NP van Wyk Louw en die Meisies: Haydee Morgan-Hollander het gesels met die produksiespan

  • 0

Met Erica Wessels en Tinarie van Wyk Loots as die meisies, en die musiek van Frieda van den Heever
Regie: Albert Maritz
10 Maart 2007 Woordfees, Stellenbosch

 

2006 was NP van Wyk Louw se herdenkingsjaar: die befaamde digter is ’n 100 jaar gelede op 11 Junie gebore.

Albert Maritz, Erica Wessels, Tinarie van Wyk Loots en Frieda van den Heever gesels oor die skep van ’n teks uit Van Wyk Louw se omvattende oeuvre, die daaropvolgende werkproses en die (gedeelde) sentimente met een van Afrikaans se gevierde en beminde skrywers. In die proses het die riglyne vir die voer van ’n onderhoud en die skryf van ’n werkbare teks sodanig vervaag dat konfrontasie en oorvleueling onvermydelik geword het, want in die woorde van die skrywer: die volk skep nie; maar hy voel aan, hy sif, hy onthou, hy kan nog herrangskik.

TINARIE: Dis die kunstenaar se krag. Dis sy reg. Dis sy kuns. Om in ’n fiktiewe situasie – hierso nogal behendig met parallelle – ’n geskilpunt oop te gooi vir bespreking.

Ek praat nog soms met jou, maar in die nag;
want die gesprek wat ons ’n lewe lank
gevoer het, word nie sommerso deur die dood
afgebreek nie. Maar nou is woorde skaars;
so skaars, dat dit vir ons, vir wie dit altyd
juis om woorde gaan, in hierdie stilte
onmoontlik is om weer mekaar te vind.

Dié aangrypende naggesprek van WEG Louw met Wyk (soos sy vriende hom genoem het), het die “oop gesprek” oopgebreek, ook oor die poësie en die lewe en ons as deelnemers “betrek in ’n gesprek oor die skoonheid van die woordkuns en die fassinering van die skeppingsproses wat die woord slyp totdat dit blink en klink”, skryf ’n joernalis.

Die korrespondensie tussen die skrywer-broers is vervat in JC Kannemeyer se boek Ek ken jou goed genoeg … Die briefwisseling tussen NP Van Wyk Louw en WEG Louw 1936 tot 1939, wat uitgegee is as ’n projek van Kannemeyer se spesiale honneurskursus in dokumentasiekunde in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Dit is die eerste wetenskaplike uitgawe van hierdie aard in Afrikaans.

In sy uitspraak ten gunste van die publikasie van die boek sê regter Desai: “WEG Louw’s earlier admiration of Nazi Germany rapidly ended and on 1 August 1939 he wrote: 'Die gebeurtenisse van die vorige Maart-maand was, wat my betref, die laaste afrekening met Duitsland. Ek het daardie liefde finaal afgesweer en erken in Duitsland ’n imperialisme net so vernietigend en nog wreder as die Britse. Wat die nasionaal-sosialisme ook al mag wees of word, Europees is dit nie meer nie.'"

Etienne Britz skryf dat uitdrukkings daarin soos “fascinating letters”, “literary significance”, “absorbing account” en “substantial literary merit” toon dat die regter vrede het met die angstigheid, leedvermaak en gewankel van Sionsmure in Afrikanerkringe. Hy besef die waarde van die boek vir “Afrikaans, if not South African literature”, ’n uitspraak met groot gevolge vir die publikasie van soortgelyke egodokumente in Suid-Afrika.

Dieselfde Louw wat omstreeks 1935 en 1936 so negatief teenoor die Jode gestaan het, skryf dat as die Afrikaanse volk ’n politieke minderheid word tussen ’n massa swartes, “weet hy dat hy so hulpeloos soos die Jood in Duitsland sal wees”.

Britz skryf voorts die kort “Nazi-fase” van Van Wyk Louw het nie tot veel later as 1937 geduur nie. “Ek is nuuskierig om te sien watter kritici hierdie briewe gaan misbruik om die liberaliserende en buitengewoon verheffende rol wat Van Wyk Louw later in die Afrikaanse geesteslewe gespeel het, te probeer doodverf. Ná 1937 word Hitler se naakte aggressie in Europa steeds duideliker vir WEG Louw, en word Van Wyk Louw al hoe stiller oor Duitsland.”

ALBERT: Vir die doel van die show het ek die koerante gevolg en een of twee briewe op die web gaan herbesoek. Die omstredenheid rondom die briewe, die bewering dat die boek rassistiese verwysings en anti-Semitisme sou bevat wat die broers se reputasie kan skend en hulle familie kan verneder, is vir my ’n storm in a tea-cup, ’n moment in time. Soos om lid te wees van die Patrys Speurders - as kind - of ’n Rooi Ridder.

In sy resensie vir die Boekeblad van Die Burger (28 Maart 2005) skryf Britz: “Jodehaat, vandag feitlik onbekend onder Afrikaners, vorm in 1936 ’n belangrike onderdeel van die Afrikaner-nasionalistiese beweging. Twee takke van die Nasionale Party laat byvoorbeeld geen Jode as lede toe nie. Ook die immigrasie van Jode word bestry deur DF Malan se Nasionale Party."

Van Wyk Louw het in Broederbondkringe gevra dat hulle ondersoek instel na die Jode se greep op die land se ekonomie, omdat geldmag vir hom ’n soort euwel was wat die land se toekoms sou bedreig. Hy het geldmag beskou as die euwel wat rassekwessies sou veroorsaak. En die Jood sou net so te blameer wees as die ryk boer.

Jode word enersyds geassosieer met die kapitalisme en andersyds met die kommunisme in Suid-Afrika. Hulle word gesien as die grootbase van ’n industriële en kommersiële kompleks wat die verarmde Boerevolk uitbuit en verkneg. Andersyds loop Jode vooraan in die vakbonde en in die kommunistiese beweging wat die Afrikaners wil gelykmaak met die mees onderontwikkelde bevolkingsgroepe in Suid-Afrika.

Lina Spies skryf in Die Vrye Afrikaan: "… die 'konseptuele Jood', soos volg omskryf deur Leo Pinkser in 1882: vir die boorlinge ’n vreemdeling en ’n landloper; vir die armes en uitgebuitenes ’n miljoenêr en vir die patriotte ’n mens sonder vaderland. Implisiet regverdig Britz dus die anti-Semitisme van die Louw-broers deur die begryplike teelaarde daarvan bloot te lê. Maar hy doen dit ook deur die beklemtoning van die digters se jeug. In 1936 is WEG Louw 22 en NP van Wyk Louw 29 en saam kyk hulle ook na die rol van die Jode in Suid-Afrika, onder meer na die invloed wat die Jood J.W. Schlesinger op die Afrikaanse media [en rolprentbedryf] gehad het.

"Onder hierdie politieke omstandighede vertrek WEG Louw as jong student na Nederland en so ontstaan ’n briefwisseling met sy ouer broer wat volgehou word tot 1939, die jaar waarin die Tweede Wêreldoorlog uitbreek."

Was Van Wyk Louw pro-Nazi of pro-Duits? Vóór die Tweede Wêreldoorlog was daar baie mense (veral in Europa) wat begrip gehad het vir Hitler. Jaap Steyn skryf hieroor in ’n onderhoud met Deborah Steinmair vir LitNet in 2004 oor sy boek Die honderd jaar van MER, waarvan enkele uittreksels hier onder verskyn:

En iets anders: wat sy [MER] geskryf het in 1934 toe sy ’n hele paar artikels daaroor gehad het. Nasionalisme, soos die vroue dit begryp, sê sy, streef nooit na die onderdrukking en nadeel van ander volkere nie; inteendeel:

Die nasionalis is bly oor die vordering van ander nasies, omdat hy des te meer van hulle dan kan leer - tensy daardie vordering ook ’n uitbuiting is. En waar ons Afrikaanse Nasionalisme die onderdrukking van ander groepe of individue soek, daar soek hy sy eie nadeel wat ook tot sy verderf sal lei. Die gesonde Nasionalisme soek dit nie.

Dit herinner nogal aan iets wat NP van Wyk Louw byna twintig 
jaar later skryf:

Wanneer ’n mens die waarde van nasionale regte insien, nie alleen as regte wat jou eie groep toekom nie, maar as universele menslike regte, dan is jy reeds uit die beperktheid van die groep uit; en jy sal hulle nie alleen vir jou eie groep opeis nie.

ALBERT: Hy was pro-Duits. Dinge gebeur in ’n tydraamwerk. Die "meisies" in die stuk weet byvoorbeeld nie wat tien jaar gelede gebeur het nie. Hulle was te jonk en “ly” daarom aan ’n gebrekkige historiese perspektief. Soos baie nasionaliste was "Van Wyk Louw oortuig dat die regering die Afrikaanse kultuur vyandiggesind was en dat hy die nasionaal-sosialisme verkeerd beoordeel het, veral na ’n klompie Hollandse intellektueles gevang is’. Maar kyk hoe belig hy homself mettertyd as die besadigder Germanicus: “En nasionaal sal vir my beteken iemand wat Afr. in sy huis, in die opvoeding van sy kinders, in sy skryftaal en oral bly.” (Van Wyk Louw in ’n brief aan Gladstone, 11 Februarie 1942.)

Almal moet iets afstaan: die blankes hul magsoorwig, swartes hul getalsoorwig, die Afrikaner “die gedagte dat hy die enigste is wat in SA reg besit” en die Engelse en Jode die geldelike oorwig en “bande met en ondersteuning van ’n imperialisme wat in SA oorheers en die meestes uitbuit”. (Van Wyk Louw)

Lina Spies skryf in Die Vrye Afrikaan onder die titel "Louw se held: Transendent gerig, weerloos": "Dit gaan in die Nuwe Suid-Afrika nie om slegs die miskenning van die Afrikaner se verlede nie maar om die demonisering daarvan: hy word uit geskiedenishandboeke uitgeskryf en hy skryf homself uit die geskiedenis uit. As ons ons afsny van ons geskiedenis, ignoreer ons uiteraard ook die helde van daardie geskiedenis; diegene wat ons eerbied verdien, want ons verlede sluit meer in as net ’n apartheidsbestel van veertig jaar. En as ons nie meer weet wat ’n held is nie, hoe kan ons helde in die hede herken? Die uitwissing van ons verlede is die uitwissing van ons kulturele geheue. Pieter [’n vriend met wie hy in die 1950’s gekorrespondeer het] het aan Van Wyk Louw die volgende kernvraag gestel, naamlik, 'Deur wat is die stroom of die web van ons Afrikaner-tradisie gemaak?' Louw vat die vraag saam as, 'Wat het in ons ingevloei om voort te vloei?' Sy antwoord was: 'Vier dinge. 1. Die gemeenskaplike Wes-Europese kultuur - die wat ons saam met die hele Weste vanaf Italië en Spanje tot Skandinawië besit. 2. Die spesifiek Nederlandse – Hollandse en Vlaamse - deur ons taal. 3. Die spesifiek Engelse, deur 'n saamwoon van 150 jaar in hierdie land.'"

Die opvatting dat die held ’n man is wat dinge ken van hoër waarde as die lewe, het by Van Wyk Louw bly steek. Die vraag na wat ’n held is, sou hom ’n leeftyd lank besig hou, skryf Spies. Kan Van Wyk Louw as ’n held beskou word? Hoeveel van sy visie is nog toepaslik en trek jy dit deur in jou vertoning?

ALBERT: Vir my is ’n held iemand met visie, ’n opvoeder, iets wat ons vandag die heel nodigste het. Ek hoop dit staan duidelik in my vertoning. Gaan lees maar weer Steyn se biografie: die destydse SAUK het aan geen ander Afrikaanse skrywer soveel opdragte gegee soos aan Van Wyk Louw nie. Ook is hy (naas Chris Barnard) die enigste outeur wie se hoorspele byna almal as sodanig gepubliseer is. Van Wyk Louw het met Verwoerd gebots oor sy drama “
Die Pluimsaad Waai Ver, want hy het nie geskroom om standpunt in te neem nie. Miskien was hy te veel van ’n visioenêr?

FRIEDA: Die Burger berig Verwoerd het gesê hy wens vir die dag dat skrywers na vore tree wat sy volk se heldedade besing … nie vra wat is ’n volk nie … maar kan uitjubel: dit is my volk …!

Lina Spies (Die Vrye Afrikaan, 19 Julie 2006) skryf: "Watter gestalte van die held laat Van Wyk Louw [Marthinus Theunis] Steyn aanneem [in Die Pluimsaad Waai Ver] naas die ander helde wat hy in sy dramatiese werk ten tonele voer? Pieter is Louw se spreekbuis as hy op Anna se opmerking dat hy tog nie ’n 'Vrystater of republikein' is nie, antwoord dat hy deur Steyn in die Vrystaat ’n Afrikaner geword het, omdat hy begin voel het: 'Hier is ’n nuwe soort Afrikaner. Nie net plat boer, soos ons sê nie … waarom moet ’n Boer plat wees, waarom? Nie net eenvoudig, gelowig, sterk, aartsvaderlik nie … Ek het gevoel: hier het die Afrikaner wysheid geword en intellek; gelyk of bo die Engelse se bestes; beskaafde; …' Steyn is soos Koki en Germanicus ’n eensame enkeling en dat hy dit besef blyk uit die wete van sy roeping soos wat hy dit vir homself formuleer:

Ek moet bind, ek moet my mense bind -
Eers aanmekaar, dan aan iets hoërs,
En dit is ’n eensaam iets, dié bind,
Dié probeer bind.

"Nog jare later het Louw gesê: 'Dit het vir my volkome onverwags gekom op ’n tyd dat ek weer werklik moes twyfel daaraan of ek iets binne my volk bereik of kan bereik. Daar was ’n tyd […] dat daar eintlik ’n kwaai veldtog was om te spot met die literatuur van ons groep en bowenal met myne, om dit te beskuldig van gewilde duisterheid, van ’n poging om die volk te mislei en te bedreig en ’n beskuldiging dat dit onnasionaal is, ensovoorts, en daar was oomblikke dat ek byna wou weghardloop.'"

FRIEDA: Maar in Pluimsaad vra Grootvader Visser uitdruklik" “Hoe lank gaan jy aanhou? Tot watter uiterste toe?”

Hoe verskil dié stuk van jou dokumentêre drama Groot, groter as … NP van Wyk Louw?

ALBERT: Beide kyk na Louw as mens, maar ek dink ons blik hier is meer indringend. Meer krities – ons wys die mens agter die held. Of die mens wat soms die held obscure.

In 1937 het Van Wyk Louw in ’n praatjie op Stellenbosch gesê: “Alles, maar ook alles, wat die moderne mens roer, wat sy vreugde of smart maak, moet in ons [Afrikaanse] literatuur sy neerslag kry. Ons mag nie meer terugdeins en sê: dit is te gekompliseerd vir ons eenvoudige beskawing, dit is te gewaagd of diepsinnig nie. Die Afrikaner is bloot moderne mens in ’n Afrikaanse omgewing.

Ek het vergeet wat ons gesê het, lief,
die tyd het oud geword -
en ek lê eenkant niemand praat
daar’s niemand nie - het stil geword.
Kind wat my nooit sal ken nie
nooit en nooit nie - stief grootgeword ...
Nooit weer in die krom van jou lyf
my lyf as ek slaap nie, o Abélard -
maar koud en vrugloos en alleen
in ’n huis in die wind
vroetel en nie vind nie...
ou hande in papiere papiere papiere
het kinds geword."

FRIEDA: Sheila skryf altyd net oor die pyn …

ERICA: Greshoff: "Maar ik voorzie de gevolgen hiervan in dit geval als tragisch, en als ik het goed zie, fataal, tot voor de poëzie toe, wat ook voor mij hierin uiterst zwaar weegt."

Louw het in die veertigerjare die gedig “Abélard” (Die halwe kring) geskryf en Cussons in die laat sestigs die gedig “Héloïse” (Plektrum).

Cussons se gedig (hier bo) met die titel “Héloïse” toon ooreenkomste met die Middeleeuse verhaal van Abélard en Héloïse. Abélard wat as leermeester optree vir die jong Héloïse wat later swanger raak. Van Wyk Louw het Cussons voortdurend aangemoedig en geprys as digter (“Jy kan die Lorca van Suid-Afrika word!” en “Jy kan ons Emily Dickinson wees”). Na sy swanger raak en ’n beplande huwelik tussen haar en Abélard misluk, vlug Héloïse na ’n klooster, word ’n non en sweer enige verdere romantiese verbintenisse af. Tot haar dood woon Cussons vir ongeveer tien jaar in die Katolieke inrigting Nazareth House in Vredehoek; en bid daagliks al die sogenaamde dekades van die rosekrans af. Was dit ’n manier om die herinnering aan ’n minnaar ‘lewend’ te hou of was sy bloot diep religieus?

Petra Muller, skrywer en vriendin van Sheila Cussons, sê in ’n hoorbeeld vir radio dat Cussons en Van Wyk Louw se ooreenkoms om tot die Katolieke geloof oor te gaan, moontlik kon gespruit het uit die gedagtewêreld van Abélard en Héloïse waarin hulle hul baie verdiep het. “Van Wyk Louw kon nie die brug oor nie, maar Cussons het Katoliek geword. En met volle oorgawe.”

En na sy die Katolieke geloof aangeneem het, skryf Cussons die gedig “Die sagte sprong”:

Dit kom wanneer dit nie verwag
word nie: ’n aanraking van die verstand
lig soos ’n veer, vlugtig maar presies
en jy dink as sy ligtheid so is, so potent
dat die aandag nog lank daarna
die indruk behou, hoe moet sy vasvat wees?
:  Dit kom wanneer dit nie verwag
word nie: iets wat die bewussyn tot
in die lewe tref, iets soos ’n sagte sprong -
vreugde, verbasing, vreugde, herkenning:
hoe moet u vasvat wees?

Waarom dink jy kon Van Wyk Louw nie van geloofsoortuiging verander nie, ten spyte van sy groot liefde vir Cussons?

ALBERT: Wyk het ’n obskure verhouding met godsdiens gehad, ’n verhouding wat moontlik vroeg beïnvloed was deur karakters soos oom Appie Slagkraal, die dorpsateïs-godloënaar, en oom Japie. Tinarie sê in die stuk: "Wyk het baie gewonder oor die oom, ’n kroegman, tussen al die boosheid so rustig lewe." In die oë van die kinders was die oom ’n held, ’n vrydenker en ’n ongelowige. Ek weet nie of hy ooit klarigheid oor enige geloofskwessies gekry het nie. Hy het wel die Nuwe Testament in Grieks bestudeer. Vroeër sou hy gesê het hoe hy mense beny wat gelukkig is omdat hulle glo in God terwyl hulle weet dat hy nie bestaan nie. Volgens Opperman het Louw beweer dat hy reeds vroeg die geloof afgesweer het. Die uitsprake het gelei tot ’n briewewisseling tussen Louw en Opperman, maar ons het nie daaraan geraak nie. Om die stuk te heg, was ’n wekelange sorteer taak en daarna - nou nog - ’n sny-en-wegsmyt-opdrag. Ons probeer raak aan alles, en staan stil by die aangrypendste of sensasionele.

"Ek ken my hart en weet hoe boos hy is” en “Van God durf ek skaars praat: ek ken Hom min” is die enigste twee sonnette wat behoue gebly het van ’n reeks beplande sonnette waarin sy denke oor die taak van die digter en sy kunsopvatting tot neerslag sou kom en is opgedra aan Gladstone en Totius.

Jaap Steyn verwys na Louw se laaste gepubliseerde gedig in sy biografie Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal onder die hofie “Aanvaarding van Christus … of nie?”:

“Leeglêers” was in gedrukte vorm die eerste keer in ’n portefeulje van grafiese werke deur Bettie Cilliers-Barnard.

Sy het in die tweede helfte van die sestigerjare ’n lang tyd skilderye gemaak waarin die sirkel ’n simbool was, en daarby het later gekruiste lyne bygekom – wat naderhand ontwikkel het tot ’n kruis. Toe sy die portefeulje van grafiese werke beplan het, het sy met haar eie hand in die pasta geskryf – dít, en ook die kruissimbool, het ’n verband gelê met die handelinge in “Beeld van ’n jeug: duif en perd”:

My vingers teken
Romeinse swaard en Astek-pyl en Kruis
in ligte strepe. Dan vee my hand
dit ligweg uit die warm gruis
en weier om te kies.

Vir Van Rensburg is “Leeglêers” die laaste in ’n reeks kruisgedigte in Louw se werk; die ander is “Ecce homo” in Die halwe kring en “Beeld van ’n jeug: duif en perd” in Nuwe verse. Die vereenselwing in “Ecce homo” is ’n vereenselwing met Christus-sonder-God, en die weiering om te kies in “Beeld van ’n jeug” is dié van ’n jong seun van die gedig, nie van die ouer man wat aan daardie jeug terugdink nie. Teen die tyd van die skryf van die gedig het hy reeds ’n keuse gedoen wat vir verdere groei voorsiening maak. ’n Mens sou wel die vraag kon stel waarom Louw van gestaltes, “objective correlatives” gebruik gemaak het vir sy oortuigings, en nie direkte uitsegging nie. Maar op dié wyse het Louw ook sy oortuiginge oor sake soos die nasionalisme gestel. Hy het sy gestaltes vir hom laat praat; juis die feit dat so baie gestaltes in Louw se werk deur ’n Christelike gees gedra word, gee ’n mens volgens Van Rensburg die reg om tot die slotsom te kom dat so ’n obsederende preokkupasie met gestaltes nie anders kan as om ’n persoonlike oortuiging te verraai nie.

Louw se herontdekking van die godsdiens en geloof is ’n problematiese aangeleentheid. Dit is nie verwonderlik nie dat daar daaroor verskillende opvattings bestaan.

Reinet sê dat Louw nooit werklik ongodsdienstig, nooit werklik ’n ateïs was nie. Dit was ook sy standpunt dat die hele Westerse beskawing – die skilderkuns, die literatuur, die argitektuur – op die Christendom rus, en dat mens daarvan moet kennis neem. “Hy het nie geglo Christus is god nie, maar het wel in God geglo. Sy idee van die skepping was volgens die oerknal- (big bang-) teorie ’n godheid wat ’n ertjie in die niet skiet, ’n ertjie wat steeds groter en groter groei tot dit die heelal vorm.”

Truida wys daarop dat dit opvallend is dat Louw betreklik min oor Christus gepraat of geskryf het – byna altyd oor “God”. Sy noem dit om haar oortuiging te staaf dat God eintlik ’n belangriker rol in Louw se lewe gespeel het as Christus. As teenargument het Peter dikwels teenoor haar die “Feesgedig” genoem, waar dit wel pertinent oor Christus gaan. Haar antwoord was dat dit ’n geleentheidsvers is, wat in opdrag geskryf is. Peter sê verder: “Bewondering en die grootste respek vir die ‘bruin Jodeseun’, ja, dié het hy altyd volgens my ma vir Christus gehad; maar Christus was nie vir hom ’n objek van aanbidding nie – in sy latere jare wel ’n objek van bespiegeling.”

Dit is Truida se mening dat, indien Louw aan die einde van sy lewe die Christendom genader het, soos ander kenners ook meen, dit sekerlik nie ’n dogmatiese Christelikheid was nie. Sy ontken dat Louw geglo het dat Christus werklik ná drie dae uit die dode opgestaan het.

Dit kan wees, sê Peter, dat Louw met sy enorme denkkrag en rypheid, behoefte gehad het aan ’n god wat meer gees was en minder mens, aan ’n god sonder die mens-gesig van Christus. Dit kan ook saamhang met Louw se effense onderliggende afkerigheid van mense in die algemeen. “Hy het miskien behoefte gehad aan Iets wat glad nie naby aan mens-wees kom nie; want ‘die mens is ’n walg’, soos dit aan die einde van ‘Groot ode” staan.

Hy skryf verder: “Christus sê: en alleen Hy durf dit sê: ‘Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe’”. Die “Bose-binne-die-godsdienstige-lewe”, skryf Louw, ontstaan daar “waar mense wil voorgee dat hulle die weg, die waarheid en die lewe is.

Hy het baie oor die dood geskryf (“Ballade van die bose”). In sy “Aanraking van die Dood” sê hy: 'groot liefde was in my, en mededoë, en wete van die duist're in ons hart, want alles was deurweek van sterflikheid.’ ’n Seker bewustheid van (die mens se) verganklikheid. Al dié verse is geskryf in die laat dertigerjare in Van Wyk Louw se "ongelowige periode".

In sy eerste bundel stel Van Wyk Louw die skoonheidsontroering en doodsvrees direk en vlot in die gedig “En as ek dood is, sal alles nog so mooi wees? …”

Tog was hy net vir een ding bang (volgens Truida): vir verlammende siektes wat ’n mens hulpeloos laat. Hy het nooit enige vrees getoon nie. “Dit was nie ’n soort macho-dapperheid nie, eenvoudig net ’n gebrek aan vrees – behalwe dan die metafisiese vrese wat in sy werk weerspieël word.

Sy eerste grype na verlossing van sy vrees vir die dood is waarskynlik die borspyne wat hom so gekastei het.

Louw se dogter Ria sterf in 1964 aan hartversaking as gevolg van kroniese bronchitis, dieselfde “smorende siekte” waaraan Louw later sou beswyk. Haar dood was vir hom ’n geweldige skok.

Sy wange was nat van die trane, maar om die mond was daar ’n trek wat ek geken het, dié van volkome aanvaarding en berusting. Dit was daardie teenstrydige kombinasie van onkeerbare hartseer en totale berusting wat my diep getref het. Is daar iets soos grootse emosie? Indien wel, dan het ons dit daardie dag waargeneem.

Louw het "Asterion", wat in 1965 verskyn het, opgedra “aan die nagedagtenis van Maria Johanna ('Ria') Muller, gebore Louw, 1 Januarie 1932 – 21 April 1964”, en met dié motto: “Slaan vir my ’n masker, vader,/ vir ’n smal gesig.”

Later, aan huis by ’n oud-student sou hy gesê het, "dit was vir my dogtertjie", en die blink in sy oë weggevee.

Die dood van sy broer Bis was nóg ’n skok. ’n Gedig waarin hy sy broer se dood gedenk, het die eerste keer verskyn onder die titel “In Memoriam B.”:

My angs het ook geen sin;
van geen belang
dat ek dit andere in
die ore hang.
dié angs kom nogal voor
op hierdie kerf,
en sal wel ook tot niet wees
ná die sterf.

Op 14 Julie 1945 skryf hy in ’n brief: “As ek ooit skielik sou dood gaan, dan dié [brief?] vir Truida en haar baba. Vir Koekie, Nakkie, my ouers, my broers en al die vriende wat die afgelope jare vir my so mooi gemaak het. Ek sou my liefde vir julle êrens wou agterlaat, want die liefde wat ek van julle gekry het, was die beste van alles wat ek gehad het."


Wat was Louw se laaste (geskrewe) woorde voor hy dood is? Was dit in briefvorm, ’n gedig of dalk nota? Die Afrikaanse Baptiste Kerk beweer dit is in die vorm van ’n (aangrypende) gebed en is die oggend ná hy in sy slaap oorlede is, langs sy bed gevind.

Steyn verwys in-diepte na die “gebedsfragment” in Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal”, hoe hy "voortgeskryf het aan ’n stuk waarmee hy ’n paar dae vroeër begin het", waarskynlik op 17 Junie voltooi het en waarvan ’n gedeelte hier verskyn:

As ’n mens ’n meisie of ’n man liefhet, is die geliefde byna geen oomblik uit jou gedagte: as jy wakker word, is die gedagte met vreugde by jou; elke uur van die dag is dit volop by jou; en waar jy kán, soek jy die beminde, gaan jy na die beminde. Maar ek het vandag nooit na U gesoek nie, nooit na U gegaan nie.

Liefde wat die verstand te bowe gaan. Later sou dit blyk ook op ’n religieuse manier … dood. In sy “Groot Ode” skryf hy:

Ons weet nie ons weet nie
hoe vêr die liefde lê nie
die wat sê weet nie
en die wat weet sê nie.

ERICA: En in sy eie woorde skryf hy: “verse soos nooit voorheen in ons eie taal, woorde met ’n wonderlike samehang, beelde soos vonke uit vuurklip geslaan, maar bowenal: ’n innerlike, stil musiek wat dring, soos deur ’n mens se are self die bloed …”

Figureer die getroue maar ongelukkige vroue ook in die kabaret? Vroue soos Truida vir wie dit ook nie maklik kon wees in ’n ander land en met ’n man wat mettertyd ’n ander liefkry nie?

ALBERT: Ons belig die wyse waarop Truida, of Bokkie soos hy haar genoem het, die trauma, die lewe ná Van Wyk Louw en dié van haar kinders hanteer het. Ook Cussons se verwarring kry nuwe betekenis in een van Frieda se roerende toonsettings.

FRIEDA: Maar okay, Truida hanteer die trauma met grasie. Sy kan eers Desember weer terug, maar sy reis, keer terug na Suid-Afrika, keer weer terug na Louw in Nederland, net om te hoor hy het weer ’n date aan met Sheila; sy kry ’n aanstelling by die SAUK, as radioregisseur, teen die topsalaris – ongehoord vir daai dae, maar sy bly by Louw in Nederland.

In waansin het’k gevra, o God
Vir my die vrede van die ster,
Om bo die berge stil te woon,
Die wêreld onder dof en ver.

Truida skryf op 17 April 1958: “Weet jy, as ek die dag doodgaan, het ek net een hoop: dat jy nie by sal wees nie”, waarop Van Wyk Louw antwoord: “Ons twee sal niks meer met of vir mekaar kan doen nie: alleen God.”

Louw se egskeiding het tot ’n tydelike breuk gelei tussen hom en WEG:

My vader het trane gestort oor jou en jou twee kindertjies; maar ook oor jou vrou, skielik eensaam en gebreek. (Uit “Naggesprek”)

“Dat die liefde so tot haat kon skif” …

TINARIE: Opperman:  "Let op: Ek voel tussen al die smart deur dat jy en Sheila nog die meeste geluk ken ... en daarom sal julle moet gewillig wees om ook die meeste smart te verduur. Op die oomblik lyk dit of Stoffel en Truida uitsluitlik die smart ken."

ERICA: Terwyl Louw en Opperman so broederlik praat, draai Greshoff nie doekies om nie: "Deze keuze wordt belast met het vernietigen van een eenmaal gedane levenskeuze en het geluk belast met teveel ongeluk van anderen."

TINARIE: Opperman: "Dit lyk vir my jy sal tussen Sheila en Truida moet kies. En daar sal jy jouself moet ken, soos seker nog nooit tevore nie."

Sy sal nooit kom nie. Moenie luister.
Moenie wag. Moet niks verwag nie.
Leer die verwagting af. Leer die wág af.
Leer áf om te luister. Leer af.

FRIEDA: ’n Man se liefde is harder, en somtyds nors en selfsugtig; maar die vrou s'n is sag, en opofferend.

ALBERT: Ek wou graag sy siening of beskouing van die liefde en die vrou vanuit ’n heel ander hoek, ’n heel ander tyd (-sfeer) belig. Die omstandighede was so anders tóé.

Audrey Blignaut sê destyds: “Man, en Van Wyk Louw kan mos nie so iets aanvang nie – hy is dan volksbesit!”

Vir Opperman skryf Louw in ’n brief van 21 Junie 1950 dat die lewe ’n soort chaos geword het:

Die professoraat: ’n pes waarby ek nooit naby moes gekom het nie, met die ewige amptelike glimlag en "rustig-wees"; die wêreldjie waarin ’n mens hier lewe: nog nooit het ek so sien inloer in elke kamer van jou lewe nie; die verbasing, as die mense in jou huis kom, om te merk dat jy in ’n aparte kamer slaap.

Waarom noem jy hulle "die meisies" en nie "vroue" of "minnaresse" nie? Jy verwys tog na Sheila Cussons, Ella, Truida Pohl en Joan Wessels. Die titel het allerlei sinspelings op plesiertjies, joviale tye, ongurigheid en selfs bordele?

ALBERT: Jy het dit raakgesien soos ek wou hê jy moes, en as iemand vir jou sê ek is op sensasie ingestel, vra hulle wat Van Wyk Louw een Kersfees in Europa Truida aangedoen het, pas na sy weer by hom aangesluit het. Die meisies was gretig vir "vroue" in die titel, maar dit was te statig vir my. Toe die Kunskafee-eienaar in die interim die titel Louw en die … meisies gebruik, het dit my as lekker cheap en sensasioneel opgeval. ’n Aanduiding dat alles om Louw nie pluis was nie ...
         
Etienne Britz sê: “Skrywers is mense met donker en ligte kante. Hul genialiteit en estetiese talent bied dikwels geen beskerming teen emosionele onewewigtigheid, obsessionaliteit, ideologiese ekstremisme in ’n bepaalde lewensfase, selfs sotlike of aanstootlike optrede nie.”

FRIEDA: Op 27 Februarie 1935 teken Louw die kontrak met HJ Otto van Nasionale Pers vir die bundel Alleenspraak. WEG Louw sê sy broer kan soms met één beeld, met een gedagte die woordlood laat afdaal tot in die geheimste en mees versweë dieptes van die gees.

“Ek het die aarde nie gesien nie”, “My venster is ’n blanke vlak” en “Gesprek van die dooie siele”. "Gesprek van die dooie siele" is vir Opperman (ook vir F.E.J. Malherbe) die hoogtepunt van die bundel. Opperman wys op ’n mate van ooreenkoms met “Colloque sentimentale” van Verlaine, wat Louw vir sy vroeëre Dramatiese lyriek en impressies vertaal het. Maar Opperman noem die gedig die eerste groot gedig wat Louw as Afrikaanse digter “met die groot digters van ander volke en tye laat saam praat”. Dit is die mees “sprekende” gedig in die bundel van ’n tipe wat Louw in bundel ná bundel sou skryf, naamlik gedigte wat die vorm van ’n gesprek aanneem.

Ernst Lindenberg skryf oor oor Steyn se biografie: “... die kwistige gebruik van aanhalings uit persoonlike briewe. Selfs die intiemste besonderhede - soms onbenullig - word aan die lig gebring. Meermale word dit myns insiens ’n skending van die betrokkene se privaatheid.”

Daar bestaan meer as 700 briewe wat deur Vincent van Gogh geskryf is, onder meer aan sy broer Theo en sy moeder. Van Gogh se hoogs persoonlike briewe word beskou as ’n groot biografiese en letterkundige werk en is ’n menslike getuienis sonder weerga. Sonder dié briewe sou ons veel minder van byvoorbeeld die skilder se emosionele gemoedstoestand begryp het.

Kannemeyer se boek bied ’n kykie in die boeiende innerlike wêreld van ’n digter, en soos in die geval van Van Gogh maak die briewe van die broers mense van vlees en bloed – “menslike persoonlikhede”, soos Britz dit stel – en toon hulle heelwat ooreenkomste tussen (die) skilder en digter. WEG publiseer op eie onkoste Die ryke dwaas (1934) en lê gereeld van Louw se gedigte voor aan kenners. Theo (as kunshandelaar) smous met Vincent se skilderye.

Ian Raper skryf dat verwysings na sy gedigte, as mens verwysings daarna kry, dikwels selektief voorgestel en aangehaal word. Jy hoor selde die ironie, afgrond en drif van “Die dye trek die dye aan”. Raka is vir skoolgebruik voorgeskryf, maar die seksuele beskrywings soos “skaamteloos groot/ die skaamte” is uitgehaal. Hoe gaan jy te werk om nie van selektiwiteit beskuldig te word nie? Ook vra die produksie om ’n sekere dinamika, veral wat die moeilike tegniek van vertelling betref.

ALBERT: Die aktrises in die stuk het ook seggenskap in die programsamestelling. Elkeen wil sy eie gevoel teenoor Louw inbou. Elkeen het sy idees oor hoe hy vroue ervaar en hoe hy teenoor hulle opgetree het, "maar ook in dié vroue self" soos Gerrit Brand skryf in sy resensie van 8 Desember. Dis ’n bonus. Soos (die) vrouens uit die oogpunt van die gehoor ’n bonus is. Ons probeer ’n balans van Louw die mens daarstel én op vermaaklike wyse. En is selektief hoofsaaklik weens die tyds- en vermaakaspek. Ons sien die gehoor as ewe belangrik as die teks. Ons probeer hulle nie opvoed of van ’n lesing bedien nie. Ons maak kabaretteater. Dus het ons die opspraakwekkendste dele van sy lewe vir die gehoor probeer berei op die opwindendste maniere moontlik. Sirkus-met-vertelling. Die hoogtepunte in die stuk is sekerlik sy affair met Sheila Cussons – ons gebruik benewens ander elemente, selfs ballet hier. Daar is die baie opwindende elemente uit sy jeug: die konfrontasie toe hy sy tweede vrou die hof gemaak het, onlangse beskuldigings dat hy ’n Nazi was, en natuurlik "Germanicus", ’n uittreksel opgevoer deur drie vroue, van wie twee in mansrolle.

NP Van Wyk Louw se dramas is deesdae eintlik onuitvoerbaar, grootliks as gevolg daarvan dat die sentrale gegewens daarin die totstandkoming van die Afrikanernasie regverdig, daar van teenstrydige argumente gebruik gemaak word en Van Wyk Louw ’n pragmatiese eerder as prinsipieel eties-morele standpunt inneem ten opsigte van die belang van nasiebou en volkwees. Hierdie skerp kritiek kom van die Vlaamse literator Luc Renders.

Hy sê in 2002 tydens ’n huldigingsrede Van Wyk Louw openbaar ’n "amper propagandistiese” ingesteldheid in sy dramas deurdat hulle doelbewuste pogings is om by te dra tot die proses van Afrikanervolkswording. “Die gebrek aan nuansering en kritiese afstandname waarmee die proses van volkswording bespreek word, maak hierdie dramas baie eensydig,” meen Renders. “’n Omvattender Suid-Afrikaanse en historiese invalshoek sou onvermydelik ’n ander kyk op volkswording genoodsaak het.”

Renders sê hy het op Louw se dramatiese tekste gefokus omdat hulle altyd minder aandag gekry het as sy poësie of sy essays. Die problematiek rondom Afrikanernasionalisme, so meen Renders, is uiteindelik die belangrikste element wat die verskillende dramas met mekaar verbind. “Van Wyk Louw het vanuit ’n eng Afrikanernasionalistiese raamwerk na die Suid-Afrikaanse werklikheid gekyk. Hy was ’n oortuigde verdediger van die belange van die Afrikanervolk. Vanuit die klem wat hy gelê het op die strewe na reg en geregtigheid, sou ’n mens kon verwag dat hy konsekwent ’n eties-morele standaard sou vooropgestel het, wat hy in elk geval nie in sy dramatiese tekste gedoen het nie.”

Dus meen Renders dat Louw se dramas hopeloos gedateer het en hul relevansie vir vandag “totaal” verloor het, ook in terme van huidige debatte rondom Afrikaans in die hedendaagse Suid-Afrika. Vir Renders word Van Wyk Louw se ingesteldheid bewys deur sy verontregte reaksie op die kritiek wat deur HF Verwoerd op sy drama Die pluimsaad waai ver uitgespreek is. Volgens Renders is die demitologisering van die optrede van die Boere in die Anglo-Boereoorlog in hierdie drama nie soseer ’n kritiek teen die nasionalistiese ideologie nie, maar eerder ’n poging om dit te bevestig en dit te versterk.

“Sy drama was bedoel as lojale ondersteuning: ’n onthou van die Anglo-Boereoorlog en ’n waarskuwing teen verdeeldheid,” meen Renders. Hy meen voorts dat Louw die Suid-Afrikaanse werklikheid ontvlug deur byvoorbeeld in Berei in die woestyn, ’n drama wat handel oor die verhouding tussen mens en grond, glad nie die verhouding tussen koloniseerders en gekoloniseerdes - ook ’n grondkwessie - ter sprake te bring nie. En met verwysing na Germanicus en Dagboek van ’n soldaat, dramas waarin die kwessie van politieke magsmisbruik onder meer aan die orde gestel word, vra Renders: “Is dit toevallig dat juis die dramatiese werke waarin die etiese problematiek die sterkste aan die orde is, juis nie in die Suid-Afrikaanse konteks ingebed is nie?”

Dit is vir Renders “haas onbegryplik” dat Van Wyk Louw nie ook die breër Suid-Afrikaanse samelewing en die Afrikaner se verhouding met en behandeling van die ander bevolkingsgroepe in sy dramas betrek het nie. “Dit lyk asof Van Wyk Louw se nasionalistiese simpatieë hom blind gemaak het vir die groter Suid-Afrikaanse realiteit,” meen Renders.

Ter verdediging skryf Jaap Steyn in Die Burger van 30 Desember 2002 soos volg (slegs enkele uittreksels):

Afrikanernasionaliste soos Van Wyk Louw het in die eerste helfte van die twintigste eeu veral gewerk vir die erkenning van Afrikaans as amptelike taal, die uitoefening van taalregte en die opbou van Afrikaans tot ’n volwaardige kultuurtaal. Hul teenstanders het dié strewe reeds toe “eng” gevind - eng, omdat dié lastige Afrikaners nie die alleenheerskappy van Engels wou aanvaar nie.

Renders behoort as Vlaming tot ’n volk wat dekades lank ’n soortgelyke stryd in België gevoer het. Dat hy so min begrip vir die Afrikaanse nasionaliste het, en Louw dit as verwyt toereken dat hy uit daardie raamwerk na Suid-Afrika gekyk het, is verstommend.

Renders wou hê dat Louw in Die pluimsaad waai ver hierdie nasionalisme kritiseer - dít het Louw nie gedoen nie. Hy het dit volgens Renders eerder probeer bevestig en versterk.

Sy drama was bedoel as “lojale ondersteuning” van die Boere, sê Renders. Dít bedoel hy natuurlik nie as kompliment nie, maar as aanklag. Louw sou seker genade in Renders se oë gevind het as hy as pleitbesorger van die hendsoppers en joiners opgetree het. Wat anders bedoel hy eintlik? In werklikheid is Louw baie billik teenoor die joiners, en beeld joiner-figure met begrip uit. Grootvader Visser beklee hy selfs met wat hy elders noem “die wysheid van die redelikes”.

Maar Louw laat een van die joiners ook iets sê wat die groot kenmerk van joinerskap was (behalwe dat die joiners ook militêr teen hul eie mense geveg het): “Ons kan ook deel van die Engelse volk wees.” Louw het hom verset teen taalassimilasie met die Engelse gemeenskap. Hierdie verset kan ek nie as sonde beskou nie en ek moet my afvra of Renders dit ’n Vlaamse skrywer sal kwalik neem as hy hom verset teen die opgaan van Vlaminge in ’n groot Franse taalgemeenskap. Louw pleit in die drama vir ’n ruime nasionalisme. Hy reken tot die Vrystaatse nasie nie net die gebore Afrikaners nie, maar ook Engelse, Hollanders en mense van kleur wat hulle met die republikeinse Afrikaners vereenselwig.

Val dit hom nie op dat ’n bruin man, Ruiter, een van die helde is nie? Dis werklik vreemd om te hoor dat Louw ’n “enge” nasionalis was terwyl hy wit en bruin Afrikaanstaliges nader na mekaar wou bring, en terwyl hy, soos ander Afrikanernasionaliste, gepleit het vir regte vir die tale van swart mense, wat onder 'n Afrikaans-nasionale bewind eers gekom het. Ondanks sy “engheid” het Louw al in die jare dertig ernstig aan maniere gedink om aan die oorheersing van swart mense deur wittes te ontkom. Hy was voorstander van ’n federasie van Suid-Afrikaanse state. Dit was in ’n tyd toe koloniale moondhede soos België nog salig aan hul kolonies soos die Belgiese Kongo vasgeklou het.

Renders besef duidelik nie hoe gevaarlik dit vir Afrikaans sou gewees het as groot skrywers hulle teen die taal en sy mense gekeer het nie. Louw maak ’n onderskeid tussen sterk, onbedreigde taalgroepe en die klein, bedreigdes soos die Afrikaanse gemeenskap. As baie Duitsers sou twyfel of daar ’n Duitse volk moet bestaan, sal die Duitse volk nog voortbestaan. As baie Afrikaanstaliges twyfel, sal die Afrikaanse volk net so “onherroeplik versand” as wanneer dit op ander wyses ondergaan.

Ons geluk as volk lê miskien bloot daarin dat ons nog nooit ’n duisend "kultuurmense" in Suid-Afrika teen ons gehad het nie. Dis maklik om vanuit ’n veilige taalgemeenskap kritiek te lewer op ’n skrywer van ’n bedreigde groep omdat hy die verset teen volks- en taalselfmoord probeer versterk het. Nog makliker is dit om denkers van die verlede te verdoem omdat hulle nie gedink het soos die mense van jou eie tyd nie. Sou hy hom wou aanmatig om oor die hede te oordeel vanuit die denkklimaat van sê maar 2050?

Carel Boshoff skryf in Die Vrye Afrikaan: “Feit is dat om Louw se prosa vandag te lees, steeds een van die salwendste ervarings is waaraan enige politiek bewuste Afrikaner hom/haar kan oorgee. Nie alleen was hy ’n fyn formuleerder nie, hy het ook ’n ruim beeld van wat vandag kultuurpolitiek genoem word, gehad en hom nie deur klein politieke oorwegings van stryk laat bring nie. Daarby toon sy werk geen teken van die self-minagting (of minstens geringskatting) wat sedert die afloop van apartheid deel van Afrikanerintellektuele se mondering geword het nie.

"Nuwe lesers getuig dikwels dat opstelle uit Lojale Verset of Liberale Nasionalisme lees asof dit nou en vir ons tyd geskryf is en wanneer ek my in die plesierige besonderhede van sy polemiese opstelle verlustig, kry ek dikwels weer die verleidelike gevoel dat daar ná Louw niks wesenlik oorgebly het om te sê nie."

En tog, buiten dat dit nie waar is nie, is dit vals om so ’n laaste woord aan Louw toe te dig. Dit is ’n valse denkbeeld wat in sy uiterste vorm van onverrekende nostalgie spreek, omdat die wêreld wat Louw vir ons oopgeskryf het, intussen weer toegegaan het en opnuut deur ons verower sal moet word as ons dit weer wil hê. So aantreklik as wat die politieke moraal wat Louw beskryf en beoefen het ook al mag wees, het die werklikhede en magsverhoudinge wat dit onderlê het, onomkeerbaar verbygegaan en aangesien hy geen politieke moralis was nie, sou dit ’n onreg wees om hom daartoe te beperk.

Met ander woorde, wat deur die populêre oordeel en ingevolge die heersende kodes van politieke korrektheid vandag by Louw as “tydloos” gereken sou word, laat nog geen reg aan sy werk geskied nie. Slegs die herowering van ’n Afrikaanse wêreld waarin Afrikaners ’n ryk en vol bestaan kan voer, kan sy hoogste prestasie waardig wees. Louw moet as’t ware vergeet word om onthou te kan word - maar daarmee loop ek die argument vooruit.

Maar wat dit elke keer weer die moeite werd maak om na Louw se prosa terug te keer, is dat hy in die oorgang tussen tydperke gewoon het en as uitnemende rolmodel vir Afrikaners wat hulle nou weer in oorgang bevind en ’n toekoms moet oopdink.

In soverre die huidige oorgang vir Afrikaners wat individuele assimilasie met die globale verbruikerselite weerstaan, ook nie uit ’n regressie of nostalgie na pre-moderne bestaansvorme bestaan nie, is Louw se pleidooie vir tradisie, selfstandigheid, praktiese geregtigheid en transendente skoonheid dinge waarsonder ons dit nie tegemoet kan gaan nie. Wanneer ons hom as twintigste-eeuse nasionalis vergeet, kan ons Louw as bepalende deel van ons tradisie onthou.

FRIEDA: Louw skryf al in 1949: "Waarom het ’n mens jou volk lief? Omdat jy dink hy is beter as ander volke? Omdat hy goed, edel, verstandig is? Nee, omdat jy sy ellende beter ken as dié van ander volke. Omdat jy aan jou lyf weet hoe sleg, hoe onedel, hoe dwaas hy is.

Daar is van baie vorme van waansin sprake in Germanicus: die waansin van oorlog, van die durende politieke magspel, van eensaamheid, van haat, van religie. Germanicus weier om van enige vorm van die waansin wat hom omring, deel te word. Hy wil skoon bly in die vuil en ook dít kan ’n vorm van waansin word soos wat Tiberius, naas Piso, Germanicus se belangrikste teenspeler, ook aan hom sê as hy vra om “bloot as mens” êrens in ’n uithoek van die ryk te gaan woon.

TINARIE: In die drama Germanicus is – volgens Louw self – die twee karakters hyself in verskillende stadia van sy lewe: Piso die jong, rebelse Louw wat wil oorgaan na aksie; Germanicus die wyser, besadigde, ouer man, wat nie met ongeregtigheid teenoor ander dit wat verkeerd is, wil oplos nie.

         GERMANICUS:

                  Ek was nie groot.
Hoe kan ’n held so iets van flou en bleek
Van hart wees soos ek voel.

Hoe kom jy verby sekere estetiese geaffekteerdhede in Louw se poësie?

ALBERT: Ons gebruik doelbewus min van sy poësie en nog minder van sy prosa, en wanneer die poësie ter sprake kom, is "realiteits"-verse ter sprake. Verse wat sy lewenswaarhede onderstreep en prioriteit geniet het in sy lewe: liefde, skoonheid, sy godsdiens en politiek, sy liefde vir sy land.

En oor die sogenaamde "uitvoerbaarheid" van sy dramas?

ALBERT: Ek ken Die Dieper Reg sleg, en ek het nog nooit rêrig groot ideale gekoester in terme van teater nie (behalwe oor die gehore wat ek wil bereik – Afrikaanssprekende swart mense in die Noord-Kaap; die bruin mense die land oor, Afrikaanse mense – waar hulle ook al is), maar as ek een ideaal het, is dit om Germanicus op te voer in ’n hedendaagse tydvak. Ek lees dat Louw self nie tevrede was met die stuk nie, dat die opvoerings daarvan nooit heeltemal tevrede gestel het nie, en sy seun, Peter, het in ’n gesprek met my so drie weke gelede aangedui hy glo nie dit sal werk nie. Maar ek het die uittreksel wat ons nou gebruik, geredigeer, en dis drie vroue wat die rolle speel, en dit brand. Ek is so geïnspireer dat ek oorweeg om self te speel, al regie ek self.

Van Wyk Louw het die Hertzogprys vyf keer ontvang en die vyf bekronings verteenwoordig drie genres in die letterkunde, naamlik liriek, drama en prosa. Die pryse was vir Alleenspraak (1937) en gedeel met ID du Plessis se Vreemde liefde en Ballades, Die halwe kring (1940), Germanicus (1960), Tristia (1965, wat as ’n soort tydsdokument beskou kan word van sy verhouding met Sheila), en vir kritiese prosa en essay: Die mens agter die boek, Maskers van die erns, Lojale verset en Berigte te velde.

En partykeer was daar nogal drama in ’n ander betekenis rondom sy pryse, byvoorbeeld oor die eerste Hertzogprys in 1937, wat hy geweier het. Jaap Steyn skryf hieroor in NP Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal:

Dié storm het te make gehad met twee van die vernaamste literêre gebeurtenisse van 1937: die verskyning van Die halwe kring en die toekenning van die Hertzogprys. Een van die ironieë in verband met Die halwe kring was dat dit met domme afwysing ontvang is in Die Burger, waarvan Louw die kulturele byblad tot stand help bring het, glad nie bespreek is deur die ander groot Nasionale dagblad, Die Volksblad, nie, maar verwelkom is in die koerante van sy politieke teenstanders, Die Suiderstem en Die Vaderland.

Die halwe kring het in November 1937 verskyn. Net soos Sy kom met die sekelmaan is dit vir die VVB pragtig uitgegee deur Nasionale Pers. Piet Cillié – later redakteur van Die Burger – was sedert 1 Desember 1935 aan Die Burger verbonde, en was in 1937, soos hy dit stel, “redaksionele sender van boeke aan resensente ('boekeredakteur' kan ’n mens dit nie noem nie)”. Onbekend met die literêre strominge (hy is in die natuurwetenskap opgelei) stuur Cillié Die halwe kring aan E.C. Pienaar. Die gevolge was rampspoedig.

Voor die verskyning van Pienaar se resensie het die letterkundige komitee van die Akademie (Pienaar, F.E.J. Malherbe en M.S.B. Kritzinger) ’n aantal bundels van die jonger digters vir die Hertzogprys oorweeg: Alleenspraak, Kentering van Uys Krige, Belydenis in die skemering van Elisabeth Eybers, en Stryd, Ballades en Vreemde liefde van I.D. du Plessis. Die komitee het “nie vrymoedigheid” gehad om een digter aan te wys nie, “want dit gaan nie om die beste van een digter bo die beste van ’n ander te stel nie, al sou daar sterk gronde aan te voer wees vir die bekronings van I.D. du Plessis se veelsydiger en gesamentlike werk, wat ons as sodanig nommer een plaas”. ’n Breë letterkundige kommissie het die aanbeveling gesteun: die Hertzogprys vir 1937 moes gaan aan I.D. du Plessis vir sy Vreemde liefde en Ballades. Die Akademieraad het op 29 Oktober 1937 die voorstel aanvaar. Die voorsitter van die Akademieraad, dr. E.G. Jansen, het egter agtergekom dat die prosedure wat vir die toekenning gevolg is, nie korrek is nie, en gevra dat die raad dit weer bespreek. Dit is op 22 November gedoen. Ná deeglike besprekings het die teenwoordige raadslede, dr. Jansen, mnr. I.M. Lombard, en proff. G. Dekker, T.J. Hugo en S.P. Engelbrecht, besluit dat die raad na aanleiding van nuwe gegewens die vorige besluit herroep en besluit dat die prys gelykop verdeel word tussen Du Plessis en Louw.

Die Akademieraad het die besluit op 3 Desember in die pers aangekondig en op 4 Desember het Louw ’n brief van drie kort paragrawe aan die Sekretaris van die Akademie geskryf waarin hy verklaar: “Uit die koerante verneem ek dat die Akademie besluit het om ’n deel van die Hertzogprys aan my toe te ken. Hiermee stel ek u in kennis dat ek dit nie aanneem nie.

"Die Akademie was weer magteloos om te besluit oor die sake waarin hy hom juis die reg van ’n beslissing toeëien.

“Aangesien die mededeling my deur die pers, en nie persoonlik bereik het nie, gee ek hierdie brief ook aan die pers.”

Die Akademie het aan Louw ’n “nader uiteensetting” gevra oor “die bedoeling van paragraaf twee” van sy brief. Ná die jaarvergadering waarop bekroonde werke aangekondig word, word ’n amptelike skrywe aan die betrokke skrywers gerig; “in die verlede het sulke skrywers nog altyd gewag totdat die Raad die prys aanbied, alvorens hulle hul mening in verband daarmee uitspreek”. Louw het dié brief nie ’n antwoord werd geag nie.

Op 7 Desember het Die Burger Louw se brief van 4 Desember gepubliseer. Op 11 Desember antwoord twee lede van die letterkundige keurkomitee, proff. Pienaar en Malherbe, op Louw se “teatrale gebaar”, soos hulle dit noem. Volgens hulle is Louw gekrenk omdat hy deur die pers van die Akademiebesluit moes verneem en omdat net ’n deel van die prys aan hom toegeken is.

Die professore sê dat die Akademie kragtens wetgewing die bevoegdheid het om te doen wat aan hom opgedra is en gee ’n motivering vir hul besluit om nie “een digter uit te sonder en vir bekronings aan te wys nie”, al sou daar sterk gronde aan te voer wees vir die bekronings van I.D. du Plessis se veelsydiger en gesamentlike werk, wat ons as sodanig nommer een plaas”.

Die Burger het die twee professore se verklaring aan Louw voorgelê, wat aan die koerant gesê het: “’n Antwoord op die skrywe lyk oorbodig. Die seniel-histeriese toon daarvan wys vir die publiek (wat met die persoonlike verhoudings minder bekend is) die gesindheid van lede van die keurkomitee teenoor my. Daarom laat ek dit met des te meer gerustheid aan die toekoms om ’n oordeel insake die betrokke werke en beoordelaars self te vel.”

Die mens is ’n walg
en hy haat die teken.
of sku dit, negeer dit.

’n voël roep in die nag in:
nie nagtegaal maar onrus,
uitskreeu na ánders as hy is;
- heiligheid en volledigheid -
ander name die sluimer nog. (Uit “Groot Ode”)

En dan was daar Louw se duidelike idees oor Afrikaans. Van Wyk Louw se definisie vir Afrikaans word goed verwoord wanneer hy sê: “Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit dié twee bronne; dit vorm ’n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika – die soms nog so ónhelder Afrika; hulle is albei groot magte, en wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dít is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.”

Dan Roodt se reaksie hierop is dat ons nog gaan verlang na Koki, na die afwesigheid van ’n brugtaal soos Afrikaans wat gaan verdwyn weens verskeie faktore: globalisering, ’n kontrarewolusie en verengelsing:

Oksitaans met sy bykans twee miljoen sprekers is vandag ’n bedreigde taal; sommige mense reken dat daar nog net 500 000 mense oor is wat dit kan praat en hulle is meesal ouer ... Die Franse staat weier ook om die taal in staatskole toe te laat. Maar die grootste probleem van almal is dat hierdie prestigeryke taal wat al in die Middeleeue ’n letterkunde gehad het, vandag as “’n taal met lae status” gereken word. Soos dit vir my lyk, is die belangrikste element in enige taalstryd en ook dit wat die voortbestaan van die taal bepaal, sy status as kultuurtaal.

As ’n taal dit eers bereik het en kan handhaaf, gaan hy moeilik onder. As ’n mens so na die lys van tale ter wêreld kyk, dan besef jy hoe min werklike kultuurtale met ’n eie letterkunde, tegniese terminologie, ens. daar eintlik onder die 5 500 lewende tale onderskei kan word.

Teenoor die arme Oksitaans wat nie eens in ’n skool as medium gebruik word nie, staan Afrikaans met sy skole, sy universiteite (ook oorsese universiteite waar dit as vak bestudeer word), sy Akademie, sy standaardtaal, sy letterkunde, literatuurgeskiedenisse, media, populêre musiek, plekname, noem maar op.

My vraag is: besef ons aldag hoe merkwaardig die prestasie van ons voorouers was om so iets reg te kry - téén die verwagting in?

In vandag se (nuwe) aktualiteit, voel jy dat jy ’n buitengewone rol het om te speel?

ALBERT: Daar is nie ’n platform waarop my temas belig word nie. Ek werk te veel in ’n vacuum en is baie na aan uitdraai. Ek spandeer elke jaar duisende rande van my eie geld om plays te finansier en verloor gereeld geld op hierdie pogings. En die rede hoekom ek dit van nou af sommer sal sê, is dat soveel mense wat dit uit hulle gatsak kan haal, dit nie doen nie. Daar is darem die feeste wat ’n platform skep en ons het verlede jaar goedgunstiglik ’n borg van Sanlam gekry; maar buiten dit is jy op jou eie, al is jou ideale hoe edel. Die regering befonds nie eens swart of bruin stukke nie. Hulle het bloot nie die tegniese en administratiewe onderbou nie. En as jy sê dis onwaar, dan is hulle nonprestasie ’n veel erger aanklag. Ek voel baie sterk dat ’n samelewing nie van sy kunstenaars bedelaars moet maak nie en dat die media debatvoering oor die kunste moet toelaat en aanmoedig. Kader Asmal, bring terug die 11 000 onderwyseresse wat jy pakket gegee het. Bring terug daai geld en sê hoe jy om verskoning gaan vra. Party sloof hulle af en die genoegdoening is bloot ’n geestelike een, die verliese hulle eie. En die mense wat in posisies is om die werk te doen, om kultuur onder alle rasse te bevorder, kan nie of wil nie of weet nie hoe nie. Laat ons dit ooppraat. En elke ou wat sy plig versuim, laat boet deur die regte kanale.

In 1958 het die Nederlandse komponis Henk Badings ’n radiofoniese opera in Suid-Afrika kom aanbied, geskoei op ’n libretto van NP van Wyk Louw. Asterion is die verhaal van ’n jong magiër wat alle beweging en lewe gestol het in rein en suiwer vorm. Water het ophou vloei, en tyd ook. Uiteindelik moes hy sterf sodat (sterflike) lewe herstel kon word.
Die Burger skryf op 19 Junie 1970, ’n dag na sy dood: “NP Van Wyk Louw se nalatenskap is onsterflik."

God & dan kom daar so ’n onsegbare trots in my hart. Dat ons ook van dáárdie mense is, dat ons vry & bo die bourgeoisie staan, dat ek ook sulke dinge kan maak. Vir jou kan ek sê hoe daardie trots my bestaansreg is. God weet daar is genoeg dae wat ek wanhopig is wanneer ek my verse vergelyk met wat ek graag wil doen, die ideaal van die volkome mooi & hartstogtelike gedig. Maar wanneer ek dan weer ’n dag swaargekry het soos in die dae wat nou verby is, dan kom die heerlike gevoel in my dat ek daar bokant & buitekant hulle uitgebreek het & dinge gesê het wat jong mense & mense wat ek liefhet honderde jare later net so met trane sal kan lees; dat al wat wesenlik in my lewe & in my liefde was, onsterflik onaantasbaar geword het. – NP van Wyk Louw.

 

Aantekeninge

’n Besondere woord van dank aan prof JC Steyn vir sy hulp (en geduld) met die saamstel van dié onderhoud.

Etienne Britz doseer Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.

Ernst Lindenberg is ’n resensent.

Jaap Steyn is ’n skrywer, kultuurhistorikus en vryskut-kommentator.
 
Skakels

Jaap Steyn se gesprek met Deborah Steinmair oor sy boek Die honderd jaar van M.E.R.: http://www.oulitnet.co.za/heupvuur/jaapsteyn.asp

Jaap Steyn se artikel vir Die Vrye Afrikaan:
http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=610

Foto-erkennings
Swart-en-wit foto's afkomstig uit die NP van Wyk Louw Versameling in die Dokumentesentrum, JS Gericke Biblioteek, Universiteit van Stellenbosch en die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein

Deelnemers aan die onderhoud
Erica Wessels en Tinarie van Wyk Loots was vroeër vanjaar te sien in die kykNet reeks Orion en Amadeus (Baxter teater). Vir haar spel in Jesus Hopped the ‘A’ Train het Wessels vanjaar die Fleur du Cap-prys gekry as beste ondersteunende speler. Frieda Van den Heever was te sien in Aswoestertjie en Moegoeman.

Albert Maritz is akteur, regisseur, oudjoernalis, radio-omroeper, oudonderwyser en kampvegter (as jy wil) van die kunste en behartig tans die regie van die produksies NP van Wyk Louw en die Meisies (die Kunskafee) en Pottie Potgieter met Frank Opperman (Oude Libertas). Maritz is te sien as dominee Bloemfontein in die heruitsending van Arende (kykNet); en Ondersoek na ’n verdwyning - die "opvolg" tot Orion – is pas vir kykNet voltooi.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top