In die tyd van die gif deur Dana Snyman: ’n lesersindruk

  • 1

Titel: In die tyd van die gif, ’n jaar en ’n half in stories
Skrywer: Dana Snyman
ISBN: 9780624090885
Uitgewer: Tafelberg

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Die joernalis Dana Snyman het ’n ruk lank by Huisgenoot gewerk. Sy boeke herinner my ook nogal aan daardie tydskrif. Net ’n soort deluxe-weergawe daarvan, en minus die Europese adellikes en Hollywood-sterre. Daar is die beroemdes. Dikwels rugbyspelers soos Frik du Preez of skrywers soos Karel Schoeman. Die berugtes, soos Eugene Terre’Blanche. En dan is daar die onbekendes. Die doodgewones. Mense met wie Snyman dikwels terloops paaie kruis, en wat die objekte word van sy fyn waarnemingsvermoë. Hy meng dan sy vertellinge ruimskoots met heimwee en wit skuld weens apartheid, en neem so sy lesers op meesleurende paaie – letterlike paaie, maar ook figuurlike paaie.

.........
Snyman se nuutste boek, getiteld In die tyd van die gif, volg dieselfde patroon as al sy ander boeke, maar dit is hegter saamgesnoer tot ’n eenheid as wat gewoonlik die geval is, met veral die wêreldwye pandemie as oorhoofse onderwerp. Snyman skryf dikwels oor die werkloosheid, armoede en ekonomiese gemors waarin Suid-Afrika verkeer, en die maatskaplike gevolge wat dit op mense het. Die pandemie het hierdie kopsere natuurlik na volslae migraines begelei.
..........

Snyman se nuutste boek, getiteld In die tyd van die gif, volg dieselfde patroon as al sy ander boeke, maar dit is hegter saamgesnoer tot ’n eenheid as wat gewoonlik die geval is, met veral die wêreldwye pandemie as oorhoofse onderwerp. Snyman skryf dikwels oor die werkloosheid, armoede en ekonomiese gemors waarin Suid-Afrika verkeer, en die maatskaplike gevolge wat dit op mense het. Die pandemie het hierdie kopsere natuurlik na volslae migraines begelei. Die boek begin egter iewers in 2019, net voor die Wêreldrugbybeker wat Suid-Afrika in Japan verower het. Dit is ’n interessante oefening om Snyman se herinneringe te vergelyk met jou eie, en soos die pandemie in die boek ontwikkel jou eie ervaringe te meet aan wat geskryf is.

Uiteraard is dit nie moontlik dat al 77 sketse in die boek ewe sterk sal wees nie. Daar is sake wat reeds welbekend is, soos byvoorbeeld die verhaal van Koos Sas (1882–1922), wat herbegrawe was nadat sy skedel vir jare lank in ’n museum gepryk het (miskien is daar egter wel lesers wat niks van die saak weet nie, en Snyman slaag wel daarin om dit op ’n interessante manier aan te bied). Die verhaal van John Mgaga wat sy hamer probeer verkoop  in ’n poging om basiese kositems te kan bekostig, laat mens so ’n bietjie ambivalent. Aan die een kant sal baie mense waarskynlik daarmee assosieer, want daar is sekerlik heelwat gevalle soos dié van Mgaga in elke uithoek van die land. Aan die ander kant kan die verhaal moontlik ook die indruk skep dat dit ’n geval is van ’n bietjie armoedepornografie (in “’n Ander land” koop Snyman Mgaga se hamer, en gee die hamer dan vir hom terug). Mgaga keer ook weer terug in ander verhale en vorm dus ’n herhalende onderwerp in die boek en dit is miskien noodsaaklik om ook toe te gee dat dit geen maklike taak is om oor iets soos armoede te skryf nie. Daar is egter ook van die ander hoofstukkies wat minder opwindende leesstof is. “Al hierdie name” herinner byvoorbeeld aan van Snyman se werk in sy vorige boeke. Daar is ook twee sketse wat maar net bestaan uit gedeeltes wat oorgeneem is uit president Cyril Ramaphosa se “familievergaderings” in verband met Covid-ontwikkelinge, en wat skynbaar net geplaas is om by die oorhoofse tema van die boek aan te sluit.

Hierdie enkele gevalle is egter die uitsonderinge in wat andersins vir my ’n uiters meesleurende boek was. Soos kenmerkend van Snyman se sketse, is daar heelwat sosiale kommentaar, byvoorbeeld in “Die baas” en “Radikale ekonomiese transformasie”. Suid-Afrika is ook ’n land wat bekend is as ’n uiters godsdienstige samelewing, en dit het ook al ’n tradisie geword dat Snyman ’n soort liefde-haat-verhouding met godsdiens het (by wyse van spreke, want “haat” is dalk ’n te sterk begrip vir wat eerder ’n soort frustrasie of normale ontnugtering is met verloop van tyd). Twee van die verhale wat ek as hoogtepunte in die boek beskou, is dan ook “Katedraal” en “Torings van hoop”. Die eersgenoemde vertel die verhaal van ’n kerk in die omgewing van Loeriesfontein, terwyl die tweede weer iets dokumenteer van die verstommende bediening van ds De la Harpe le Roux van die legendariese Tweetoringkerk in Bloemfontein, wat eens ’n heiligdom van die koloniale orde was, maar vandag veg teen die verval van die Vrystaatse hoofstad onder ANC-beheer. Daar is egter verskeie ander verhale in die boek met godsdienstige konneksies en “Die Jobhuis” is ook ’n ander verhaal wat vir my uitgestaan het.

Van die ander sterk verhale is Snyman se herinneringe na aanleiding van ’n besoek aan Pretoria (wat uitloop op ’n “toe en nou”) en die invloed van die ontslape Afrikaanse rocksanger Piet Botha op Snyman. Daar is ook ’n interessante vertelling op die spoor van die skrywer Karel Schoeman. Bekende karakters uit Snyman se vorige boeke maak ook weer welkome verskynings, wat dit lekker maak vir gesoute lesers van sy boeke. Voorbeelde hiervan is Johannes Bogosi, Thabi Zuma en Kitte Honiball wat die land vol swerf met sy honde en planne. In “Video killed the radio star” skryf Snyman oor die einde van die “videowinkel”, ’n saak waaroor seker ook amper alle lesers hulle eie weergawes sal kan vertel, en dit ontketen ook baie heimwee. Daar is ook, soos mens kan verwag, baie vertellinge waarin hy sy gewaarwordinge en ervaringe van die grendeltyd beskryf.

........
Die stories werk, omdat dit spreek tot baie soorte lesers, van die meer gewone mens op straat tot die meer gesofistikeerde intellektueel. Mens kan dit ’n bietjie vergelyk met ’n goeie ou Theuns Jordaan-treffer. Die hoofouderling en die kroegvlieg luister ewe lekker saam. So is dit met Snyman se boeke.
........

Met “In die tyd van die gif” lewer Snyman al weer ’n goeie oes van stories. Die stories werk, omdat dit spreek tot baie soorte lesers, van die meer gewone mens op straat tot die meer gesofistikeerde intellektueel. Mens kan dit ’n bietjie vergelyk met ’n goeie ou Theuns Jordaan-treffer. Die hoofouderling en die kroegvlieg luister ewe lekker saam. So is dit met Snyman se boeke. Dit is goed dat hierdie verhale gedokumenteer word, want dit is verhale uit eie bodem, en dit sou ’n skade wees as iemand dit nie opteken nie.

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top