Die Heuwels Fantasties het onlangs hul nuwe kortspeler, Wens jy was hier, vrygestel. Hunter Kennedy van dié groep beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Hunter. Hoe's dinge?

Hunter Kennedy
Foto: Antonie Robertson
Dinge is lekker! Nou net teruggekom van ’n troue af. ’n Lekker vreuggevulde lang naweek om die jaar op ’n rustige noot af te skop.
Geluk met die vrystelling van DHF se Wens jy was hier-EP. Wat het julle laat besluit om in hierdie stadium ’n EP vry te stel – pleks van ’n langer album later – en ook om dit saam met die Live op Paul Cluver-DVD en die Alles wat mal is-album vry te stel?
Dankie! Ons was lus om nuwe materiaal uit te sit, maar dit het te vroeg gevoel vir ’n hele nuwe album. Dis slegs ’n jaar na Alles wat mal is. Die vorige deluxe het vir ons goed gewerk en dis altyd lekker om so rondom Kerstyd ’n produk uit te sit vir die Kerskous wat goeie waarde vir geld is. Die nuwe liedjies was ’n verskoning om bietjie Vleesbaai toe te gaan. 🙂
Die Heuwels het ’n manier om met nuwe vrystellings elke keer ’n ietwat nuwe rigting in te slaan. Voel jy die Wens jy was hier-album sluit aan by daardie tendens? Wat het julle “anders” probeer met die nuwe snitte, of hoe het julle benadering met die skryf en opnames verskil van vorige albums en EP's?
Ons hou definitief by daai tradisie. Ons het dinge heel anders aangepak as voorheen. Ons het nog steeds die basis vir die liedjies saam met Fred gedoen op die rekenaar (die rowwe struktuur, melodie en lirieke), maar ons het dat TeeJay (Coffee Stained Vinyl, Black Handed Kites) ons kom opneem by Vleesbaai terwyl ons saam die liedjies oefen en speel. In ’n ateljee speel daar gewoonlik net een instrument op ’n slag. Hierdie keer was ons so opgestel dat ons almal heeltyd betrokke was en die proses was baie meer natuurlik. Daar was plek vir lukrake besluite om die uitkoms te affekteer. Die gevoel in die groep was dat ons meer soos ’n “jam”-band wou klink op die nuwes en dis hoekom ons dit so aangepak het.

Die Heuwels Fantasties: Philip Erasmus, Fred den Hartog, Hunter Kennedy en Pierre Greeff
Foto: Jaco S. Venter
In ’n mediavrystelling is geskryf die liedjies op Wens jy was hier is geïnspireer deur die DHF-lede se liefde vir Vleesbaai. Ek ken die plek (en die aantrekkingskrag daarvan) ook goed. Kan jy uitbrei oor hoe hierdie inspirasie gewerk het in terme van hoe dit die lirieke en musiek aangevuur het? Die natuur speel nogal ’n rol op die EP (Ek dink byvoorbeeld aan die beskrywings op "Welkom", waarop Laudo Liebenberg ook sing.)
Die natuur speel nog altyd ’n groot rol in die musiek en liriek van die groep. Dit inspireer ons en lig ons taalgebruik in. So ’n groot drang het ons gehad om uit die stad te kom dat met Wens jy was hier was dit amper asof ons die liedjies geskryf het net sodat ons dit kan gaan opneem in Vleesbaai! Ons het al ons toerusting opgestel in die sitkamer en die heeltyd vir die see sit en kyk terwyl ons opgeneem het. Dis iets wat ons nog altyd wou doen. Om net vir die see te staar is hipnoties en dit kry mens op ’n plek waar mens helderder dink.
Nog ’n interessante colab is die een wat julle saam met Mandoza vir "Afrikaan" gedoen het. Hoe is daardie proses beplan en hoe was die samewerkingservaring?
Die proses is nie beplan nie! Gabi (Mandoza se producer) het vir Pierre gebel om op ’n nuwe Mandoza-liedjie te kom sing. Ons was baie opgewonde, want Mandoza is ’n fokn legend! Gabi het ’n track gehad, ons het lirieke geskryf, toe gaan ons in studio in en toe kom die song uit. Dit was regtig ’n vinnige en eenvoudige proses. Hulle is meesters. Dit was lekker om met Gabi en Mandoza te gesels en bietjie raad uit ’n ander oord te kry.
Gepraat van "Afrikaan" – lirieke gevul met frustrasie, sinisme en ’n afkeer aan dit wat opgemerk word, duik bietjie daarin op ("Daar is net boude en tiete op die strand/ in die somer in Kaapstad, almal uit die buiteland/ Dom Perignon/ Kristalglase wat klink/ rondom elke dollar-biljoenêr-swembadrand" en "goudreserwes lê agter elektriese heinings/ gestrooi oor die politici se goedversorgde tuine)” – wanneer julle skryf, is daar doelbewuste besluitneming oor wanneer en hoe ’n liefdesliedjie, of ’n soort protesliedjie, of iets in ’n ander soort kategorie, geskryf moet word? Is daar temas wat makliker en moeiliker is om oor te skryf, en hoe werk daardie besluitneming en skryfproses in die band?
Dis ’n ongelooflike geleentheid om hierdie tipe liedjie saam met iemand so ikonies soos Mandoza te kan maak. Vir seker is daar frustrasie en sinisme in van die lirieke. Dit is emosies wat Suid-Afrikaners daagliks voel, maar die liedjie is ’n positiewe ene. Dit is diegene in beheer wat verdeeldheid verkoop. In die strate is almal dit eens om saam te werk. Die konsepte is minder beplan as wat mens dalk sou dink. Byvoorbeeld met daai liedjie het ons baie van die versies al klaar geskryf gehad in Engels om een of ander rede. Ons het dit begin vertaal en toe pas dit lekker in. Gabi en Mandoza was gek daaroor en daarvandaan het die “Afrikaan”-konsep gespruit. Dit pas perfek by die colab, maar dit was vooraf daar. Mens werk maar met wat jy het en hoop vir die beste.
Op ’n ander noot: ek verneem daar is ’n interessante reeks vertonings genaamd Sporadies nomadies op die nabye horison. Wat behels dit en waar kom dit vandaan?
Ja! “Sporadies nomadies” is ’n Fokofpolisiekar-liedjie. Ons voel die titel som nogal ons leefstyl goed op. Dit is ek en Pierre en Francois wat saam met Jedd (VCK) en Richard (Black Handed Kites), Fokof- en Heuwels-liedjies gaan opvoer. Dis gemik op kleiner teaters. Die doel is om ’n intieme, storievertellers-tipe ding te doen. Ons sal stories vertel oor die pad en bietjie dieper ingaan op waar van die liedjies vandaan kom. Ons het soos ons ouer raak al hoe meer teaters en Barnyards en goed begin speel en ons wil kyk of ons iets bymekaar kan sit wat spesifiek vir daai tipe venues cater.
Julle ouens het die land nou al ’n paar keer platgetoer (jy spesifiek as deel van meer as een band). Enige spesifieke gebeurtenisse wat jy nie sommer sal vergeet nie? Enige gevalle en plekke wat jy eerder sal wil vergeet?
LOL. Ja, en ja, en nog andersom ook. Ek het al vergeet van plekke en mense wat ek sou wou onthou! Daar het eenkeer ’n Potch-breker in ’n ou Suid-Afrikaanse vlag T-hemp (daai's wat die hele hemp die vlag is) met ’n tatoe in sy nek en ’n mes in sy hand dreigend vir ons gevra of ons Fokofpolisiekar is. Maar daai tipe stories is vir die show.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir die Heuwels in? Enige spesifieke doelwitte wat julle daarstel?
Ons is ’n dinamiese groep mense, so daar sal vir seker die heeltyd iets aan die gang wees. Nou en later. Ons wil bietjie fokus op ons optredes. Ons wil ook gaan toer en die wêreld sien. Ons praat nog oor ’n nuwe album hierdie jaar en ’n paar ander goed. Ons sal sien wat tyd met ons maak.
Wat is die sin van die lewe?
Om gelukkig te wees.

- Vang Die Heuwels Fantasties by die US Woordfees op 15 Maart om 18:00. Klik hier vir meer inligting.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

