Jagseisoen neem die leser op ’n leeservaring wat jou gaan laat naelsbyt van spanning

  • 0

Klik en koop!Jagseisoen
François Bloemhof
ISBN: 9780799340136
Uitgewer: Lapa
Sagteband
Kategorie: Spanningsverhaal
Handelsprys: R110,00


Vandat ek sy eerste boek, Die nag het net een oog, jare gelede gelees het, is dit vir my nog altyd lekker om ’n nuwe François Bloemhof-boek op die rak te sien. Jy kan sy boeke met ’n sekere verwagting oopmaak en wegraak in sy karakters se donker wêrelde terwyl jy veilig in jou gemakstoel agteroor sit.

Jagseisoen is François se jongste boek, en die tweede waarin Alma van der Pool haar speurvernuf toon. Die eerste was Spinnerak.

Die verhaal begin sommer op ’n spannende noot: Quentin Marnitz, op die rand van sewentien, word ontvoer die nag toe hy, gatvol vir sy ouers, die pad vat strate toe. Gou kom die leser agter dat die Marnitze ’n geraamte in die kas het. Quentin se pa, Jaap, die kerkskriba, het iets onbesonne aangevang. Maar is dit die rede vir die ontvoering?

Alma van der Pool moet haar noodgedwonge voordoen as ’n leerkrag by Durbell Hoër, want een van die skool se onderwysers word verdink. Die intrige raak nog ingewikkelder wanneer dit blyk dat nog ’n leerder, Michelle Cloete, ook op soortgelyke wyse ontvoer is. Haar ouers het egter die ontvoerder se bevele gehoorsaam en die polisie uit die saak gehou. Hulle het die geld oorhandig en hul dogter veilig teruggekry. Maar gaan die Marnitze so gelukkig wees?

Jagseisoen is slim geskryf en gee nie net ’n eendimensionele blik op ’n speurder se wêreld nie. Alma se deurmekaar privaatlewe word ook betrek by die verhaal. Sy moet haar paraplegiese pa tydelik versorg, haar tienerdogter, Nicola, ruk hand uit, en die aan-af verhouding met haar eksman wil net nie vlot nie. Besef haar pa, Tobie, waardeur sy dogter gaan? Hy was immers ook ’n polisieman, totdat ’n koeël sy loopbaan beëindig het. Vanuit sy rolstoel hou hy Alma en Nicola dop. Hoe ver sal hy gaan om hulle te beskerm?

Asof dit nie genoeg is nie, veg Alma teen haar eie demone. Sy twyfel aan haar eie vermoëns as speurder. Maar sy besef: “As jy ’n speurder word, is dit soos trou, for better or for worse. Sy kan nie hiér ook skei nie.”

Sy probeer haar lewe balanseer, agtermekaar kry – so netjies soos haar lessenaar in die polisiekantoor. As enkelma is dit egter moeilik. Veral as jy geheime van jou eie het.

Jagseisoen neem die leser op ’n leeservaring wat jou gaan laat naelsbyt van spanning. Dit is geskryf in die klassieke wie-het-dit-gedoen-styl wat skrywers soos Agatha Christie vervolmaak het. En met hierdie verhaal gaan jy raai tot aan die einde – daarvoor sal die talle, soms vreemde, karakters sorg. Daar is ’n goeie skoot draaie in die verhaal, ook ’n paar gebeure wat jou van die spoor af probeer bring, soos mens in hierdie genre kan verwag.

Om die leser ’n blaaskans te gee het die boek ook onverwagse oomblikke met onderspeelde humor, soos wanneer een seun ’n ander slegsê omdat hy spoeg. Nie omdat hy dink dit is walglik nie, maar omdat dit eerste sý beurt was!

Jagseisoen bevestig weer eens dat Bloemhof weet hoe mense se koppe werk. Ja, selfs daardie verbode gedagtes wat mense soms koester en wat hulle handelinge bepaal. Hy laat jou toe om behoorlik in Alma en die ander karakters s’n te klim. Jy kry ook af en toe ’n vinnige blik op gebeure deur die ontvoerder se oë, maar net genoeg om jou net nóg nuuskieriger te maak.

Die skrywer moes ’n goeie skoot navorsing gedoen het vir Jagseisoen. Dit blyk duidelik uit die beskrywing van polisieprosedures wat gevolg word. Die geloofwaardigheid van die verhaal word sodoende ’n kerf opgeskuif en sal lesers laat hoop dat hulle nie in soortgelyke situasies vasgevang word nie.

Die spanning in Jagseisoen bou geleidelik op soos meer en meer geheime ontbloot word. Teen die einde sal jy asem ophou en die laaste honderd bladsye moeiteloos laat verbysnel. Soos verwag, sal die verrassende ontknoping nie teleurstel nie. Met presisie word die laaste drade saamgeknoop. Maar dit sal seker weer uitrafel wanneer speurder Van der Pool andermaal haar verskyning in ’n volgende boek maak.

Jagseisoen is nie ’n diep boek met verskuilde temas of simboliese betekenisse nie. Dit is net ’n blote lekkerlees-boek vir dié van ons wat vir ’n paar uur wil ontsnap uit ons eie werklikheid. En omdat dit geskryf is deur een van ons voortreflike spanningskrywers, maak dit die lees daarvan deur en deur die moeite werd.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top