In Transito-kunsuitstalling te sien by die Kunsvereniging Pretoria

  • 0

Alet Pretorius is die hoof persfotograaf van “Beeld’ se Pretoria-kantoor.  Sy het vir verskeie publikasies gewerk en is die ontvanger van ’n aantal gesogte toekennings.  Sy sê:  “Om die mooie en die lelike van die wêreld te sien, laat jou met meer waardering vir jou eie lewe en maak jou meer verdraagsaam teenoor andere se lewens en lewenswyse.” 

Theana Breugem is tans senior fotograaf vir Foto24.  Ook sy het reeds hoë toekennings ontvang.  Haar prestasies behels onder andere Sony Profoto-toekennings in 2009 en 2010 en in dieselfde jare neem sy deel aan SnapGroup uitstallings.

Lisa Hnatowicz is van Poolse afkoms en het gegradueer in fotografie aan die Universiteit van Dortmund voor sy na Suid-Afrika in 1991 gekom het.  As senior fotograaf van Media 24, het Lisa wye erkenning van haar uitbeelding van Suid–Afrikaanse gebeure verdien.  Sy hou van kunsfotografie en haar abstrakte werk sal enige skeptikus laat besef dat fotografie wel ’n ware kunsvorm is.

Liza van Deventer se studies en ondervinding het haar besonder goed toegerus om fotografie in ’n verskeidenheid van gebiede te doen, van advertensie-wese tot hoofberigte, argitektuur, mode en dokumentêre verslae.  Saam met ander prestasies, was haar werk deel van ’n internasionale toer-uitstalling van die PIEA Internasionale Foto kompetisie.

Alhoewel die meerderheid van die werke van hierdie vier kunstenaars  in die tradisie van foto joernalisme is, word daar met hierdie uitstalling van hul meer persoonlike werke vertoon.  Terwyl die foto-joernalis probeer om die wêreld aan ander te verklaar, wil hierdie kunstenaars met hul kunsfoto’s eerder hulself aan sigself verduidelik.  Die werke is droomvol en in sommige opsigte amper eteries, om sodoende ’n balans te vind met die harde werklikhede waarmee hulle dikwels in hul daaglikse werk in aanraking mee kom. Skoonheid word ontdek in die gewone, in die natuur en in die menslike figuur.

Die uitstalling word op Woensdag 21 Maart 2012 om 18:00 vir 18:30 deur die bekende fotograaf, Marc Shoul, geopen. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top