobbelaar en Lisa Visser voorsien.


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top