Elita en haar lewe met FW de Klerk voor die voet aanbeveel

  • 0

Martie Retief Meiring
Tafelberg
ISBN: 9780624044239 (A)
9780624043560 (E)

 

 

Dit was genoeg om enige rasegte Afrikaner in jou rooibostee te laat stik: dié Afrikaner, ’n “Dopper” met Afrikanerwortels wat terugstrek tot by die Hugenote, ’n geleerde en gesiene man – hy was staatspresident, verdomp! – gaan van sy ewe stoere Afrikanervrou skei.

Dis nie al nie: Daar is ’n “ander vrou”, getroud met een van sy beste vriende. En sy is ’n uitlander, ’n Griek. A nee a!

Toe die nuus van FW de Klerk se egskeiding en sy verhouding met Elita Lanaras die media bereik, is die “storie” met groot belangstelling gevolg en is daarop hardop gewonder: Wie is dié Elita buitendien?
         
Martie Retief Meiring het ’n boek geskryf om hierdie vraag te probeer beantwoord. Sy gaan haal haar storie by Elita se voorsate en trek dit deur tot waar Elita en FW de Klerk vandag rustig teen die hang van Leeukop woon.
         
Ons leer Elita ken as ’n eiewys dogtertjie. Op negentien trou sy met ’n skeepsmagnaat, Tony Georgiadis, en ontluik in ’n effens bygelowige, intelligente, belese en berese vrou met goeie smaak en ’n wye kennis, veral wat kuns betref. Natuurlik fokus die grootste deel van die boek op Elita, nou reeds in haar vyftigs, se ontluikende liefdesverhouding met FW de Klerk. Hulle kon nie langer hul gevoel teenoor mekaar ontken nie, maar albei was getroud. Om te skei was buite die kwessie. Albei was steeds lojaal aan hul onderskeie lewensmaats en daar was ander struikelblokke: geld, die reaksie van hul families en vriende en kerkgemeenskappe, die openbare mening.
         
Maar die liefde laat hom nie keer nie …
         
Danielle Steel sou dit nie beter kon doen nie. Dié storie lees vlot en is besonder boeiend. Twee gefrustreerde huwelike, ’n man en vrou wat aanvaar hulle hoort saam, maar wat deur omstandighede daarvan weerhou word om mekaar finaal te “vind” – en boonop speel die sage hom af teen die glansryke agtergrond van die sakewêreld en die wêreldpolitiek. Die vrou van ’n skatryk skeepsmagnaat en ’n gewese staatspresident, albei getroud met iemand anders … Hoekom het ék nie daaraan gedink nie? sal baie liefdesverhaalskrywers tereg wonder.
         
Elita en haar lewe met FW de Klerk word voor die voet aanbeveel (die hand vol setfoute kan maar misgekyk word). Die versameling interessante kleurfoto’s wat by die boek ingesluit is, is ’n gawe bonus.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top