Hy self

  • 0

Foto: Canva

Hy self

Sou die moontlike en onmoontlike een prentjie wees,
’n gesig van God gestuur,
om te vertel van sy genadige teenwoordigheid.
Sy skepping en die storie,
die wonderwerk van sy hande.

Is dit hierdie kranse en ganse berge
wat soos die altaar self
neerkyk op my.

Sou hierdie lewe ’n paadjie wees
wat soos ’n droë rivier
kronkel deur die Boland-bossies.
Waar laaste jaar se stormwater
nou met plooie teen die stofpad lê.
Met klippe en rotse wat aspris
reg voor my kom staan,
dan rugkant net hardop lag.

Is dit hierdie bruin aar
wat na God se wonderwerk lei,
waarop ek
gebuk en gewillig stap.

Sou daar ’n lewende gebed iewers wees,
’n wese in beide dankbaarheid en smeking.
Wat die pad al struikelend en skellend stap.
’n Skepsel wat by tye verdwaal,
verlore sit in die skadu van God se genade.
Kinderlik huil omdat donkerte
soms voel soos die hel.

Is dit ek.
Die val en die opstaan
wat selfs in die opdraande weet,
God self
het my
gemaak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top