Daar’s drama met die skoolboeke in Limpopo, die mense is kwaad vir Zapiro oor sy nuutste spotprent en ons lees van Gerrit Komrij se dood gister.
Maar vanoggend toe ek werk toe ry, gesels die omroepers oor die ander groot nuus in die Kaap: mense van wie hul selfone afgevat word as hulle praat en bestuur.
Die owerhede is outokraties! skel iemand wat inbel na die radiostasie. Pleks hulle fokus hulle energie op iets wat saakmaak, soos misdaad.
"Let the drivers be," sê 'n ander. Los die bestuurders uit.
Ek begryp die omroepers wil oor iets gesels wat aktueel is, maar iets pla my van hierdie gesprek. Moet ons in hierdie land net fokus op misdaad, soos moord en diefstal en kapings? Vervaag al die res van die reg en verkeerd op die res van die spektrum?
Ek dink nie dis ’n sleg ding om ’n selfoon af te vat nie. Dit sal vir my ’n persoonlike uitdaging wees om nie op my selfoon doenig te wees terwyl ek bestuur nie, maar dis juis die punt: almal moet die gewoonte afleer. So kom ons almal veiliger tuis.
Of is almal te bang hulle bly veilig op die pad en word dan gekaap? Of kom veilig tuis en die boewe lê jou in jou eie snoesige garage voor met ’n vuurwapen?
Wat sê julle?
Lekker naweek, Naomi M


Kommentaar
Beste Naomi
Ek stem saam dat daar hard opgetree word teen selfoongebruikers.Ek het al met my eie oë gesien hoe iemand deur 'n rooi lig ry,die spoedgrens oorskry,al beduiende met los hande met 'n selfoon teen die oor.Dus was hier sprake van vier oortredings.Dis hoegenaamd nie gering nie,veral as 'n mens die gevaarfaktor in ag neem.Dis hoogtyd dat by die sogenaamde klein dingetjies begin word om misdaad vas te vat.
As ek reg onthou,het 'n sekere burgemeester van New York juis begin by die klein oortredings en die stad se misdaad omgekeer.
As mense nie selfdissipline aan die dag kan lê nie,moet hulle nie huil as dit deur optrede afgedwing word nie.
Groetnis
Perdebytjie