Tog ’n interessante speletjie wat tant Joana wat versies maak, aktiveer met haar skrywe oor Sluitstuk van Johann Rossouw (Netwerk24). In haar gebruiklike sketterstyl. ’n Magdom moontlike aanknopingspunte aangeraak en bied onderweg ook vir ons wat haar bewondering vir Karel Schoeman deel, ’n lys van haar gunsteling-Schoeman-skrywes.
Vir haar is die “allergunstelinge” Op ’n eiland (1971), ’n Ander land (1984), Hierdie lewe (1993) en Die uur van die engel (1995). Dis ’n sterk lys. Min sal met haar stry.
Omdat ek weet julle wil almal graag weet wat my allergunstelinge van Schoeman se skryfwerk is (Joan Hambidge se vier titels uitgeslote), lys ek hulle graag met my gebruiklike nederige apologie: Only an anguish to live here (1992), Die laaste Afrikaanse boek (2002) en sy vertaling van Tsjechof se Oom Wanja.
Dis nie dat ek wil dwars wees nie, maar dwars het soms sy voordele. (En, sal die wyses jou vertel, sonder dwars sou daar geen Toyota gewees het nie.) Ek lys hierdie titels omdat dit ander benaderings tot Schoeman aktiveer. Sy hantering van die tekste van ander, sy siening van homself en sy plek binne die gemeenskap, en dan, soos my geleerde vriende dadelik sal uitwys, sy geneentheid tot alleenlopers.
Schoeman se vertaling van Oom Wanja moet nes die Engelse, Duitse en Nederlandse vertalings van die werk beskou word as ’n reaksie van die vertaler, en sy herskepping daarvan in ’n ander taal as Russies. Die onderskeidende leser sal daaruit net soveel van Schoeman kan leer as van Tsjechof.
En sy benadering tot Olive Schreiner se skryfwerk oor plaaslike dinge in Only an anguish to live here moet, deur vergelyking met ander historici se reaksie op Schreiner, vir mens ’n aanduiding gee van Schoeman se waardes en die wyse waarop Schreiner tot hom gespreek het. In die keuse lê die kluts.
Hopelik sal daar nog baie oor Johann Rossouw se Sluitstuk geskryf word, maar omdat die besprekings meestal in een rigting neig, wil ek tog iets sê. Hardop. Rossouw is vir my net so ’n belangrike figuur as Schoeman binne die Sluitstuk-raam. Ek stel eintlik net soveel in hierdie figuur belang as in Schoeman, dalk selfs meer – hy lewe nog.
Op ’n manier is ek beïnvloed deur Abe Ravelstein en Chick in Saul Bellow se roman Ravelstein. Ag, sekerlik ook Kenneth Trachtenberg en Uncle Berm in More die of heartbreak, of Humboldt en Charlie Citrine in Humboldt’s gift.
Johann Rossouw het die voordeel dat Rudolf en Markus, die twee personasies wat kwalik gemaskeerde avatars is van Schoeman en van hom self, nie heeltemal geanker is in die wêreld van fiksie nie. Sodra die ongelooflik intieme afsluiting van Sluitstuk by mens ingesink het, bars die diskoers oor mentors en gementordes in jou kop los. Rudolf volg die weg van Abe en Humboldt en Uncle Berm, maar my nuuskierigheid bly vonke vind in Markus en sy bloedstring na Rossouw.
Die oorlewende, die skrywende. Dis ’n groot waagstuk om fiksie rondom ’n figuur soos Karel Schoeman te bou. Dit slaag wel, en maak dadelik van Rossouw ’n belangrike literêre figuur, maar tegelyk ook ’n sonderling, soos Marthinus Versveld dit ook was. Ek noem sy naam met opset.
*
Johann Kriegler, die towenaar, die goëlaar. My gunstelingresensent. Sy skrywe oor Justice Malala se The plot to save South Africa: Chris Hani’s murder and the week Nelson Mandela averted civil war (in Rapport) is iets wat ’n mens wil plastic sandwich om iewers prominents in jou huis te plaas. (My eiertjie: Hoekom ’n boek opsaal met so ‘n lang titel en subtitel? Dit klink asof dit gekomponeer is deur een van die gewaardeerde verslaggewers van EWN.)
In die deurlees van Kriegler se bespreking is daar uiteenlopende plesiere. Die bon mot oor Carl Niehaus, die foutelys waarmee die resepsioloog die uitgewer (Jonathan Ball) wil aanspoor om sy taak met meer vlyt en stiptheid af te handel – uiteraard slaan daardie lysie ook op Justice Malala, wat sekerlik die pak slae met waardigheid sal absorbeer.
Ook merkwaardig is die uiteensetting oor Malala se aanpak, met die opwip van al die samesweringsteorieë deur die jare in die vaarwater daarvan. Kriegler het soveel ondervinding, en het in die wandelgange van sy lewe al soveel moes aanhoor, dat ek die paragraaf wat uitloop oor sy pragtige oproep van die spook wat in Luthuli-huis dwaal en gereeld vra “Cui bono, cui bono?”, verskeie male herlees het en dit nou nog nie uitgeput het nie.
Hoekom sou Kriegler “oudspioene” ter sprake bring? Is dit ’n baie goed verdoeselde verwysing na die ander lopende spook, wat ook “Cui bono?” (Wie vind baat hierby?) vra oor die figure wat stories by Afrikaanse koerante aangedra het en sommiges se beriggewing oor die moord op Hani so laakbaar gemaak het?
Of is ek nou oorsensitief oor die feit dat hierdie uitstekende resensie in die huidige gedaante van Rapport verskyn, ’n Sondagkoerant wat op ’n hoër vlak funksioneer as die een van destyds?
Maar kom ons parkeer die herinnering aan oudspioene eers eenkant. Die slotparagraaf is swanger aan meerduidigheid, en laat mens vermoed dat Kriegler nie al Malala se afleidings glo nie: “Wat ’n kostelike ironie as Walus-hulle se moorddadige komplot deur die noodlot eintlik die ANC se bewindsoorname bespoedig het. Dalk het dit tóg Suid-Afrika gered?”
Praat van ironie!
*
Bravo! Die rolprentweergawe van Rudie van Rensburg se Hans steek die Rubicon oor is bekroon as beste rolprent op kykNET se Silwerskermfees. Terwyl dit in die bioskope draai, land die volgende Hans-storie aan: Hans kry troukoors.
Is ek verbaas? Njet. Soos dit maar gaan, was dit net ’n kwessie van tyd voordat iemand iets in Afrikaans doen wat inzoom op die plesiere van kort sarsies goeie humor. Iets soos Mrs Brown of Only fools and horses, met ’n lekker skeut PG du Plessis-schwing daarby.
Ek kan nie verstaan hoekom kykNET nie self begin reekse maak uit Afrikaanse romans nie. Van Rensburg se Hans verdien meer as net een rolprent. En wat van ’n reeks oor Chris Karsten se Abel Lotz-stories? Of Marie Lotz se Alek Strauss-sage?
*
Die kinnertjie wat vandeesweek in die “geweldig”-hoekie moet gaan staan, is die nimlike Jonathan Amid: “Strauss het oudergewoonte ’n geweldige slag met ’n slot.”
Klink asof hy ’n bewonderaar is van Bokkie Gerber.


Kommentaar
Waarom so nederig Crito? Jy herinner my aan Golda Meir se beroemde uitspraak: "Don't be so humble. You're not that great ..."
Agter jou breed-sprakige masker (van die onerns).
Of alweer die rug-kant van The Day of the Jackal?