Die Heuwels Fantasties het ’n besonderse 2011 sover. Nie net is hulle tweede album ’n paar maande terug uitgereik nie, maar hulle het ook onlangs hul heel eerste akoestiese show gehad. Dit is by The Barnyard in Willowbridge gehou, en Steyn du Toit het met Hunter Kennedy oor hierdie ervaring gesels.

Hoekom het julle so lank gewag om ’n akoestiese gig te doen? Is dit omdat julle merendeels ’n elektroniese groep is, of is daar ander redes?
Die geleentheid het hom maar net aan ons oopgemaak toe ons die kans gekry het om twee aande in ’n ry by die Barnyard te speel. Fred en Pierre het al ’n paar akoestiese optredes gedoen, maar nog nooit met ’n hele band nie. Dit was nie regtig goed beplan nie!
Hoe werk die proses om julle musiek te neem en dit vir ’n akoestiese show voor te berei?
Die meeste van die liedjies is op akoestiese kitare geskryf, so daar hoef nie veel strukturele veranderinge plaas te gevind het nie. Ons het in elk geval nie tyd gehad nie. Die liedjies lewe ewe goed in beide elektronies en akoestiese formaat, maar dit bly ’n lekker geleentheid om in die toekoms die liedjies bietjie te verander. As ons dit meer doen, is ek seker ons sal bietjie rondspeel.
Vind julle dat die songs ander vorme begin aanneem – en is dit ’n goeie of slegte ding?
Dit was lekker om sonder ’n backtrack te speel en ons was glad nie ingeoefen nie, so dit het ons musikaliteit bietjie beproef. Dit was opwindend. As die liedjies ander vorme aangeneem het, was dit maar noodgedwonge omdat daar instrumentasie uitgelos is en miskien hier en daar het ons die bpm verander. Of ’n kwela daar ingegooi. Goed of sleg? Ek wetie.

Is die akoestiese konsep iets wat mens dalk in die toekoms meer kan begin sien van julle?
Ons stel baie belang daarin, ja. Miskien ’n live DVD of so vir Kersfees.
Dit is nou al ’n paar maande vandat Wilder as die wildtuin uit is - hoe is die terugvoer sover?
Die terugvoer is uitstekend en ons is baie gelukkig daarmee.
Watter liedjie op die album dink jy het die beste lirieke in?
Dis ’n moeilike ene. Elke liedjie het spesifieke dele waarvan ek baie hou. Die lirieke en die luim van die instrumentasie dink ek nie kan geskei word nie. My persoonlike gunsteling is seker “Waar die hel uitkom”, maar ek hou dalk meer van die musiek as die lirieke. Ek dink die uitvoering van die lirieke bepaal in ’n groot mate die sukses van ’n liriek. Ek hou ook van “Wilder as die wildtuin II” en “In en uit”.
Wat maak ’n treffende liriek?
As dit inherent ironies is en as ek my kan vereenselwig met die konteks. Dis ’n lang gesprek.
Waaraan werk al die lede van Heuwels op die oomblik?
Ons werk aan ’n kuur vir babelas, maar dis tot dusver toe ’n miserabele mislukking.

