Titel: Tafel vir twee
Uitgewer: Protea Boekehuis
Binding: Sag
ISBN: 9781869193218
Publikasiejaar: 2009
Bladsye: 176
“Die bome langs die pad is ’n laning stofsoldate, met hier en daar ’n pienkrooi aalwynpluim wat haar verbygang salueer. Staan opsy, daar gaan ’n vrou verby.” Só skryf die bekroonde digter Ilse van Staden in haar eerste kortverhaalbundel.
Tafel vir twee is vir lesers wat fýn kan lees, want hierdie vyftien verhale is verstommend subtiel geskryf. Sodat jy sommige van die verhale meer as een keer moet lees om die volle intensie te snap. Van Staden het as digter die seldsame vermoë om soos Petra Müller en Wilma Stockenström juis oor dié dinge te skryf wat amper onmoontlik is om in woorde vas te vat – ’n jong seun wat sy kunstenaarsma se ontembare gees in ’n luiperd herken, ’n jong man wat oor afstande heen telepaties met sy geliefde verbind is, ’n ou man wat in sy verbeelding ’n skeepsreis na Europa onderneem, ’n parallelle heelal waarin ’n onderdrukte vrou ’n meer bevryde lewe lei, die stil teenwoordigheid van ’n vermoorde vrou in ’n huis wat bedags leeg staan.
Dit is verblydend dat daar nog uitgewers is wat bereid is om boeke te publiseer wat iets aan die leser se verbeelding oorlaat, waar die leser nie onderskat word en alles met meedoënlose redigering uitgespel word nie. Ek kan my voorstel dat baie uitgewers op grond van Van Staden se mistieke temas hierdie bundel kortverhale as te esoteries, te vaag en onduidelik sou beskou. Dié motiewe van verbeelding, droom, telepatie en transendering kom egter binne die alledaagse voor. Hierdie temas word ontgin in “Sjuut”, “Om beter te kan hoor, my kind”, “Oupa knik”, “Shiva dans” en die uiters aangrypende slotverhaal, “Leemte”.
’n Verdere tema in baie van hierdie verhale is die samelewing se vooroordele jeens mense wat anders optree as wat van hulle verwag word – dikwels mense wat gekies het om nie die uitgetrapte paadjie van die huwelik en ’n gesin te loop nie. Hierdie tema is veral te sien in “Hoe ver lê Bultfontein?”, “Luiperdklip”, “Nomen est mihi, ergo sum” en “Blomme vir Braam”. In hierdie verhale word die eng opvatting dat ’n sinvolle bestaan sonder ’n huwelik en kinders nie moontlik is nie, aangespreek. Dat kinderlose vroue nie volwaardig vrou is nie. Dat ongetroudes nie kan kinders grootmaak nie. Dat gay mense nie die reg op liefde het nie. Dat as jy nie in die rol van deugsame vrou, moeder, beroepsvrou, huweliksmaat, ensovoort pas nie, jy nie jou plek in die gemeenskap kan vol staan nie.
In “Hoe ver lê Bultfontein?” word ’n vrou ontnugter deur haar familie se “onuitgesproke meerderwaardigheid, asof jy aan die een of ander swakheid ly …” (23) teenoor haar ongetroude en dus "onwaardige" status:
Sy hét haar misgis. Misgis met hoe statusbewus haar familie kan wees … Waag jy dit vir meer as tien minute in ’n informele gesprek, uitgepraat aan die weer en die nuutste politieke misdryf, dan kry hulle jou aan die sagte plekkies beet. Plooitjies om die oë, ’n paar grys hare, ringlose vingers. Hoe vanselfsprekend die vraag – is jy getroud? Nie? Kinders? Klein toegif dat die een die ander wel vooraf kan gaan. (23)
Die hoofkarakter, Hanna, sien egter ook neer op haar broer en skoonsuster se "onstimulerende" (getroud-met-kinders) bestaan: “… kry sy vir Joe in die hande, iewers tussen sy lesings, kan hy haar iets vertel, die hol kol in haar kop vul” (26); en “Haar skoonsus (’n insekkundige) moet dit wel hemels vind met soveel goggas. Maar wat maak mens in hierdie wêreld met soveel goggageleerdheid? ’n Meestersgraad, verbeel jou. Dalk konsentreer sy op die gedrogte wat haar man se beeste bedreig – bosluise en steekvlieë en brommers. Het goggas ook familie? Hoe voel ’n vlooi oor die duisend eiers wat sy lê?” (27).
Maar tog is daar versoening tussen hierdie twee wêrelde wanneer die hoofkarakter haar broerskind tot vriend maak (29) en haar skoonsuster ná ’n rusie ’n botteltjie moerbeikonfyt as vredesoffer saamstuur (42).
In “Luiperdklip” sukkel ’n jong seun om sy onkonvensionele ma, wat “heeldag sit en prentjies verf …” (71) te verstaan: “Pa is ’n sonbottel, dink hy. Ma is ’n …” en “Ma is ’n dier, miskien” (69). Uiteindelik word sy ma se karakter aan hom in ’n droom openbaar – ’n ontembare alleendier wat haar nie laat inperk nie (79).
Nog ’n verhaal waar ’n vrou deur die man gekritiseer word omdat sy nie optree soos van haar verwag word nie, is “Om beter te kan hoor, my kind”:
Hy was van die begin af gekant teen die projek, ’n niewinsgewende organisasie wat gaan huise bou vir armes in Samoa of Guyana of ’n ander godverlate plek. Wat van jou werk? Wou hy weet. Jy’s nog ’n junior, daar is hoeveel wat toustaan vir jou plek. Moenie dink jy sal kan teruggaan nie, hulle drop jou soos ’n warm patat as jy nou padgee … Dis wat hom uiteindelik tot raserny gedryf het, dat sy so kannie-worrie-nie was oor die hele ding … (98)
Dié tema word verder gevoer in “Nomen est mihi, ergo sum”. Die man in hierdie verhaal neem namens sy vrou besluite, maar wanneer sy ’n boek ontdek wat sy as student gelees het, besef sy dat sy in ’n ander lewe, binne ’n ander werklikheid, tog ’n eie identiteit besit.
“Blomme vir Braam” handel weer oor ’n suster se verterende skuldgevoel oor sy haar gay broer wat op haar kêrel verlief geraak het en uiteindelik selfmoord gepleeg het, nie liefde gegun het nie: “Teen die tyd wat sy Braam vergewe het, was dit te laat. Dit vat langer om jouself te vergewe” (152).
Die karakters in bogenoemde verhale is beslis nie stereotipes nie. Van Staden skep karakters van vlees en bloed wat goed én sleg in hulle dra. Hierdie teenstrydigheid van die menslike aard is veral te sien in die humoristiese “Anna en die singende dood”, waar ’n vrou haar buurman se hartaanval bewerkstellig deur ryk geregte aan te dra en haar honde aan te hits om sy siel met hulle getjank te versondig (85). Van Staden bied ook nie maklike oplossings in haar verhale nie; haar karakters leer dikwels op die moeilike manier.
Een van die sterkste verhale in hierdie bundel is “Spikkellyster”, waarin ’n bejaarde moeder ondanks ’n ernstige beroerte “met haar verrimpelde hand, bruin gespikkel van lewervlekke (wat) soos ’n voël opskrik” (54) letterlik teruggryp na herinneringe van ’n pynlike verlede toe sy haar dogter vir ’n jaar lank by haar ouma gelos het. Hierdeur vind haar dogter ook eindelik vertroosting, omdat daar nooit vroeër voldoende kommunikasie tussen moeder en dogter bestaan het nie: “En selfs as sy die woorde verstaan, wat beteken dit nou eintlik? Want só was dit nog altyd. Elsa praat. Maar sy weet nie of haar ma al ooit werklik gehoor het nie” (44). Hierdie poging van die hoofkarakter om na haar ma deur te dring, word uitstekend in ’n droombeeld uitgebeeld (49–50).
Van Staden het bogenoemde verhale met sensitiwiteit, intuïsie en fyn waarnemingsvermoë geskryf. Al die verhale is egter nie ewe sterk nie en plek-plek kom geykte uitdrukkings voor, maar dit doen geensins afbreuk aan ’n uitstekende kortverhaalbundel nie. Die meeste van dié verhale sal jou bybly, selfs lank nadat jy die boek neergesit het.