In gesprek met ... Sjef van Erp

  • 0

Carina van der Walt gesels met akademici uit verskillende dissiplines uit die Lae Lande, wat hulle onvermoeibaar besig hou met Afrikaans of met Suid-Afrika. Wie is die man of die vrou agter die boek, die projek, die navorsing of op die leerstoel? Waaroor gaan die boek, die projek, die navorsing? Hoe geïnspireerd sit ’n wetenskaplike op ’n leerstoel vir bande met Suid-Afrika?

Sjef van Erp van die Universiteit van Maastricht besoek binnekort weer die Universiteit Stellenbosch. Hy is uitgenooi om op 1 Augustus die eerste SARCPL-lesing aan die Fakulteit Regte te kom aanbied. SARCPL staan vir South African Research Chair in Property Law. Hierdie leerstoel in eiendomsreg is die enigste van sy soort in Suid-Afrika en het in 2008 begin funksioneer, vir ’n periode van vyf jaar. So pas is ’n tweede periode van vyf jaar daaraan toegestaan. Van Erp is verheug, want hy was van die begin af as die eerste buitelandse “fellow”1 saam met André van der Walt betrokke by die instituut SARCPL. By albei hierdie wetenskaplikes heers ’n sterk mensgedrewenheid agter baie en moeilike teoretiese kennis.

Die leerstoel in eiendomsreg is deel van die Suid-Afrikaanse Navorsingstoel-inisiatief (in Engels SARChI). Dit word finansieel ondersteun deur die nasionale Departement van Wetenskap en Tegnologie, geadministreer deur die Nasionale Navorsingsraad en gehuisves deur die regsfakulteit van die Universiteit Stellenbosch. By die SARChI word onderskei tussen ’n “Tier 1 Chair” en ’n “Tier 2 Chair”. Hierdie leerstoel is ’n Tier 1, wat beteken dat net gevestigde wetenskaplikes met ’n hoë internasionale profiel van erkenning vir hulle navorsingsresultate daaraan kan deelneem. Hierdie klassifikasie van die leerstoel is dus ’n groot kompliment en ’n sigbare bewys van vertroue in beide Van der Walt en Van Erp.

Van Erp se eerste kontak met Van der Walt was professioneel op hulle vakgebied, Romeins-Hollandse Reg, in Stellenbosch. Hy was onmiddellik beïndruk met beide Van der Walt se navorsingsterrein en sy persoonlikheid – hoe Van der Walt as mens in sy vak en in die lewe staan.

“Van der Walt was besig om ’n dinkskrum op te rig oor hoe grondhervorming in Suid-Afrika op ’n deurdagte en georganiseerde wyse kan plaasvind. In die proses moes hy rekening hou met die onreg wat destyds deur die apartheidsregering aangerig is, maar terselfdertyd moes hy rekening hou met die belange van die mense wat eienaars is en óók die swart bevolking wat nooit kanse gehad het om eiendom te besit nie. Wat my baie aangespreek het in Van der Walt, was sy teoretiese kennis van die Suid-Afrikaanse eiendomsreg (wat hy regsvergelykend met ander lande in ons gesprek kon gebruik) in kombinasie met ’n sterk maatskaplike gedrewenheid. Sy houding het gesê: ‘Ek moet iets met my kennis doen, iets aan my land bydra.’ Hy wou studente uit alle kultuuragtergronde saambring in een gedrewe navorsingsgroep om die probleem van grondbesit in Suid-Afrika goed te ondersoek.”

Is daar ’n ooreenkoms in lewenshouding tussen u en Van der Walt?

“Ek gee graag les. Met studente wat ek op nagraadse vlak begelei, ontwikkel ek dikwels ook ’n sterk band. Dit was vir my opvallend hoe sterk Van der Walt se bande met sy studente is, veral met swart studente. Hy spandeer baie tyd en energie om kennis oor te dra en mense op ’n hoë akademiese vlak te bring. Vier jaar gelede was ek vir ’n week lank in Stellenbosch. Ek het op uitnodiging van Van der Walt drie dae les gegee en baie van my kennis en ervaring vanuit Maastricht toegepas. Tydens ons middaghappie het van die studente blykbaar vir Van der Walt gepols om my te vra vir ’n ‘fellowship’. 'Ik was er helemaal perplex van!' Ek wou ook iets konkreet met my kennis doen, maar ek het natuurlik nie aan so iets soos ’n ‘fellowship’ gedink nie. Dit was net wonderlik dat hulle my gedrewenheid raakgesien en verstaan het. Ek kom elke jaar een of twee maal terug Stellenbosch toe vir my betrokkenheid by die leerstoel.”

Het u met enige Suid-Afrikaanse student ’n besonder sterk band opgebou?

“Ja, met ’n jongman wat met sy siel onder sy arm geloop het. Die terrein waaroor hy navorsing wou doen, het net bietjie buite die terrein van die leerstoel se fokus, naamlik eiendomsreg op grond, gelê. Hy wou virtuele eiendomsreg doen. Wêreldwyd bestaan nog bitter min daaroor. Hy’t hom aanhoudend teen ’n muur vasgeloop. Die vrae wat hom besig gehou het, was dinge soos ’n swaard in ’n rekenaarspeletjie. Kan jy dit jou eiendom noem? Is jy die eienaar van jou e-pos-adres? Of is dit net ’n kontraktuele regsverhouding met die verskaffer? As jy jou eie webwerf het, het jy ’n domeinnaam wat net jy mag gebruik. Dit lyk dus asof jy die eienaar daarvan is, maar wat sê die reg? Virtuele eiendomsreg is my stokperdjie. Daarom het ek Wian Erlank onder my vlerk geneem. Tydens sy twee maande in Maastricht het ons baie en indringende gesprekke gehad. Hy het sy proefskrif voltooi en is nou senior dosent aan die NWU.”

Volgens Van Erp is daar tans twee belangrike ontwikkelinge in Europa aan die gang in verband met eiendom. Ekonomiese integrasie binne die Europese Unie (EU) lei eerstens daartoe dat vrae rondom grondeise anders benader moet word as in die verlede. Dit kan nie meer suiwer vanuit ’n Nederlandse, Engelse of Duitse regstelsel beantwoord word nie. Oplossings moet op mekaar afgestem word. Stelsels vermeng ietwat. Ten tweede speel digitalisering van die reg ’n al groter rol. Aktes van oordrag word byvoorbeeld digitaal na die openbare registers toe gestuur.

Is Suid-Afrika vir Europa van enige belang in die hantering van grondeise?

“Suid-Afrika is vir my teoreties interessant, omdat Suid-Afrika wêreldwyd ’n voorbeeld is van wat ’n mens ’n gemengde regstelsel noem. Die Romeins-Hollandse reg en die Engelse reg funksioneer saam. Aanvanklik het die Nederlanders met hulle Romeins-Hollandse reg voet aan wal gesit in die Kaap. Na die Boere-oorloë het die Engelse regstelsel belangrik geword. Europese regsprobleme in verband met die verdeling van grond sien jy in Suid-Afrika op kleiner skaal.”

Die Romeins-Hollandse reg geld vir grondeise omdat dit redelik stabiel is, volgens Van Erp. As dit gaan oor grond, moet dinge nie te veel en te vinnig verander nie. Word ’n proses van grondhervorming te vinnig afgedwing, ontstaan revolusie. Maar as eienaarskap onduidelik is, is die vraag wat mense gaan doen, of juis nié gaan doen nie. Indien ’n wynboer nie seker is dat ’n stuk grond waarop hy ’n wingerd wil aanplant, aan hom behoort nie, gaan hy nie daarin belê nie. Aan die ander kant moet arbeiders op dieselfde wynplaas wat soms al langer daar bly, woningreg kry – swart op wit. Dit het volgens Van Erp na byna twee dekades van demokrasie nog nie altyd gebeur nie.

Die regering wil grondeise in Suid-Afrika hersien, maar die herverdeling van grond verloop moeisaam en die swart bevolking word onrustig. Die huidige regering wil die hele proses versnel, maar niemand wil ’n tweede Zimbabwe hê nie – óók nie die regering nie. Dis nie net die angs van blanke boere nie. As die effek van grondonteiening in Zimbabwe destyds was dat niemand meer in daardie plase wou belê nie, wat het die regering van Zimbabwe bereik? Hulle ekonomie het totaal in duie gestort.

Aan die ander kant is daar moondhede wat op die loer lê vir groot stukke grond in Suid-Afrika. Vanweë die rykdom van Suid-Afrika se grondstowwe wil ’n groot mag soos China soveel grond so gou as moontlik koop. Dan kry die regering te doene met ’n groot hoeveelheid grondbesit in buitelandse hande. Buitelanders word beleggers, terwyl die regering juis besig is met die herverdeling van grond aan sy eie bevolking. Wil die regering dit hê?

Binne die SARCPL word daar nagedink oor bogenoemde dilemmas. Die demokratisering van eiendomsreg met betrekking tot grond is ’n ingewikkelde saak.

Suid-Afrikaners is oor die algemeen trots op hulle grondwet, maar wat sê die grondwet oor grondregte?

“Daar is regspraak van die konstitusionele hof dat by regsvorming uitgegaan moet word van die grondwet en grondregte wat daarin neergelê is. Die bestaande reg moet getoets word aan die grondregte, want die bestaande reg is deels afkomstig uit die periode van apartheid. As die grondwet sê dat grond beskerm moet word, dan is dit so. Maar die grondwet sê ook dat jy moet kan leef en woon. Dus: woningreg moet nou wérklik inhoud kry. Binne die instituut aan die regsfakulteit in Stellenbosch dink ons hieroor na: As ons die reg gaan verander, wat vereis die grondwet? Hoe moet ons dit verander? Ons moet die grondwet dus inhoud gee ooreenkomstig die regspraak van die konstitusionele hof.”

Dit is moeilik om botsende gevoelens van regverdigheid tegemoet te kom. Elke groep het sy eie verhaal en maak aanspraak op begrip, wat nie té moeilik is nie. As al die verhale egter bymekaar kom, word dit ’n baie komplekse menslike verhaal. Dis ’n kwessie van gee en neem, maar dit gaan stadig. Waar eiendom gestabiliseer het, verander dinge ook nie sommer nie. Stabiliteit lei tot stagnasie, tensy daar direkte belange by verandering is. Druk moet behoorlik wees voordat verandering intree. Te veel druk van onder af deur die bevolking kan net so vinnig ’n revolusie ontketen as te veel druk van bo af deur die regering.

Daarom is dit so belangrik dat daar op ’n verantwoordelike manier nagedink moet word oor grondhervorming en -eise in Suid-Afrika. Die studente wat vanuit hierdie instituut hulle studies voltooi, het ’n grondige teoretiese grondslag en gaan in verskillende rigtings. Sommiges word navorsers, ander gaan in die regspraktyk op en nog ander word bestuurders. Dis belangrik dat hierdie jongmense hulle kennis op meerdere vlakke in die samelewing toepas om werklike verandering te help ondersteun.

“Dit sal vir my ’n eer en ’n voorreg wees om binnekort die eerste lesing van die SARCPL se alumni-week aan die Universiteit Stellenbosch te kom hou. My voordrag sal gaan oor hoe eiendom – en dan veral grondbesit – langs die weg van geleidelike verdeling kan plaasvind tussen die grondeienaar en diegene wat al langer op die grond woon. Die omskrywing wat ek gebruik is “revolusionêre evolusie”. Dit druk uit dat daar stadig maar seker tog prinsipiële veranderinge plaasvind.”

Prof. Sjef van Erp voor die Universiteit van Maastricht. Hy is binnekort op besoek by prof. André van der Walt in Stellenbosch om die eerste lesing van die SARCPL se Alumni Week te kom hou.

Eindnota

1 Ik was weliswaar de eerste niet-Zuid-Afrikaanse fellow, maar niet de eerste buitenlandse professor die met André van der Walt samenwerkte. – Sjef van Erp

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top