In liefde gebroke

  • 4

Foto: Canva.com

In liefde gebroke

Die middernagstilte roep jou naam, 
maar jou antwoord slaan vas in oorvol leemtes; 
waar die hol klank van hunkering aanhoudend spiraal. 
Sluimersilhoeëtte drentel in die gietswart duister, 
en plant weemoedkruise op toegegroeide grafte; 
wek al die geraamtegedagtes van gister weer op.

Jou beeld stap stil by my terugdink verby. 
Jou asem wasem vergete liefdesverhale in my nek, 
en ek onthou die vuur, en smaraggroen skynsel in jou oë. 
Ek voel weer jou hunkerende hande wat dig oor die lyne van my lyf, 
en jy lees vir my voor uit jou bundel van vlammende passie, 
terwyl my gedagtes drentel deur die strate van skarlakensondes.

Ek drink aan die soet geur van muskus, 
wat drup uit die kruik van my ongekende gebrokenheid; 
terwyl my smagting na dit wat was honger voor my kniel, 
want al wat ek nou oorhet, is die aalmoese wat jy gelos het, 
flentertjiedrome wat dof skyn in splinteroë, 
en jou naam wat steeds eggo in bloedbevlekverlang.

  • 4

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top