In Eden se bloed

  • 1

Foto: Canva

In Eden se bloed

in die oggend wanneer my ore weer soek
na vae die trilling van lig
wat ek ervaar het
by die aanhoor
van jou naam
(daardie eerste keer)

is die veraf kontoere van alles wat jý is
alreeds vir my ’n daad van sonde
soos gepleeg
by die oerrotse van bestaan
net nadat Adam
Eva se naaktheid ontdek het

in Eden se bloed
sal ek altyd
agter jou rug wil kom inkruip

want in die trilling van jou naam
vind ek myself glimlag
soos die eerste keer
toe ek ontwaak het
onder die lakens
van jou mond
se oneindige
oulikheid –

gul en vol lewe
soos jou oë se bruin
waaruit daar ook vir my
’n ewige son sal verskyn

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top