Illuminating lives, Biographies of fascinating people from South African History
Vivian Bickford-Smith & Bill Nasson
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781776092642
Bill Nasson en Vivian Bickford-Smith se Illuminating lives, Biographies of fascinating people from South African History (Panguin Random House, 2018) kan as ’n ongewone boek, selfs uitdagend, beskryf word.
Hoe so? Eerstens word die voornemende koper die vraag gestel: waarom sal ek hierdie boek oor elf mense wat blykbaar niks met mekaar te doen het nie, koop? Boeke is duur, daar is so baie om uit te kies.en ’n mens kan aanvaar dat ‘n boek soos hierdie mense wat in geskiedenis , veral biografieë, geïnteresseerd is, nuuskierig sal maak. Dít terwyl daar op dieselfde rak dalk boeke oor groot name, van Madiba, Zuma en Malema tot Koos Kombuis, Koos du Plessis en Koos Prinsloo mag staan. Almal name wat meer bekend mag wees as Pat Pattle, Jane Turner en Stephen Watson, of as Tiyo Soga, Isaiah Bud-M’Belle en Tyhini Robert Qengwa — afhangend van wie jy vra, toegegee. Sal vandag se jonger lesers nog weet wie John Montagu en Eddie Barlow was?
Montagu, wat in 1842 tot 1853 Koloniale Sekretaris aan die Kaap was, voel vir my juis nogal soos ’n koringkorrel in ’n bak rys in hierdie geselskap —in elk geval totdat jy besef dat van die ander persone ook amper, of net so lank gelede geleef het, en net daar leer jy al iets. Of die drang na kennis genoeg motivering is om genoeg kopers te oorreed om R280 te betaal, weet ek nie. Dog, Penguin moet so dink, want hulle het hierin belê, en uitgewers glo nie meer deesdae in groot pakhuise vol vorraad nie. Hulle onttrek boeke na ‘n sekere tydperk en verpulp die res. Die rede wat hulle aangee wanneer hulle outeurs vra of hulle van die voorraad kan terugkoop, is deurgaans dat stoorruimte te duur is. En ek vrees regtig vir die voorraad van hierdie boek.
Albert Grundlingh, geskiedenisprofessor aan die US skryf immers oor Danie Craven die volgende: “Walking past Craven’s statue at Coetzenburg, I have also overheard a student talking on his cellphone and explaining his exact location to his frend: ‘I am standing here next to the dude with the dog.’ To some on campus, a new generation of students with different world views and backgrounds, the statue no longer seems to have much or any significance at all.” Die vraag is dus weereens: vir wie sal ’n historiese opsomming of kommentaar van Craven, of enige van die ander persone in die boek van genoeg belang wees om die boek te wil lees?
Soos ek deur die teks geploeg het, het daar wel interessante punte opgedoem. Soos die kompleksiteit van die betrokke persone: mense soos Craven (sportman, administrateur, akademikus met drie doktorsgrade, ens), Watson (skrywer, digter, dosent), en John K Mohl (skilder, leermeester en filosoof). Veral die anomalieë van/in hierdie persoonlikhede is interessant. Craven kan as voorbeeld dien: hy was ’n swak leerling in sy skooldae, maar ‘n uitsonderlike universiteiststudent, en die leiersposisie wat hy ingeneem het in ‘n Afrikaner-territorium soos Stellenbosch, en in rugby veral, terwyl hy geen Broederbond- of Nasionale Party-saamloper was nie. Ook was sy gesondheid nooit robuust nie, maar hy het aan die fisies-uitdagende sport rugby deelgeneem. Uiteindelik het hy ook heeltemal belangstelling in rugby verloor, nadat hy vir dekades lank juis ons Meneer Rugby was. En so kan ’n mens aangaan.
’n Ander interessante aspek van die boek is die kwessie van assosiasie. Ek as Afrikaner- man kan my nie in alle eerlikheid sonder moeite met die Engelse persone soos Montagu en Watson eens probeer assossieer nie, en nog minder met Bud-M’Belle, Soga of Qengwa, wat beteken dat ek , behalwe vir die afdeling oor Craven, myself moes dwing om die teks deur te lees. Ek neem aan dat hierdie boek nie vir die Afrikaanse mark bedoel is nie — dalk op die bitter klein plaaslike Engelssprekende mark, en met die hoop dat swart lesers ook betrek sal word.
Die stuk oor Eddie Barlow, ‘n Engelssprekende wat beslis baie Afrikaanssprekende bewonderaars gehad het, het wel my aandag behou, maar dit kan eerder aan my belangstelling in krieket toegeskryf word. Daarom het ek biografieë oor hom, die Pollocks en ander, ook oorsese krieketsterre, gelees. Maar gaan sport-aanhangers hierdie boek koop om oor Craven en Barlow te lees? Miskien wel, as hulle nie soos hulle hedendaagse sporthelde eerder rekenaarspeletjies speel en gedurig met oorfone rondloop nie — Herschelle Gibbs het mos gesê hy het nie eens sy eie “outobiografie” gelees nie.
In die boek se inleiding noem die samestellers dit ‘n “[...]an eclectic collection of biographical essays on eleven intriguing men and women from South Africa’s nineteenth- en twentieth-century past [...]” en dat dit beloof om lig te werp op die fassinerende lewens van ’n wye spektrum mense,wat ’n digter, ’n skilder, ’n vlieënier, ’n boer, ’n tolk, ’n evangelis,’n rugbyspeler en ’n onderwyser insluit.Verder skryf die samestellers dat net een van hulle nog leef, en sommiges is lankal dood. Verder spreek hulle dié hoop uit: “[...] the collection also explores the often hazy balance between the impact of historical circumstances on the men and women who populate these pages.
Die inleiding is dalk die interessantste deel van die boek, en beveel aan dat geskiedenisstudente en -liefhebbers dit lees. Ek stem byvoorbeeld saam dat dogmas, tradisies en rigiede kategorieë nie skrywers in enige genre moet inhibeer nie. Geskiedenis was nog nooit —soos vir té lank geglo was — “the story of great men” alleen nie. Die klein geskiedenisse, die nederige deeltjies van die legkaart wat die Verhaal van die Mens uitbeeld, moet juis so volledig as moontlik uitgestal word om werklik konteks en insig te mag verskaf. Ja, ons sal altyd maar met die blink puntjie van die ysberg werk, maar ys weerkaats ook maar net bokant die oppervlakte van die diepsee.
Ter wille van deeglikheid, noem ek die 11 persone waaroor geskryf word en hulle skrywers op: Tiyo Soga, deur Vivian Bickford-Smith, John Montagu (Nigel Penn), Isaiah Bud-M’Belle (Brian Willan), Pat Pattle (Bill Nasson), John Koenakeefe Mohl (Neil Parsons), Lilian Ngoyi (Martha Evans), Jane Turner (Jackie May), Danie Craven ( Albert Grundlingh), Eddie Barlow (Luke Alfred), Stephen Watson (Christoper Hope) en Tyhini Robert Qengwa (Sindiwe Magona).
Daar is ’n indeks en lys van outeurs, wat nuttig is, want sommige van hulle sal dalk minder bekend wees as die persone waaroor hulle geskryf het.
Hierdie boek is op die keper beskou, ’n dapper bydrae tot die opvoeding van die instinktiewe altru Altans, die tipe wat werklik lief is vir lees. Veral oor die stemme uit die verlede.