Louis en Charl ry Vrydagnamiddag Velddrif toe om hout te laai. Mynhardt, 'n vriend, het alles gereël. Ek, Suzanne en Elizabeth vertrek Saterdagoggend. Die kinders bly tydelik in vriende se huis. Ons kry die manne in Velddrif en vandaar na Paternoster. Die hout bly in Mynhardt se bewaring tot Sondag.
Dis die kinders se vyfde huweliksherdenking. Ons vier dit saam.
Donkermôre vertrek ons en koop koffie by die garage. Net voordat ons Stellenbosch agterlaat, sê Suzanne: “Ma, bid asseblief vir 'n veilige rit.” Ek bid vir die pad en almal van die Kaap tot in Limpopo. En toe trek die gesels los tussen ons twee. Diep lekker. Tussenin moet ouma sappies aangee en doeke omruil.
Net voor Velddrif is daar padwerke. STOP. Skielik vrek ons kar, mossievrek. Die padmense bring die “jump” kabels en die padbakkie. Die se enjin wil by die enjinkap uitklim soos daai man ref. Verniet.
“Dalk is jul kabels foutief. Gebruik myne,” volgens Suzanne. Toe speel Ouma en liefiepop al in die sand langs die pad. Takkies raak nou kraaltjies. Genotvol eenvoudig. Suzanne se kabels lê onder die bagasie. Met dun armpies laai sy als uit ... verniet. Pak alles terug. Skielik verskyn die pad mechanic met 'n span mense. Hy is agter die stuur en hulle stoot die Xtrail dat dit lyk hulle hardloop nou tot binne-in Vredenburg. Wragtig, hy vat. Die pad mechanic ry hom tot neffens ons. “Mevrou moet hom ref. Dis vuiligheid in die toevoer.”
Ons manne is bewus van alles. Mynhardt bring hulle. Die opdrag: “Ry solank Paternoster toe. Ons sal julle inhaal.”
Ons ry vinnig. Die verstopping moet uit. Die selfoon-ontvangs is swak. Hulle kry ons nie ingehaal nie. Vaagweg hoor ons, ons moet omdraai. Met n 180° draai ontmoet ons hulle. Stop, laai en inklim was een. Charl, ek en Elizabeth sit agter, Louis voor. Die bottels is leeg, die doek is piepienat en ouma se liedjies is op.
Charl se gedagtes hardloop. Hy vra die kwitansie van die brandstof. Dis petrol in die dieseltenk! Ongeloof, verbasing, bespiegeling.
“Het julle gesê hulle moet diesel ingooi?” (Verdomp, hulle moet mos weet, Nou woer-woer twyfel.)
“Ja, ons het gesê.”
“Is julle seker julle het gesê, DIESEL?” (woer-woer).
“Ja. So-by-so staan daar seker DIESEL op die cap.
“Nie noodwendig nie.”
Doodse stilte.
Ons spoed tot by ons huisie waar die kar finaal vrek. Verkeerde stilhouplek. Louis stap draaie met Elizabeth. Suzanne is agter die stuurwiel en ek en Charl stoot man-alleen die kar tot waar hy moet staan.
Selfoontyd. Praat, terugbel, praat, wag, bel, praat ... UITEINDELIK!! Hulle fout. Die video wys so. 'n Duur huweliksherdenkingsnaweek afgeweer.
Vredenburg se garage sal die Xtrail kom haal en regmaak. Sal Dinsdag klaar wees. Weer kopkrap. Ons kan nie al vier en 'n half in 'n enkelkajuit bakkie pas nie. Ons heen en weer. Suzanne se oplossing ... Mynhardt! Ons ry sy Golf terug en hy bring die Xtrail terug.
Toe kuier ons heerlik, stap waar ons moet wees. Vis en tjips op die strand met 'n vars seebriesie wat ons hare sout waai. Skemeraand, vuur in die binnebraai. Skielik is daar 'n rookwolk die hele huisie vol. Deure, vensters word wawyd oopgemaak. Ons ruik ene stroois. Uiteindelik kan ons die vars snoekie braai. Rook vergete, gesels ons tot ounag.
Sondagoggend na brekfis pak ons. Die swart Golf word afgelewer waarmee Suzanne die manne Velddrif toe vat om die bakkie te gaan haal. Ek, liefiepop en die bagasie wag. O wee, die bagasie ...
“Kom ons maak die bagasie op die hout vas,” sê Skoonpa.
“Nee, Pa,” sê Skoonseun.
“Julle sal nie daai bagasie in die kar kry nie.”
“Pa, kom ons luister vir Charl. Ek sal die bagasie in kry,” reken Dogter.
Louis: “Hester, gee daai sak, daai waatlemoen, en daai en daai. Ek sit dit by my voete. Dis te veel vir julle kar.” So bring Hester die goedjies. Konflikvermydend.
Suzanne kom terug en laai. Als is wragtig in. Ouma en haar Engelpop sit agterin. Ek skep liedjies en versies van koeie en skape.
Halfpad bel die vriendin van die “leen”-huis. Sy is vroeër terug en wou ingaan by haar huis, maar ons Ford staan 'n sentimeter van die garagedeur af en kan nie oop nie. Suzanne verduidelik, vriendin verstaan en sal tyd by haar skoonmense verwyl.
Toe ons om die laaste hoek kom en ek die Ford se sleutel uit my handsak wil haal, besef ek die sleutel lê in die Xtrail op Paternoster. Warm gloede bespring my. Ek bel vir Louis. Hulle is soos die melktrein, laai nog hout af. Hy het geen simpatie nie.
“Die spaarsleutel?”
“Die immobiliseerder werk nie. Wat van die alarm en wie moet die sleutel bring?”
Ek druk die foon dood. Ek moet plan maak, vinnig ... ons buurman!
Hy kry die sleutel en sê hy sal dit bring. Intussen verwyl ons die tyd deur blomme te pluk (laat ons maar die vrou se huis mooi agterlaat met haar eie blomme in die voorhuis), te speel met Elizabeth en die horlosie dop te hou. Ek bid. Na wat soos 'n ewigheid voel, arriveer Albert. Hy druk die knop ... die Ford sluit oop. Geraasloos vat die Ford. Ek skuinssoen my buurman. So dankbaar. Hy parkeer die Ford in die koelte. Die Golf staan nou met sy kattebak met fietsrak reg onder die oop garagedeur.
Net toe kom die manne daar aan en help die laaste goed laai. Iemand moet die hek se kontrole hanteer.
Ek gee vir Louis, “Die blou knoppie is die hek s'n.” Toe ek weer sien, kom die garagedeur af, reg op die Golf.
"DIE DEUR!” Natuurlik nie geluister nie. Verkeerde kleur gedruk. Hy stop die deur net toe hy die aerialtjie van die Golf begin skeef druk.
Als gelaai, ry ons in konvooi Strand toe. Vyf gelukkige huweliksjare. Ons klink 'n glasie op die voorstoep terwyl die son water trek oor Valsbaai.

