City Soirée – Book Lounge, Vrydag 8 Julie 2011

  • 0

Vrydagaand is dit weer ek en die bekende akademikus, Tannie Meisie, by die Book Lounge.

“Jy ruik na drank,” sê Tannie Meisie uit die hoogte.

“Boozy lunch,” sê ek, ontegemoetkomend.

Loftus staan by die trappe na die kelder. Elke keer as iemand aankom, soengroet hulle hom. Of gee hom ’n druk. Die arme man, dink ek, as ek hy was, sou ek wegkruip. Maar die meeste van hulle is hier vir hom – soos ek en my hooghartige vriendin. In ’n algemene e-pos waarby ons ingesluit is, skryf hy dat hy nuwe werk gaan voorlees.

Ek en Tannie Meisie beweeg na die bar in die kelder. Ons kry warm rooiwyn, eet 'n paar chips en begin skoffel vir sitplek. Ongelukkig word ons voorgekeer deur ons gemeenskaplike vriendin, Die Prokerower. Ons moet met haar praat, want dit is die week van Thuli Madonsela en die SAPD. Tannie Meisie vra iets soos: “Wat maak jy hier in 'n tyd van nood?” Sy antwoord iets soos “Loftus is my vriend en ek het nodig om te relax na hierdie wilde week.”

“Touché,” sê ek, sonder om te dink, deur my wynwaas.

Die volgende oomblik kom Bibi Slippers en haar boyfriend, Eckhard Cloete, by die trappe af. Die verskeie kameras aan hulle persoon maak dit duidelik dat hulle hier is vir LitNet-aangeleenthede.

Toe Loftus uiteindelik by die trappe afkom, vra ek, weer sonder om te dink, vir Die Prokerower: “Wat is nou weer die naam van hierdie geleentheid?”

Tannie Meisie tjip in. “Het jy nie die program op die sitplekke gesien nie? Die titel is City Soirée.”

“O,” sê ek bedees, “ek dog dis net Loftus wat nuwe werk voorlees.”

“Ek weet ook nie hoekom ek saam met jou na hierdie geleenthede toe kom nie – jy stel my altyd in die verleentheid,” klepper die Tante terug, weer eens uit die hoogte.

“Wel, dis nie my skuld dat LitNet laas keer jou naam met ’n kleinletter t gespel het nie,” sê ek, ter verweer.

Maar Tannie het nie tyd om te reageer nie, want Johan roep die spulletjie tot orde namens die Lounge. Eckhard Cloete neem plaas langs Loftus in die tweede ry – seker vir die camera angle. Ek staan my staan neffens die bar. Tannie Meisie kloek en kloek oor en weer, maar sy kry nie ’n sitplek nie en het uiteindelik geen ander keuse as om langs ’n mooi man met ’n baard te gaan staan nie. Sy het dit beplan, dink ek.

Dan is Loftus aan die beurt. Hy lees gedigte oor Kaapstad – in sy stem, op sy trant, in sy toonaard. Na die tweede gedig maak ek ’n nota in my blou notaboekie: “Kyk uit vir Loftus se volgende bundel.” Bibi (of is dit Eckhard?) neem vervaard foto’s. Ek wonder waar is Bibi se bunny ears.

“Dalk dra sy dit net vir spesiale geleenthede,” fluister die Tante in my oor.

“Hou op om my gedagtes te lees; hierdie is nie ’n episode van True Blood nie,” sê ek bitsig. “Buitendien, hierdie is ’n spesiale geleentheid.”

Volgende aan die beurt is ’n Zimbabwiese musikant-digter, Dillion Banda. Sy sangerige digwerk maak my rustig na hierdie week van hel, selfs slaperig. Hy voer ons na ’n wonderlike Afrika so ver verwyder van hierdie gewelddadige urban kitsch wat ons Kaapstad noem.

Dan is dit tyd vir pouse. Maar die bar maak nie oop nie.

“Is hulle van lotjie getik?” vra Tannie Meisie, in die algemeen.

“Mens kan ook net sóveel gratis Leopard’s Leap drink,” sê ek vroom.

“Ons gaan moet bly staan,” sê Tannie.

“Op aandag,” sê ek. Nie dat Tannie Meisie veel verder kla nie, want sy het klaar ’n geselsie met die Mooi Man Met Die Baard aangeknoop.

Die tweede helfte van City Soirée bestaan uit Loftus wat nog nuwe gedigte voorlees (en die establishment terselfdertyd lekker bykom) en ’n musikant, Vera Vukovich, wat liefdesliedere sing uit die Renaissance onder begeleiding van ’n luit wat sy self bespeel.

“’n Eerste vir my,” fluister Tannie Meisie hoorbaar.

“Hou jou in,” sê ek ontstig.

Vera Vukovich vertel vir die gehoor dat die liriek “to die” in die liedere volgens oorlewering verwys na orgasme. Onwillekeurig dink ek aan Michel Foucault.

“Ons moet gaan, ons gaan laat wees,” neul die Tante in my oor.

Ons beur verby die mense wat op die trappe sit – enigiets net om hier te kan wees.

Buite is dit ’n warm Kaapstad-wintersaand. “Wat het ons en al hierdie mense op ’n Vrydagaand na werk gedoen voor die Book Lounge hier was?” vra ek onskuldig vir Tannie Meisie.

“By ons huise of in bars gesit en kultureel by die minuut verarm,” sê Tannie Meisie, sonder om te skroom.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top