In die spore van Gert Saggiestrap deur Marco Botha: ’n resensie

  • 1

Die spore van Gert Saggiestrap
Marco Botha
Flyleaf Publishing
ISBN: 978-1-991202-697

Op die agterplat van Die spore van Gert Saggiestrap sit Coenie de Villiers op ’n hoë noot in. Hy belowe vir ons ’n “kragtoer deur ’n meester-storieverteller’’. In hieropvolgende resensies voeg resensente hul stem tot syne. Jean Meiring sê (Rapport, 10 Oktober) die vertelling is veral een van “’n selfversekerde en behendige verteller”. Dineke Volschenk sluit haar deeglike bespreking van die boek af (Netwerk24, 20 September) met: “Marco Botha het homself oortref.” En Eben Venter se uitroepreël op die voorblad praat van “meusleurend”.

Dit is mense wat weet waarvan hulle praat, en daarom het ek iets werklik groots verwag. Iets soortgelyks aan die lewensverskuiwende “ervaring” wat Petra Müller amper 20 jaar gelede met die lees van Dan Sleigh se Eilande beleef het.

.......

Botha het die boek beslis aangepak met die uiterste agting vir dié bevolkingsgroep en hulle voormense. Geen besonderheid is vir hom te klein nie, en geen afstand te lank nie. Die hartstog vir sy onderwerp vloei dik in die wit spasies tussen die reëls. Danksy ook die entoesiastiese medewerking van die uitsterwende groepering mense oor wie hy skryf, ís Gert Saggiestrap ’n kultuurhistoriese dokument van tydlose waarde.

.......

Wat meer is, voor mens met die storie wegtrek, word jy beïndruk deur die skrywer se jare lange, omvangryke navorsing oor die Ju/’hoansi van die noordooste van Namibië. Botha het die boek beslis aangepak met die uiterste agting vir dié bevolkingsgroep en hulle voormense. Geen besonderheid is vir hom te klein nie, en geen afstand te lank nie. Die hartstog vir sy onderwerp vloei dik in die wit spasies tussen die reëls. Danksy ook die entoesiastiese medewerking van die uitsterwende groepering mense oor wie hy skryf, ís Gert Saggiestrap ’n kultuurhistoriese dokument van tydlose waarde. Nie net vir lesers uit wêrelde ver verwyder van die Saggiestrappers nie, maar ook vir die Ju/’hoansi self. ’n Gemeenskapsleier van Epukiro in die Omaheke-streek skryf aan die binnekant van die agterskutblad: “Dié boekie … gaan oor die geskiedenis en onse mense … Dit is belangrik vir ons kinders … Daardeur sal hulle weet wie was daarin, wat het hulle gesê, en wat het met hulle gebeur: Hoe was hulle lewe.”

Ook voor die storie begin, beïndruk die skrywer met sy eties suiwer motivering vir die naam “Boesman” wat die volle gewig van ’n potensieel kwetsende pejoratief dra. Dis nie nuus dat veral wit akademici en meningsvormers wat hulleself as ingelig en verlig beskou, al vir dekades hieroor kibbel nie. Dit sou gevolglik vir Botha van die intrap ’n turksvy wees. Maar hy het die regte ding gedoen en die Ju/’hoansi gevra wat hulle hulself noem.

Die naam “San” word baie selde indien ooit deur hulle gebruik om na hulself te verwys, is hy gesê. Botha laat geen steen onaangeroer om sy lesers, en moontlike kritici, hiervan te oortuig nie. Hy haal ’n bron (weliswaar naamloos) aan: “San is die naam wat mense van die boeke en die politiek vir ons gevat het, ons is Ju/hoansi of Boesman.” Die antropoloog James Suzman staaf dit in sy onlangse hoogaangeskrewe boek in Affluence without abundancewhat we can learn from the world's most successful civilisation.

......

Gert Saggiestrap is, soos Suzman s’n, ’n publikasie wat aansluit by die kontemporêre mens se soeke na innerlike heling en balans.

.......

Gert Saggiestrap is, soos Suzman s’n, ’n publikasie wat aansluit by die kontemporêre mens se soeke na innerlike heling en balans. As die lewenswyse en -gedagtes van veral Gert se pa, Petrus ǂOma, en Petrus se hartvriend, Dahm, jou koud laat, is jou hart waarskynlik in sement gegiet. Petrus en Dahm het nie meditasiekursusse in retreats bygewoon of podsendings oor “mindfulness” geluister nie. Hulle het veld toe gegaan en het onder vele meer geweet jy “leer niks as jy oor die kole van die lewe probeer spring nie”. In ’n groter lawaaiwêreld wat hulle ingehaal het, het hulle die rites van hul voorouers gehuldig in soverre hulle dit prakties kon uitvoer. Die boek ontsluit talle van dié gebruike en gewoontes – en dit in ‘n Afrikaans deurweek met Ju/’hoan-metafore en -idiome. Een van die verskeie kosbare gewoontes is die insmeer van ’n pasgeborene. Direk na Gert se geboorte laat Petrus sy pa, oupa Skrywer, haal (bl 42). Hy kom net vir gou met die skilpaddoppie, die xuru, met die elandvet. Die eland is “die dier met die sterkste kragtigheid, n \ um, van alle diere’’. Oupa wikkel ’n mespuntjie vet uit die doppie en “gooi dit in die vuurtjie sodat hy, Petrus en Dahm die rook kan inasem”. Hierna kom nog ’n lekseltjie op die kleintjie se voorkop en dan eers word die sagte karos van hartebeesvel versigtig oopgevou sodat Oupa dit op die outjie “se borsie en tussen die bladbeentjies’’ kan smeer.

Petrus en Dahm is in die Nuwe Tyd gebore. Die skrywer wys met die intrap die verskille tussen dié en die Eerste Tyd asook die Ou Tyd. Wanneer ons die byna dertigjarige Gert in die omtes van die nedersetting Tsumkwe ontmoet, is dit op 9 November 2019, steeds in die Nuwe Tyd. Tsumkwe is sowat 400 km oos van Grootfontein in die rigting van Namibië se grens met Botswana. Gert sit binne-in ’n groot bars van ’n horingoue kremetartboom. Hy het baie om oor na te dink. Sy pa, Petrus, het met ’n 1977-model Peugeot gery. (Dié model word skitterend adverteer: “’n staatmaker waarvan die sagte vering hom ideaal gemaak het vir ’n wêreld wat teen die 1980’s met ’n netwerk van sand- en stofpaaie aanmekaar gestik was” (19).

Petrus was ’n suksesvolle bestaansboer. Hy het sy seun in die eerste helfte van sy bestaan in die rooi sandgrond koersvas en liefdevol grootgemaak. Gert se ma, Kleintjie, is as tienermeisie oor ’n lang tyd seksueel misbruik. Haar geweldenaar, die vrome Klaus Welich, het teologie aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Dit wat Klaus aan haar gedoen het, asook as gevolg hiervan aan haar ouers, het haar en hulle gebreek. Mans en drank was na alles haar ondergang. Dit was weinig verrassing dat een van Kleintjie se vele drinkebroers en seksmaat Petrus met ’n bottelstuk sou vermoor. Petrus bloei hom dood in Gert se arms.

Van Gert is uitsonderlike sukses verwag – die kind kon immers reeds voor hy skool toe is, lees en skryf – Afrikaans én Engels. Maar na Petrus se dood en sy ma se onophoudelike bottelgeneukery het Gert die pad byster geraak. Uit verdriet, verbittering en woede. Waar Gert aan die begin van die narratief in die kremetart sit, het hy baie om oor te besin.

Dit was nie net die wit boere, die Herero’s en vroom Godsmense wat die Boesmans uitgebuit en misbruik het nie. Dahm en Petrus se ervarings binne die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) as spoorsnyers bied genoeg stof vir ’n afsonderlike roman. Dit word as deel van die hoofkarakter Gert se storie net in breë trekke vertel.

En dit sluit aan by een van die redes waarom die boek vir my as roman nie ’n “kragtoer” is nie – ondanks die geil en dramatiese stof.

........

Dikwels word oor deurslaggewende gegewens, soos genoemde ingryp van die SAW in die lewe van die Boesmans, vertel, eerder as dat hulle oopgeskryf word met die narratiewe handgrepe, soos dialoog en handeling, wat die romansier tot sy/haar beskikking het.

........

Dikwels word oor deurslaggewende gegewens, soos genoemde ingryp van die SAW in die lewe van die Boesmans, vertel, eerder as dat hulle oopgeskryf word met die narratiewe handgrepe, soos dialoog en handeling, wat die romansier tot sy/haar beskikking het. Die boek word onteenseglik as fiksie bemark, maar die oormaat dokumentêre inligting, van die uitspreek van klikklanke aan die begin tot die verklarende bedankings van ses bladsye aan die einde, sowel as dit wat binne die teks soos verduidelikings lees, het my meermale gepla.

Terwyl ek gelees het, het ek soms gemeen Gert Saggiestrap is dalk biografiese niefiksie eerder as ’n roman. Maar tog ook nie. Uiteindelik is genre-etikette nie die begin en die einde nie, maar die gerondvallery tussen verskillende moontlikhede het my soms verwar, en verveel. Die ongelykhede wat betref datums by sommige hoofstukke, die gebruik van poësie, ’n John Steinbeck-aanhaling meteens teen die einde, die verloop van Gert se vyf drome terwyl hy “veldskool” loop, en die verloop van die verhaal totdat hy weer die spreekwoordelike lig sien, is ook baie maal net te newelrig en uitgesponne. ’n Karakter kan uiteraard erg deur die mis wees, of bedwelm, maar die leser moet nooit deur die mis voel nie. En as die skrywer dit nie konsekwent deur die hele narratief regkry nie, is dit die werk van sy of haar redakteur.

.......

Selfpublikasie het ook meriete, maar dalk was dit in dié geval nie die beste keuse nie.

.......

Selfpublikasie* het ook meriete, maar dalk was dit in dié geval nie die beste keuse nie. Botha was ’n verslaggewer by verskeie publikasies. Hy is ’n knap woordsmid. Sy navorsing onbesproke. Ek kan daarom nie dink waarom hy nie gebruik gemaak het van die professionele manuskripontwikkeling wat toonaangewende uitgewershuise bied nie.

Tog is Die spore van Gert Saggiestrap ’n waardevolle en tydige storie wat verdien om wyd gehoor te word.

* Die boek is deur Flyleaf Publishing gepubliseer.

  • 1

Kommentaar

  • Hierdie boek is nie 'n produk van self-publikasie nie - maak asb daardie foutjie reg.

    Ek plak vir wie- en watookal my antwoord aan Marco aangaande die resensie:
    "Marco, nee, ek dink die resensent sit die pot mis. Dalk is daar probeer om 'n ander perspektief te gee (nadat al die ander oorwegend positief was).
    Soos ek jou reeds gesê het: ek is bang lesers besef nie wat hul in hul hande hou nie; en daar was 'n paar dele wat ek weer en selfs 'n derde keer moes lees om sin te maak van die kompleksiteit wat binne en tussen die karakters is.
    Dat daar sterk biografiese elemente is, kan beswaarlik 'n kritiek wees. Ek het juiste Duiwels (deur so 'n Russiese ou) onderbreek om Gert te lees - die gebeure daar is gebasseer op werklike gebeure. Net voor dit het ek Anna (deur so ander Rus) gelees - hierdie storie word geprys vir die biografiese beskrywing van die 19de eeuse lewe en wêreld van die karakters.
    Oor die vertel versus oopskryf kritiek kan ek net een ding sê: ek sou dit gelaaik het as die boek 200-300 bladsye langer was, selfs as Petrus en Dahm se storie 'n hele boek in 'n driedeel reeks was, maar êrens moet 'n mens besluit oor die beperkinge en omvang waartoe jy jouself verbind. 'n 500-600 bladsy boek sou weer vir sy lengte gekruisig word...
    Aangaande die "die leser moet nooit deur die mis voel nie" - regtig, sê wie? Indien jy dit goed regkry om my in die karakter se kopdoolhof te sit, kan dit 'n geworfenheit ervaring wees.
    Terwyl ek nou strompel in die rigting van hermeneutiek: 'n teks is 'n spieël - jy lees jouself meer as die wat jy die skrywer lees. Ons maak immers oorlog en vrede met dieselfde boek, en dieselfde boek se geloof en God. Dit baat 'n mens om drie keer te lees - een keer geniet jy dit net, die tweede keer lees jy krities, en die derde keer bevraagteken jy jou eie kritiek. Dan raak die spieël helder en verstaan jy nie net die teks beter nie, maar jy leer ook iets van jouself.
    Die resensie gee taamlike dele van die storie se begin in 'n vaal opsomming, heelparty waarvan ek dink 'spoilers' is wat vir die leser gelos moes word om te ontdek; en dan is daar taamlike spronge na haar kritiek toe... Ek kan niks sê oor die vermoëns van iemand wat ek nie ken nie, maar sy het of net 'n derde van die boek gelees, of sy het nie aandagtig gelees nie. Sy noem byvoorbeeld niks oor die komplekse wroeginge van Kleintjie met haar verledes en hedes nie... Sy noem net 'n paar goed wat gebeur. ('biografies' kon jy sê 🙂)
    Die boek is 'n baie goeie boek - baie ryker en meer veel-dimensioneel as wat meeste leser sal besef."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top