Hüzün

  • 9

.....

“Die Turkse skrywer Orhan Pamuk beskryf in sy boek Istanbul die gevoel van ‘hüzün’, ’n soort melankolie/hartseer wat aanvanklik die spirituele foltering beskryf het wat ’n Moslem ervaar omdat hy/sy nooit in die hier en nou naby genoeg aan Allah kan wees nie.” 

......

Tamboerskloof in die sixties was ’n eklektiese plek, ryk aan kleure en klanke. My vroegste kinderherinneringe is vol van Tafelberg en Leeukop met hul spierwit wolkbekleedsels, ewig veranderend; die bloedrooi fez van die groot, gul man by wie my pa altyd samoesas in die winkel op die rand van die Bo-Kaap gekoop het; die klank van die mishoring onder uit die hawe, een keer deur Etienne Leroux beskryf as “newelagtig en dralend”; later die polsende note van die Groote Kerk se orrel en Meneer Temmingh se swaaiende dirigeerstok as hy die koor daar aanvuur; die rockliedjies van Cliff Richard en Elvis Presley vanuit die Topolino-kafee in Kloofstraat, as die ducktails op ’n Vrydagaand daar uitgehang het. 

Foto: Pixabay.com

Maar ek het vroeg al besef dat ’n groot skadu oor my hartstad hang. Bo in Kloofstraat was ’n speelpark waar al die kinders van die buurt smiddags saamgespeel het. Reg langs die park het ’n Afrikaanssprekende Moslemfamilie gebly in ’n huis wat vas was aan hul winkel aan die voorkant. Hulle was omtrent altyd in die park. ’n Donkerkopseuntjie van my ouderdom, Habdul, was veral my maatjie en ons het goed soos aan-aan en vroteier met die ander gespeel. Almal het net Afrikaans gepraat.

Een dag kom ek by die park aan en Habdul sit belangeloos op die muurtjie voor hulle huis.

“Kom speel,” nooi ek.

“This park is not for Coloured people like us anymore,” kom die verwarrende antwoord.

“Is nie, die park is vir alle kinders,” het ek myself hoor sê. Dit het  nie gehelp nie, hy’s skoorvoetend die huis in. “Hoekom praat jy Engels?” Hy’t nie omgekyk nie.

.....

“Habdul en sy broers en susters het daarna nooit weer in die park gespeel nie. Ek het hulle ook nooit weer buite die huis hoor Afrikaans praat nie. En ek het die Groot Skeiding mettertyd maar gelate aanvaar.”

.....

Ek het gedoen wat enige sewejarige seun sou, ek het vir my ma gaan sê. My ma was ’n stoere ondersteuner van Ds Beyers Naudé en sy Christen-Instituut en was dikwels in die Kaapse Afrikanergemeenskap verkwalik en selfs verguis daaroor. Ek onthou hoe ons as kinders ons asems opgehou het as die Instituut se gereelde bladjie Pro Veritate deur die pos gekom en in die voorhuis gelê het. Dan het ons geweet ’n bitter politieke argument volg daardie aand tussen my ma en pa.

In elk geval, my ma het my onseker aangekyk en gesê ek moet sit, sy moet my vertel wat in my land aangaan. Vertel van die regering se plan van Groot Skeiding tussen die mense van ons land, gedwonge skeiding. Maar dat dit verkeerd is in God se oë en dat dit nóóit sal uitwerk nie. 

Ek was oorbluf, maar ek het daardie aand ’n bietjie hoop gekry. Die vrou wat by ons in die huis gewerk het, het ’n kerkkoor gevorm saam met ander huiswerkers in Tamboerskloof en my ma het hulle afgerig. Toe hulle dié aand om die klavier in ons voorhuis staan, en ek die pragtige Sionsgesange en harmonieë hoor, het ek gewéet. My ma is reg. God laat Hom nie in ’n blik druk nie. Hy’s ons almal se God, ook Habdul-hulle s’n, al behoort hulle aan ’n ander soort kerk.

Habdul en sy broers en susters het daarna nooit weer in die park gespeel nie. Ek het hulle ook nooit weer buite die huis hoor Afrikaans praat nie. En ek het die Groot Skeiding mettertyd maar gelate aanvaar. Maar ek het toe al so ’n vae voorgevoel gehad dat Afrikaans, ons almal se moedertaal, om een of ander rede pak gaan kry vir hierdie verkeerde stelsel, lank voordat Jan Rabie dit sou voorspel.

En ek het algaande ’n aardige melankoliese mengelmoes van gevoelens teenoor my stad ontwikkel wat ek moeilik in woorde kon uitdruk. Wyle Stephen Watson, digter en taaldosent aan die Universiteit Kaapstad, het eenmaal geskryf sy liefde vir die Kaap is versmelt in ’n verskriklike kroes van hartstog vir die plek en uiterse desperaatheid oor alles wat hier gebeur. NP van Wyk Louw het ook ’n versugting uitgespreek na ’n “hoë blydskap” in hierdie “wye en droewe land” van ons. Daar was egter geen woorde wat my eie teenstrydige gevoelens kon beskryf nie. Die verwoesting van Distrik Ses en die woede wat dit by ons huishulp ontketen het, het die innerlike onrus nog verder verdiep. 

Ewenwel, die Groot Skeiding het toe na baie bittere jare genadiglik en verligtend tot ’n einde geknars. En Afrikaans hét toe ’n groot deel van die pak gevat. En ek het toenemend gesukkel om my bittersoet gevoelens teenoor dit alles akkuraat te omskryf. Hoe kan ’n mens so verknog aan jou hartstad en hartstaal wees, en soms so verwarrend treurig en weemoedig oor dit alles wees?

Op ’n onlangse besoek aan Istanbul het ek egter na baie jare se wroeging so ’n perfekte omskrywing van hierdie teenstrydige gevoelens ontdek dat ek nogal emosioneel was. Soveel te meer omdat dit uit Turkye kom, die tuisland van Imam Abu Bakr Effendi, die vader van Bo-Kaapse Afrikaans. Die Turkse skrywer Orhan Pamuk beskryf in sy boek Istanbul die gevoel van “hüzün”, ’n soort melankolie/hartseer wat aanvanklik die spirituele foltering beskryf het wat ’n Moslem ervaar omdat hy/sy nooit in die hier en nou naby genoeg aan Allah kan wees nie. Die tweede tradisie kom uit die Sufi-mistisisme en bied ’n meer positiewe en medelydende begrip van die woord, en van die ruimte of plek van verlies en droefheid in ons lewens. In die lewens van Istanbullus heers hüzün in die pynlike kontras tussen die prag en praal van die ou Ottomaanse ryk, met duidelike bakens uit dié tyd, soos moskees, paleise en torings, en die latere verwoesting van hierdie ryk en die armoede en swaarkry wat vandag deel is van baie mense se lewens aldaar. Asook die gebrek aan vooruitsig van maklik-uitvoerbare oplossings vir politieke en maatskaplike probleme wat lei tot die uitdrukking van gelatenheid op baie Istanbullus se gesigte.

Maar, dan sê hy dat ware Istanbullus hierdie hüzün uit keuse, met ’n waardigheid en ’n amper trotse gevoel dra, en dat hüzün so lewegewend is as wat dit negerend en vernietigend is; veral vanweë die daaglikse kontak met hul éie realiteit. Ons hüzün is nie heeltemal dieselfde nie, maar resoneer verbasend diep met ons Kapenaars.

Die pragtige ou Groote Kerk-gebou met sy ryke geskiedenis en die ou slawelosie reg langsaan met sy tragiese geskiedenis. Die majestueuse berg met die littekens van die Distrik Ses-verwoesting aan sy voet, die restaurante in Kloof- en Langstraat met bedelaars en swaarkry oral buite. Die kontras as jy uit ’n polsende simfoniekonsert in die stadsaal kom en onmiddellik op die Parade gekonfronteer word met die pruttende misdaad oral, meesal nie-wit mense se armoede, maar ook die enigma van ’n ouer wit vrou met ’n basterhond aan ’n leiband wat jou motor oppas. Die plakkershutte reg langs Oostelike Boulevard. Jou stad word die essensie en illustrasie van hüzün, net daar voor jou oë. Soms amper onuithoudbaar. 

Sultan Ahmet-moskee (Foto: Pixabay.com)

Soos in Istanbul het Kaapstad deur die eeue haar musikale en poëtiese maniere gevind om hüzün uit te druk. Die Kaapse Klopse en ghoemaliedjies eerstens, maar dink ook aan digters soos Adam Small, SV Petersen, Pat Petersen, Ingrid Jonker, Fanie Olivier (onthou Tria Corda van 1973?). Dan die maestro van Kaapse musikale hüzün, Abdullah Ibrahim. Ook Basil Coetzee, Robbie Jansen en Johannes Kerkorrel-hulle. Kunstenaars soos Willie Bester en die onbesonge Kenneth Baker. En wie kon nou Distrik Ses se hüzün beter vasvang as die fotograaf Jansje Wissema? Vele meer.

Dit alles het ons geleer om die verwarring en skaamte oor die verlede deur ons eie hüzün te dra. Om in solidariteit met ons eie geskiedenis en pyn ’n metafoor en stem vir ons tyd te probeer wees. Op ons plek.

En wie weet, dalk maak die ou Taal nog ’n comeback? Ek is versigtig opgewonde oor die nuwe manier waarop Afrikaanssprekendes deesdae oor Afrikaans en in Afrikaans met mekaar praat. Die hoop beskaam nie.

  • 9

Kommentaar

  • Riaan Etsebeth

    Werklik pragtig Hoffie. Baie bevoorreg om jou te ken. Onthou ons dae in Pretoria met die oormag wat anders gedink het.

  • Onse land SAL, te danke aan sagte en diepe uitdrukking van regte hartgevoelens, gemeenskapshervorming kan bereik. Ons kan almal deur Dr. Hoffie se uitdrukkinge regtig baat. Dankie Hoffie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top